Ons sal dit oorleef

Ek het lanklaas in die oggend half vyf opgestaan om te gaan gym. Ja, ja ek weet dis ook al ‘n vervelige storie, but hear me out. Gister na werk strip ek my moer vir al die lywe en bedrywe en vir die een vroumens wat met flippers aan in die swembad swem, oor altwee bane. Bid jou aan – FLIPPERS! Is dit nie vir die see of vir duik of so iets nie? Anyway, never mind. Ek besluit toe die luigatgeit van my moet stop, ek moet half vyf myself uit die bed sleep en kom gym as dit stil en ordentlik is en mense nie daai tyd van die oggend met flippers swem nie.

Vanoggend druk ek die wekker dood en staan met moeite op en sit ligte aan. Tot die arme kat trek haar ogies klein vir die skerp lig so vroeg. Na ek my gesig met koue water gewas en my tande geborsel het, voel ek al half mens. Met een oog oop trek ek aan, pak my pakkerasie in die kar en so in die verbygaan gryp ek die flashdrive wat langs die TV lê. Die fancy gym het mos allerhande gaatjies en gleufies op die oefenmasjiene waar mens goeters kan inplug om na hulle / die TV / jou eie musiek te luister. Nou, ek het nou al CNN vrot gekyk en die TV musiek kanaal geluister – nie te sleg nie. Maar dis nou nie juis exciting genoeg om my te laat vergeet ek is besig met oefening nie. Ek weet op my flashdrive is allerhande musiek, wat ek op ‘n dag sommer net opgelaai het. En ja, ek hou van ‘n verskeidenheid so ver verwyder soos die Ooste van die Weste, so brace yourselves. Luister net nie Opera nie, of Jazz nie, in elk geval nie vrywillig nie.

My eerste stop is die “elliptical trainer”, daai masjien wat jy so loop en trap en jou arms ook so heen-en-weer maak. Kou nogal mens se boude. Ek druk daai stokkie in en sit die oorfone in en begin trap. Binne sekondes trap ek op “Gangnam Style”. Dit maak my genoegsaam wakker om ‘n lekker spoed op te werk. Ek is nog op ‘n Gangnam high toe Steve wegtrek en weergalm in my ore met “Ons sal dit oorleef”. En so waar as wragtig, daar kry ek trane in my oë daar in die gym. Gelukkig was daar niemand naby genoeg aan my om dit op te merk nie. Maar ek kyk om my rond en ek dink by myself – nee Steve, jy was nie heeltemal reg nie. Ons sal dit oorleef ja, maar nie net ons wat wit is nie. Ook ons wat so entjie weg van my af trap, met haar donker vel en haar dreadlocks, en ons wat daar aan die oorkant gewigte stoot met sy koffie kleur vel, en ons wat nou net daar by die deur in loop met hulle Maties-klere aan en hulle nagdonker vel, en ons wat met pragtige swart hare en Indiese vel oppad is boontoe om te gaan swem. Al hierdie onse is die ons wat dit sal oorleef, want ons is nog almal hier, omdat ons wil, of nie anders kan nie, of vir watter rede ook al. Ons is HIER. In hierdie land. Ons leer hier, ons leef hier, ons werk hier, ons gym hier.

Dis hoe dit is, dis hoe dit sal wees. Ons sal dit oorleef. Or we will die trying. Want ons kan nie anders nie, ons wil nie anders nie.

Wel, daarna het Kurt se Heidi my darem gou weer opgelig na ‘n ligter noot en toe het ek afgesluit met ‘n besadigde The Story van Brandi Carlisle. Ek het dit ook oorleef – die oggend se vroeg opstaan en gaan oefen. En daar was regtig niemand met flippers aan in die swembad nie. Net ekke alleen, met kaalvoete. En darem ‘n swembroek.

More maak ek weer so. Ons sal dit oorleef.

Categories: Die Lewe, Gedagtes, Musiek | 15 Kommentaar

Weet nie

As mens se skryflus verdwyn het en mens skryf daaroor, dat jy niks het om oor te skryf nie nou skryf jy oor die niks, dan beteken dit nie jou skryflus is terug omdat jy weer skryf oor daardie niks wat jy het om oor te skryf nie. Dit beteken jy weet nie wat om te skryf nie  nou skryf jy sommer net, omdat skryf skryf is. Het ek nou al deurmekaar genoeg geskryf? Want selfs ek moet nou mooi gaan  lees om te verstaan wat ek geskryf het. Kort storie… ek het niks om oor te skryf nie, nou skryf ek oor niks.

