Gedagtes

NIE skinny NIE!

In Engels sê hulle mens is “hot and bothered”. Dis hoe ek deesdae voel na ek gaan klere, spesifiek jeans, soek het. Werklik-en-wragtig-waar! Twee jaar gelede was my agterstewe twee boerpampoene wat baklei. Intussen het ek ontslae geraak van ‘n kwarthonderd kilogram, so om klere te soek en te koop, was die laaste ruk vir my lekker. Tot ek die laaste van my dunste vet-jeans amper op gedra het en besluit het ek moet ander jeans soek. Verlede jaar nog het ek gewone jeans gesien.

Vandag (eintlik al die afgelope paar Saterdae) wou ek histeries op en af spring in die winkels en gil: “ONS HET NIE ALMAL STOKKIESBENE NIE. OF STOKKIESBENE MET GROOT BOUDE NIE. PARTY VAN ONS IS NET NORMAAL MET KURWES!!!”

As ek nog EEN broek van ‘n reling of onder uit ‘n rak gaan uit-/afhaal en sien dis ‘n “skinny”, gaan die winkel my heelwaarskynlik hul perseel belet. Want ‘n kind se tantrum gaan ‘n vulletjie wees teen die een wat ek gaan gooi. Skinny with flare, skinny straight, skinny bootleg… skinny in my moer in, pardon the (skinny) French.

Regtig egtig ernstig seriaaaaas! Waar is al die normaal geboude vrouens skielik heen? Die wie se bene nie te dik is nie, maar ook nie te dun nie? Die wat nie lyk soos ‘n lollipop lyf op ‘n stokkie nie? Het ek geslaap vir ‘n jaar en nou wakker geword na ‘n Skinny Apocalypse?!

Wie, o WIE, besluit hierdie jaar gee ons die vrouens met bene met kurwes hel? Ons maak dit vir hulle onmoontlik om jeans te dra. En dan maak ons sommer alle ander broeke so lelik soos die hel. Die wat nie skinny is nie, sit ons ‘n rek in met ‘n toutjie, sodat hulle soos ballonne opblaas as hulle die toutjie styftrek. And to add injury to insult sit ons sommer rekkies onder by die enkel ook. Waarvoor? Vir as jou panty afval? Dan vang jou broek se pyp dit?

Nee regtig. As julle ‘n vrou sonder broek sien loop, dis ek. Want my laaste jeans, wat NIE skinny is NIE, is amper opgedra. Daarna… wel ek kan niks belowe nie.

 

 

 

32 thoughts on “NIE skinny NIE!

  1. Ag dankie tog ek is nie alleen nie! Ek HAAT skinny jeans. Ek is nie vet nie, nie oorgewig nie en het nie lovely curves nie. Straight up and down. So is ekke. MAAR ek hou van niks wat klou aan my nie. Skinny is uit. My Rooikop se ek loop rond op vuurhoutjies, so kan jy dit nou imagine in ‘n skinny jean. Ek hou van reguit pype wat van bo tot onder dieselfde breedte is. Of lekker wye pype waarin my voete kan verdwyn. Dan het ek nog lang bene ook so nou is dit ‘n stryd om broeke te kry wat nie lyk soos kniebroeke nie. Waar word die goed gemaak??? Dis ‘n stryd. Ek deel jou pyn.

  2. Ek is ook nie mal oor skinny nie en dit is al wat sommige mense dra. Ek hou van n bootleg jean. Jy kan enige skoen saam met dit dra, jy kan nie tekkies by n skinny dra nie. Ek deel jou pyn, ek het “oos-wes” knie … mense wil hul altyd vrek lag, maar dit is so, ek het nie small knie nie en dit lyk nie goed met n skinny nie, lyk of ek my knieggies mooi met marshmellows gepad het.
    Lekker gelag vir “as jou panties afval” 🙂

    1. Jy verstaan!!! Ek het ook sulke marshmallow knieë. My suster sê altyd ons sal omtrent 4 kg moet weeg voor ons nie “vet knieë” het nie😀

  3. Ek het hierdie al Saterdag gelees en kon nie kommentaar lewer nie.
    Het jy al ‘n skinny aangepas? Hul is mos van rekstof gemaak en sit TOG TE LEKKER. Toe man, probeer een, en terwyl jy probeer, probeer by Foshini ‘n Super Skinny. Die BESTE.🙂
    Geluk met al jou baie gewig wat jy weggegooi het.

