Die Lewe · Gedagtes

Verraaiers

Ek het gister die nuwe Afrikaanse fliek ‘Verraaiers’ gaan kyk. In jare het ‘n fliek my nie so ontstel nie. Ek het daar uitgestap met oë wat skrefies gehuil was en met ‘n swaar gevoel in my hart. Inderdaad… is vryheid soveel werd?

“Oorlog is waansin, en verraad is ’n gebroke woord.” “Verraad kry ‘n ander betekenis elke keer as jy uit ‘n ander oogpunt daarna kyk.” – Dis van die woorde wat ek sal onthou. Ook “Die eintlike verraaiers is hulle wat nie kan erken dat hulle verloor het nie…  wat God wil speel met ’n mauser in die hand.”

En dan die jong Van Aswegen se bitter woorde: “Voor elke veldslag bid ons in Afrikaans en hulle in Engels. Ons bid tot God om hulle te wen. Die Engelse bid tot God om ons te wen. As ons wen, is dit deur God se toedoen. Maar as ons verloor, was dit die oormag, of een of ander verskoning, maar nooit, o nooit nie, dat God dalk sy Engelse kinders se kant gekies het nie”. Wat antwoord mens daarop? Want in oorlog is daar nie regtig wenners en verloorders nie. Nie op die slagveld nie. Daar is net slagoffers en die wat bly lewe met die littekens van dit wat hulle ervaar het en gesien het.

Vir die eerste keer het iemand die moed gehad om die anderkant van die storie te vertel. Die storie wat almal ken, is die storie van die dapper boere wat teen die wrede Engelse geveg het, teen alle verwagtinge in die Engelse oormag weerstaan het, totdat die Engelse begin “vuilspeel” het en die boere se vrouens en kinders in konsentrasiekampe gejaag het en die plase afgebrand het en die diere doodgemaak het.

Hensoppers (en joiners) was vloekwoorde. Mens oorweeg nie eers een van daai twee as jy ‘n stoere, patriotiese boer is nie. Al vrek jou kinders en jou vrou soos diere in ‘n kamp iewers. Om nie eers te dink aan die plaas wat julle saam opgebou het nie. Ons Afrikaners is so trots dat dit soms aan dom-onnoselheid grens.

Hierdie fliek sou nooit die skerm gehaal het in die Suid-Afrika van 50 jaar gelede nie. Toe is Afrikanernasionalisme blink gevryf en opgedis in die naam van ‘ons Volk’. Ek weet ons land lyk nie vandag goed nie, maar hoekom herinner daardie blinkvryf van ‘n Afrikanervolk my so baie aan Hitler? Een ding wat die ‘ou’ en die ‘nuwe’ Suid-Afrika in gemeen het, is dat hulle so maklik die geskiedenis herskryf om aan te pas by die politieke selfbelang.

In ‘Verraaiers’ is die hoofkarakters eintlik die anti-helde. Hulle is ‘n ’n gehate familie. Hulle is ‘henshoppers’. Boere wat besluit het om nie meer deel te wees van die oorlog teen die Engelse nie. Boere wat met hulle kop ‘n rasionele besluit geneem het, omdat hulle toe reeds die skrif aan die muur gesien het vir die Boere-republieke en nie bereid was om hulle vrouens en kinders te offer vir iets wat nie haalbaar is nie. Hulle teken ‘n eed van Neutraliteit en keer terug na hulle plase toe. Duisende van hulle. En toe word daar deur die ander boere besluit om hulle te straf. Wette word oornag verander sodat weiering om te veg nie net meer strafbaar is met ‘n boete nie, maar met die doodstraf. En so speel ons Afrikaners weereens God teenoor mekaar.

