Die Lewe

Verneukers

Daar is sekere onderwerpe waarvoor mens versigtig moet wees om oor te skryf, want jy kan dalk onwetend op tone trap. Maar soms moet mens ‘n ding skryf soos wat jy dit voel, aan jou binnekant voel. Daar waar jy nie maskers dra nie.

Verneuk, rondloop, oor die draad wei, of watse naam mens ook al daaraan wil gee, spel op die einde van die storie net hartseer vir ten minste een mens, maar meestal vir baie meer as net een mens.

Hoekom juis nou hieroor skryf? Daar is die afgelope ruk seker al meer as genoeg hieroor geskryf, toe dit begin lyk het of jou-vrou-verneuk die nasionale sport van bekende mans geword het. Wel, uit die aard van sekere gebeure het ek die afgelope ruk ervaar, gehoor, is vertel hoe baie mans daar buite is wat net mooi niks daarvan dink om hul vrouens (gereeld) te verneuk nie.

Sommige van hulle steek weg dat hulle getroud is, sommige regverdig hul aksies met al die oudste verskonings in die boek en sommiges probeer nie eers verskonings uitdink of wegsteek dat hulle getroud is en net afleiding soek nie. Hulle sal jou met ‘n stout-seuntjie glimlag probeer verlei en wys maak dat dit maar net is wat mans doen, al het hulle hul vrouens lief.

En net voor ek verder gaan, ek “bash” nie mans hier nie. Dit mag wees dat daar dalk net soveel vrouens is wat hul mans verneuk, maar ek kan nie uit my ervaringsveld daaroor skryf nie. Hierdie skrywe gaan egter oor ALLE verneukers. En ek gooi nie klippe nie, my huis was al self plek-plek van glas gemaak. Ek wil net skryf oor die ding wat swaar op my hart druk die laaste tyd.

Dit is vir my, as persoon, hartseer dat die huwelik, of enige ernstige ‘commitment’, so ligsinnig deur een party geag kan word. Jy is ‘n paar jaar (soms net ‘n paar maande) saam met een maat en nou besluit jy dit raak nou vervelig, jy het bietjie ander afleiding nodig. Maar jy wil ook nie jou gerieflike bestaande verhouding en lewe opgee nie. Nee wat, jy sal maar net so bietjie skelm rondloop, want ‘n verandering is mos so goed soos ‘n vakansie. Daar is sommiges wat hulself selfs wysmaak dis GOED vir hulle bestaande verhouding. Dit sit weer ‘spark’ in hul verhouding met hul vrou, al weet sy nie eers waar die nuwe ‘spark’ vandaan kom nie. Een ou het selfs so ver gegaan om te sê; “Ek behandel my vrou BAIE beter terwyl ek haar verneuk.”!!!

Mens hoor ook soms dat iemand verdien om verneuk te word, of “as dit my vrou/man was, sou ek ook rondgeloop het.” NIEMAND verdien om verneuk te word nie. As jou man/vrou jou sleg behandel, loop, skei of doen iets daaromtrent. Verneuk is nie die antwoord nie.

Ek weet dinge gebeur. Mense raak verlief, trou en later in hulle lewe werk dinge nie uit nie, hulle raak dalk lief vir iemand anders, skei en trou met daardie ander persoon. Dis ook hartseer, maar dis nie presies waarvan ek hier praat nie. Ek praat hier van reeks-verneukers. Mense wat nie kan lewe sonder die gereelde opwinding van ‘n nuwe liefde nie. Mense wie se ego daardie streling nodig het soos mens suurstof nodig het. En mense wat in hul gedurige soeke daarna, nie dink aan die hartseer wat hulle gaan veroorsaak as hulle die dag uitgevang word nie. Want dis soos misdaad, op ‘n dag word jy uitgevang. Dalk nie die eerste of tweede of tiende keer nie, maar wel uiteindelik.

En verneukers lieg. Om hul eie gatte te red en te beskerm. Word hulle uitgevang op die dertiende keer, sal hulle hoog en laag sweer dit was die eerste keer en dit sal nooit weer gebeur nie en dit het NIKS beteken nie. Hoeveel respek het jy vir jou maat om so openlik vir hom/haar te lieg? Hoeveel beteken jou geliefde vir jou werklik as jy so kan dobbel met jul liefde? En hoe arrogant is jy nou eintlik as jy dink jy kan daarmee wegkom, vergewe word en alles sal binne dae weer terugkeer na normaal toe?

