Mense wat martel

NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE!!!

Ek lees gisteraand die laaste paar sketse in Kom ons sit sommer by die tafel – André le Roux en dit ontstel my so dat ek spyt is ek het ooit so ver gelees. Dis nie ‘n maklike boek nie en ek was vroeër al lus en los dit. Toe wens ek ek het.

Ek weet ons stap aan na twintig jaar in die nuwe Suid-Afrika. Ek weet die dinge van die verlede moet nou begrawe word en ons moet aanbeweeg en ophou om apartheid die skuld te gee. Ek weet al daai dinge en dis goed en reg so. Maar wat ek NIE weet nie is hoe mens vergeet van die dinge wat aan jou en joune gedoen is. Hoe groot moet mens wees om te kan vergewe en vergeet as jy weet dat jou kind, jou ma, jou man, jou geliefde doodgemartel is.

En dis nie gebonde aan ons land, ons situasie nie. Dis universeel. Mense en mag word so maklik gelyk aan BOOS.

In sy boek draai André nie doekies om nie. Hy beskryf in detail hoe iemand met ‘n draai van die slinger van ‘n ou telefoon elektries geskok word. Van ‘n wankelrige liggaam wat gedwing word om op ‘n baksteen te staan, ‘n baksteen wat net-net nie groot genoeg is vir albei voete nie, ‘n baksteen wat skuins wikkel in los sand en die man weet hy mag nie af trap nie. DIS glo nie marteling nie. Daarvoor maak die Burgerreg nie voorsiening nie.

Hy vertel van ure lank toegesluit word in ‘n sinkhok op die hitte van die dag, van opgehang word aan arms aan ‘n balk en voetsole wat ritmies geklop word met ‘n dun rottankie, van ‘n kop wat onder water of ‘n bak braaksel of urien of bloed gedompel word. Hy skryf van ‘n sandsak wat oor ‘n kop getrek word en stadig natgemaak word totdat die sak self voor die man se mond begin asemhaal, vlakker, al vlakker, tot die sak vasslaan teen sy gesig en daar nêrens meer lug deur die nat goiing kom nie. ‘n Man word geblinddoek, op ‘n dwarspaal, ‘n paar sentimeter bo die grond – maar hy is onder die indruk dat hy verdiepings ver bo die aarde en sand hang. Die duiseling loop sy hele kop vol.

Twee word in ‘n helikopter die lug in vervoer. Een is gelukkig, die keuse is lukraak, hy kom terug. Een word by die oop deur uitgestamp, om hom dood te val. ‘n Man word van sy vrou en kinders geskei en daar word gedreig dat hulle doodgeskiet gaan word. Dan kom die skote, een vir een, deur die bosse. Die man skree, hy wil praat, hy wil so graag praat dat hy amper onverstaanbaar raak. Wat laat hom dink sy vrou en kinders word regtig doodgeskiet? Dit sou mos moord wees en ons is nie moordenaars nie…

Die vindingrykheid ken geen perke of grense nie, die brutaliteit wissel, die onmenslikheid net effens. Marteling wat gepleeg word in die naam van oorlog, in die naam van die behoud van vrede, van veiligheid. Met geweld behou ons vrede?!

Om te weet jou kind of man of geliefde het in ‘n oorlog gesterf, doodgeskiet in ‘n skermutseling, ‘n skoon dood gesterf – dis nie maklik nie, maar dis verdraaglik. Want oorlog is deel van menswees. Nie dat dit reg is nie – geen oorlog is werklik geregverdig nie, want dit gaan gewoonlik oor mag en besittings en die werklikheid is dat daar eintlik genoeg is vir ons almal. Genoeg ruimte vir elke mens, elke geloof. Maar die mens is selfsugtig, suinig, inhalig, kleinsielig. Daarom is daar oorloë. Dis een ding.

Om te weet jou kind of man of geliefde is doodgemartel in ‘n “oorlog” – dis ‘n ander ding. Hoe leef mens ooit daarmee saam? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy iemand gemartel het? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy die marteling oorleef het? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy weet jou geliefde is doodgemartel? Met sielkundige hulp? Ek glo te min.

Wie de hel kan ‘n tydsbeperking op iemand se onthou sit?

