Book reviews · Die Lewe

If you are white, you can never know what it’s like to be black

Dit, in een sin, is die opsomming van Jodi Picoult se Small Great Things.

small-great-things

Dis een van die mees vuis-in-die-maag boeke wat ek nog ooit gelees het. Ek gaan nie ‘n resensie hier probeer skryf nie, maar hier mag dalk van die storielyn weggegee word, so moenie hier lees as jy nie wil weet nie.

Die boek is oor Ruth Jefferson, ‘n kraamverpleegster vir meer as 20 jaar. Sy is ‘n weduwee – haar man is dood in Afghanistan, waar hy lid was van die Amerikaanse magte. Haar seun, Edison, is ‘n topklas student. Ruth is ‘n swart vrou. Sy bly in ‘n merendeels wit area in Connecticut. Sy is die enigste swart verpleegster in die kraamsaal van die hospitaal waar sy werk. Sy is ook een van hulle beste kraamverpleegsters.

Om te oorleef in hierdie wit wêreld, het Ruth haarself oortuig dat ras nie saak maak nie. “I treat people the way I want to be treated,” sê sy, “based on their individual merits as human beings, not on their skin tone.” En toe wit “supremacists” Turk en Brittany Bauer weier dat Ruth aan hulle pasgebore baba raak en die hospitaal ingee daaroor en haar verbied naby die baba, is Ruth geskok tot in haar siel. Sy gehoorsaam die opdrag, maar dan is daar ‘n krisis in die hospitaal, sy word alleen gelos by die baba en hy hou op asemhaal en sterf. Ruth word aangekla van moord, tesame met nalatigheid.

Die titel van die boek kom van die Martin Luther King Jr aanhaling: “If I cannot do great things, I can do small things in a great way.” Ek lees dit as elkeen van ons moet die beste en meeste doen wat ons kan om goeie dinge in die lewe te doen, selfs al is dit klein dingetjies. Want ‘n klein daad se rimpels trek soms baie ver.

Ons is so lief om vir onsself te vertel; “ek is nie ‘n rassis nie.” Het ons al ooit ons eie diepste rassistiese gedagtes reguit in die oë gekyk? As jy dink jy is nie ‘n rassis nie, as jy dink ons lewe in ‘n wêreld waar rassisme iets van die verlede is en almal moet nou net oor dit kom, dan is hierdie PRESIES die boek wat jy moet lees.

Die boek speel af in Amerika, tydens die tyd wat daar ‘n swart president was. Mens sou dink daar is rassisme lankal iets van die verlede en almal is gelyk – the American dream. Ja, ‘n droom is dit inderdaad. Suid-Afrika dra nog te swaar aan sy verlede dat so iets op hierdie tydstip hier sou gebeur, wat met Ruth, die swart verpleegster, in die boek gebeur het. Turk en sy vrou sou waarskynlik hier in Orania gebly het. Want dis al hoe hulle sou kon seker maak geen nie-wit persoon raak aan hulle baba nie.

Bestaan daar werklik mense soos Turk en sy familie en vriende? Ja, ek glo daar doen. Nie net in Amerika en in Suid-Afrika nie, maar ook in ander lande. Dieselfde tipe mense as wat Hitler was. Mense wat glo hulle is uitverkore, omdat hulle wit is, omdat hulle bloed suiwer is, omdat wat-ook-al. Mense wat dink ander mense, wat nie soos hulle lyk nie, of nie soos hulle dink nie, is minderwaardig. Minderwaardige burgers, minderwaardige mense. Mense wat jy kan bydam en tot ‘n pappery slaan, sommer net omdat jy kan. Mense wat jy met minagting kan behandel, omdat hulle vel ‘n ander kleur is.

Rassisme sny natuurlik na twee kante toe. In SA ervaar ons dit deesdae aan ons wit vel ook. Verdien ons dit? Dis ‘n moeilike vraag om te antwoord. Niemand wil hoor hy of sy verdien dit nie. Ons almal wil tog so graag hê dat apartheid iets van die verlede moet wees en dat ons nou almal saam een happy nasie is. Dis die South African dream. ‘n Droom inderdaad. Dis nie waar nie en dit gaan nog vir ‘n baie baie lang tyd nie waar wees nie. Indien ooit.

Ons het tans ‘n regering wat almal gefaal het, maar veral die mense wat hulle in gestem het. En tog bly daardie mense vir hulle stem, want hulle glo selfs dit is beter as om dalk weer eendag onder ‘n regering te staan wat jou oordeel slegs op jou velkleur. Dis die hartseer van ons land. Dit, en die misdaadsyfer, en die werkloosheidsyfer, en die rassisme waarmee ons elkeen nog elke dag worstel. Want ons doen. Jy kan maar nie-wit vriende hê, jy kan maar so liberaal wees dat mense jou uitskel vir ‘n libtard, in ons elkeen is daardie stukkie wat maak dat jy soms die pad kruis as daar meer as een swartman van voor af aankom. Wat maak dat jy jou handsak stywer vashou as die wêreld meer donker is om jou. Sou jy dit gedoen het as dit wit mans was wat van voor af aangeloop gekom het? Sou jy regtig jou handsak stywer vasgehou het as dit net wit mense in die supermark was?

