Die Lewe

Drank, drink, dronk

Ek is nogal hardegat, ek luister na ander mense se raad en volg daarna weer my eie kop. As ek in ‘n saak glo, sal ek staan en val daarvoor. Voor my blogtyd het ek maklik oordele oor mense uitgespreek, maar ek het ‘n paar lesse geleer en ek het vir Beeps raakgeleef.

Ek glo mense kom in jou lewe vir ‘a reason, a season or a lifetime’. As daar dan geen ander rede is nie, dan staan een rede soos ‘n paal bo water hoekom ek BB moes leer ken. Om te leer dat elke mens wel iets goeds in hom het en om te leer om nie sommer te oordeel nie. Eintlik het sy my net weer duidelik daaraan kom herinner, want my ma het my dit ook reeds van kleinsaf geleer, maar dis net makliker om nie na jou ma te luister nie.

As daar egter een ding is wat ek nog steeds nie kan hanteer nie, is dit mense wat alkohol misbruik. Daar is vir my min dinge leliker as ‘n dronk mens en daar is vir my NIKS leliker as ‘n dronk vrou nie. Ja, ek weet dis seker geslagsdiskriminasie, maar dis hoe ek dit ervaar.

Mag ek saampraat? Ek mag seker in hierdie geval, want ek kan die kere wat ek in my lewe dronk was, op my een hand tel. Ek het egter ander sondes wat minder dodelik is, minder openbaar is, maar my nogtans verhoed om die vinger te wys.

Ek het al vir myself probeer rasionaliseer oor hoekom mense drank as kruk gebruik, maar my kop kan my doodeenvoudig nie tot daar vat nie. Ek verstaan dat drank sommige mense ‘n sosiale persoonlikheid gee, maar in my oë is dit dan ‘n vals afskynsel van wie daardie persoon by sy nugter verstand in werklikheid is.

Ek weet mense drink om van hulle probleme te vergeet, maar wat ookal jou probleme, drank gaan dit nie wegvat of selfs net minder maak nie. Dis bloot tydelike vergetelheid en wanneer jy uit jou dronkenskap ontwaak, is alles nog presies net dieselfde en erger.

Dis nie dat ek nog nooit probeer drink het nie of dat ek niks drink nie. Ek het ook al probeer om glas vir glas saam te drink, maar ek kon nog nooit nie. Ek kan kuier tot die son op kom, ek kan net nie drink tot die son op kom nie. Ek word of vaak, of siek, of simpel en dan hou ek binne oomblikke nie meer van myself nie. Twee glase van wat ookal, dis gewoonlik waar my streep getrek is.

Toe kyk ek gisteraand ‘n Lewe met… en dit gaan oor alkoholisme. Een van my gunsteling aktrises, Elzabe Zietsman, vertel van haar jare en jare se alkoholverslawing. Hoe sy al op skool begin drink het, hoe haar pa haar saam gesleep het kroeg toe en hoe daar niks gedink is van baie drink en hard drink nie.

Sy vertel hoe sy agt jaar gelede vir die eerste keer haarself deur ‘n vriend se oë gesien het en met ‘n skok besef het dis ‘n lelike, walglike prentjie. Hoe sy daar ‘n omkeer in haar lewe gemaak het en die groot vrees toe sy besef sy mag nooit, ooit weer haar lippe aan ‘n glas drank sit nie.

Sy praat en sy praat en deur die pratery vee sy die trane weg, maar sy hou aan vertel. Ek vee ook naderhand my trane weg en iewers binnekant my gaan daar ‘n deernisblom oop vir mense wat in hierdie sosiale dwelm se mag beland. Die sielkundige wat ook in die program is, is van mening dat as drank vandag eers uitgevind is, sou dit bo-aan die lys van hoogs verbode middels gewees het.

Elsabe reken dat soveel as 80 persent van die wêreld se mense eintlik sosiale alkoholiste is. Hoekom het dit vir mense nodig geword om hulself meestal te verdoof? En is die 20 persent wat die wêreld elke dag en nag spooknugter aandurf dan net geneties anders aan mekaar gesit? Want bloot net gelukkiger is hulle nie. Dit weet ek darem.