Hierdie film laat mens ontnugter agter. Dit pluk jou trotse Afrikanerskap onder jou voete uit en laat jou nadink oor wanneer is dit regtig nodig om oorlog te maak. Dit is so dat elke volk wil vry wees om homself te regeer, maar op watter punt trek jy die streep teen veg vir daardie vryheid of ingee vir vrede. Die film is in wese nie net oor die ABO nie, maar ook oor die fyn lyn tussen ‘reg’ en ‘verkeerd’. Soos die een burger tereg vir Genl de la Rey sê: “Verraad lyk elke keer anders uit ‘n ander hoek uit. Ek is ‘n burger van die Kolonie en ek is op die oomblik besig om verraad te pleeg omdat ek hier saam met julle veg. Maar tussen julle is ek ‘n gerespekteerde persoon.”

Die boek is gebaseer op ‘Boereverraaiers’ geskryf deur Andrew Blake. Ek het vandag die boek vir my gaan koop, want ek wil meer weet hieroor. Laat ek dan nou maar enduit gaan met hierdie wond, hom oopsny tot op die been.

Natuurlik gaan hierdie film omstrede wees en daar sal stemme wees wat uitroep ons Afrikaners word alweer verneder. Hierdie is nog (na al die jare) steeds ‘n rou deel van ons geskiedenis. Die Engelse was bliksems, ja. Maar hoeveel vrouens en kinders kon ons boere gered het as hulle minder hardkoppig was? Kon die geskiedenis nie dalk heel anders gelyk het nie? Ons het in elk geval die Anglo-Boere oorlog verloor. Wat as…

Maar dis nou te laat. 110 jaar te laat. Dalk is dit net nie te laat om te leer dat daar dalk ook ‘n standbeeld moes wees vir die man wat sy familie bo sy land gestel het nie. Ons Afrikaners wat almal vandag oorsee sit oor die nuwe Suid-Afrika lyk soos wat hy lyk, is hulle nie ook Hensoppers nie? Moet hulle nie ook aangekla word van hoogverraad nie, gemeet aan die standaarde van 1902 nie? Of het hulle die reg gehad om hul vaderland te verlaat en “die wapens neer te lê” ter wille van hul gesinne se veiligheid?

Ons wat agterbly, mag hulle nie kritiseer nie, want hulle het gekies wat hulle gedink het die beste vir hul families is. Ons veg voort hier, en soms word ons ook vertel ons veg teen ‘n oormag. Maar ons glo ons kan wen. Dit gee ons nie die reg om hulle wat nie saam met ons glo, dood te maak nie. Of doen dit?

29 thoughts on “Verraaiers

  1. Ek lees en lees. Jy skryf baie goed en moet sê ek stem 100% saam jou. …ek nou vir 1ste keer die film gesien. Wat ….seker 7 jaar later en wzt jy daardie tyd gesê het is mog steeds absoluut van pas.

  2. Vandag sit ons in n stelsel waar ons mense vermoor word,sedert 1994 meer as 2000 boere op hul plase vermoor maar ons maak nie oorlog,ons is besig om ons skole met ons taal te verloor,maar ons maak nie oorlog,ons word uit ons werk en ons land gedwing maar ons maak nie oorlog. Dit lyk my verraaiers het die uitwerking op ons dat ons gladnie oorlog sal maak,al is daar net nog n paar van ons mense oor,sal maar wag en sien!

  3. Ons het die fliek vandag uitgeneem en omdat ek onthou het jy het op ‘n stadium daaroor geskryf, wou ek weer kom, lees. Niks om te sê nie – wat is daar oor? Dalk net dat mens glo wat jy besluit om te glo en dat selfs die “regte” besluit soms verkeerd is. Ons hele streeksgeskiedenis – beslis nie net die van die Boere nie – is vol van mense wat hulle gesinne opgeoffer het in belang van vryheid of geregtigheid. Ek weet van ‘n Ovambovrou wat in ‘n kasteel in Duitsland saam met ander “wesies” grootgeword het omdat haar pa ‘n generaal was en sy kinders weggestuur het in hulle eie belang. Kinders wat sonder ouers moes grootword. Om nie van ons eie groot stryders se gesinne te praat nie. Geen wonder ons land en vasteland is in so ‘n gemors nie. Inderdaad: Is vryheid soveel werd?

