Die Lewe · Gedagtes

Indrukke en gedagtes – tong in die kies

Vrywaring: Hier is geen ooreenkoms tussen ware gebeure en mense nie. Alle karakters is fiktief en enige ooreenkoms wat daar blyk te wees, is bloot toevallig. (Of so iets)

Dis die tweede dag van die strategie werkswinkel. Ook die laaste dag en ook Vrydag. Daaroor is sy baie bly. Die dag strek lank en vervelig vorentoe. Koffie en ‘n halwe muffin maak nou nie juis op vir die harde stoele en die aanhoudende dreuning van ‘n stem wat praat oor “cutting-edge technology”, “visions for the group”, “innovation and scientific rigour”. Die gratis middagete regverdig ook nie die verveling nie. Dit sal beslis weer ‘n keuse wees tussen iets degerigs of broderigs. Sy kon nog nooit verlei word deur brood of deeg nie. Sjokolade ja. Maar dit kry mens nie by werkswinkels nie. Nie eers meer pepermente nie. Net water. En vandag ook appels en lemoene. Wie se idee dit was, sal mens maar net kan wonder. Lemoene is morsig en appels eet girts-girts. Outydse pepermente kon mens darem besadig suig. Stilletjies. Maar niks is mos deesdae stilletjies nie. Alles is so “out there”.

Oorkant haar sit die kollega met die stukkie papier geplak oor haar selfoon se voorste kamera ogie. Sy het dit gister al raakgesien maar nie regtig kennis geneem daarvan nie. Toe hoor sy vanoggend die gesprek. Die kollega se skootrekenaar se kamera ogie is ook glo toegeplak. Iemand het haar daaroor gevra. Die verduideliking: “People can look at you through that camera. Spy on you. Watch you. What you do and everything.”

Sy het nie slapelose nagte oor ander mense se krake nie. Soos iemand so mooi op Facebook gesê het “sanity is for the weak”. Syself het genoeg krake van haar eie om haar genoegsaam besig te hou. But sometimes the mind still boggles. Sy vermoed sy gaan gereeld in die toekoms skewebek trek of vingertekens maak vir haar foon se voorste kamera. Net vir ingeval. Mens moet darem die mense wat jou dophou iets gee om voor te kyk. Dalk sal sy so nou en dan die see en die berge ook vir hulle wys.

Sy loer na haar horlosie. Hulle is klaar ‘n halfuur agter die program. Niks nuuts daaraan nie. Hulle is soos die InterKaap bus. Die verskil is net dat hulle nie die tyd iewers gaan inhaal nie. Dit gaan ‘n laaang Vrydag raak. Gister was meer interessant. Hulle het ten minste iets aktiefs gedoen. Vir die eerste uur. Dis aan hulle opgedis as “The Amazing Race”. Laat sy eerder nie uitbrei nie. Drie van die aktiwiteite was nogal uitdagings. Oor die ander sal sy maar ‘n stilte handhaaf.

Sy kyk ver uit oor die berge. Gelukkig is hier ‘n uitsig. Daar bo loop ‘n voetpad. Wens sy kon eerder daar stap. Die stilsittery en luister maak haar vaak. Sy teken huisies en blommetjies in die notaboek. Maar sy is nou nie juis ‘n kunstenaar nie. Sy moet begin oplet. Hulle is amper daar waar elkeen moet vertel waar hul hulself sien oor twee jaar. Of vyf jaar. Dis tog so ‘n pot pap. Sy weet nie eers aldag waar sy haarself volgende Maandag of volgende maand sien nie. Sy kan dood wees oor twee jaar. Dis wensdenkery om te dink almal weet waar gaan hulle wees volgende jaar dié tyd. Of oor 2 jaar. Of oor 5 jaar.

Haar foon bzzz bzzz onder die agenda papier. Aaargh! Nog ‘n begrafnispolis advertensie sms. Waar de hel kry die mense jou nommer?! Delete delete. Sy gaan gou vinnig in Facebook in. Gelukkig is hier gratis wi-fi. Haar oog vang ‘n paar van die ander mense wat ook kop onderstebo sit, foon in die hand. Mens dink jy kyk gou ongemerk, maar eintlik weet almal dat almal gou emails check, Facebook check, Instagram check.

Van Instagram gepraat, sy het lanklaas iets daar opgelaai. Dalk kan sy gou die uitsig afneem en oplaai. #strategy #allinadayswork. Hashtag bleddie vervelig!

