Die Lewe · Gedagtes

Rymkletsers & Jack Parow

Rymkletsers – is dit nie ‘n lekkerste lekker woord nie – dit is die Afrikaanse woord vir “rap artists”. “Rap” soos in die musiek genre.

Dit was so pas Die Burger Suidoosterfees, hier in die Kaap. Ons kry twee kaartjies vir Vrydagaand, vir HipHopKop, sonder dat ek vir eers bewus is wie die gaskunstenaar is.

So twee jaar gelede het ons ook ‘n Hip-Hop show gaan gekyk – die kaartjies nog destyds gewen deur Radio KFM. En ek het dit bo verwagting baie geniet. So ek sien nogal uit na ‘n aandjie van vermaak en om sommer net daar by die Suidoosterfees ‘n draai te gaan maak.

Donderdag sien ek die opskrifte in die koerant – Jack Parow tree ook op as gaskunstenaar! Behoede my! But in for a penny, in for a pound – soos my ouma altyd gesê het.

Net vir ‘n bietjie agtergrond: HipHopKop is ‘n talentkompetisie vir hip-hop-kunstenaars, geskep deur ons eie kontroversiële Deon Maas. Die doel van die kompetisie is om jong Afrikaanse hip-hop-kunstenaars bloot te stel aan groter gehore en ’n mediaplatform te gee.

Soos een van hulle aan ‘n verslaggewer gesê het: “HipHopKop gaan oor wie jy is en hoe jy jouself op daai manier uitdruk. Ons geniet dit net om musiek te maak. Dit is ons musiek. Ons word ge-crucify oor ons nie ra-ra-ra in Engels sing nie. Maar ons doen dit op ons manier. En ons doen dit in Afrikaans. En Afrikaans is dan die taal, girl! Is ja!”

Altesaam 54 deelnemers van plekke so ver soos Port Elizabeth, Jeffreysbaai, Alexandria, Barberton, George, Atlantis, Worcester, Mosselbaai en Walvisbaai het vir die aanvanklike kompetisie ingeskryf. Uiteindelik is 6 finaliste gekies om by HipHopKop op te tree. Hulle is Cream, Remy-E, Bluetrain, Khoe Sunz, MC Cole en Rashid Kamalie. (MC Cole was dan ook Vrydagaand die wenner en het weggestap met ‘n CD-kontrak van R100 000. Die kompetisie word ook deur Naspers geborg.

Vrydagaand is ‘n soel, lieflike aand in die Kaap, dit wemel van die mense by die fees en mens vang sommer gou gees.

Die Burger Suidoosterfees
Leeukop met sonsak

Teen half agt begin die show en dis ‘n lewendige gehoor, wat maklik gedurende die dansery en rymkletsery opstaan en saam dans of saam rymklets.

Rondom my

Ek verkyk my ewe veel aan die mense om my as aan die hip-hop kunstenaars en rymkletsers (is dit nie ‘n lekker woord nie?!) op die verhoog. En ek besef mettertyd dat hierdie ‘n heel ander kant van Suid-Afrika is wat ek hier sien. En hierdie mense PRAAT Afrikaans. Hulle SING Afrikaans. Hoe kan enige iemand wil kom dink Afrikaans is besig om dood te gaan.

Ekself kies gou vir my ‘n gunsteling tussen die ses finaliste – MC Cole (wat dan ook gewen het).

MC Cole - die wenner!

En dan breek die sogenaamde hoogtepunt van die aand aan – Jack Parow!

Jack Parow - in al sy glorie!

Ek het, nadat ek gehoor het hy gaan ook optree, besluit om met ‘n oop gemoed te gaan. Hy was egter nie tien woorde in sy optrede in nie, toe ek besluit het, NEE! Nee Nee Nee! Hierdie is nie waaraan ek my taal gekoppel wil hê nie. Hierdie is nie waarmee ek my mense wil vereenselwig nie.

Iemand het eendag op sy blog geskryf ons ouer garde Afrikaners hou nie van Jack Parow nie, want hy herinner ons te veel aan die “kommin” in onsself. Well, I beg to differ. Ek het al kommin gesien, maar kommin is ‘n kompliment vir hom. Daar is nie (in my woordeskat) ‘n woord om te beskryf wat ek van die mannetjie dink nie.

Ek vind dit jammer dat HipHopKop dit nodig gevind het om te dink hulle het Jack Parow nodig gehad om hul show image of skop te gee. Vir my het hy eerder afbreuk aan die show gedoen.

Nie in hierdie lewe of enige lewens wat ek hierna beskore is, sal ek weer na iets gaan waar ek hom moet aanhoor nie. Ek skaam my dood dat daar mense is wat dieselfde taal praat as ek en dink hy is iets om aan te hang.

