Gedagtes

Lig en donker

Elke mens word gebore met ‘n gesonde emosionele stelsel. Jy aanvaar jouself wanneer jy gebore word. Jy spreek nie ‘n oordeel uit oor watter dele van jouself goed en watter sleg is nie. Jy lewe vir die oomblik, druk jouself vry uit.

Soos jy ouer word, leer jy egter van die mense rondom jou. Jy word vertel hoe om op te tree, wanneer om te eet, wanneer om te slaap. Jy leer watter maniere van jou dra mense se goedkeuring weg en watter laat mense met afkeur na jou kyk. Jy leer wat laat mense dadelik aan jou aandag gee en wat laat mense jou ignoreer.

Jy leer om die mense om jou te vertrou of te vrees. Jy leer betroubaarheid en teenstrydigheid. Jy leer watter kwaliteite en gedrag is aanvaarbaar in jou omgewing en wat is nie. Al hierdie dinge ontneem jou van jou aangebore spontaneïteit en weerhou jou daarvan om jouself vry uit te druk.

Jy het nodig om weereens jou kinderlike onskuld te ervaar om sodoende jouself te aanvaar in alle opsigte. Dit is waar jy moet wees om ‘n gesonde, gelukkige en volledige mens te wees.

Meeste van ons loop een of ander tyd ‘n paadjie waar ons persoonlik groei juis omdat ons emosionele pyn ervaar. Selfs dié van ons wat in die lig loop, figuurlik gesproke, ervaar soms ‘n donker kant in onsself – ‘n kant wat ons verhoudinge kan versuur, ons gees kan lamlê en ons kan verhoed om ons drome uit te leef.

Die sielkundige Carl Jung het dit ‘jou skaduwees’ genoem. Jou skaduwees bevat al die dele van jouself wat jy probeer wegsteek of ontken. Dit bevat daardie aspekte wat jy glo onaanvaarbaar is vir jou familie en vriende, en belangrikste, onaanvaarbaar vir jouself. Daardie kant van jou is baie diep weggesteek in jou onderbewussyn, weggesteek vir jouself en almal wat jy ken.

Die boodskap wat ons van hierdie donker wegsteekplek kry is: daar is iets verkeerd met my. Ek is nie okay nie, ek is nie liefde werd nie, ek verdien nie goeie dinge nie.

Baie van ons glo hierdie boodskappe. Jy glo dat as jy te noukeurig gaan kyk na dit wat diep binne jou lê, gaan jy iets aakligs vind. Jy weerstaan die versoeking om lank en hard genoeg na jouself te kyk uit vrees daarvoor dat jy iemand gaan ontdek saam met wie jy regtig nie sal kan lewe nie. Jy vrees jouself. Jy vrees elke gedagte en gevoel wat jy nog ooit onderdruk het. Baie van ons is so afgesny van hierdie vrees dat ons dit slegs soos ‘n spieëlbeeld sien.

Jy projekteer dit op die wêreld rondom jou, op jou familie en vriende en op vreemdelinge. Jou vrees sny so diep dat jy dit slegs kan hanteer deur dit óf weg te steek óf heeltemal te ontken. Jy word hierdie swendelaar wat jouself en ander bedrieg. Jy raak so bedrewe in hierdie bedrogspel dat jy werklik vergeet dis ‘n masker wat jy dra om jou unieke self weg te steek. Jy GLO later jy is die mens in die spieël. Jy glo jy IS wat jy van jouself probeer maak het. Selfs na jare van mislukte verhoudings, loopbane, diëte en drome hou jy aan om hierdie innerlike ontstellende boodskappe te onderdruk. Jy vertel vir jouself jy is okay en dat dinge sal beter word. Jy sit oogklappe oor jou oë, pluisies in jou ore, sodat jy nie die waarheid kan hoor of sien nie, sodat jy kan voortgaan om dit wat jy jouself probeer wysmaak, te glo.

In plaas daarvan dat jy ‘die skaduwees’ onderdruk, moet jy dit ontbloot, eienaarskap daarvan neem. Omhels juis dit wat jy die meeste vrees, kyk jou vrese direk in die oë. Erken dat ‘n sekere karaktertrek eie aan jou is, goed of sleg.

“It is the shadow that holds the clues,” sê die spirituele skrywer Lazaris. “The shadow also holds the secret of change.”

Jou skaduwees bevat die kern van wie jy is. Dit besit jou kosbaarste gawes. Deur hierdie aspekte in jouself te trotseer en te aanvaar, word jy vry om die mens te wees wat jy in totaliteit kan wees: die goed en die sleg, die donker en die lig. Deur erkenning te gee aan jou totale self gee jy aan jouself die vryheid om te kies wat jy wil doen in hierdie wêreld, wie jy wil wees. So lank as wat jy wegkruip, maskers dra en jou eie foute op ander projekteer, so lank sal jy toegesluit wees in ‘n tronk wat jy self gebou het en die sleutels van dra.