Hoekom skryf ek vandag hierdie? Is alles dan nie lankal verby nie? Is daar nie Menseregte, ‘n Geneefse konvensie, al sulke kommissies van die waarheid en versoening nie? Moenie jouself belieg nie. Marteling is nie beperk tot ‘n land of ‘n tydperk nie. Iewers word daar iemand gemartel, of dit nou vir oorlog of vrede of inligting of magsgevoel is.

Daar is verskeie soorte marteling. As jy ‘n vrou verkrag, martel jy haar. As jy ‘n kind verniel en misbruik, martel jy daardie kind. As jy iemand verneder met woorde en verkleineer en die persoon se selfvertroue afbreek tot in die grond in, martel jy daardie persoon. Die boelie op die speelgrond by die skool is ‘n martelaar in wording.

Moenie op die seepkis klim en verontwaardiging uitskree teen oorlogsmisdade terwyl jy dalk self elke dag jou eie klein dosisse marteling uitdeel aan jou medemens nie. Of toekyk hoe ‘n ander dit doen sonder om op te tree nie.

Ons wil nie betrokke raak nie.

“Die enigste ding nodig vir boosheid om te oorwin, is dat goeie mense met gevoude arms sit en toekyk en maak asof hulle niks sien nie.”

Daar’s iets omtrent ‘n Sondag…

Tags

Die hitte golf laag oor die wingerde. Die bamboes windklokke maak ‘klong klong klong’. Die engeltjie windklokkies maak ‘klieng klieng klieng’. Op die radio speel hulle goue oues. Mens ruik die stilte van versadigde mense wat die middagmaal afslaap in donker kamers agter diggetrekte gordyne. Vir ‘n uur of twee-drie staan die aarde stil, staan die son stil.

Ver weg is die suising van bande op teer. Mense wat nie wil slaap nie, nie alleen wil wees nie, nie kans sien vir stilte op die Sondag nie. Wat ry, soms sonder bestemming, sommer net ry om nie stil te staan nie. Ry sonder om te dink, ry met musiek wat hard speel, wat onthou weg raas.

Eensaam ry ‘n fietsryer, in die verswelgende hitte steeds vasberade om sy dosis oefening in te kry. Of ry omdat ook vir hom sweet in die son beter is as alleen stil te sit, selfs tussen mense.

Netnou, so oor twee ure, sal die wêreld weer wakker word. Mense sal opstaan, nat gesweet geslaap, sal stort onder koel water, sal ligte klere aantrek, sal wonder wat eet hulle vanaand, dalk sommer toebroodjies met die oorskiet middagvleis.

Sal begin dink wat trek hulle môre aan, sal handsakke en skoolsakke vir die week begin pak, sal ‘n vergete stukkie wasgoed van die draad gaan afhaal, sal spyt wees die naweek is amper verby, sal bly wees die naweek van alleenwees is amper verby, sal melankolies voel vir geen rede nie.

Skemertyd sal die deure oopgegooi word, vir koel lug om in te kom, om die warm huis af te koel. Op die stoepe sal mense sit met koue wyn of bier, muskietweerder aangesmeer, muskietafweerders wat brand. Hulle sal dink wat ‘n lieflike aand is dit, hoe jammer dat mens vroeg moet gaan slaap want môre is Maandag. Hulle sal onthou wat hulle eintlik alles die naweek wou gedoen het – nie die gras gesny nie, nie ‘n slag by ma en pa ‘n draai gemaak nie, nie die motorhuis / kombuiskaste reggepak nie.

Hulle sal sit, sommiges met Sondag-blues, ander sommer net sit. Tienuur sal hulle opstaan, besef dit raak laat, weer gaan stort, tussen koel lakens inklim, probeer slaap, slaap.

More is Maandag. Daar’s iets omtrent ‘n Sondag…

Die laaste dag en die Peanut-Sondag

Dis vandag my laaste dag vakansie. Ek weet oor ‘n week of ‘n maand gaan ek seker terug verlang, maar eintlik is ek nou gatvol vakansie gehou. Mens kan net solank niks doen, lees, fliek, niks doen, laat slaap, rondry, niks doen, niks doen. Ek sou nie ‘n baie goeie “lady of leisure” uitgemaak het nie. Selfs met baie geld sou die winkels my nie op die lange duur kon besig hou nie.

