Raak gelees

Die Duitse wesies van 1948

In die Staatsargief in Pretoria kan mens nog deur die bladsye en bladsye verklarings en aannemingssertifikate van Aanwins 1732 gaan lees. Want hier lê die stories van 83 Duitse weeskinders wat op 8 September 1948 met die boot Winchester Castle in Kaapstad aangekom het.

Drie-en tagtig kindertjies, waarvan net ‘n handjievol ouer as 10 jaar was, op wie se skouertjies die groot taak gelê het: “om die Afrikanervolk te kom versterk met ‘n inspuiting suiwer Ariese bloed”, al het hulle dit nie geweet nie.

Hierdie kinders het geen idee gehad hoe kontroversieel hulle koms na Suid-Afrika was nie. Die organisasie wat alles gereël het, die Dietse Kinderfonds (DKF) het nie net die kinders se belange op die hart gedra nie. ‘n Belangrike oorweging vir hierdie kinderimmigrasie was ook om die Afrikaner se “ere-skuld” aan Duitsland te betaal, want die nasionaliste het nooit vergeet dat Duitsland die Boere na die Anglo-Boereoorlog bygestaan het nie.

Hierdie kinders – almal tussen 2 en 13 jaar – is ‘n kans aangebied om te ontsnap uit ‘n armoedige bestaan in kinderhuise in ‘n verpletterde na-oorlogse Duitsland.

Die kinders wat na Suid-Afrika kon kom, moes aanvanklik fisiek en geestelik gesond wees, tussen 3 en 8 jaar oud wees en belangrikste van alles; Protestants, heeltemal wees en suiwer Duits.

Eers wou die DKF 10 000 kinders na SA bring, maar uiteindelik is besluit om slegs 100 kinders as proeflopie hierheen te bring. As dit werk, sou die regering verdere kinderimmigrasie oorweeg.

Dit was egter ‘n byna onbegonne taak vir die fonds se sekretaris, Schalk Botha en Dr Vera Bührmann om selfs net 100 geskikte kandidate bymekaar te kry. Botha was omtrent 18 maande te laat, want baie weeskinders was toe reeds in pleegsorg geplaas. Later is die keuringsouderdom na 13 jaar verhoog en uiteindelik is daar 83 kinders gekeur, waarvan slegs 28 heeltemal wees was.

Die DKF het nie ‘n probleem gehad om die kinders in Suid-Afrika geplaas te kry nie, want teen Februarie 1948 het hulle reeds meer as 450 aansoeke ontvang van mense wat ‘n Duitse kindjie wou aanneem. Slegs Afrikaanssprekendes wat lid was van een van die drie susterskerke is oorweeg.

Die DKF het sekerlik goeie bedoelings gehad, maar die opdragte wat hulle aan die nuwe ouers gegee het oor hoe om die Duitse wesies groot te maak, was om die minste te sê, uiters vreemd. Die ouers is vertel “dat die kinders in Duitsland hoegenaamd geen vryheid of privaatbesit geken het nie en daarom moes hulle in geen omstandighede met weelde en geskenke oorlaai word nie, want dan kon die kinders hul balans verloor met onvoorsiene en negatiewe gevolge”. Die kinders moes ook nie die eerste ruk in ‘n eie slaapkamer slaap nie, “aangesien hulle nie so iets geken het nie”. Die kinders moes ook nie onmiddellik met te veel eetgereedskap gekonfronteer word nie, want dit sou hulle minderwaardig en onnosel laat voel, aangesien hulle nie daaraan gewoond was nie.

Gelukkig het die aanneemouers hulle nie veel aan hierdie voorskrifte gestuur nie en deur die jare het baie van die aangenome kinders aan Onkel Schalk briefies en Kerskaartjies gestuur, waaruit mens kon aflei dat hulle gelukkig en goed aangepas was in hul nuwe gesinne.

Die DKF moes kontak met die kinders behou tot met hul mondigwording en dit het hulle nagekom en wel seker gemaak daar word goed na hierdie kinders omgesien.

