Die Lewe

LEWE terwyl jy lewe

native-american-quotes-on-death-1

Ons lewe in ‘n land waar ons daagliks onseker is van ons besittings en ons lewens. Ek is nog my lewe lank een wat die glas eerder half vol as half leeg sien. Maar die afgelope ruk was my glas laag. Oor hierdie land. Dit gaan goed, sommer baie goed, in my eie lewe, en dalk voel ek half skuldig en half bang daaroor. Mag ek bly wees, terwyl daar soveel verkeerde dinge aangaan?

Want elke liewe dag sien en hoor en lees ek van dinge rondom my waar dit NIE goed gaan nie. En dis asof dit uitspring in my leesveld in. Amper soos ‘n vrou wat probeer swanger raak en nou skielik elke liewe ander swanger vrou raaksien.

Mense word op plase vermoor, kinders word gesteel, kinders word vermoor, vrouens word verkrag, mense duik deur ons motors se vensters by stopstrate en steel ons goed. In sommige woonbuurte skuil mense in hul huise uit vrees om in spervuur tussen bendes te beland. Ek dink nie eers die Wilde Weste was so erg nie – en ek sê dit nie as ‘n grap nie. Daar is min van ons wat nog nie een of ander tipe misdaad aan ons bas gevoel het nie. En dié van ons wat lewendig anderkant uitgekom het, is heeltyd net so dankbaar daarvoor. Asof die misdadigers ons die grootste guns bewys het om ons NIE dood te maak nie. En ja, natuurlik is dit iets om voor dankbaar te wees, maar dis nie REG nie.

Niks wat ek besit, het iemand vir my gegee nie. Ek het gewerk, HARD gewerk daarvoor. So dis nie reg dat ek moet tevrede wees om dit net weg te gee, solank ek net nie doodgemaak word nie. En ja, ek weet, dis ‘n holruggeryde deuntjie. En ek wil dit ook nie ‘n ras ding maak nie, asseblief.

Omdat hierdie goed my snags uit die slaap uit hou, het ek besluit om te gaan sit en dit uit te werk in my kop. Dis wat ek doen. As iets my aanhou pla, vat ek tyd en gaan sit en werk uit wat ek kan doen om dit reg of weg te maak.

Uiteindelik was die antwoord nie so ingewikkeld nie.

Ons land is wat dit is. En ek het gekies om hier te bly. Dalk het ek nie gedink dit gaan presies so erg word nie, maar dit is nou en ek kan nie (en wil nie) meer weggaan nie. So ek moet daarmee “cope”. In ‘n ander land sou dit anders gewees het, maar ek is nou hier. Dis hoe dit hier is. It’s do or die. Ek kies om te doen.

Die lewe is nie ‘n gladde meer nie, dit is meesal ‘n rowwe see met groot branders. En om in Suid-Afrika te woon, is soos branderplankry. Dis ‘n ongelooflike plek om in te wees, om die brander te ry. Maar met tye gaan jy te pletter gegooi word op die sand, jy gaan emmers water sluk en jou longe uithoes. Maar jy gaan opstaan en weet jy het dit oorleef en op ‘n manier gaan jy eufories voel, want jy het ‘n groot adrenalien rush gekry. En jy gaan dit tien-teen-een weer soek.

Natuurlik is om hier te woon nie vir almal nie. En natuurlik maak ek nie enigiemand wat geliefdes verloor het deur misdaad, se smart af as iets nietigs nie. Dis die grootste seer wat daar kan wees. Ek kies net om maar eerder net weer my glas driekwart vol te sien.

Ek kies bewustelik om nie meer snags wakker te lê oor hierdie dinge nie, ek kies om kalm te bly te alle tye. As ek ‘n aardse besitting verloor, dan SAL ek dankbaar wees ek lewe nog en ek sal so lewe dat my aardse besittings vervang kan word met die minste moeite. Om daaroor te stres, gaan niks verander nie, paniek gaan nie my lewe red nie. Woede teenoor oortreders gaan net my eie lewe vergiftig.

As mens duik, word mens geleer om nie paniekbevange te raak in ‘n noodgeval nie, want dan gebruik jy outomaties meer suurstof. Dit is ‘n goeie les om te onthou op droë grond ook.

Niks wat ons besit, is permanent nie, eintlik selfs nie eers ons lewens nie. Materiële besittings is lekker om te hê, veral as mens self daarvoor gewerk het, maar dit behoort nie mens se ankers in die lewe te wees nie. Daar is mense wat nie eers elke dag kos het om van te lewe nie. Wat nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Dit beteken nie hulle het die reg om ander s’n te steel nie – dit plaas net bietjie perspektief op dit waarvoor ons elke dag moet dankie sê.

Vrees is ‘n gif wat in jou siel en in jou beendere in kruip. Al wat jy moet vrees is die vrees self. Want om in vrees te lewe, gaan niks beter of reg maak nie. Dit gaan jouself net siek maak, paranoïes, onseker en kwaad, die hele tyd. Terwyl die goeie en die mooi jou verbygaan.

Wat is die ergste wat met my kan gebeur? Ek kan doodgaan. Ons almal gaan een of ander tyd dood. Maar tot dit gebeur, moet ek LEWE. Dis nie belangrik hoe jy doodgaan nie, dis belangrik hoe jy gelewe het. Ek kies om NIE in vrees te lewe nie, wakker te lê nie, al bly ek in Suid-Afrika. Ek kies om elke dag die goeie en die mooi raak te sien, te soek, na te jaag.

Ek kies om nie dood te wees terwyl ek nog lewe nie.

16 thoughts on “LEWE terwyl jy lewe

  1. Dit is mense wat so redeneer, wat die lewe in al sy volheid gryp, wat nog die goeie in ons land soek, of bereid is om die slegte na goed te probeer verander, wat SA ‘n plek maak wat ons steeds in wil bly.
    En ja, ons kon vlug, en ek het ook nie ‘n probleem met hulle wat eerder rustiger weivelde soek nie, dalk doen ek dit self nog eendag, maar solank ons hier is, en ons doen ons bes… Fantasties! Ons raak sterker!

  2. Dis baie mooi verwoord. Ek mis daai “brander” sommige dae, soos nou nadat ek iets so mooi in Afrikaans gelees het.
    Ns: Die volmaanfoto in die Boland trek aan my hartstringe, dis pragtig.

      1. Dis waar, maar die golfie is tog eie aan die Afrika-seestroom wat anders is as enige ander plek. Ek dink enigiemand voel seker so oor hulle geboorteplek, selfs al woon ‘n mens tevrede op ‘n ander plek.

  3. Dis so ‘n lekker positievve blog, (my il nie erk nie) maar jy moet nie vergeet nie, dit gaan oor die hele vvereld so. VVat ek raaklees tussen die lyne is al die vvhistleblovvers vvat opstaan en ongelooflike goed reg kry, dis of daar so vvakkervvordvvind oor almal blaas. of daar deernis opvvel en ‘n nuvve omgee. Ek glo Liefde is besig om te oorvvin….

    1. Eers lag ek lekker oor jou “innovative” manier vir daai williewerkie w 😀 Ek glo ook my lewe lank nog die goeie is baie sterker as die slegte.

  4. Ek sweer ek en jy het een of ander onsigbare draad wat ons saambind tussen Jhb en Kaapstad! Ek het ook so gevoel of ek oorweldig word deur swaarkry. Net eergister weer geblog daaroor.

Lewer kommentaar