Watter duiwels besweer mens met besopenheid? Of is drank doodeenvoudig net vir sommige mense lekker, soos wat dit vir Elsabe net lekker was? En later ruk lekker net hand uit en lekker word lelik?

Ek verstaan nog steeds nie. Ek verstaan nog steeds nie hoekom moet mens drink tot jy dronk is nie. Ek verstaan nog steeds nie hoe kan veral ‘n vrou nie besef sy is lelik as sy gedrink is nie, veral in die openbaar. Ek verstaan nie hoekom mense weer en weer drink nadat hulle gesien het wat drank aan hul huis en gesinne doen nie. Ek verstaan doodeenvoudig nie en ek weet ek gaan nooit verstaan nie.

Maar al verstaan ek nie en al is dit steeds my keuse om myself te verwyder uit ‘n dronk geselskap, vra ek vandag genade en begrip vir dié wat in ‘n glas lewe. Mag hulle iewers vandaan die krag kry om daardie glas neer te sit en nooit weer op te tel nie.

29 thoughts on “Drank, drink, dronk

  1. Ek het ook op ‘n stadium ge-selfmedikeer met drank. Hoe dronker ‘n mens word hoe meer onnosel en irrationeel word jy en dit veroorsaak dat jy met mense om jou oor die weg kom. 😉

    ——————–

    A man had been drinking at a pub all night when the bartender finally decided to close up shop. So the man stood up to leave and fell flat on his face. He tried to stand one more time; same result. He figured he’d crawl outside and get some fresh air to try to sober up.

    Once outside he stood up and fell flat on his face. So he decided to crawl the four blocks to his home. When he arrived at the door he stood up and again fell flat on his face. He crawled through the door and into his bedroom. When he reached his bed he tried one more time to stand up. This time he managed to pull himself upright, but he quickly fell right into bed and was sound asleep as soon as his head hit the pillow.

    He was awakened the next morning to his wife standing over him, shouting, “So, you’ve been out drinking again!!”

    “What makes you say that?” he asked, putting on an innocent look.

    “The pub called. You left your wheelchair there again.”

  2. My pa en ma het nie gedrink nie. Niks. My pa beweer drank maak hom siek voel. Dalk een of ander allergie? Dalk het hy hom as jongman dronk gedrink en besluit nooit weer nie. Wie sal weet? My man drink ook nie. Hy sal Coca Cola vir maande, een aand lus kry vir ‘n glas wyn, port of sherry, dit opdrink en klaar. Ek besef ek is ‘n baie bevoorregte vrou om nie die seer te ervaar van ‘n gesin wat deur drank beheer word nie. Skoolmaats van my het wonderlike ouers gehad wanneer hulle nugter was – wat bitter min gebeur het. Dis hel om so groot te word.

    Ek drink my glas rooiwyn, maar as dit vir my voel of ek my woorde versigtiger moet begin uitspreek, stop ek (gewoonlik). Het genoeg probleme met myself nugter, wil nie nog drank by die mix voeg nie 🙂 En ja, die uitwerking wat drank op my het is dat ek ook begin dink ek raak vreeslike waarhede kwyt. Sot, want ek is nie eers baie diep as ek nugter is nie 😆 .

    Ons vriendekring het baie dieselfde vat- dit- of -los- dit- houding oor drank. Ons kuier heerlik sonder ‘n druppel alkohol. Dus is daar geen druk en geen voorvalle waaroor mens later moet bloos nie. Ek kyk ook maar na ouens wat voel die partytjie begin nou eers as almal dronk raak en skud my kop. Teen daai tyd is ek so verveeld met hulle geselskap, die partytjie is vir my geheel verby.

  3. Dis altyd vir my ‘n eina onderwerp hierdie omdat drank die oorsaak was vir jare lange pyn in ons gesin. Om ‘n lang storie kort te maak, my pa het homself dood gedrink. Ek het so met die groot word besef, hy was siek en in plaas van kwaad te wees vir hom, was ek kwaad vir die mense om hom wat hom nie gehelp het nie. Dit was ‘n verslawing en hy het hulp nodig gehad.