Marietjie Malan (oorspronklik Hermine Sönnichsen) was heel moontlik die bekendste Duitse wesie, want sy is deur dr. D.F. Malan en sy tweede vrou, Maria, aangeneem.

Ander het hulself onderskei in hul loopbane – die forensiese kenner Lothar Neethling, die operasanger Werner Nel en die geskiedkundige Werner Schellack.

Baie kinders het later jare hul familie in Duitsland gaan opsoek. Vir party was dit vreugdevolle reunies, vir ander pynlik en ontwrigtend en net weereens verwerping.

Was dit destyds ‘n fout om hierdie kinders te ontwortel? Net die kinders self sal daardie vraag kan antwoord, maar die emosies wat daardie klein kindertjies moes deurgaan, sal mens seker nooit in woorde kan beskryf nie.

Die 66-jarige Ruth Theron (gebore Raspe) was agt jaar oud toe sy na Suid-Afrika gekom het. “Ek is in Kolberg gebore waar ek ook die eerste byna 5 jaar van my lewe deurgebring het. My pa was ‘n soldaat wat in die oorlog gesterf het. Omtrent met die vredessluiting in 1945 het my ma met my en my broer Kurt, wat omtrent 13 jaar oud was, na Lubeck gevlug. Daar is my ma binne twee weke dood van die honger.”

Ruth en Kurt het op straat gewoon en van bedel oorleef. “Ek onthou daar was een oom, Onkel Pauli, wat altyd vir ons ‘n stukkie brood gehou het van sy gesin se rantsoene. Maar my broer kon regtig nie vir my sorg nie, en het my later na ‘n weeshuis geneem. Toe hy van die aannemingskema hoor, het hy sy toestemming gegee dat ek ook aangeneem kon word.”

Ruth onthou die skeepsvaart baie goed. “Natuurlik veral die pakkie nuwe klere wat ons gekry het. En dat ons elke middag na ete ‘n kardoessakkie met vrugte of lekkers gekry het. Maar niemand het ooit vir ons vertel wat doen mens met die piesangs nie. Ons het nie geweet hoe skil mens dit nie, en dit uit radeloosheid maar oorboord gegooi.”

Wat onthou sy steeds van haar grootwordjare? “Dat ek vir jare nooit ‘n voet wou verkeerd sit nie, want ek was te bang my aanneemouers stuur my weer terug. Ek was later skoon uitgeput van ordentlik wees.”

Ruth, ‘n gekwalifiseerde onderwyseres, het deur die jare kontak gehou met oom Schalk Botha en ook met dr. Vera Bührmann. Sy onthou albei met groot deernis en glo hulle het werklik weens humanitêre redes by die weeskinders betrokke geraak. Oom Schalk was ook haar kinders se peetpa.

Ruth het haar biologiese broer in omtrent 1970 weer opgespoor. “Hy het verskriklik swaar gekry nadat hy my noodgedwonge moes weeshuis toe neem.”

Jare later het Ruth vir Vera Bührmann – wat self een van die seuns grootgemaak het nadat hy deur sy aanneemouers verwerp is – genooi om ‘n leeskring toe te spreek oor die DKF se aannemingsprojek. “Ek het vir haar gevra of sy dit alles weer sou doen as sy kon. Sy het lank stilgebly, en toe geantwoord: ‘Ek sou dit nooit weer aan enige iemand doen nie’.”

Tussen Stasies:

Die Durbanse skrywer en joernalis Irma Joubert se aangrypende en deeglik nagevorsde geskiedkundige roman Tussen Stasies volg die wel en wee van die fiktiewe oorlogswesie Gretl wat deur ‘n Poolse soldaat gered word en met ‘n omweg ook as Duitse wesie in Suid-Afrika beland. Lees my resensie HIER

Lees ook Otto van Huyssteen se verhaal HIER

Erkenning aan bron: http://blogs.news24.com/ilsesalzwedel/die-ware-verhaal-van-die-duitse-weeskinders-wat-die-afrikaanse-volk-moes-kom-aanvul