Want dis nog iets van verneukers. Wanneer hulle uitgevang word, moet hul maat hulle net so gou as moontlik vergewe, die seer vergeet en alles moet net weer terugkeer na normaal, want jy HET mos nou gesê jy is jammer, jy HET mos nou gesê dit het niks beteken nie en jy HET mos nou gesê jy sal dit nooit weer doen nie.

Vertroue in hulle woordeboek is so rekbaar soos die sterkste stuk rubber. Jou vertroue in hulle moet rek en rek en rek en rek, maar moet tog net nie breek nie, want dan is jy onvergewensgesind en ‘n goeie maat is mos nie onvergewensgesind nie.

Nog ‘n wakkerskud kry ek nou die dag aan etenstafel saam met ‘n paar kollegas. Die onderwerp is weereens mans wat hul vrouens verneuk. Die een manlike kollega het doodstil sit en luister na ons, en toe stil en rustig gesê; “Ek hoor wat julle sê, maar julle moet ook na julle eie geslag kyk, want vir elke manlike verneuker is daar ‘n vrou wat maar net te gewillig is om saam te speel. It takes two to tango.”

Inderdaad. Een alleen kan nie verneuk nie. Sal dit help as ek ‘n beroep op vrouens daar buite doen om NIE met getroude mans deurmekaar te raak nie? Om onwetend te pleit, werk ook nie meer nie, want daar is baie duidelike tekens wanneer ‘n man getroud is. Binne die eerste weke van ‘n verhouding sal enige vrou met ‘n halwe brein kan uitfigure of sy met ‘n getroude man uitgaan of nie. En as jy ‘n hele brein het, sal jy ook nie val vir stories soos; “ons gaan nog skei nie”; “dit gaan nie goed in ons huwelik nie”; “ons deel nie eers meer ‘n bed nie”. Bullshit! Jy kan makliker in kabouters en feëtjies glo as in sulke afgesaagde snert.

Moenie aan ‘n ander vrou doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie, of wat dalk al reeds aan jouself gedoen is nie. Hoe kan jy iemand seermaak, as jy reeds weet hoe seer daardie seer is? Dit maak jou meer as net gewetenloos, dit maak jou ook gemeen en goedkoop.

En mans: – ek het al ‘n paar verneukers prontuit gevra wat hulle sou doen as die skoen aan die ander voet was – as hulle vrou hulle sou verneuk. Selfs net een keer. Die antwoord was feitlik sonder uitsondering; “Ek sal haar skei.” Maar jy verwag om vergewe te word?

Meet dan met die maat waarmee jy gemeet wil word. As jy nie in staat is tot getrouheid nie, moenie jouself in enige permanente verhouding begewe nie. Punt.

24 thoughts on “Verneukers

  1. Baie dankie dat ek dit kon lees ek is so moeg vir verneukers as iemand jou vrneek dit is erger as moord jou hele bestaan is in sy kanon na so iets jy lewe nie jy vertrou niemand jy glo niemand jy meng met niemand nie want almal sal jou probeer verander maar gaan enige iemand na die verneker toe en werk sy gal vir hom nee dit is of almal te bang is om hom kak tevertel of om sy lewe hel temaak maar almal kan jou kak vertel want jy moet die reede wees of oorsaak wees hoekom dit gebeur het ja ek is so lief vir my man dat ek nie asem kan kry nie en ek gee regtig om vir hom die pyn trek my uitmekaar elke seconde van die dag en jy kan als reg doen maar ek is die skuldige een hoekom kan jynie die tyd wat jy rondvok gebruik om aan jou huwelik te werk jy het tyd om jou vrou sleg te maak maar jy het nie tyd om haar optetel nie so sal ek saffer tot ek dood gaan want om hom net te sien elke dag maak my hart warem klop ek het nie vir die liefde gevra nie die HERE het dit vir my ge gee dit is n n knoppie wat jy aan en af kan sit nie