Dis nou die 2 jaar / 5 jaar plan tyd. Soms is dit tog interessant om na mense se lewensplanne te luister. The road to whatever, paved with whatever. Niemand staan ooit op en sê voor almal dat hulle hope to hell hulle gaan nie nog oor twee jaar by dieselfde plek werk nie. Of hulle beplan om te verdwyn nie. Of om te skei nie. Of om hul kredietkaart af te betaal nie. Of die banklening of klererekening. O nee! Almal het net edel, ambisieuse uitsigte op hul toekoms. Hulle gaan groei, grade klaarmaak, studies begin. Betrokke raak by gemeenskapswerk. Minder bevoorregtes ophef. Wel, more gebeur die lewe weer. Maar dis goed om te droom, om ideale te hê. Without dreams, life is death.

Teetyd verby. Hoo haa. Nog koffie, nog muffins. Sal maar die naweek iewers ‘n gym sessie inpas. As sy nie te lui is nie. Sy wens sy kon uitfigure hoe om skelm op haar e-reader te lees. Sy is juis nou op die ergste deel van die riller wat sy lees. Maar sy word mos doof en tonnelblind wanneer sy lees. Nou kyk sy darem nog op en rond en lyk of sy aantekeninge maak. Tussen-in kyk sy na die berge. Waar sal haar hulp vandaan kom? Hulle is nou al ‘n uur agter volgens die program. What else is new?

Sy wonder of sy dalk ongemerk solitaire op haar foon kan speel. Maar los dan maar eerder. Dis nie asof sy geensins inneem waaroor gepraat word nie, maar sy het meeste van die voorleggings voorberei. Dis deel van haar werk. So sy ken die inhoud inside out. Het dit deurgewerk, opgejazz, ingekleur, frilletjies en valletjies aangesit.Om dan nog weer daarna stil te sit en daarna te luister is nie haar sterkste punt nie. Dit grens aan die berge invlug.

Selfs die mense wat hier is van hoofkantoor en wat hulle vertel; en daarna luister sy wel aandagtig: gaan nie veel aan hulle saligheid verander nie. Dit het ondervinding en die lewe haar al geleer. Volgende week is dit weer “all guns blazing, back to business as usual, only the bottom line is counting”. Hierdie is “window dressing”. Dis sekerlik belangrik. Sodat hulle kan deel voel van een groep. Al die skapies mooi in een kraal en die herder met sy stok en sy staf by die hek, besig om soet geluidjies te maak.

Shit! Wanneer het sy so sinies geraak? Dit het dalk werklik tyd geraak dat sy haar perde pad toe trek, soos haar pa altyd gesê het. Skipskop… pak op… pak op.

Sy maak die notaboek saggies toe. Sy sal eerder ernstig begin aandag gee. En probeer positief bly, positiewe bydraes maak. Dankbaar wees sy het ‘n werk en dat sy vervelige werkswinkels kan bywoon. Sy het dalk net ‘n vakansie nodig. Sy sit haar pen neer. Back to business.

 

Advertisements

6 thoughts on “Indrukke en gedagtes – tong in die kies

  1. Ek raak ook altyd aan die slaap as ek vervelig is – toe ek nog gewerk het het ek hulle vertel ek het ‘Narcolepsy’, so ek kon na hartelus n 40 winks hier en daar vat, hulle het my jammer gekry en net gelos hahahaha

  2. Jy beskryf daardie strategiese sessie so mooi, ek kon sweer ek sit weer in een van die bank se konferensiesale. Dankie tog ek’s afgetree. Nou kan ek net wanneer ek wil en sommer so voor die TV, ‘n uiltjie knip. En as ek uitgevang word, sê ek ek sit en dink oor ‘n manuskrip. Ewe skielik is almal rondom my die ene ore. Dan praat ek soos die ou wat daar voor staan en as ek klaar is, weet niemand meer as wat hulle geweet het toe ek begin het nie.

  3. Codesa. Bosberaad. Legothla. Spanbou. Werkswinkel. Company retreat. Strategiese beplanning. Elke jaar ‘n ander naam. Elke jaar dieselfde talkshow.
    Lojaliteit in die korporatiewe opset is ‘n doodloopsteeg. Ek liewer ‘n diens, hulle betaal my rofweg 10-30% van wat daardie diens werd is in omset. More is ek blinkoog en stertswaaiend terug, tog te dankbaar vir nog ‘n dag met kos op die tafel en ligte wat brand.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s