22 thoughts on “Die Duitse wesies van 1948

  1. My ma is Ursula Renata Ferreira, nee Kaever en leef nog en geniet redelike goeie gesondheid. Sy was sewe jaar oud met aankoms in Suid Afrika. Sy was gelukkig getroud en haar man is in 1997 reeds oorlede. Ons is drie seuns en ‘n hegte familie. Sy kon nooit self enige iets uit Duitsland onthou nie behalwe wat haar vertel en wat sy gelees het nie. Wel baie na haar aankoms in die nuwe land. Sy het haar biologiese ma jare gelede deur middel van die Internasionale Rooikruis opgespoor maar die wou geen kontak maak nie asook geen fotos aanvaar of stuur nie. Ons is wel beloof dat ons met haar dood in kennis gestel sal word wat nooit gebeur het nie. Ons het besluit om geen poging tot verkryging van verdere inligting aan te wend nie. Dit bly altyd ‘n ope deur wat nooit toe gemaak is nie, veral vir my ma. My epos: johan@jfmarketing.co.za. Johan Ferreira.

    1. Dankie dat jy hierdie gedeel het. Jou kommentaar was vir een of ander rede in die Spam boksie, gelukkig het ek dit vandag gesien🙂 Dis hartseer dat haar biologiese ma so onttrek het – dalk om haarself teen verder hartseer te beskerm?

    2. Dis so verskriklik hartseer om te lees van al die ontheemdes…..dan gaan sit ek maar in die kantoor toilet en tjank. En een of ander tyd moet ek weer terug kantoor toe met rooigehuide oë en toe-neus. ‘Wat’s fout?” Dan sê ek maar net “ek het weer ‘n straatkat moes neem vir genadedood’ – die kollegas weet dit ontstel my. Gaan nie help ek verduidelik ‘n gebeurtenis wat in 1948 plaasgevind het nie.

      1. Oooo – ek huil ook soms so skelm by die werk as ek iets lees wat my hart raak. Dan moet ek so kop onderstebo gou badkamer toe loop om my gesig te gaan lawe

  2. my ma was ook een van die wesies wat in 1948 aangeneem is sy het ‘n wornderlik ma en pa gekry wat dan ook my ouma en oupa was … my ma het ‘n wonderlike lewe hier in suid afrika gekry en was baie suksesvol in haar beroep

  3. Ja. Baie omstrede perd om op te saal. Mens kan as buiteperd heelwat stuiwers in die armbeurs gooi. Wat ek egter hoop is dat meer van hulle se lewens ‘veiliger’ uitgedraai het as wat dit sonder behoorlike sorg in Duitsland sou.

    Enige kind wat aangeneem word, gaan deur verwerpingsgevoel geteister word. Mag ouers toegerus word deur Genade om so iets te help verwerk in so ‘n kind. Dit moet baie erg wees.

    1. Ditto!

      Dankie vir die deel hiervan Son – sulke geskiedenis mag nooit vergeet word nie.
      My pa het lank terug vir my ‘n boekie gegee deur Werner vd Merwe (Schellack) – “Vir ‘n blanke volk”. Hy was historikus – en self een van die kinders van 1948.
      ‘n Paar hartseer feite waaronder: 1951 is ‘n wet afgekondig/herskryf wat dit ten doel gestel het om alle herkomsspore m.b.t die duitse ‘weeskinders’ (waarvan minder as die helfte ‘volwees’ was) uit te wis.
      Klink my tog uiteindelik die meeste van die kinders was beter af hier as daar – steeds, amazing leesstof. Ook Irma Joubert se Tussen Stasies. Awesome!!
      Toe kom een van die ouer seuns aangehardloop en skree: “Onkel Botha, ich habe einen Schwarzen gesehen!” Siestog…

  4. Dit was mos voorgelees op RSG. Baie interessant. Ja, ‘n mens weet nooit wat die regte besluit sou wees omtrent die kinders nie. Wat verblydend is, is dat die kinders wel aanneemouers gekry het wat, so lyk dit, die kinders mooi versorg het. Dit was seker vir hulle die beter opsie. Dankie tog ek hoef nie oor so iets te besluit nie!!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s