Sommer net

Die jaar van wanhoop en hoop

Vandag is die langste dag en kortste nag. In die Kaap gaan die son nou eers amper nege-uur onder. Dis die tyd van die jaar wat ek normaalweg in my element is. Sonskyn, lang dae, vrolike mense, Kersfees, familie samesyn. See, strande, sonbrandolie reuke. Maar nee, nie hierdie jaar nie. Niks aan hierdie jaar en hierdie feestyd is normaal nie.

Hierdie jaar is ek in Gauteng oor Kersfees en Nuwejaar. Nee, ek was nie op Kersvader se stoutwees lysie en is hierheen verban nie. Ek het self gekies om hierheen te kom. Soort van ‘n sabbatsverlof. En ook om mense te sien wat deur die jare na aan my hart maar ver kilometers van my af is.

Soos ek hier sit, het ek baie dinktyd oor hierdie vreemde verskriklike jaar wat amper verby is. Al is daar steeds onsekerheid oor die virus en 2021, is daar ook steeds hoop. Want… “hope is the thing with feathers that perches in the soul, and sings the tune without words, and never stops at all”.

Ek het eens op ‘n tyd geskryf ek wil nie in Desember doodgaan nie. My hart gaan uit na elkeen wat hierdie jaar ‘n geliefde verloor het, wat hierdie maand ‘n geliefde verloor het – die maand wat mens moet feesvier. Die dood loop al heel jaar op en af voor ons elkeen se deur. Party van ons se slotte is net beter, maar ons het geen idee wanneer die dood wel deur die deur sal breek nie, ons kan net hoop. En onsself en ander probeer beskerm.

Ekself het hierdie jaar my werk verloor en my motor afgeskryf. Daar was dae wat ek gevoel het ek het myself ook verloor. Ek was nog nooit langer as 2 maande sonder werk nie. Ek het 60 geword en ek het gewonder of ek OOIT weer ‘n werk gaan kry. Sommige dae was die gat diep en moes ek myself letterlik aan my hare optrek en bly hoop, bly glo, bly vertrou. Al drie dinge wat mens nie kan sien nie. Hoop, vertroue, geloof – dat dinge weer sal regkom.

Maar bo hoop, vertroue en geloof was daar liefde. Liefde wat ek van my familie gekry het, en meeste van alles van my suster. Die virus het ons soveel gekos, maar dit het ons ook soveel gegee. Dit het ons weer laat sien. Ons medemens laat raaksien. Mekaar laat raaksien. Ons mense leer waardeer.

Toe ek ‘n werk gehad het en dit met my goed gegaan het, het ek selde wakker gelê oor die mense daar buite. Ek het ook soms gehelp as ek nood raaksien, maar dan gou weer daarvan vergeet.

Hierdie jaar het ek soms snags wakker gelê, nie oor myself nie, maar oor die mense wat ek nie ken nie, maar wat ek weet NIKS meer oor het nie. Ek en my sus het ‘n punt daarvan gemaak om elke keer vir iemand langs die pad ‘n geldjie te gee. Sy, wat ook ‘n 50% sny in haar salaris moes verwerk, het gegee en gegee. En dit nooit bespreek nie. Net ek het geweet.

Daar is een insident en man wat ek vir die res van my lewe met my sal saamdra. Ek sal nooit ophou wonder wat van hom geword het en of hy okay is nie. Sy naam is Warren. Tot vandag bid ek vir hierdie onbekende Warren. Ons, ek en my sus, was op pad huis toe, toe ons die man op sy een knie op die sypaadjie langs die pad sien. Mense het net verbygejaag en vermoedelik seker maar gedink hy is dronk. Maar daar was IETS aan die man. Toe sê Lisa ons moet omdraai, maar net versigtig wees. Ek het oorkant hom gestop en geroep of hy okay is. Eers het hy sy gesig weggedraai, maar toe ek weer vra, het hy half skaam geantwoord dat hy twee dae laas iets geëet het. Op nog vrae, het ons gehoor dat hy iewers Kaap se kant toe bly en kom werk soek het. Ons het hom aangesê om net daar te wag, ons gaan kos kry. Ek sal altyd wonder of hy geglo het dat ons sal terugkom. Toe ons terugkom met ‘n sak kos, asook iets om dadelik te eet, was hy steeds daar.

In my hele lewe sal ek nooit vergeet hoe die man gehuil het toe ons vir hom die kos gee nie en ook nie hoe hy dadelik die burger begin eet het, hoe dit lyk as iemand wat werklik honger is, kos kry om te eet nie. Sus het vir hom geld ook gegee en ons het sy naam gevra. Sodat ons vir hom by die naam kon bid vorentoe. Ek sal nooit weet wat van Warren geword het nie, maar ek hoop dat ons bietjie menslikheid hom weer nuwe moed vir die lewe gegee het. Ek sal 2020 nooit onthou sonder om hom te onthou nie. En ek weet daar is derduisende soos hy daar buite.

Ek weet ook dat ek NIKS het om oor te kla nie en ALLES het om voor dankbaar te wees. Ek het weer ‘n ander motor en belangrikste van alles, ek het ook weer ‘n werk. Die Here was vir my net goed. En tot hier ook vir my geliefdes.

Ek dink hierdie vreemde jaar het ons almal laat nadink oor dinge wat ons gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar het. Ek weet nou dat ek meer van mense hou as wat ek gedink het en ek weet ook dat om vry te wees om te beweeg en te kom en gaan soos ek wil, vir my iets is wat heel bo aan my prioriteitslysie lê. Ook om te kan besluit waar en wanneer ek ry of bly. Ek weet ook dat ek sterker hierdeur gemaak is en dat ek nooit myself moet onderskat nie. Maar meeste van alles weet ek dat ons mekaar nodig het.

Ubuntu – I am because of who we all are.

Mag hierdie wanhoopsjaar dan nou tot ‘n einde kom en mag 2021 vir ons net nuwe hoop bring. Wees veilig, dra jou masker (al glo jy wat) en was jou hande. Dis die minste wat jy kan doen.

4 thoughts on “Die jaar van wanhoop en hoop

  1. Son, soos jy, het ek ook redelik gemengde gevoelens gehas gedurnde die jaar van hoop en wanhoop. Dit het uiteindelik vir my ‘n jaar geword van opwinding, blydkap en dankbaarheid wat die teleurstellings van 2020 by verre oorskadu.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s