Mens sou dink dis al anders in Amerika. Toe nou nie. As jy wit is, weet jy nie wat dit is om swart te wees nie. Sal jy NOOIT weet nie. Kan jy jou probeer indink, maar dis so goed jy dink jou in hoe dit moet voel om uit ‘n vliegtuig te spring sonder valskerm. Tot jy regtig spring, sal jy nie weet hoe dit voel om te weet jy val grond toe nie, sonder valskerm.

Ek volstaan met hierdie woorde uit die boek: “…you can’t even understand when you say race doesn’t matter. All I hear is you dismissing what I’ve felt, what I’ve lived, what it’s like to be put down because of the color of my skin.”

 

Advertisements

21 thoughts on “If you are white, you can never know what it’s like to be black

  1. Rassisme. ‘n Vuurwarm woord waaroor daar ure der ure geredeneer en geargumenteer kan word. Is persoonlik reeds deur verskeie swart personeel verpleeg en ook per geleentheid deur ‘n swart dokter geopereer en ek dink die groot vraag is of ek dit anders sou wou gehad het.

    Net so staan ek saam met anderskleuriges in die ry by Pick & Pay, die poskantoor, en MTN se verkooplokaal. Weer eens dieselfde vraag.

    Ek gun wel elkeen in die wêreld sy plek in die son en wie goed genoeg is vir wat ookal moet dit kan doen. Ek glo ook die wet wat geskep was om rasse te onderdruk was verkeerd, maar wanneer ek MAG kies, is my keuse seker dit wat ek wil hê en hoef ek seker nie vir daardie keuse voor ‘n vuurpeleton te staan nie. So, soms gaan my keuse A wees en soms B.

  2. Jy is reg Son, dit is beslis snoeityd. Miskien is Trump die GROOT skêr?
    Bietjie van koers af, maar het jy al daardie boek van Richard Rohr “Falling Upward” gekry en gelees? Dit het ook baie te doen met hierdie problem en hoe jy dit hanteer. Wasdom is maar die sleutelwoord vir meeste van ons sosiale probleme.

  3. Ja,praat van rassisme,plaas aanvalle,julius malema,swarte wat strate invaar met kapmes en blankes aanval,swartes het my al beskuldig dat blankes geld gesteel het vorige bedeling.terwyl hul die grootste skelms is ter wereld is.hul like ons eenvoudig nie.is besig om ons uit te moor.hul beskuldig ons van rassisme,weeg maar op wat ek van hul se en kyk hul rassistiese lewe.swartes kan nooit vertrou word nie.hul verander in ‘n oogwink in kriminele.

  4. Op ‘n ander noot: ons is factual beings; ons lees koerant, kry nuusberigte op ons fb feed en is waarskynlik van die mees (sosiaal) misdaad gebombardeerde nasies in die wêreld. Die skoonmaker by die gym hou baie beslis haar handsak ook stywer vas in die trein op pad huistoe en op die sypaadjie op pad stasie toe, as wat sy dit in die mall sou doen. Die feit dat ons almal oor kennis en misdaadstatistieksyfers beskik, maak ons meer (oor)versigtig in meeste aspekte wat met die beskerming van ons persoon en ons besittings te doen het.
    Mens kan nou hare kloof oor “persentasie per” of die wet van gemiddeldes, maar wanneer jy jou handsak stywer vashou, word slegs bepaal deur óf ‘n vorige negatiewe gebeurtenis óf jou verwysingsraamwerk (nuusberigte/stats ens). Dit is volgens my geensins ‘n verband met die algemene definisie van rassisme of rassistiese optrede nie.
    As ‘n muslim met ‘n kopdoek en ‘n rugsak en duidelik opgestopte baadjie saam met my aan boord van ‘n vliegtuig klim en dit my senuweeagtig maak, is ek rassisties of is ek maar net beïnvloed deur my (hoe ookal beperkte) insig en of kennis? En as ‘n swart man dieselfde voel oor einste muslim op daardie vliegtuig? Wie is die rassis? Ek en hy? Of net ek?
    Rassisme volgens my is ‘n blatante (meesal versteekte) supreme denke dat jy op ‘n hoër vlak beweeg. Dieselfde as klassisme, net met kleur daarby toegevoeg – dus erger maal twee. Gewoonlik ag ek opperste en uitgesproke rassiste as ‘n effe laer waarde wese (beslis nie omdat ek dink hulle is van laer waarde), omdat ek reken dat wanneer jy jou mens-waarde ken, jy regtig nie eens ‘n greintjie belangstel om soveel as ag te slaan op iemand anders se velkleur nie.
    Ek weet ek oorvereenvoudig dit in my koppetjie, maar regte egte behoorlike self-worth (albei kante toe – die oortreder en ja, in sommige gevalle beslis ook die klaer s’n) is ál wat ooit dié brug gaan help bou om almal uiteindelik daar oor te kry.