    Dit daar gelaat, in my lyn van werk sien ek hoe ‘n glasie of 2 mense se lewens kan verwoes. Glo my, dis dit nie werd nie. As jy dan nou weet jy gaan na ‘n party en daar gaan drank betrokke wees…maak seker jy’t ‘n ‘dedicated driver’. Dis onnosel om te bestuur as jy gedrink het.

  4. Niks fout met ‘n dronk vrou nie behalwe dat sy weer nugter gaan word in die oggend en dan vir jou gaan sê “I s’pose now you won’t respect me no-more heeey?” 😈

  5. Sjoe, dit was besig hier 🙂 Ek respekteer elkeen van julle se opinies. Ek dink ook nie hier is een dronklap hier tussen ons nie. Ek HOU van kuier, alhoewel ek nie altyd van mense hou nie. Ek hou van sommige alkoholiese drank, maar ongelukkig (of dalk gelukkig) hou alkohol nie baie van my nie. Ek het al aan eie bas gevoel wat drank aan ‘n huis kan doen. En ja, dis dus deel van my bagasie. Dronk mense is lelik, of hulle nou sosiale drinkers of alkoholiste is. Hierdie post gaan vir my meer daaroor dat mense drank as onskadelik sien, as sosiaal aanvaarbaar. Kinders begin al hoe jonger drink. Ons veroordeel dagga en ander dwelms. Drank is NIKS minder gevaarlik as enige ander dwelmmiddel nie. En daarby sal ek staan en val 😈

  6. Oggendson, ek dink dis vir JOU wat ek ‘n tjoklit skuld!!!! Thanx hoor!!! Oor drank en wat dit aan gesinne doen? Dit kan so mooi wees maar nou moet die span hulle eers VERSUIP!!! Maar waar ‘n klompie vriende bymekaar is, mekaar se geselskap geniet en weet waar die perke is (waar’s dit???), het ek nie ‘n probleem nie!

  7. Ek slat die ou wat jou kommentaar onder spam sou gooi, Vlam – ongelukkig weet ek nie eens hoe dit werk nie, het egter nou heerlik verdwaal tussen al die blogs en sooo lekker gelees aan ‘n hele klomp skrywes – waar gaan ek die tyd inpas – sal die Landbouweekblad moet los en PlaasJuppie lees : ) Laat weet tog wat en hoe ek iets moet regmaak?
    Drank? Is ‘n wetter. Het my kinderhart in ‘n kerker laat inkruip, byna my gebroeder vernietig : (

  8. Ek hou van sosiale kuier. Ek drink my wyn of whisky en soms as dit baie warm is, is ‘n koue biertjie ook nie te versmaai nie. As daar ‘n geleentheid is by ons, dan word daar beddens opgemaak (soms ‘n bank as dit moet) en hulle slaap oor om more oggend weer na ‘n stewige ontbyt te ry. Persoonlik dink ek daar is niks fout met ‘n lekker kuier om ‘n braaivleis vuur nie solank mense net nie drink met die spesifieke doel om dronk te word nie.

  9. ok, bygesê, daar is van my vriende wat nie kan onderskei tussen ‘n veilige plek/tyd en onvanpaste tyd nie (wanneer hulle moet terugbestuur/verantwoordelikhede het). Ek is bekommerd oor hulle. Miskien bevorder ek die gewoontes deur af en toe saam te drink. Hulle kom nie agter dat ek net een bier drink, terwyl hulle al 4 weg het nie. Ek moet strenger wees op my vriende, of hulle gaan luister of nie…

  10. Mense kom nie agter dat hulle al hoe meer laf word na elke glas en hul verantwoordelikheidsin stadigaan verloor nie. Dit is ‘n geleidelike proses en vir die dronk een voel dit of hy nog in beheer van alles is en dat sy gedrag nog gepas is in die situasie. Dis ‘n swak kultuur wat sê, as daar drank is, is dit okay om dronk te word.