Ek is nie (en was nog nooit) ‘n baie goeie huisvrou nie, al maak ek self my huis skoon en doen dit ordentlik. Hier is nie meer kinders om groot te maak nie en nog geen teken van kleinkinders op die horison nie, so as ek koekies bak, eet ek dit self op, wat weer ‘n stryd met die skaal veroorsaak. So koekies bak is uit. Dis buitendien te warm vir bak of kook.

Ek sien uit daarna om more te gaan werk. Sowaar! Ek sien uit daarna dat my jaar regtig amptelik moet begin. Ek het baie planne vir 2012, wat eintlik oorloop in 2013 – ja doemprofete, ek glo ons sal 2013 ook nog in dans, net soos 2012 :-) Ek wil die Camino gaan stap in 2013. Ek wil gaan sokker kyk in 2014. Ek wil ‘n boek klaar skryf in 2012. So, die vakansie houery moet nou end kry… things to do, places to go, hurry hurry hurry!

Ek lees daar by Jo-Ann (ek verlang my soms vaal na ons koffie geselsies) van kerkstories en ek onthou heeltemal ander kerkstories. Ek vermoed ek het hierdie een lank terug op my ou blog al vertel, maar wat, ek raak ouer, ek mag seker ‘n storie twee keer vertel.

My suster en ek verskil vyf jaar en kleintyd was dit nogal ‘n groot gaping. Sy was soms ‘n klein terroris en soms ‘n klein engel. So ‘n twee-vir-die-prys-van-een kind. My pa was diaken in die kerk en ons is van kleinsaf ELKE heilige Sondag kerk toe geneem, met my pa voor in die diaken bank en my ma met ons twee dogtertjies weerskante van haar in een van die voorste banke. ‘n Regte tipiese Afrikaner gesinnetjie. Natuurlik het ek jare later gerebelleer en sommer vir tien jaar lank nie kerk toe gegaan nie, maar dis ‘n ander storie.

Een Sondag word ons saamgeneem nagmaal toe, sussie was so vier jaar oud. Ons het nogal destyds ‘n dominee met rewolusionêre idees gehad, wat die ouers aangemoedig het om die kinders ook nagmaal toe te bring, al mag ons nou nie van die brood en wyn gebruik het nie.

Die eet en drinkery het nie vir sussie aangestaan nie, sy was glad nie gelukkig omdat sy nie ook brood en wyn kon kry nie. Die volgende Sondag, toe die kerk net lekker aan die gang is, maak sy haar handsakkie oop en haal haar eie stuk droë brood daaruit en begin rustig te eet daaraan. My ma, wat nog altyd die humor in enige situasie kon insien, wou haar terselfdertyd doodskaam en doodlag. My pa kon nie sy oë groot genoeg gerek kry daar uit die diaken bank nie. Hy kon ons altyd in ons spore tot stilstand bring met net hierdie woorde: “Kyk my oë.” Dan het ons geweet ons beweeg op papierdun ys.

Nie dié keer nie. Sussie eet smaaklik haar brood en kyk nie eers vir hom nie.

Na kerk is sy die leviete van Genesis tot by Openbaring voorgelees. Maar sy kon my pa lekker om haar pinkie draai en het hom net so aangekyk met haar groot blou oë en dan ‘n pak slae vrygespring. So het die erns van die oortreding haar dan ook effe verbygegaan.

My ma is ook opdrag gegee om sussie se handsak elke Sondag voor kerk te deursoek vir enige eetgoed en vir ‘n paar Sondae gaan alles toe weer heel stigtelik.

Tot die Peanut-Sondag. Ja, dis hoe dit vandag nog in ons familie bekend staan.

Waar sy die pakkie peanuts gekry het, sal vir ewig ‘n geheim bly. Dit was in die tyd wat ons nog hoed gedra het kerk toe en sy het so ‘n hoed met ‘n rekkie wat onder om die ken kom, opgehad. Net toe die dominee mooi op spoed is met sy preek,  trek sy haar hoed op dat die rekkie so dun trek en haal die pakkie peanuts onder haar hoed uit, van haar kop af. En skeur dit ewe fyntjies met haar tande oop, voordat my ma mooi besef wat aangaan.

