Sommer net

D-dag

Dis ‘n paar ure na “lockdown” toe. The Age of Corona, het ek iewers gelees. Onwillekeuring wonder ek hoe sal ons oor ‘n paar jaar hierna terugkyk. En wie van ons sal die voorreg hê om te KAN terugkyk en te onthou. Want die realiteit is… mense gaan dood hiervan. BAIE mense gaan dood hiervan.

Party van ons lag nog en maak nog grappies – dalk om onsself te beskerm, dalk regtig uit onnoselheid, dalk omdat hulle te bang is as hulle ophou lag, slaan die realiteit hulle onderstebo en staan hulle nie weer op nie.

21 dae. Wanneer mens met vakansie is, dan is 21 dae so gou verby. Ons is nog nie eers by dag 1 nie, en ons wonder reeds hoe gaan dit wees by dag 21. En gaan dit NET 21 dae wees of gaan dit langer raak. Mens kan net na die ander lande kyk om te sien 21 dae is ‘n duimsuig syfer. Corona laat hom nie vertel van tyd nie.

Gister was my laaste dag by my werk, maar ons bly steeds werk van die huis af. Ons is die gelukkiges, ons KAN aangaan met ons werk in afsondering en nog ons salaris ook kry. Die wat nie kan werk nie, is spesiale verlof toegestaan. Soveel ander mense kan nie. Ek het gister spesifiek ons skoonmaak personeel en ons sekuriteit gaan groet. Vir hulle sterkte toegewens en gevra hulle moet hulself oppas en gesê ons sien mekaar weer aan die anderkant. Ek was so hartseer.

Ek ken meeste van hierdie mense al baie jare. Dis gesigte wat maar altyd net daar is. Nou skielik besef ek hoe “for granted” mens soms iets of iemand vat.

My hart is swaar omdat ek nie by Lily-Lyfie kan wees nie. Behalwe dat daar eergister reeds grense na die Oos-Kaap toegemaak is, het ons almal saam besluit dit sal die verantwoordelike ding wees vir my om nie soontoe te gaan nie. Hulle is in elk geval redelik afgesonder – ek sou nie weet wat ek daar aanbring nie, al voel ek tans nog hoe gesond. Dit het my ‘n hele aand se huil gekos om vrede te maak daarmee, maar daar is ander mense vir wie hierdie ding baie erger is, so ek huil maar en dan gaan ek weer aan.

In my wildste drome het ek nooit gedink ek sal so iets beleef in my leeftyd nie. Met tye is dit absurd en voel dit soos ‘n goedkoop, low-budget, slegte wetenskapfiksie rolprent. Maar net jammer die “end credits” gaan nie gou rol nie.

Toe ons so gekla het oor loadshedding – as ons geweet het wat ons nou weet – ek sal loadshedding nou omhels as dit ons enigste bekommernis kon wees. Want ek sal lieg as ek sê ek is nie bang nie. Ek is nie net bang vir myself nie, ek is bang vir my geliefdes se onthalwe. Maar ek is ook bang vir elke weerlose mens in hierdie land. Mense wat vanaand vir oulaas vanaf hul werke af huis toe is en nie seker is waarmee gaan hulle in die volgende weke kos op die tafel sit nie.

Ja, dis maklik om te sê die regering gaan help. Ons almal weet hoe stadig draai daardie ratte. En ek soek geen politieke praatjies nie. Hier is mense wat gaan SWAARKRY, wat niks gedoen het om dit te verdien nie. Corona gaan ons definieer. Dit gaan ons nie verander nie, dit gaan wys wie ons elkeen werklik is onder ons lagie beskawing. Dit het eintlik alreeds. Daardie mense wat AL die toiletpapier en AL die handreiniger gekoop het – ek wil hulle nie ken nie en ek hoop met my hele hart daar is nie een van hulle wat my ken nie.

Dis maklik om te sê sit op jou bank en bly by jou huis, ons voorouers het oorlog toe gegaan, hierdie behoort nie te moeilik te wees nie. Nee, dis VREK moeilik. Oorlog was makliker. In oorlog kan jy die vyand meesal sien. Jy WEET wie die vyand is, jy het wapens om jouself te verdedig, jy kan hoop dat die magte ‘n ooreenkoms sal bereik en vrede verklaar.

Met Corona kan jy nie redeneer nie, jy kan dit nie sien nie en daar is nog geen wapens daarteen nie. Corona gaan nie na die raadsaal toe kom en sê okay, ek wil net soveel mense nog vat en dan sal ek waai nie. Nee, ons hande is effektief afgekap. Ons is”sitting ducks”. Letterlik. Want ek laat my nie vertel AL die syfers wêreldwyd is 100% korrek nie. Ek dink daar is baie meer wat dit het en baie meer wat al dood is ook daaraan.

So, nou sit ons en ons wag. En ons hoop. En intussen probeer ons positief bly en ons vriende en kennisse positief hou. En ons almal hou die syfers dop.

DIT is tans ons realiteit.

Gaan ons anderkant uitkom? Vir seker. Maar niemand weet hoe gaan die wêreld dan lyk nie. Maar die wêreld gaan altyd weer aan.

Pas julleself op en waar moontlik, pas die mense saam met jou op. Die lewe is ‘n speeltoneel en tans is Corona die regisseur.

Bly veilig.

 

 

7 thoughts on “D-dag

  1. Inderdaad onsekere tye vir soveel mense. Finansieel, medies gesproke, ekonomie in die algemeen. Niemand weet of hulle heel hieruit gaan kom nie. Ons kan maar net die reëls ten beste volg.

  2. Ai, hoe waar is dit nie. Dankie hiervoor en ja, ons moet almal vashou aan ons geloof en glo ons sal hierdeur kom. Die onbekende vir ons almal en oor ‘n paar jaar word dit in Geskiedenisboeke aangeteken …

  3. Jy stel dit so mooi en slaan die spyker op sy kop. Dis so hartseer situasie! Mag die Here, of wie dit is wat elkeen aanbid ons styf in sy arms toevou en beskerm in die onsekere tyd!

  4. So waar. Jy verwoord so mooi al my (ons) gedagtes, gevoelentes , waarvan vrees plek plek by my wil nes skop. Ek woon en werk in Abu Dhabi, UAE waar ons stad letterlik vir die vlge 3 dae ontsmet word deur die regering. Ons almal is gevra om vanaf 8 uur gisteraand tot Sondagoggend 6 vm binnenshuis te bly. My kinders is in SA. My seun se eerste jaar by Stellenbosch universiteit was abrupt gestop , gehalt deur die virus. Hy en sy suster is bymekaar. My 19jarige en 25 jarige kinders. Ek bid net dat die Meester hul sal behoed en bewaar. Dat ons mekaar weer sal sien. Gesond. NIEMAND is immuun teen die virus nie. Sterkte ook vir jou.

  5. Ons bietjie informele besigheid staan al vir twee weke stil, geen inkomste. Ons trek regtig swaar maar kla nie. Leef jare al in lang periodes van ons eie lockdown. Dis niks nuuts nie. Maar die verdomde rykes los net scraps in die winkels, selfs op ‘n gewone dag is meeste bederfbare kos teen 5nm uitverkoop. Daar is dan NET VARK want dis Moslems een kant, Jode anderkant en Katolieke eet Vrydae glo net vis. Ek vies my vir die liefdelose selfsug van ons mense.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s