Mmm… is dit depressie of die begin daarvan as mens na alles kyk wat jy wil lees, op blogs, in boeke en oral, en dan kyk jy en jy kyk en dan draai jy om en loop weg, of maak die rekenaar of die boek of die e-leser toe? Want jy dink ag wat de hel, wat gaan nog ‘n boek, nog ‘n blog inskrywing, nog ‘n fliek aan enigiets verander. Enigiets in die wêreld? As ek die boek klaar gelees het, as ek op die blog kommentaar gelewer het, as die fliek se endtitels rol, dan is alles nog net soos wat dit voor dit alles was. En daar gaan nooit genoeg tyd wees vir alles wat ek nog wil doen, lees, sien nie.

Wat noem mens dit as jy honger word en wonder wat om te eet en besluit ag fok dit, ek eet sommer niks, dis net te veel moeite om kos te maak? Ek drink sommer net water, of aanmaakkoeldrank. Ek kan dalk Kentucky gaan koop, of McDonalds, maar nee wat, ek het nie lus om in my kar te klim en soontoe te ry nie. Dalk eet ek sommer net brood met peanutbotter op.

Jy staan soggens op en gaan werk toe, want jy moet. Jy doen darem nog dit. En na werk of voor werk gaan gym jy, want jy is tog reeds op en ten minste laat dit jou lekker voel vir ‘n rukkie lank. Ek kan nie sover kla oor die winter nie, die seisoengode is my genadig. Die Kaap het nog nie die kennisgewing van winter gekry nie. So nou en dan reën dit in die nag, of klein bietjie in die dag, maar dis okay. I can live with that. So, dis nie winters-blues wat ek het nie. Ek het ‘n stupid griep wat ek nie afgeskud kry nie, maar daarvoor is daar medisyne. Vir die griep in my kop… ek weet nie.

En nee, vir die wat hou van die bobbejaan agter die berg uitjaag, ek het nie selfmoordneigings nie. Ek is te sissie daarvoor. En iewers binnekant nog te optimisties, want ek bly steeds glo iets lekkers lê om die volgende draai van die lewe. Ek is maar net bietjie afferig. Optimistiese ek glo more skyn die son weer. Wel, die son skyn nou ook. Heerlik daar buite. Dalk is dit waar ek moet wees. Buite in die son, nie binne voor ‘n skerm nie. Dalk moet ek Tafelberg gaan uitklim. Nie sodat die wêreld my kan sien nie, maar sodat ek weer die wêreld kan sien. En waardeer.

Categories: Gedagtes | 16 Kommentaar

‘n Lewe van eerstes

‘n Mens se lewe bestaan uit soveel eerstes.

Eerste woord sê, eerste tree gee, eerste dag skool toe, eerste fiets kry.

Eerste dag werk toe, eerste eie motor.

Eerste keer trou, eerste baba gebore, eerste eie huis.

Maar die seerste eerstes is die eerstes na iemand weg is. Daarna word dit beter. Nie baie nie, maar darem.

Ons is verby ons eerste verjaarsdae sonder haar, eerste Kersfees, eerste Nuwe Jaar, haar eerste verjaarsdag en nou staan ons voor die eerste Moedersdag – sonder ‘n Ma.

Ek was nog nooit sterk op hierdie tipe dae nie – Vadersdag, Moedersdag, Valentynsdag – eer jou Vader en jou Moeder en jou Valentyn eerder elke dag. En tog is elke advertensie, elke TV-klingel, elke kaartjie in die winkels, boksies sjokolade, lekkerruikgoed wat al die kinders roep om hul Ma’s te bederf, soos ‘n skop in my ribbes elke keer as ek dit sien, by dit verbyloop, die tydskrifte oopmaak. Want al was ek nie gepla met Moedersdag nie, herinner dit my hierdie jaar op die felste manier dat ek nie meer een het nie. Punt. Klaar. Het nie meer een nie. Sal nooit weer een hê nie. Full stop.

Dink aan jou Sus.