    Mense glo mos ook dat daar altyd ‘n glas voor jou moet staan. Ek haat dit as ek in ‘n kroeg/kuierplek sit en mense vra: “waar’s jou drank?”
    Sê ek, ek wil nie nog drink nie, dan kyk hulle my eers vuil uit en koop dan vir my drank, om nice te wees of omdat hulle skaam voel om alleen te drink. en hulle vat nie ‘nee dankie’ as ‘n antwoord nie. Ek sit egter daar omdat ek tyd met my vriende wil spandeer en ek het nie drank nodig om te sosialiseer nie.

    Ek het my aande waar ek en maats vooraf beplan om in ‘n veilige plek meer te drink, maar selfs dan sal ek nie drink tot ek siek is nie. Ek dink die hele idee waarom ons wil dronk word, is juis om inhibisies te verloor en ‘n stil partytjie in ‘n sirkus te laat verander. Maar net as die tyd en plek en crowd reg is.

  11. Eie opinie – ons persoonlikhede wat mense om ons sien word geprojekteer uit ‘n beeld wat ons van onsself wil sien as ‘n geballanseerde lid van die samelewing, gespruit uit ‘n behoefte om “in te pas” en aanvaarbaar te wees. ‘n Oormaat drank het die vermoë om ons WARE persoonlikhede, die sondige een waarvoor ons eintlik skaam is of nie bewus is van, na vore te bring en bloot te stel. Ek hou daarvan om suipelinge dop te hou – dit vertel vir my presies watter tipe van persone hulle WERKLIK is, sogenaamde mans of sogenaamde dames. Ek en die Kaptein of Olaf kan ook net so lekker kuier, so eenkeer ‘n maand (wanneer ek dit kan bekostig!). Ek raak katools en vang allerhande snaakse dinge aan of trek almal se siele uit, waar ander ouens nou weer aggressief, depressief of argumenterig of slim raak.

  12. Om sosiaal ietsie te neem is nie ‘n skande nie. Om so lekker te kuier dat jy dalk een of twee te veel vat en jy ‘n bietjie slimmer of meer bekkig as gewoonlik is, is ook nie ‘n major skande nie.
    Wanneer jy egter in ‘n manier begin optree wat die mense om jou in die verleentheid stel of ongemaklik maak, dan is dit tyd om jouself uit die geselskap te verwyder. Ek neem ‘n drankie vir my plesier en ek drink teen ‘n pas en hoeveelheid wat vir my gemaklik is. Daar is min dinge in die lewe wat my so onmiddelik galsterig maak as iemand wat aan my torring om nog ‘n dop te maak as ek nie daarna voel nie.

  13. O ja

    Ek kan iets oorkom as iemand my met TROTS vertel hulle het opgehou drink. Dit is gewoonlik die mense wat ‘n somtotaal van twee glasse vonkelwyn in ‘n jaar drink. Weet hulle dan nie in die eerste plek dat ‘n mens moet drink om te kan op hou nie.

    Nee dankie, ek hou nie van drank nie is ‘n aanvaarbare antwoord. Ophou drink nogal.

  14. Ek sal ook erken dat ek maar hou van ‘n sosiale kuier. Gelukkig word mens iewers along the line groot, en besef jy hoe onverantwoordelik dronkbestuur is. Ek het ook eenkeer al in my bed wakker geword, en ek konnie onthou hoe ek die vorige aand daarin gekom het nie. Maar dit het gelukkig as ‘n wakkerword gedien, en my geleer waar my perke is. Ek is lief vir my wyntjie, en ook my biertjie. Ek is mal oor my Cuervo… maar ek weet presies waar om die streep te trek en verder op my Coke te kuier. Ek hou regtig van die smaak van wyn en bier en tequila, en drink dit nie om dronk te word nie, of om te vergeet van probleme nie. Daarvoor is ek regtig ‘n te positiewe en oopkop persoon, ek stamp nie my kop twee keer nie.
    Wat vir my regtig lekker is, is ek dink meer mense besef dit en dat kuiers al hoe meer deesdae gereël word met die gedagte dat mense oorslaap, al is dit nou ook op ‘n bank.

