Die Lewe

My eerste veeveiling

Verlede week kuier ek (al weer) in die Karoo. Ek begin al hoe meer vermoed dat ek dalk eendag daar sal kan aftree. Ek sal nie die see sodanig mis, soos wat ek die Berg sal mis nie, maar gelukkig weet ek die Berg is altyd daar.

Elk geval, Donderdag is my laaste dag daar, die aand sou ek weer met die InterKaap bus terug ry. Ek moet sê, hierdie keer was dit ‘n heel aangename rit terug. G’n niks nonsens by weegbrue nie en ‘n oulike waardin en bestuurder. Asook ‘n splinternuwe enkelvlak bus. En genoeg spasie.

Maar eers is daar Donderdag ‘n veeveiling op die een plaas in Aberdeen. Nie ‘n bankrotveiling nie, ‘n produksie veiling. Dis nou as oorskot vee opgeveil word om kontantvloei te verbeter en so aan, word ek ingelig. Dit word so twee keer ‘n jaar gehou. Eers dink ek om eerder by die huis te bly, wat wil ek nou by ‘n vervelige veiling gaan maak. Maar omdat dit my laaste kuierdag is, word ek oortuig om saam te gaan. Ek maak my gereed vir ‘n stowwerige, vervelige tyd, maar ek word aangenaam verras. Stowwerig is dit toe inderdaad. Vervelig? Glad nie!

Skape

Beeste

Die veiling word geopen met gebed. Dis maar ons boere-maniere🙂 Die man wat die veiling open praat mooi. Ek het dit ge-video, maar moes toe my oë toemaak😆

Hierna begin hulle met die skape. Meesal ooilammers. Ek het natuurlik met my ore so op die grond langs geloop en gehoor dis hoë kwaliteit skape / lammers en van dié wat die vorige jaar opgeveil is, se wol het toppryse behaal. Die manne wat die vorige jaar skaap gekoop het by die veiling, is dan ook terug om weer te koop. My mond hang oop vir die afslaer – die eerste keer in my lewe wat ek een in “real life” hoor praat. PRAAT?! Nee, ek weet nie of mens daai praat kan noem nie. Ek vang net so hier en daar ‘n woord. Verder klink dit so iets tussen Grieks en Alien. Rieng-tieng-tieng-kwaraa-warra-wham.

Skaapveiling

Dis warm, maar die boere bie en koop en haal hul hoede en kepse af en vee sweet af. En maak sommetjies op stukkies papier en fluister in mekaar se ore. Dis vir my ‘n ander wêreld. En dit tref my – hierdie mense hier is die sout van ons aarde, ons land. Hulle sorg dat ons kos op ons tafels het – dié van ons wat nou vleis eet. Maar daar is ander soos hulle, wat met groente ook boer. Dis manne met harde hande, manne wat ken van werk, al het hulle plaaswerkers ook. Manne wat in stof en son, wind en reën, ‘n bestaan moet maak. Ja, hulle ry met hoë Toyotas en Isuzus en dies meer, maar nadat ek laasweek gesien het hoe lyk party van daai paaie, verstaan ek dat dit al voertuie is wat hulle met veiligheid kan ry. Die munisipaliteite moet die paaie skraap, maar hulle doen nie.

Boere

Dit tref my ook dat hulle nog meestal wit is. Ek staan nader aan een ouer man en begin gesels. Ek vra so terloops hoe gaan dit met grondhervorming in daai omgewing en ek hoor van twee vooruitstrewende plase wat oorgegee is. Op die een is die regstellende boer nou al besig om die windpompe te verkoop. Op die ander is nog net een van die vyf wat die plaas saam gekoop het, oor om te boer. ‘n Ou swart Mama, wat haar bes probeer om die boerdery aan die gang te hou. Twee van die mans het weggeloop, die ander jonger vrou is terug PE toe en die een man wat oorgebly het, is meestal dronk. Hy vertel vir my dat hulle ander boere wel hulp aangebied het, maar die regering het dit van die hand gewys. Ek wonder wat gaan van ons plase word as dit is hoe hervorming gaan lyk.

Na al die skape opgeveil is, beweeg ons terug na die skuur. Nou kom die beeste aan die beurt. Daar is nie soveel beeste as skape nie en ook meestal kalwers. Ons gaan sit binnekant – dis amper soos ‘n klein kring waar boksers boks. Die beeste word ingeja en ek kry hulle so jammer. Hulle raak soms verbouereerd en maal rond, veral as hulle na die tyd weer uitgejaag word, in die drukgang terug kraal toe.

Die beesveiling is gou verby en dan staan almal kospotte toe. Want ja, daar word geëet ook. Hoe sal ons mense dan nou NIE eet nie😉 ‘n Nabye hoërskool se koshuiskombuis is die spysenier. Ons eet lasagne met groenslaai en ‘n broodrolletjie. Verder is daar blikkies koeldrank. Nou kuier die boere eers ‘n bietjie. Vir baie is dit die hoogtepunt van die maand, of dalk die kwartaal. Daar word oor en weer gesels. Nuwe kleinkinders word gewys. Ja, die boere kom nie alleen veiling toe nie. Hul bring hule vrouens en kinders en kleinkinders saam.

Kinders en kleinkinders

 

Darem nou nie almal nie. Ek kom agter daar is die ernstige kopers. Hulle het alleen gekom met hulle trokke om die vee in terug te vervoer. En dan is daar die kykers. Hulle het sommer net gekom om sosiaal te verkeer, om te “spy” vir hoeveel het die boertjie se vee verkoop en om die nuutste ander skindernuus te hoor. Ongeag, dit word ‘n lekker kuier so saam-saam. Ek kuier saam en niemand vra of wonder van wat se plaas af ek kom nie, want daar is mense van Murraysburg en Cradock en selfs so ver as Vredendal.

Teen laatmiddag begin die skuur leegloop. Die kospotte word opgepak en die ys-emmers vir die koeldrank word uitgegooi. So een-een vertrek die kykers. Intussen het die kopers ook gaan betaal en hul vee begin laai om die pad huis toe aan te durf. Ek kyk om my rond en ek weet – hierdie is my mense, my land, ongeag.

trokke gelaai

September is daar glo weer ‘n veiling. Ek dink ek sal my dinge so reël dat ek weer daar kan wees😉

12 thoughts on “My eerste veeveiling

  1. en hier kom die slaai-eter ook, en krimp as sy foto’s sien van skape ingeprop in klein kampies in die bloedige son en op ‘n trok, wat ‘n lang pad huistoe het in die hitte… wat ‘n vreesaanjaende gedoente moet dit nie wees nie. nee wat, nie vir my nie.nogtans ‘n interessante vertelling, dankie.

  2. Ag tog ek wou nog vertel van die veiling in Jansenville waar ons een keer was. Daar word toe 2 skape op die spit gebraai. Ek vra die ou: Hoeveel mense per skaap? Hy antwoord: Gewone mense, of Jansenvillers?
    Wel, daar was NET spitskaap en natuurlik te drinke. Nie slaai en brood en pap en wat nog als nie. Toe die vleis reg is, is daar sulke groot messe neergesit en jy het sommer vir jou ‘n stuk daar van die gaar skaap afgesny….
    almal het geblink tot agter die ore. Lekker man!!

  3. My pa ry ook altyd na ‘n goeie vriend van hom se skaap veilings Molteno en De Aar toe. Hy mis dit vir niks. As ‘n boerseun wat later verstedelik het sê hy altyd dis op sulke veilings wat hy weer na aan die land voel.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s