  5. Ek moet smile oor die ooreenkomste tussen my en Ruth. Ek is ‘n vroedvrou in die Midde Ooste, een van net 3 wit personeellede in die hele hospitaal.

    Oor die algemeen is daar nie probleme nie. Ek dink ek het goed ingeskakel by al die vreemde nasionaliteite en velkleure. Maar…laat een van ons drie wittetjies droogmaak of iemand ongelukkig maak, dan hoor mens maklik goed soos “she thinks she can do it because she is white.” Of “nothing will happen to her, because she is white.”

    Daar is al vir my vertel dat alle wit mense ryk is omdat ons die hele wereld gekolonialiseer het, rykdomme van die kolonies geplunder het, en ons, die nasate, se sakke steeds bult van die buit. Ja, dis hoekom ek in ‘n vreemde land met vreemde gewoontes werk en my familie net 2 keer ‘n jaar sien. 😉

    Of hulle se goed soos “you know you white people, you never greet anybody. ” Ai tog.

    Aan die ander kant is ek al stokoud, maar – tensy hulle vreeslik vir my lieg! – hulle dink ek is erg mooi. En ek weet vir ‘n feit ek is maar ‘n averagerige skoonheid. Ek loop met ‘n verpleegstersuniform rond, maar 90 % van ons pasiente noem my doctora. My wit vel sit my skynbaar outomaties in ‘n ander klas. Bygese darem, ons dien ‘n eenvoudige gemeenskap.

    So ja, rassisme is seker maar ‘n natuurlike ding, ek weet tog ook nie meer nie!

  6. Ons is almal rassiste. Alle mense! Die oorsprong is ons neiging om te varalgemeen. Ons is geneig om eienskappe van enkele mense/voorvalle/dinge deur te trek na alle soortgelyke mense/voorvalle/dinge. Bv. Ons is versigtig vir honde want hulle sal soms byt. Ons ignoreer katte want hulle is nie gevaarlik nie. Ons is versigtiger vir bulterriers as vir labradors.

    Die lewe is onmoontlik sonder veralgemening nie. Ons kan nie normaal lewe as ons nie maklik ‘n mens, dier of ding vinnig kan kategoriseer nie. Dink hoe moeilik jou lewe sal wees as ly elke keer van vooraf moet bepaal: Hierdie ding het vier pote, dis dus ‘n hond of ‘n kat of ‘n tafel of ‘n stoel. Ok, dis van hout gemaak (net die bepaling waarvan dit gemaak is, is al ‘n probleem sonder veralgemening!), so dis ‘n tafel of ‘n stoel, ens.

    Hierdie neiging om te veralgemeen is natuurlik en noodsaaklik, maar in sommige omstandighede in die moderne lewe is dit teenproduktief – veral wanneer ons deur veralgemening teen ander mense diskrimineer. Dan is dit rassisme.

    En dis net as ons onsself ken en ons ingeboude rassistiese neigings ins onsself erken, dat ons dit bewustelik teë kan werk.

  7. Ek kan nie en gaan nie weer vir iemand sê dat “race doesn’t matter”. Ek wys dit en as dit nie duidelik genoeg wys nie, gaan my woorde in elk geval soos ‘n spul klinkende simbale net groteske klankversteuring veroorsaak.
    Ek onthou my ouma het altyd gesê: Jy kan nie mense troos met jou gebrek aan ondervinding nie en: As jy nie kan troos soos ‘n ma… moenie.

    1. Ek probeer dit ook wys, en tog faal ek soms nog bitterlik. Maar bietjie vir bietjie leer ek. Soms kan mens tog troos terwyl jy erken ek weet nie heeltemal hoe dit vir jou is nie, maar ek is hier. Al is dit net om jou hand vas te hou.

  8. Ek het ongelukkig nog nie hierdie een gelees nie … ook op my lysie 🙂 maar ek love haar boeke want dit laat jou dink … meestal oor jouself en die leuns wat jy soms vir jouself vertel !

  9. Wys my iemand wat sê hy/sy is nie ‘n rassis nie, en ek wys jou ‘n leuenaar. Daar is wel ‘n onderskeid te make tussen ‘n recovering racist en ‘n perpetuating racist. Omdat daardie kloof so wyd is, het die regering van die dag ‘n massiewe rol te speel om die partye nader aan mekaar te bring sodat ons daaroor kan begin praat en meer recovering racists kan skep. Die regering, op makro vlak, en ons, op mikro vlak, misluk altwee klaaglik

  10. Ek dink ek gaan beslis die boek op my lysie sit.

    Rassisme is ‘n touchy onderwerp “Of ons dit verdien?” Ek weet nie, net so kan ek vra of hulle dit verdien?

    Ek verkies egter om geen niks te sê oor dit nie.

    Dankie vir die boek, ek sien uit om dit te lees.

    1. Deesdae dink ek enigiets is moontlik oral in die wêreld. As ek die wêreld en die mens gemaak het, sou dit nou die tyd gewees het om bietjie te snoei – met respek gesê.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s