Sommer net

Honderd-en-hoeveelste dag – vir my eie onthou.

Omdat ek die link na my blog vir iemand gegee het, kom lees ek toe bietjie self oor hoeveel van myself ek hier blootstel. En die laaste inskrywing laat my hart draai. Dis soms goed om nie die toekoms te weet nie.

Waar het ek gaan draai in honderd-en-hoeveel dae? Ek skryf hierdie meer vir myself om eendag te onthou.

Die eerste maand, April, het ek nog aanlyn van die huis af gewerk. Eintlik van my sus se huis af, want hulle wou nie hê ek moet alleen op die plaas bly nie. My week huismaat is terug na haar eie naweek huis tot die kantore weer oopmaak, wat nou nog nie gebeur het nie. Op 30 April groet ek my kollegas van 10 jaar lank. Retrenchment, die vloek woord in die tyd van die virus, maar hierdie was nie as gevolg van die virus nie.

Tot einde Mei bly ek hoop dat die inperking opgehef sal word, maar dit gebeur nie. Ek besef ek sal my eie planne moet maak om by my kleinkind uit te kom. Ek hoor mense se voorspellings van bly veilig, hou ander veilig, maar na deeglike oorweging, kry ek vir my permitte en dokumente (don’t judge) en pak die 600 km na die Oos-Kaap aan. Alleen.

Mense skryf dat mense nie meer lag en gesels met ander mense nie. Dat mense bang is vir ander mense. Ek ervaar my reis glad nie so nie. Mense dra maskers, ja, maar die toegeneëntheid wat ek nog altyd ervaar het as ek so travel, is steeds daar. Waar ek petrol ingooi, wens een en elkeen my ‘n voorspoedige reis toe. En dat ek moet veilig bly. Selfs by die padblokkade, waar ek moet uitklim en in die tent ingaan waar my goed gecheck word, is almal gaaf en hulpvaardig.

Ek gaan een dag alleen Graaff-Reinet toe, want my kar het lankal nuwe bande en skokbrekers nodig en ek weet ek sal nie met veiligheid weer die pad terug kan aanpak as ek dit nie laat doen nie. My skoonseun beding vir my ‘n prys wat beter as enige ander kwotasie is en ek gryp die kans. Ek los my kar by die plek en stap Graaff-Reinet se strate in. Die lug is koel en vars en al het ek my masker op, sukkel ek glad nie om asem te haal nie. Dalk die skoon lug?

Rondom my sien ek dat almal maskers dra. Ek weet dat die Oos-Kaap intussen ontplof het met positiewe gevalle, maar daardie dag het ek niemand gesien wat onverskillig omgaan met hul eie en ander rondom hulle se gesondheid nie. En ja, ek was in verskeie winkels, want ek moes myself besig hou tot my kar klaar was.

Aan die einde van daardie dag, het ek by Steers gestop en vir ons take-aways gekry. Dit was toe kort nadat mens self weer kos kon afhaal by eetplekke. Terwyl ek wag, kon ek by ‘n tafeltjie sit binne Steers. Nog nooit was ek so bly om in ‘n eetplek te sit en wag nie. Mense besef nie jou voorregte totdat jy dit nie meer het nie, is ‘n cliché, maar tog so die waarheid.

Ek het 4 wonderlike weke in die Karoo gehad. Dit was ‘n seëning om elke dag vir Lily te kon sien en natuurlik was elke dag nie maanskyn en rose nie. Amper 3-jariges kan mens se geduld toets tot by breekpunt en terug, maar niks kan daai armpies om jou nek beat en die drukkie en die woorde “ouma moenie huis toe gaan nie want ek HOU van jou”.

Ek het Gouelokkies en Rooikappie vertel tot ek dit in my slaap kon opsê, maar gelukkig het daar ‘n paar nuwe boeke arriveer waarmee ek haar aandag kon aflei. Gouelokkies en Rooikappie het egter die gunstelinge gebly. Nie die boeke nie, my vertel van die storie, met gepaardgaande geluide. Op ‘n dag, toe ek alleen na haar moes kyk, en sy bietjie ma-erig begin raak, laai ek haar op my rug en kruip handeviervoet met haar deur die hele huis. Ek is die krokodil of iets, kan nie meer mooi onthou nie, en ons reis deur die oerwoud. Wat oumas nie alles vir kleinkinders sal doen nie! Wonder bo wonder is my rug nie gebreek die volgende dag nie 😂

Maar mens moet ook weer huis toe gaan en na vier weke vat ek die pad terug Wes-Kaap toe. ‘n Stuk van my hart bly agter en ek weet dis hoe dit altyd gaan wees. Ek hou van my eie huis, maar ek gaan altyd in twee geskeur wees oor hier wees en daar wees. Dis die lewe, live with it, soos hulle sê.

Die pad terug is die pad terug. By Beaufort-Wes sien ek vir die eerste keer die Weermag, waaroor al so baie gepraat is. Daar word ek gecheck tot kort duskant my onderklere. En die army ou sal sowaar nog sy wimpers vir my fladder en geselsies maak. Ek dink in my stilligheid ‘boetie, ek kon jou ma gewees het’, maar ek smile and wave.

Uiteindelik slaap ek daardie aand vir die eerste keer in drie maande weer in my eie bed. Dis vreemd en my hart is seer en ek huil sommer daardie aand bietjie oor alles. Die virus, my ver kinders, die onsekerheid oor die toekoms.

Intussen is daar al weer ‘n paar weke verby. My buie wissel tussen optimisme en plein beneuktheid oor ‘n ontoereikende regering. Ek huil in my hart oor die honger mense, honger kinders en probeer om nie daaraan te dink nie, want mens kan nie almal help nie. Ek huil in my hart oor boere wat wreed gemartel en vermoor word. Ek weet misdaad is orals, maar niemand verdien so ‘n dood nie.

Ek raak soms beangs as my kop seer is of ek met ‘n effense seer keel wakker word. Ander jare was dit my normaal. Ek was gewoond siek word in die winter. Nou baklei ek met mag en  mening om gesond te bly. Ek dra my masker en hou my afstand, maar ek is nie die permanent-in-die-huis-bly tipe nie. Ek was nooit sterk op mense nie, maar ek weet nou dat ek die keuse wil hê om mense te sien of nie. So wys die universe mens soms ‘n punt.

Ek probeer die karwag, die kelner (ja, ek was al weer in ‘n koffiewinkel) en die petroljoggie meer tip as gewoonlik. Want al het hy of sy ‘n werk, is hulle dalk tans die enigste van ‘n hele familie wat wel werk het. Ek reken as jy nog geld het om uit te eet of ‘n kar het om petrol in te gooi, dan is jy nog een van die gelukkiges, so ‘n paar rand ekstra vir iemand, gaan jou nie armer maak nie.

Intussen is ons almal se lewens nog half in limbo. Ons weet nie wanneer gaan daar weer ‘n normaal wees nie en ons weet nie eers of ons deel van daardie normaal gaan wees nie. Ek voel bitter jammer vir mense met depressie, want ek dink nie ek sou hierdie kon verdra as ek nog depressief ook was nie.

Ons kap aan, want ons moet. Soos ons nog altyd het. Mag ons almal heel en veilig, of dan ten minste so min as moontlik geskaad, aan die anderkant hiervan uitkom. Dalk oor nog ‘n 100 dae.

Namasté

One thought on “Honderd-en-hoeveelste dag – vir my eie onthou.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s