    1. Ek het al ‘n skinny aangepas. Dis al wat ek die laaste klomp Saterdae doen. Ek pas skinny’s aan. En nee, EK, my bene, is SO NIE gemaak vir skinny jeans nie. Nie eers stretch skinny jeans nie. One must know and accept one’s own limitations😀

  4. Ek dink dis omdat die klere in die ooste gemaak word, en die produsente daar verstaan nie van westerse lywe nie. Ek het eenkeer ‘n broek gesoek, en kon nie die broek aankry nie – nie eers verby my kuite nie. Ek vra toe vir die winkelassistent wie se bene is dan so dun -omtrent soos ‘n kind se arm.
    Maar toe ek afkyk sien ek sy bene is so dun…
    Ek het toe maar dadelik gegroet.

  5. Ek is met jou, ek het dieselfde probleem hier in Oz. Ek het eers vir hierdie winter opgegee en dra my ou jeans kompleet met ‘n gaatjie op die knie waar ek baie ongrasieus van my fiets afgeval het op Rottnest Island ‘n tyd gelede – ‘n snaakse storie vir ‘n ander dag – want dis die gemaklikste en ek is so sleg met naaldwerk dat ek maar daarmee saamleef.

      1. Jy moet trots wees op jouself omdat jou ou jeans nie meer pas nie, baie geluk! Dit neem baie vasberadenheid, ek weet, ek was ook daar. Ek hoop jy vind goeie jeans of iemand om jou oues kleiner te maak. Ek dink toe ook vanoggend toe ek onthou van die fietsval-storie dat dit een is wat vertel moet word🙂

  6. Ek het self ook gesoek, en gekry! So, as jy wil kom kuier, kom. Ek sal vir julle gaan wys waar dit is, maar maak gou, niemand weet hoe lank die voorraad gaan hou nie.

  7. Probeer nou vir ‘n amperse tienerseun enige broek soek sonder dat dit skinny is…. En hy haat die skinny goed net soveel. Hy het eindelik uit radeloosheid twee (skinny) sweetpakmateriaalbroeke gekoop, maar hy kerm en kla elke keer wat al sy ander klere vuil is en hy dit MOET aantrek. Ons agtjarige het van daai jeans met die rekkies onder in gekoop. Hy het regte kieriebeentjies, maar die broek wil glad nie oor sy voete wanneer hy dit moet aan- of uittrek nie. Ek het ook gesukkel en moes kompromie aangaan met “narrow legged” jeans. Ek het meer daarvoor betaal as wat ek nog ooit vir enige ander kledingstuk betaal het – as jy in ag neem ek brom as ek meer as R100 moet betaal vir enigiets.. :-)Dis eintlik ook maar skinny, maar ten minste kan ek dit oor my kuite kry sonder dat die bloedtoevoer afgesny word. Die enigste oplossing is om jeans te maak of te laat maak… presies op jou mate en met ‘n pyp wat loop waar JY hom wil hê. Ek gaan vir my jeans maak met sulke regte matrooswye pype en knope weerskante af. Watch net!

      1. Ha ha ha – ek sal eers moet spaar vir ‘n trip Natal toe😉 En voor dit moet ek eers my dogter getroud kry. So, niks jeans tot die einde van die jaar vir my nie😉

      2. Nou kom stop asb in amanzimtoti sal jou so graag net ‘n lekker vet druk wil gee, jy bring sonskyn in my lewe met jou woorde!!!

  8. ooeeps!! sorry – ek is een van daai wat die skinny jeans teruggebid het op die winkelrakke. Ek hou van ‘n broek wat klou en nie rondflap nie. Ek het egter ‘n ander probleem en dis die nuwe wye-nek, ellelange, “close-fitting” t-hemde vir vroue wat alle winkels nou inhet. Ek willie ‘n hemp hê wat klou nie. Ook nie een wat tot op my naeltjie oopval net omdat ek nie twee waatlemoene voor op my bors ronddra nie. Ook nie een wat bo-oor my broek tot amper op my knieë hang nie. Dalk moet ek leer om naaldwerk te doen, bwahaha *as if*. Ek stem saam, hulle moet voorsiening maak vir wyer keuses; ons is nie almal eenders nie.

  9. Ek is net so gatvol gesoek, vir iets wat hoër as my pudenda sit. Ek het nie ‘n vet maag nie, maar my boude en maag moet toe. En ek het muscles in my bene, ek soek ‘n klassieke 5-pocket snit.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s