  4. Hehe, middel November en ek kom nou via Google af op jou skrywe oor die fliek “Verraaiers”. Skoonma het dit saamgebring en ons het dit gisteraand gekyk. Hoewel regtig bitter, is dit fantasties dat so ‘n fliek uiteindelik gemaak is. Ek sou enige tyd ‘n verraaier gewees het in hulle situasie. Dit sou dalk interessant gewees het as hulle regte verraaiers ook veroordeel het, soos daai mank Cronjé mannetjie. Hoe was die boek?

    1. Ek wil ook nie met jou veg nie 😉 Ek het daai artikel gelees en ek stem in groot mate met hom saam. Maar die fliek laat mens ook besef elke oorlog het twee kante, of dalk drie of vier

  5. sjoe – ek het dit toe gaan kyk … en ja, gehawend is die regte woord – presies soos ek gevoel het en nog steeds voel.

    dis amper iets wat ek nie op sosiale media wil bespreek nie, maar ek sien jy het die guts om ‘n paar kontroversiele goed te se, wat ek baie van hou natuurlik … ‘n paar van julle ander se comments hier ook.

    het eintlik glad nie woorde hieroor nie … ek dink nog …

  6. Dit is regtig ‘n uitstekende fliek. Die fotografie was vir my pragtig. En ja, die boodskap het ook tot my gespreek. Bemindste het agterna gese hy dink in ‘n soortgelyke situasie sou hy ook gekies het om tuis te bly. Dit was voor my tyd, :0, en ek is nie direk geraak nie, maar oorlewering het dit ook maar in my kop laat vassteek dat alle hendsoppers verraaieras was.Elke saak het ten minste drie kante!

    1. Die fliek het my vir die eerste keer laat voel ek wil gaan krap en uitvind waar my voorgeslagte gestaan het in hierdie hele storie. Hopelik was hulle bietjie meer oopkop

  7. Dit is sad ja. En weet jy, oorlog gaan vir lank nog by ons wees. Daar gaan nog altyd magsbeheptheid en begeerte na ander se eiendom wees. Haat en neid is menslik en dan word dit deur leiers aangvuur totdat almal wapens opneem vir die saak. Die vegters word afgemaai en die leiers sit en oorlog maak agter hulle lessenaars…..en net hulle trek aan die einde die voordeel. Dis net sad, sad, sad.

    1. DMI, ek lees nou Ken Follett se boeke oor die groot oorloë. Ek is reeds klaar met Fall of Giants en nou besig met Winter of the World. Die feite is goed nagevors, so die boek is fiksie, maar die agtergrond is feite en daar lees mens hoe die oorloë eintlik kon verhoed wees, maar deur mense se hardkoppigheid en smag na mag is derduisende en derduisende jong mense dood op die slagveld. Die syfers is hartstilstand verstommend. En vir wat? Ek weet hindsight is 20/ 20, maar dit waarvoor daardie jong mense gesterf het, bestaan baie nie eers meer vandag nie. Duitsland was in sy moer en Kommunisme is ook basies tot niet. Soos jy sê – SAD SAD SAD!

  8. Ek hou niks van die woord ‘oorlog’ nie. Nou die dag sit my man nuwe bande op sy bakkie en die besigheid eienaar reken – net oorlog sal ons land kan regruk! Ek sê toe vir my man, mense uiter die woord ‘oorlog’ te maklik. Wat sal die besigheidsman doen as oorlog uitbreek? Sy besigheid sal nie meer bestaan nie, sy familie/vriende sal in gevaar wees en ons land bloot in sy moer.

  9. Ek het dit as een van die keuses gehad, maar het verbybeweeg. Ek is bly jy het dit ten minste goed gevind!! Nou weet ek ook, en nie nodig om dit te sien nie, 😉 Maar dan weer, dit IS geskiedenis, en sal dit graag vanuit hulle oogpunt wil beskou . . .