  15. Jy is reg – ons denke was vandag opdieselfde onderwerp. Ek sien soveel seer elke dag agv drankmisbruik. Drankmisbruik en dronkenskap se gevolge is altyd lelik. Dit veroorsaak dat kinders hulle respek vir ouers verloor en ‘n weersin in hulle ontwikkel. Dit het die gevolg dat huweliksmaats se liefde vir mekaar eenvoudig doodgaan. Soveel kinders het nie kos vanwee drankmisbruik. Hoeveel mense verloor hulle werk oor drank. Ek kan baie voorbeelde noem, maar drank verander mense se persoonlikheid, maak van liefdevolle mense mishandelaars, maak van stil mense grootpraters. Vernietig goeie vriendskappe en maak verkeerde vriende. Ja – dit begin aanvanklik as ‘n sosiale grap , maar as jy val – dan staan jy alleen.

  16. Drank is ‘n euwel. Môre oggend is al die probleme steeds daar en ‘n kamurse hoofpyn toot boot. Ek moet tog erken, ek is geneig om te veel te drink as die wyn leke is, maar, as die moontlikheid bestaan dat ek sal moet huis toe ry, sal ek nie eers enetjie drink nie. Nee, wat, as ek per geleentheid te veel gedrink het, sou dit tuis gebeur het. Nie omdat ek “iets” wil vergeet nie, bloot net omdat die wyn te leke was. Ek moet dalk maar by whiskey hou. Dis nie leke nie, een sopie is genoeg om my af te sit tot Piet kom.

  17. Nah, ek ry nie rond as ek gesuie het nie. Maar ja, once in a blue moon geniet ek my ou rooiwyntjie tog so baie. En soos jy, BB, raak ek diep filosofies en baie, baie slim. Ek kon nog elke keer self tot by my bed kom, selfs onthou ek het kinders om te versorre. 😆

  18. Vir mense wat aan enige verslawing ly het ek baie simpatie – dit is ‘n siekte. Hulle sal nooit volkome genees nie.
    Maar die mense wat onverskillig drink en dan in ‘n kar klim en onskuldige mense verlam of dood maak, kan vir my part maar tronk toe gaan en die sleutel weggegooi word.

  19. Wat dink jy het ek hom gesê Narciepit?? :mrgreen: Ek het gesê: “Virre seemingly intelligente wese is jy seker een van die toonbeelde van stupidity! En nie net stupidity nie, maar arrogansie in die ergste graad!”. Netso het ek hom gesê, want “jy weet nie hoe jy by die huis gekom het nie? Nevermind hoe laat – maar hoe?!?! As ek OOIT uitvind jy klim in so ‘n toestand agter die stuurwiel in, bel ek die Polisie en gee hulle jou registrasie nommer! En mag hulle jou vang voor jy die dinderse duiwel se dag (of issit nag) maak en iemand doodonskuldig in jou pad beland!! 👿
    Weet jy wat is erger as die actual ‘daad’?? Die spogpraatjiesen grappies dae daarna… en die verbaasde uitdrukking op die ‘manne’ om hom se gesigte wat reken ek is darem nou vreeslik lelik met so ‘n seemingly ‘nice’ guy…
    en ek was nie klaar nie – helfte van hulle was afterall saam met hom daar…
    “mooi pelle wat julle is!! Seg ek. Oppie ou einde wil ek sien hoeveel van julle nog oor 10 jaar vir hom Saterdae in die tjoekie gaan loop kuier oor hy skuldig bevind is aan moord – o, ekskuus, dronk bestuur is afterall ‘net’ strafbare manslag en seker as hy groot berou betoonkan hy op goeie gedrag dalk die tronk vryspring…
    Nou trippel hulle weer op hullese tone om my kantoor -maar dink steeds waarskynlik dit merske snaaks… red ‘n volk!! 🙄

