Die Lewe

Die liefdesbrief

Seegogga het dit begin en toe gee Die Liggie my ook die opdrag – skryf ‘n liefdesbrief. Wel…….

Liefste Krion

Selfs nou nog, na ‘n jaar, klop my hart nog steeds stadiger as ek jou naam hoor. Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie aan jou dink nie. Die woord ‘liefde’ was vir my net ‘n vae begrip tot ek jou leer ken het. My hart, my lyf, my denke, my wese is steeds joune. My siel dans saam met joune. My gevoel vir jou is dieper as die diepste donkerte in die heelal.

My hart sal jou nooit ophou liefhê nie. Soms droom ek van jou. Ek huil as ek wakker word, want jy is nie hier nie. Ek hoop elke dag die deur sal oopgaan en jy sal daar staan, om my te kom haal.

Jy is die suiker in my koffie, die stroop op my brood, die soet van my waatlemoen, die lyf se hitte in my trui. Met elke oggendlig voel ek jou soene op my oë, jou hand se streling oor my hare, maar jy is nie regtig daar nie.

Ek het nooit geweet liefhê maak so seer nie.

Elke tik van die horlosie tel die leë ure af. Elke more word gister en jy daag nooit weer op nie.

Vier wit mure het my huis geword. Sonder jou. Omdat jy opgehou het om my lief te hê.

Ek kon jou nie eers self begrawe nie.

Ewige liefde

Alrida

 

7 thoughts on “Die liefdesbrief

  1. Dankie vir die skryfsel. Ek weet nie meer wat om te dink van die liefde nie. Net die afgelope week uit ´n verhouding, wat ek gehoop het my laaste sou wees, maar die lewe werk mos nou nie altyd soos mens beplan nie.

Lewer kommentaar