En ‘n aanhang het hy – onder die jong (wit) mense, wat luidkeels met hom saamgesing het en arms in die lug gedans het, terwyl hy optree. En jammer, ek wil nie hierdie ‘n rasse ding maak nie, maar die grootste deel van die gehoor was NIE wit nie en hulle het, soos ek, net doodstil gesit en kyk en luister na hom, nadat hulle self gesing en dans het terwyl die hip-hoppers opgetree het. En ek het gewonder of hulle ook dink wat ek dink. (Dalk – Kyk hoe maak die Boere hulle naam gat?)

Is Jack Parow vir ons jongmense wat die Beatles vir ons ma’s en pa’s was? Of wat Jethro Tull, Uriah Heep, ens vir ons was? Iets waarmee hulle hul rebellie probeer verwoord teen die “establishment”?

Ek het nie daardie antwoord nie, maar ek weet dat dit my hartseer gemaak het om dit te sien. En vreemd genoeg – daar was ‘n oomblik wat ek Jack soooo bekyk het terwyl hy besig is met sy manewales daar op die verhoog… en ek het ‘n vreemde jammerte vir hom in my gevoel.

Want ook hy moet ‘n storie hê, wat gemaak het dat hy so ‘n paadjie gekies het. Selfs al is dit net vir geld, iewers agter dit alles, glo ek, lê daar ‘n storie. En ek dink nie dis ‘n lekker storie nie.

15 thoughts on “Rymkletsers & Jack Parow

  1. Ek het nog nooit so iets beleef nie, wow. Met al die metal, rook, jetfuel, ontpoffings en vlamme is dit ‘n wonder die arena staan nog en mense is nie dood van cardiac arrest nie. Die experience was out of this universe. Fark.

    So wat het jy gedink Son, dis ‘n bietjie beter as Juanita whatisname nê?

  2. Noudie dag vir die eerste keer sy CD wat in my kar is, geluister, en was later so gatvol vir POES dat ek wou gil!

    Ek is seker jy kan meer se sonder om heeltyd dieselfde goed te se? Of is daar juis so min te se dat jy maar dieselfde moet herhaal?

  3. Dit is nogal ‘n lekker woord daai – rymkletsers. Ek gun elke diertjie sy plesiertjie al verskil ek soms van mening.

    Andrew ek wens ek kan Woensdag in jou sak inklim en saamgaan🙂

  4. Holy smoke, wat doen julle nat gereende hoenders vir fun, gaan julle Spur toe vir milkshake en koekies? Ek is ook ‘n old timer (met ‘n hart monitor nogal) en ek dink Jack Parrow rock.

    Son, ek gaan jou Woensdag aand bel van die Rammstein konsert, berei jouself solank sielkundig voor daarvoor … en kry oorpluisies.

  5. Diep, diep binne is daar either iets baie seer, baie kwaad of net verstommend kommin en banaal opgevoed. Dat daar nêrens iets in sy binneste skree: “STOP” of “NEE” is verbysterend. Ek kan nie imagine dat geld iemand so vêr sal dryf om jou siel so te verkrag nie.
    Maar daar is briljante rappers daarbuite! En ek is veral verstom oor dié wat sommer so at a moments’ notice daarmee kan wegtrek.

  6. Dis nou maar soos die koekie verkrummel.
    Hy het sy aanhangers, en darom gun ek hulle ook hul plekkie in die son. Ek sal nooit ‘n aanhanger wees nie, maar die feit dat ek nie van sy musiek hou nie bly persoonlike voorkeur.

  7. Son, ek het nou nog nie die “voorreg” gehad om die langpet-knapie in aksie te sien nie, maar het al video’s gekyk en oor hom gelees. Wil jou net se ek is dit 100% eens met jou. En ek dink nie dit het veel met ouderdom te doen nie. Platvloers is platvoers, maak nie saak hoe oud mens is nie.

    Hier sal miskien individue wees wat die man sal verdedig (hy het talent….blah, blah) Daar’s bloot geen verskoning vir platvloersheid nie. Die gedwonge gebruik van oormatige vloekwoorde dui eerder op ‘n gebrekkige woordeskat, as op talent. Dis kommerwekkend dat mense soos hy en ander groepe platvoersheid en rioolsang tot mode verhef (om “zef” te wees, is skielik “cool”) EN dat soveel mense daarvoor val. Van wanneer af is dit “cool” om deurentyd en gedwonge die liederlikste vloektaal te gebruik?

    Soms kan ek maar net my kop skud vir Afrikaners en hulle voorliefde vir verbale riool. Miskien was die Engelse destyds reg…miskien is ons ou volkie in wese platvloers.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s