  20. Imagine jy is vir jouself slegs regtig werklik aanvaarbaar as jy gedrink het, Sonnemarie… nie die dronk jy nie… die real jy… DIS om van te huil, ja… maar glo my nou maar vry – as dit JY was het ek ook soos daai vriend opgetree en jou jouself deur my oë laat kyk. As dit nie jy is nie – of for that matter iemand is vir wie ek ‘n vlieënde vaandel voel, sal ek myself ook uit die geselskap verwyder (waarin ek in die eerste plek nie hoort nie… of hopelik nie uit eie vrye keuse sal wees nie).
    Jip, ek kan ook 3 shooters te veel vat oppe lekker kuieraandjie – veral as ek ‘n plattertjie voor my het en ‘n bottel Va-va-voooooom- ehm-dka. Ja, ek vergeet soms na 3 glasies rooi, dat ek môre gout EN kopseer gaan hê… en ek raak simpel en giggelrig en SLIM… jinne ek raak deeply profoundly profound!! (en hups ook :mrgreen: dis hoekom die H nie regtig omgee nie, sien 😉 ) – MAAR – ek drink nie sommer assie H3 nie by is nie – om my huistoe te vat of at least die trappe op te sleep nie… en AS dit gebeur is dit once upon a blue moon.
    Ek drink en dan raak ek (soms – is eenkeer per jaar ‘soms’??) ‘n biiiiiietjie aangeklam. Ek drink nie óm dronk te raak nie. My x3 het eendag gesê: “dis afterall waarvoor alkohol daar is, dan nie??” 😕 – dis hoekom hy my x3 is :mrgreen:

    Een interessante statistiek: 1 uit 20 vroue het nog nooit nugter gekafoefel nie 😯 as ek party girls se partners so kyk of luister, verstaan ek wragtig hoekom… 🙄

    Stres is blykbaar die grootste oorsaak vir ‘n drank probleem – ek reken weer ‘n drankprobleem veróórsaak soveel stres, dat jy móét drink om weer van die stres ontslae te raak – catch-22 : wie was eerste – die hoender offie eier 😕

    Onthou ook dat alkoholisme baie beslis ‘n “progressive disease” is. Die mental afhanklikheid en die physical afhanklikheid is elk op sy eie reeds moeilik om te oorkom en die kan by die een of die ander begin – maar teen die tyd dat die een dit na die ander ‘oordra’ – en die totale jy op alkohol staatmaak om die lewe leefbaarder te maak – kan ek nie imagine hoe dit moet wees om vasgevang te wees in daardie web van selfvernietiging nie.

    Imagine Jose Cuervo is jóu allerbeste buddy… die een op wie jy staatmaak en vertrou dat jy wél ‘good enough’ is … 😦

  21. Ek probeer ook hard om BB se voorbeeld te volg, maar ek moet erken ek is absoluut useless daarmee (eelt het my hoeka nou die dag weer moes aanspreek oor ek links en regs mense oordeel). Daarom verkies ek ook eerder maar om myself eenvoudig uit so situasie te verwyder.

    Maar ek kan tog nie help om te wonder waar het alles so skeefgeloop dat ‘n mens heel eerste moet besluit wat en hoeveel drank jy moet saamneem as jy ‘n sosiale geleentheid soos ‘n braaivleis genooi word nie. My kop is te plat

    1. PJ – jy WIL NIE vanoggend se gesprek hoor wat hier op kantoor plaasgevind het, toe ek moes aanhoor hoe dit ouens vertel van hoe ‘n heerlike aand hulle Vrydag ná die lentedagbraai gehad het – en die klomp vir die een lag wat “nie kan onthou hoe hy by die huis gekom het nie… en in die dogbox was… en sy vrou hom nie verstaan nie…”…
      Arme ARME man! :mrgreen:

      1. Dis net snaaks tot hy met sy dronkgat ‘n onskuldige persoon die ewigheid instuur. En volgende week doen hy dit weer, net omdat sy vrou durf waag het om vir hom kwaad te wees.
        Kyk nou wat het jy gemaak, there I go being all judgemental again!

Lewer kommentaar op madele Kanselleer antwoord