  2. Ek het 6jaar terug die geval gehad,ek het werk gaan doen op ‘n plaas,wat ‘n maand geneem het elke naweek het ek huis toe gegaan,een aand in die week bel ek huis toe,toe se my vrou sy braai met ‘n vriend,glo niks verkeerd daarmee ek was baie ontsteld daaroor.ek besluit toe om een aand in die week huis toe te gaan.daar gekom staan mnr se kar voor die huis,ek bel haar 00 wie is by jou,sy se toe daar is niemand,ek se vir haar ek is die huis,sy se toe ek lieg,en dirk is nie baar.hy kom glo eers donberdag soontoe.sy hou toe aanhou lieg vir my.ek sit toe in die kar en wag om te sien wanneer mnr gaan uit kom.hy kom toe eers 21h30 uit.ek gaan klop aan rie deur.toe lady oopmaak.skrik sy haar sierwit in die gesig,ons het toe ‘n argument,sy se toe dis nie wat ek dink nie,hul het glo niks verkeerd gedoen nie,ek vra toe vir haar,hoekom het jy vir my gelieg,sy kon my nie antw. Ek se toe vir haar as jy kon lieg dat hy hier is ,kan sy oor nigiets lieg.ek het ook verneem dat daar 3weke gekuier was.dit versterk my twyfel en onsekerheid,om nie eers van die seer wat dit in my gebring het nie ek kan nie oor dit kom nie.sy hou aan se daar is niks mee verkeerd nie,ek het vir haar gese ,sy moes vir hom gese het dat hy nie by haar mag kuier nie,sy se haar ma het haar nie ongeskik geleer nie,sy besef nie die seer wat sy veroorsaak het nie,sy is baie jaloers op my,ek mag geen vriende he nie.

    1. N vlou verskooning om te se sy het nie so groot geword nie sy kan hom gese het sy sal hom nooit as haar man tuis is dan het hy geweet sy is getroud en hy moet dit repekteer

  3. Dankie vir die artikel.
    Ek is besig om te skei op die oomblik. My man het my en die kids net so gelos vir n vrou wat 20jaar ouer as hy is en geweet het hy is getroud.$
    Sy het hom gekoop met n audi en sam$sung s4 fooon en ek weti wat nog als nnie – en blyy in bloubergstrand. Sy het ryk ge erf van harr man
    So ja ons kry swaar en hy leef lekker maar ek glo die wiel draai.
    Dis net seer om te weet jou man los jou vir geld.
    Anyway life goes on en ons sal weer op ons voete kom. Ek glo net geld nie liefde kan koop nie
    Dankie vbir die artikel.

  4. Hier die is verseker die grootste hoop kak wat ek nog gelees het. Ek kan aflei dat die meeste mense wat hier kommetaar lewer vrouens wat heel moontlik getroued is en self rond loop. Wat soos ek dit sie is daar mos twee stele reels een vir mans en een vir vrouens. Vrouens mag flirt verhoudings aan gaan en doen wat hulle wil. Doen die man dit loop hy rond en word hy uitgemaak as die skuim van die aarde. Mans loop rons ja en 9 uit 10 keer met ‘n getroude vrou. maar gaan soek iets oor vroue wat rond loop kry jy dit nie. My mening is al die fokken sepies en praatjies wat vrou kyk en na luister.

    Vrouens soos Gretha Wiid wat so baie kak praat maar ook self die kat in die donker knyp en ook maar rond geslaap het hou haar nou fokken hoogs heilig.

    Gereeld word daar ook vroue mishandeling gepraat maar as vroue ophou om mans met woorde te mishandle en eerder hul plig as vrou nakom sal daar baie minder rondlopers wees. Hoekom sal ek ‘n Fiat gaan steel as ek ‘n ferarie het

    1. Ek is al 33jaar getroud en het nog nooit my man verneek is ook nie van plan om dit te doen nie want as jy lief het regtig lief het sal jy nie dit doen nie en ek weet hoe voel daai pyn so hoekom dit aan iemand ander doen as jy dit doen doen is jy nie menslik nie dan het jy nie n gewete nie die vernedering die pyn die selfondersoek en weet jy ek het my nie self gemaak nie so jy verneder die HERE om vir hom te se hy het jou vrou sleg gemaak en as jy dan so vielike lewe lewe hoekom het jy getrou