Jou skaduwees bestaan om jou te leer en te lei om jouself te ken en te aanvaar. Om dit te onderdruk, is op die lange duur net skadelik vir jouself. Maak vrede met jou skadukant en die wurm in jou sal ‘n asemrowende skoenlapper word. Jy sal nooit weer hoef voor te gee om te wees wie jy nie is nie. Jy hoef nie te bewys jy is goed genoeg vir ander nie. Jy hoef net goed genoeg vir jouself te wees, die res sal vanself kom.

Liefde is allesomvattend: die hele spektrum van menslike emosies – al die emosies wat ons wegsteek, wat ons vrees. Jung het een keer gesê, “I’d rather be whole than good.” Hoeveel van ons het onsself verkoop om ‘goed’ te wees, om aanvaar te word, om van gehou te word?

Jou goed en jou sleg, jou donker en jou lig, is nodig om van jou ‘n heel mens te maak. Hoe kan jy liefde ken as jy nie haat ken nie, hoe kan jy goed ken as jy nie sleg ken nie, hoe kan jy moed ken as jy nie vrees ken nie?

Die vrome en die siniese, die gelowige en die duiwelse, die dapper en die lafaard: al hierdie aspekte lê sluimerend in jou en sal iewers eendag uiting vind as jy dit nie in jouself erken en in jou psige integreer nie. Baie van ons vrees die lig sowel as die donker in onsself. Mens is so bang om die ware self in die gesig te kyk, dat jy dit so diep bêre dat jy later vergeet wie jy regtig is. Jou skaduwee is die mens wat jy liewer nie wil erken nie.

Maak vrede met jou hele self. Maak ‘n lys van al die dinge in jouself waarvan jy nie hou nie en werk dan daaraan om die gawes van hierdie einste karaktertrekke van jouself te vind. Vind die positiewe in hierdie aspekte van jou lewe.

Vergewe jouself omdat jy menslik is, omdat jy nie perfek is nie, want net soos jy jouself oordeel, net so sal jy ander mense oordeel. Die wêreld is ‘n spieël van jou innerlike self. Sodra jy geleer het om jouself te aanvaar, sal jy ander mense ook aanvaar vir wie hulle is.

Sodra jy jouself onvoorwaardelik leer liefkry het, sal jy ander ook onvoorwaardelik kan liefhê. Dis so eenvoudig soos wat dit is.

3 thoughts on “Lig en donker

  1. Goeie storie Anne-Marie, en so waar. Ons is soms selfs te bang om ons beste kant te wys, want wat sal die mense sê as ek beter is as hulle! Ek sal verwerp word, dus is ek eerder middelmatig, of selfs erger as dit, maar dankie tog, steeds aanvaar deur die ander.
    Dit “breek/breuk” mens se hart!!!!

  2. Dis so waar AM, ons is dikwels bietjie te hard met onsself. Ons sê so vinnig vir ander hulle moet vergewe, maar vergeet van onsself wat onsselwers ook so af en toe moet vergewe. Ons sê so dikwels iemand anders is maar net mens, maar jyself is ook maar net mens.

  3. Dit is wragtig netso eenvoudig soos dit Sonne-Marie… If you really, really like yourself (not in a self-assured, arrogant, conceited way), but the person that is you. If you can really really live with yourself (yeah, so there’ll be days you’d rather not 😉 ), regardless of whether or not you’re (at any given point in life) the best that you can be. Then and ONLY then can you accept and love others unconditionally.
    Ons verwys soms na selfbeeld as ons van self-aanvaarding praat. En dis volgens my nie strictly dieselfde nie.
    Self-acceptance is ‘n ooreenkoms met jouself om alles wie en wat jy op hierdie oomblik is te waardeer, te valideer, te aanvaar én te ondersteun – selfs die eienskappe wat jy uiteindelik wel beoog om te verander of te verbeter.
    Selfbeeld het baie te doen met posisionering – of dan nou omstandighede (emosioneel, fisies asook materieel) waarin jy jou bevind – watookal die oorsaak is (jyself, iemand anders, werk, watookal). Selfaanvaarding is jou identiteit, jou ‘root’, dit waarin jy geanker is. Dis permanent. Dit is nie afhanklik van ‘ranking’ in die food-chain of life nie, word nie beïnvloed deur die ‘Jones’s syndrome’ en kan (as jy dit eers gekweek het) deur niks en niemand weggevat word nie.
    Mens moet leer om jou identiteit van jou posisie te onderskei. Dan kan jy eers regtig jouself toelaat om te fouteer, te leer en te groei – ongeag hoe suksesvol jy volgens ander/wêreldse en selfs jou eie standaarde is.
    Cool subject!

Lewer kommentaar