Gelukkig sal dit ook verbygaan. Soos al die ander. Dan is dit nog net 13 Augustus wat moet kom en gaan. Dan is hierdie eerstes ook klaar.

i-miss-you-mom

Categories: Gedagtes | 16 Kommentaar

Uit die onthou-laai

Ek weet nie van ander mense nie, maar soms onthou ek mense sommer so uit die bloute, so in die middel van die dag of in die middel van die nag. Mense wat oor my pad gekom het vir ‘n oomblik, ‘n seisoen of ‘n leeftyd – soos daardie aanhaling sê. Daar is geen “trigger” wat maak dat hierdie mense in my kop op kom nie, geen gebeurtenis wat my aan hulle herinner nie, hulle IS sommer net skielik daar. So asof hulle my net so liggies op die skouer wil tik en seker maak ek vergeet hulle nie. Feit is, hulle is in elk geval onvergeetlik, elkeen vir sy of haar eie rede, soms ‘n klein redetjie, ander kere ‘n helse groot rede. Hulle is my bagasie, ek dra hulle saam met my. Die onthou van hulle is wel diep gebêre in die laaie van my herinneringe, maar so elke dan en wan dan tuimel hulle uit. Dalk omdat die onthou-laai bietjie oorloop, dalk omdat ek iets anders gesoek het in daardie laai en toe, sonder dat ek dit beplan het, vat ek hulle onthou raak.

Hulle is daar, altyd daar. Daarom het ek bietjie in al my onthou-laaie gaan krap – sommer net vir die nostalgie daarvan.

Daar was die Moslem vrou, nou amper veertig jaar gelede, wat een aand vir my en my ma genooi het vir aandete – iets ongehoords in daardie dae. Sy het gesien ons is honger, sy het vir ons kos gegee – so eenvoudig soos dit en tog veel meer ingewikkeld as wat mens ooit sal kan dink. Hoe sal ek haar dan ooit heeltemal vergeet?

Daar was Fanie de Kock, ‘n man met die mooiste blou oë. ‘n Man wat vreeslik lief was vir sy vrou en sy twee kindertjies. ‘n Man wat maar eenvoudig was, maar ‘n goeie man. Een wat die nood van ‘n medemens raakgesien het en sy hand uitgesteek het om te keer toe ander net weggekyk het. So elke nou en dan, as ek vir Fanie onthou, gaan luister ek “Blue Eyes Crying in the Rain.”

Daar was die Kleurlingman wat gestop het toe ek en my ma sonder petrol gaan staan het, ook nou al baie dekades gelede. Wat ‘n leë Coke blikkie en ‘n stukkie tuinslang uit sy bakkie gaan haal het, en blikkie vir blikkie petrol uit sy bakkie gesuig het en in ons motor gegooi het. Wat nie ‘n sent wou hê nie en ook nog agter ons aangery het om seker te maak ons kom veilig waar ons moet wees.

Daar was die blonde man in Victor Verster gevangenis. Elke jaar het die tronk ‘n konsert gehou en buite mense het kom luister. Ons het altyd gegaan. Vir ‘n paar jaar was hy daar, op die verhoog, met ‘n kitaar en ‘n stem soos ‘n engel. Ek ken nie sy naam nie, wonder tot vandag nog hoekom hy in die tronk was, maar onthou steeds sy gesig en hoe mooi hy gesing het. Dalk is hy lankal dood, maar ek sal altyd oor hom wonder.

Dan was daar Glenville, wat saam met my gewerk het. Wat my geleer het van krieket. Wat in 1992 vir my vier nuwe bande vir my motor koop, sonder dat ek dit vooraf weet, omdat hy weet ek trek swaar. Omdat hy ‘n dogter het wat net so oud soos ek is en nie sal toelaat dat sy met gladde bande ry nie. Wat vir my sê ek kan hom eendag terugbetaal wanneer ek kan. Hoe sê mens dankie vir so iemand? Uiteindelik het ek hom terugbetaal, maar vergeet… dit sal ek nooit nie. Ek het wel later jare probeer om sy goedheid aan my te “pay it forward”, op elke manier wat ek die kans gekry het.

Daar was oom Fred en oom Harry – die eerste gay mense wat ek ooit leer ken het, al het ek nie toe geweet hulle is gay nie, of selfs wat is gay nie. Hulle was my pa en ma se vriende en ek eer vandag my ouers omdat hulle vir twee wonderlike mense ‘n vriendelike omgewing geskep het in tye wat baie anders as nou was.

Daar was die bewaarder in Pretoria wat gesien het hoe moeilik dit vir my was toe ek daar moes gaan besoek aflê, wat gesien het ek weet niks van tronkbesoeke nie en wat dit op alle maniere vir my makliker probeer maak het. Ek het sy naam nooit vergeet nie en onlangs uitgevind hoe klein is die wêreld. ‘n Vriend van ‘n vriend se broer lê op sterwe met breinkanker. Toe ek die naam hoor, lui al die klokkies. Toe ek vra hoor ek, ja, hy was ‘n bewaarder in Pretoria. My hart is seer vir hom. Ek kan net bid vir hom.

Dis vir seker nie al mense in my onthou-laaie nie, maar dis mense wat gereeld kom groet, kom aanklop aan my herinneringe. Ek weet nie hoekom nie, dalk sodat ek nie moet vergeet van genade nie.