  5. Ek het n vermoede my vrou het my verneuk. Sy het het by n nuwe werk begin werk in die begin van die jaar. Dis die eerste werks party. Sy het laat by die huis gekom. Hele nag nie geslaap nie. Van toe af is alles vir haar n issue in ons huwelik. Na die derde werks party het sy glad nie die aand huistoe gekom nie. Eers die volgende oggend. Sy begin kom met ons belangstellings is nie die selfde nie. Kopsere sy kan nie slaap nie. Gebruik kalmeer pille, as ons alleen is dan is sy iewe skielik moeg. Dit dryf my van my kop af.

  6. Kom net oor dit. Die verneuk ding is soos om jou goeie duur bekker koffie op jou beste mat om te stamp. Dis die oomblik wat die bekker die vloer tref en daai koffie ‘n groot kol maak. Dis vir ‘n oomblik ‘n skok, maar gou ruim jy dit op en gebruik ‘n “goeie” skoonmaakmiddel om die vlek te verwyder. Siendaar, alles is geskiedenis. My punt is. Moet nie niks doen aan jou probleem nie. Maak onmiddelik werk daarvan. Kry jou sake reg. Die groot probleme kom indien maats net so aandonner dan begin dinge vir mekaar skeefloop. As jy val, staan op en veg verder. Dis die mens se natuur. Die wenner is die ou wat eerste op sy voete is en voorentoe beur. As jy toelaat om heeltyd grondtoe getrek word, is dit jou eie skuld. Dinge gebeur soms met ‘n rede. My eie sake is benard en baie ingewkkeld, maar ek’s uit die web. Moet nie ‘n fout maak nie. Die letsels sit daar en ek het baie meer merke as my “maat” oorgehou. Soms kan dit fataal wees. Nou is dit tyd om weer te begin lewe. Liefde groete.

  7. Hierdie inskrywing van jou, is so in die kraal van ‘n inskrywing wat ek vroeer die week gemaak het.
    Ek wens my ou kon dit lees. Dit het wel vir my gemoedsrus gebring, want ek het gedink ek is abnormaal om te dink / te voel verneuk met ‘n GTV is verkeerd. Terwyl baie mans dink dis reg, daar is niks fout daarmee nie.

  8. goeie more
    wat doen ‘n mens as jy jou man vang met ‘n kamma vriendin hoe hanteer ‘n mens die situasie en hoe konfronteer jy jou man sonder om jouself te benadeel want dit is so seer

  9. Eintlik min wat ‘n mens kan se, of jy nou bekend of nie, dit maak nie ‘n verskil aan my nie, man of vrou. Ons is nie hase nie, ons ‘hoef nie op mekaar te spring die hele tyd nie. Ons het kognitiewe vermoens. Vir my: It is just not on.

  10. Ek voel net so sterk hieroor. Ek het ook in my seksboekie geskryf dat ‘n mesn ‘n hart en ‘n verstand het. Een of ander tyd in elkeen van ons se lewe gaan dit gebeur dat die ‘verkeerde’ persoon jou hart laat warm klop. of hy is getroue, of jy, maak nie saak nie, maar dit gaan gebeur en dan moet jou gesonde verstand en jou beginsels en jou geloofsoortuigings inskop en se :”NEE!” En dan luister jy!!! Ek kan nie verstaan hoekom mense nie luister nie- ek dink daar is fout met hulle beginsels.
    Maar moet jy ‘n huweliksmaat wat oortree het, vergewe? Die Bybel se dis gronde vir egskeiding. Maar is egskeiding diee beste oplossing? Wat van die kinders???

    1. Vir my was daar geen ander (beter) oplossing nie. Ek is uiteindelik geskei ter wille van die kinders. Jip, sad as it may sound. Dis PRESIES hoekom ek uiteindelik uitgestap het. Hoe kon ek kinders grootmaak en lei in omstandighede wat vir hulle die ‘standaard’ moes vasstel vir hoe die huwelik moet lyk?
      Nee wat, ek het geen maar géén twyfel, dat ek vir my kinders uiteindelik die beste oplossing gegee het. Hulle wéét goed hoe ‘n huwelik NIE moet wees nie.