    1. Dis werklik een van die bestes wat al in Afrikaans gemaak is. En dis werklik op die waarheid baseer. Ek dink dis die kyk werd, al staan mens ook aan watter kant 🙂

  10. Ja. Vier geslagte later is ek ook nog steeds deur my pa ingelig oor wie ”hensoppers” was in ons distrik. Dis hoe diep daai gevoelens gegaan het. Ek dink mense (Afrikaners) wat smag na ‘n ”bevrydingstryd” in ons land, het nie ‘n benul van die implikasies nie.

    1. Murphy, my seun het eendag gesê hy is maar bly verpligte weermag is verby, want hy gaan geen oorlog veg vir magsbehepte leiers in kantore agter lessenaars nie. Hy is dus ook ‘n verraaier. Die verskroeide aarde beleid was wreed, maar is dit enigsins wreder as wat soms in die apartheidsjare gebeur het? My kop loop in sirkels. Ek weet dis naief om te wens almal kan net in vrede saamleef. Wat maak dit saak wie regeer, solank niemand onderdruk word nie? Maar ek weet dis ‘n fools paradise om so te dink. Soms, met alle respek, dink ek daar was net een fout met die Skepping. Die dag toe die mens gemaak is. Ek is gehawend na daardie fliek. Stephen Hawking het tereg gesê: “We only have to look at ourselves to see how intelligent life might develop into something we wouldn’t want to meet.”

  11. Dankie vir hierdie invalshoek. Ek het nie die fliek gesien nie – sal nog – maar die punte wat jy aanraak, is belangrik. Dit gaan oor standpunt inneem en staan en val by n besluit. Dis waarmee die Afrikaners (ek is een) veral uitblink. En dis ‘n fout. Ons het die sonderlinge vermoë om eenkant te staan en te sê almal is verkeerd. Soms is dit bewonderingswaardig, meestal dui dit op die onvermoë om uit ‘n ander hoek na ‘n saak te kyk. Dis wat ons moet leer. En tog, miskien is die agtergebewenes juis diè wat bereid is om aan te pas en anders te dink oor sake? Wat waar is, is dat geen van ons die reg het om iemand met Afrikanerbloed in Amerika (of waar ook al) te gèsel oor sy/haar besluit nie. Dis tyd dat ons die blinkgevryfde nasionalisme eenkant neersit en die werklikheid aanvaar: ons het mekaar nodig; ons moet leer om binnelands en elders mekaar te respekteer; en ons moet weet hierdie pragtige land het ‘n besondere samestelling. Dit kan ons lei na nuwe hoogtes, anders gaan ons mekaar vernietig

    1. Dankie Amos! Jy sê dit wat ek nie die regte woorde voor kon kry nie omdat ek steeds emosioneel is oor wat mense aan mekaat kan doen uit misplaaste trots en hardkoppigheid.

  12. En praat van hulle (ook ons kinders) wat SA verlaat vir ‘n beter lewe elders sal ek nie sê hulle is verraaiers nie. Per slot van sake het ons voorvaders nie Europa verlaat op soek na ‘n beter lewe elders (hier) nie en hulle ouers en families daar agter gelaat nie.

    1. Ek probeer eintlik sê dat mens nie die reg het om enigiemand te dwing om in ‘n oorlog te veg waarin hy nie meer glo nie. Hokeom moet gewone mense opgeoffer word vir magsbehepte leiers, aan watter kant dan ook al. Dié wat Suid-Afrika verlaat het omdat hulle dink dis veiliger, word ook deur sommige oor-patriotiese Afrikaners uitgekryt as verraaiers. Wie gee enigiemand die reg om vir ‘n ander te besluit aan wie en wat hy lojaal moet wees?

  13. Ek en my kamermaat gaan eerskomende Vrydagaand kyk, maar ek het ‘n spesmaas daar is ligter note waarop ‘n mens ‘n naweek kan begin.

    1. Daar was seer sekerlik ook ‘n ligter noot waarmee mens ‘n Sondag kon afsluit 🙂 Julle kan darem oor die naweek die beswaardheid weg leef

Lewer kommentaar