Die Lewe

Slaan my naam met ‘n plank

Demoerin wil nou hê ek moet vertel hoe ek my naam met ‘n plank (dalk ‘n paar planke) geslaan het. Ek het nogal daai gawe om dit redelik gereeld te doen, of eerder my voet in te druk waar my mond is. Soos net nou die aand, by ‘n braai waarheen ons genooi is. Dis ‘n lekker klomp mense en daar is so ‘n blonde girl, wat nogal lekker gesels, maar so hoogs Engels soos kan kom. Ek gesels gewoonlik makliker met die mans, want hulle praat nie koekie-bediende-kinder-tee praatjies nie. Maar ek vind dadelik aanklank by die meisiekind.

Maar nou is dit donkerig by die braai en ek het haar mos nou nie behoorlik bekyk nie en sy lyk vir my na ‘n regte egte blondine. En soos die gesprek nou loop, maak een van die ander donkerkopvrouens ‘n grap oor blondes. Is ek nie links nie en sê: “Blondes are actually quite intelligent – the only dumb blondes are the brunettes who die their hair blonde.”

Toe ek amper die speld hoor val, besef ek die oulike blonde girl se hare is eintlik blond gekleur. Wel, she took it in her stride. Maar nou ja, dis sulke faux pas’s wat so lief is vir my. Soms kan ek ook aangetrek en mooi gemaak word, maar nêrens heen gevat word nie.

So werk ek in my vorige lewe by Anglo American in so ‘n klein dorpie daar in Oos-Transvaal, vandag se Mpumalanga. Ek werk vir die geologiese afdeling. Nou, geoloë is ‘n spesie op hul eie en ook mos half menssku, die dat hulle met klippe werk. My een baas, Malcolm Spur (sal seker nooit sy naam vergeet nie) is nog ‘n ekstra skoot menssku, erg skaam. Maar ‘n moerse nice baas. En ook rou Engels, verstaan nie eers Ja in Afrikaans nie.

Ons het so lekker groot kantoor gehad, want ons het planne geteken (ge”plot”), so daar was nog twee rekenaars aan die oorkant van die kantoor, behalwe my en Zalda s’n, my kollega. Die geoloë het gereeld daar kom sit en data invoer.

Destyds is Bernard nog ‘n baba wat beswaarlik ‘n nag deurslaap en hier teen etenstyd dan trek my oë skrefies van die vaak. So kom ek in die gewoonte om etenstyd onder my lessenaar te gaan lê en slaap inhaal. My lessenaar het agter in die hoek gestaan en voor dit was ‘n afskorting, so ek kon heel ongesiens daar slaap. En my binne-klok het my altyd betyds weer laat wakker word. So slapie doen wondere vir mens verder deur die dag en aand.

Gewoonlik, as ek so slapie gevang het, dan staan my hare maar bietjie woes en glip ek gou kleedkamer toe om dit weer reg te maak, voor die dag verder gaan. In geen dae het enige van die geoloë ooit gedurende etenstyd daar kom sit en werk nie, tot daardie een rampspoedige middag!

Ek het ‘n besonderse diep, lekker slapie geslaap, en was maar effens deur die mis toe ek kort voor 2 onder my lessenaar uitkruip. Ek moes natuurlik ook geluide gemaak het met die opstaan, want toe ek nou behoorlik regop gekom het, sien ek net hoe vervaard het Malcolm uit sy stoel opgespring. Hy was natuurlik salig onbewus van enige iemand anders se teenwoordigheid in die kantoor, wat darem bewys ek slaap stil en snork nie. Maar die man is toe skoon vaal geskrik vir die gedaante wat hier onder die lessenaar herrys so met verslaapte hare en al.

Ek probeer nog ewe verskoning maak, maar my Engels het my toe ook so half heeltemal verlaat. Ek vermoed hy probeer toe ook van sy kant af die situasie red en vra my sommer so uit die bloute oor ‘n verslag wat ek glo vir hom gegee het. Op daardie oomblik wil my brein se ratte nie reg werk nie, en ek kan glad nie onthou dat ek hom so ‘n verslag gegee het nie. En ek vra die naam-met-‘n-plank-slaan vraag van daai dekade; “Did I give it to you BODILY?”

Op daardie oomblik gebeur ‘n paar goed gelyk. Zalda kom ingestap en hoor my vraag, en Malcolm word rooier as candy-apple-red. Sy begin lag en sê; “You mean PERSONALLY.”

Ek het nie gewag om sy antwoord te hoor nie – ek is daar uit en kleedkamer toe om my gesig te gaan was met BAIE koue water en my hare reg te ruk.

Terug in die kantoor was Malcolm skitterend in sy afwesigheid en Zalda nog steeds hulpeloos aan die lag. Ek en hy het so paar dae draaie om mekaar geloop voor ons weer met mekaar kon praat sonder om rooi te word.

Tot vandag verpes sy my nog as ons gesels – ja, ons het nog kontak al die jare deur – en vra gereeld; “Did you give any reports away today BODILY?”

6 thoughts on “Slaan my naam met ‘n plank

  1. Al wat ek kan dink is dat ons almal onse naampies al met ‘n plank gebliksem het, meer as een keer. Soos die dag toe ou bloedbek in sy beste engels vir die bruidegom seg: “Good luck” in plaas van congratulations. Die uitdrukking op die vent se bakkies sal ek nooit vergeet nie, eers nadat ek dit aan iemand anders vertel en die my meedeel wat die verskil is, het ek die man se uidrukking verstaan.

  2. Waaaahahaha!!! Oh my fnok!! LOL!! Oits, Sons!! Ek sal ook maar nie weet waar om my kop in te druk nie!! Hihihihi…. en dan sê ‘hulle’ daar’s nie stupid vrae nie… i beg to differ – hierdie een defy daai hele theory!! O jinne tog, dis hilarious!!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s