  11. Ek het geen respek vir enige een van die twee partye wat in ‘n verhouding is waar ‘n ander persoon verneuk word nie. Mens speel met GEEN ander mens se gevoelens nie.

  12. If you marry a man who cheats on his wife, you’ll be married to a man who cheats on his wife. Finish en klaar.
    Ek seg altyd: if they cheated their partners with each other, they deserve each other. Die grootste guns wat jy jouself kan doen is om hom/haar te laat gaan.
    You know your worth. And you know his/hers. The question is: Are you worth THAT?

  13. Iemand wat ek ken het op ‘n stadium gesê dat s*ks te morsig is om dit met iemand anders as jou eie geliefde te hê. En dit is. (Al is dit lekker.) Nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Alle huwelike of verhoudings gaan deur heuwels en dale. As mens nie daarmee vrede maak nie, kan jy maar net sowel los. Mens kan maar weet dat as jy betrokke geraak het in ‘n verhouding met iemand wat reeds getroud is, jy ‘n goeie kans staan om later ook deur jou nuwe geliefde verneuk te word wanneer die sterre in julle ogies verdof.

  14. Snaaks dat ek net mooi gister aan ‘n stuk gedink het wat ek hieroor wou skryf, maar toe dit nie gedoen het nie.
    Daar is NIKS wat my meer WOEDEND maak as ek van so iets hoor nie. Ek het net al TE VEEL kere stukkende mense, stukkende gesinne, stukkende kinders gesien om ENIGSINS te luister vir ENIGE rede wat iemand kan uitdink hoekom hulle dit doen. Dis wonde wat jare der jare vat om te genees. Ek is nou op die punt om ‘n stelling te maak, en jammer Son as ek dit op jou blad maak, jy mag dit edit as jy wil: “Enige persoon wat op een of ander manier sy man/vrou verneuk is ‘n MOORDENAAR!!! JA!!! ‘n MOORDENAAR! Daar is TE VEEL verneuktes wat dit nie kon verduur nie wat selfmoord pleeg. As dit TOEVALLIG is dat die een wat JY verneuk, nie selfmoord pleeg nie, beteken dit nie dat jy minder aandadig is aan ‘n selfmoord nie!! Dit kon net sowels die een gewees het wie JY verneuk het wat die selfmoord gepleeg het.” Nee wat, om iemand te verneuk is PLEINWEG SELFSUGTIG.
    Ekskuus Son, ek het dalk my hand oorspeel, maar soos jy kan agterkom, voel ek baie erg daaroor.

    1. Geen verskonings nodig nie, Toorts. Dis ‘n eina onderwerp en ek het lank gedink voor ek besluit het om dit te skryf, maar ek het gevoel ek moet. En ek voel min of meer ook soos jy. mense praat maklik en soek maklik verskonings vir dinge, tot hulle dit aan eie bas voel. En nee, ek gaan beslis nie jou kommentaar afhaal nie 🙂 Dis my werf en hier kan jy sê wat jy wil, solank jy nie iemand beledig nie.

  15. Dinge was soveel makliker toe dit net swart-en-wit was. Geen mens kan vandag met 100% sekerheid sê dat hy/sy nooit sy/haar lewensmaat sal verneuk nie. Al wat dit vat is iemand wat daardie leemte vul waar jou lewnsmaat tans tekort skiet. Min mense sal staande bly teen die aanslag van ‘n listige vrou of belustige man wat dit wat sy/hy soek ernstig jag.
    Waarop dit neerkom is respek en integriteit. Respek vir jou lewensmaat en die instelling van die huwelik (of ten minste dan die belofte daaraan gekoppel), en die integriteit van jou optrede as (jy dink) niemand jou sien nie. ‘n Sterk dosis goeie kommunikasie is ook nie te versmaai nie. . . o ja! En ‘n helse hoop blinde geluk dat jy nie in situasies beland waar jy die temptasie ervaar om oorkant die draad te loop wei nie

Lewer kommentaar