Die onthou van mens se lewe klop maar altyd iewers dofweg. Soms klop dit bietjie harder soos die pyn van ‘n ou besering net voor die reën kom. Soms is die onthou so diep onder in die laai gedruk dat jy dit miskyk, misvat elke keer as jy die laai ooptrek, skoon nie eers meer weet dis daar nie. Tot dit op ‘n dag van krap in die laai, van die omdolwe van ander herinneringe, kaplaks in jou kop uitval. Soms sommer net, soms deur ‘n reuk, ‘n trek van ‘n mond, ‘n klank van ‘n stem.

Dan staan mens bietjie stil by daardie onthou. Jy kyk bietjie, jy luister bietjie, jy onthou bietjie voor jy die onthou weer mooi netjies terugsit in ‘n hoekie in die laai, met die  bedoeling dat dit nie weer so ver moet wegraak tussen die ander deurmekaar nie. Dan draai jy om en jy loop weg, partykeer met ‘n seer wat saam loop, partykeer met ‘n glimlag oor ‘n mooi onthou, altyd met die wonder… onthou hulle my ook nog soms?

Categories: Die Lewe, Lank gelede | 28 Kommentaar

Wintergedagtes

Dis meer as twee weke vandat ek laas geskryf het. Van my blogvriende tik my oor die vingers. Daar is iets wat hulle vergeet. Dit raak nou weer winter. Ek leef nie in die winter nie. Ek OORleef net. Ek probeer survive tot 22/23 Junie, die kortste dag en die langste nag. Dan troos ek myself die ergste is nou verby, hiervandaan word dit elke dag bietjie beter.  Dan survive ek weer tot 22/23 September – dag en nag ewe lank – en dan weet ek, nou is dit AFDRAAND somer toe. Dis hoe ek rol.

Tussen-in tree ek op soos ‘n mens, lyk ek soos een, maar ek is nie eintlik nie – ek haal net asem soos een. Dis elke jaar dieselfde ou vervelige storie en ek wil dit nie elke winter oorvertel nie. So, ek bly stil. Ek gaan werk toe, ek werk. Ek gaan (deesdae) gym toe, ek gym – dalk sal ek hierdie winter meer energie hê juis omdat ek gym. Ek gaan huis toe, ek eet, ek lees, ek kyk TV, ek slaap en more begin alles weer van voor af. Tussen-in bid ek dat dit nie moet baie reën nie, al weet ek die boere bid weer vir reën. Dan compromise ek en vra dat dit net in die nag moet reën sodat ek dit nie hoef te sien nie. Soms werk dit so, maar baie kere nie. Dan byt ek maar op my tande en dink nie te veel nie. En sê dankie dankie dankie vir elke ou daggie wat die son skyn, ek gee nie eers om as dit ysig koud is nie, solank dit net nie nat en bewolk is nie. Dis asof my “joi de vivre” vasslaan teen die wolke.

En as ek sien hoe party mense bly is oor die winter, moet ek myself met ernstige aanspraak weerhou daarvan om hulle te gaan vermoor, want ek is mos nou darem nie eintlik ‘n geweldadige mens nie. Maar ek weet vrouens het al losgekom van moord as gevolg van PMS. Dalk sal ek los kom as gevolg van winter? Nou ja, nou weet julle. Dis hoekom ek nie juis skryf nie, vir dié wat kwaai is met my daaroor.

Noudat ek in elk geval hier sit en skryf, ek wonder of daar iemand is wat my kan help. Wie by sy volle verstand sit voetoorgange reg voor sirkels?! Ek bedoel, seriously! Enigiemand wat al in Stellenbosch se middedorp gery het, sal weet waarvan ek praat. Hoe in die bliksemse lewe kan mens ‘n hele ry verkeer in en om ‘n sirkel tot stilstand bring omdat iemand oor die pad wil stap. Regtig waar ook. Ek het die storie nou al deeglik bekyk – ek dink regtig daar is baie ander stukke reguit pad waar die voetgangers kan oor loop. As ek die dorpsbeplanner ooit in die hande kry, wil ek hom klap tot sy ore tuit en dan op die voetoorgang reg voor die sirkel gaan neersit en heen en weer oor hom ry.

Sien, die winter doen my regtig nie goed nie. As ek weer eendag terugkom aarde toe, beter ek ‘n dier wees wat slaap in die winter of ek moet stinkryk wees sodat ek agter die son aan kan trek.

Tot die son weer skyn.

Categories: Gedagtes | 33 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 544 other followers