Gedagtes · Sommer net

Dis nou VYF jaar later

Op 24 Mei 2007 begin ek as Sonkind blog. Ek was nog so groen wat blog betref en het die grootste klomp strooi kwytgeraak. Die bloggery het gevolg uit die SSSB werf waar ons almal gestry en baklei het, so saam met Steve 😆

Dit was lekker tye. Ons het almal nog baie stories gehad om te vertel en ons het mekaar nog leer ken. Dit was amper soos ‘n nuwe verhouding 😉

Op ‘n stadium het ek sonkind geskuif na ‘n .co.za werf toe, maar vir verskeie redes het ek die blog later toegemaak, maar darem nie voordat ek (amper) alles gaan bêre het by Ex-Sonkind nie. Ek dink nog steeds dat ek daar van my beste skryfwerk gepleeg het en ek sal dit nooit oor my hart kry om dit sommer net in die groot WWW te laat verdwyn nie.

Ek het ook ‘n foto blog waar ek nog redelik gereeld foto’s plaas en ‘n musiek blog wat ek soms vir lang tye van vergeet – dis nog steeds een van my lekkerste stokperdjies om self YouTubes te maak van musiek waarvan ek hou.

Intussen het baie van die begintye se bloggers opgehou, dan weer teruggekom, blogs uitgevee en dan weer nuwes begin. Een het dit selfs wragtig een keer reggekry om WordPress se arm so te draai dat hulle haar blog, wat sy per ongeluk uitgevee het, vir haar “restore” het! Daar was blog vriendskappe wat gesluit is en vandag nog hou. Mense wat ek in die regte lewe leer ken het waaroor ek baie bly oor is en wie ek vir altyd as vriende sal tel. Daar was ‘n blogskandaal, of twee, en die bittereinders het deur dit alles bly blog en hier is ons nog steeds vandag. Party onder ‘n ander naam, maar nietemin. Ons het oorleef!

Dis nou VYF jaar later. Die laaste paar maande het hier BAIE nuwe bloggers bygekom, van ander platforms af, en ek hoop hulle is al ingeburger en voel welkom. Ons sal sekerlik nooit weer so ‘n ‘close community’ wees soos wat ons daar in 2007 / 2008 was nie, maar verandering is goed en die uitbereiding van mens se horisonne is nog beter.

Daar was ook al dae wat ek lus was om ‘n streep te trek deur alles, maar ek is ‘n sissie. Blog het vir my ‘n uitlaatklep geword, waar ek soms net kan raas en ander kere kreatief kan wees. Dit sal ook vir my voel asof ek ‘n deel van my familie afskryf as ek sommer net op ‘n dag die pad vat. Dus, ek is hier om te bly, ‘for better or for worse’, soms Muse-loos maar darem nooit sprakeloos nie.

Ek is nie meer ‘n blog-kleuter nie, ek is darem nou al ‘n blog-kind 😆

Viva Blogging!

50 thoughts on “Dis nou VYF jaar later

  1. Jaaa, Son! 😆

    Dis bloggers soos jy wat die ‘gom’ is. Hou ons klomp donsveertjies bymekaar as ons lus is om weg te waai!

    Geluk, hoor!

  2. Geluk…. jy kom al langpad!!! Nou die anderdag gewonder hoe voel die ou bloggers oor die nuwes. Mense vorm mos maar “clicks,” en aanvaar vreemdes moeilik. Jy gee ‘n mens ‘n gevoel van “veiligheid;” dankie daarvoor.

  3. Hi Son, bly skryf mens, ons sal bly lees.
    Goeie nuus vir jou. Onse Piet van Wyk de Vries skoonkind gaan, (na jy daarvoor gevra het) by julle in die koue Kaap sing. Teken aan in jou dagboek 13 Julie in die Dorpstraat teater en gaan kyk en luister.
    Hy sê jy moet al jou pêlle saamsleep en die Teater volmaak.

  4. nEE WAT. jY MAG NIE OPHPOU NIE. Oeps Caps Lock. Ek het ook my Litnet blog uitgevee, was spyt, en worry nie nou meer daaroor nie. Dit was nogals lekker om van voor af te begin. Maar met die oorskuif hierheen saam het ek ook minder begin blog.

    1. Hello julle! Ek, mielie.wordpress.com is nog darem hier… Ek sê dit tong in kies want ek dink ek het 2 jaar te rug n I skewing gemaak! Maar WordPress het my nog nie delete nie 🙂 ek gaan binnekort n inskrywing maak, was lekker om jul weer raak te lees – 5 jaar! Sjoe 🙂
      René. Alias Mielie. Alias Defender.

  5. Dis interessant. Ek het seker ook so lank gelede begin blog ook op ‘n ander plek, dit was tye vol pret. Baie het verander sedertdien, nice mense en minder nice mense ontmoet
    🙂

    1. Ek sukkel net so om soms kommentaar te lewer van my Samsung Tab af, maar ek lees oral. Hulle kan gerus die App vir fone verbeter!

  6. Ek is nog maar net ‘n peuter wat blog aanbetref, maar ek dink nie dis sommer iets waarvan ek sommer sal afsien nie.
    Geluk met you meerderjare 😉 Mag daar nog hope meer wees!!!

  7. Wil ook darem net sê baie geluk en glasie water saam met jou klink! Daar is baie dinge wat ek ook mis oor die jare in die “wêreld”. Die lewe gaan voort en ons leer en gaan voort!

Lewer kommentaar op Son Kanselleer antwoord