Toe my ma vir haar begin beduie om die peanuts weg te sit, haal sy ewe mededeelsaam een peanut uit die pakkie, so mooi tussen haar twee vingertjies,  en bied dit vir my ma aan om te eet. Hoe meer my ma so tussen haar tande deur vir sussie probeer oorreed dat sy NIE peanuts wil hê nie en dat dit vir haar wat sussie is, se gatvelle beter sal wees as sy eerder die peanuts bêre, hoe meer dring sy aan dat my ma die peanut moet vat. Sy probeer dit naderhand in my ma se hand in druk, maar ma wil niks weet nie. Jare later het ek my ma gevra hoekom sy nie maar net die bleddie peanut gevat en geëet het nie, maar sy was glo heeltemal te ontstig op daardie oomblik.

Die volgende oomblik klim sussie mooi netjies pens en pootjies bo-op daai kerkbank, hou met haar een hand aan die bank se rugkant vas en vat daai peanut met die ander hand en probeer met alle geweld die peanut tussen my ma se tande deurdruk, maar my ma se kake is toe al digby klem-in-die-kaak. Die peanut spat weg en trek in die kerkgangetjie af.

Ek dog my pa styg op daar voor in die diaken bank, maar gelukkig gryp my ma vir sussie en daar trek sy af in die paadjie en uit by die deur. En arme ek moet bly sit en probeer ernstig bly! :twisted:

Wat van die peanuts geword het, sal ek nooit weet nie. Vermoedelik het dit in die kerk se tuin beland. Ons praat nie daaroor nie! My ma het met sussie in die motor gaan wag en na kerk het my pa soos Batman met sy manelpak daar aangevlieg gekom en die hele pad terug plaas toe met sussie geraas. Op daardie stadium het dit nog ampertjies gelyk asof sy dalk ‘n pak slae sal kan vryspring, maar halfpad huis toe en so deur die rasery, toe gooi sussie daai hoed van haar by die motorvenster uit dat hy so trek. Toe moet my pa eers stilhou en ek moet in die stofpad afhardloop om haar hoed te gaan optel. Toe weet ek, sussie, vandag is jou gatvelle “toast”! En dit was ook so.

My pa het ons nooit eintlik slae gegee nie, maar dit was selfs vir hom net een te veel. Sussie het nooit weer kos kerk toe gevat nie :-)

Dis die derde dag

Van 2012. Baie mense het vandag weer begin werk. Als is verby. Die kersfeespapier en die sjampanje proppe is saam met die laaste vullissakke weggegooi. Die nuwejaarsvoornemens is teruggebêre in die boks onder die bed of onder in die kas of iewers waar dit donker genoeg is sodat ons vir 365 dae daarvan kan vergeet. Nou begin daar al vooruit gekyk word na Paasnaweek. Want dit is soos die mens is.

Ek het al soveel nuwejaarsvoornemens in my lewe gemaak, ek sou letterlik die pad na die hel daarmee kon plavei. Ek wil mooier, maerder, slimmer, ryker, bekwamer wees in die nuwe jaar. Ek wil interessante mense ontmoet, na ver plekke reis, my geldsake beter hanteer, meer oefen, elke dag positief wees.

As ek deur die jare al daardie voornemens nagekom het, was ek vandag een van die mooiste, maerste, rykste, geleerdste, mees interessante, mees belese en berese, positiefste mense op aarde. Kortom, ‘n wonderwerk.

Maar ek het nie en nou is ek nie. Ek is net ek, ‘n gewone mens, met gewone drome, foute, vrese, vreugdes en vriende. Ek het nie my mislukkings en teleurstellings in 2011 (of enige ander jaar) agtergelaat nie. Daar is ‘n kamer in my kop waar ek al hierdie bagasie saamdra. En dit is reg so, want dit het my gemaak wie ek vandag is.

‘n Mens met deernis vir ander mense en hulle foute. Ek probeer nog glo dat die bedelaar by die robot liewers vir hom kos as tik sal koop met die geld wat ek vir hom gegee het. Dalk koop ek my gewete skoon, omdat ek ‘n werk, ‘n motor, kos, klere en ‘n dak oor my kop het. En hy het nie.

Ek probeer nog glo daar is meer goeie as slegte mense en die wêreld gaan nog eendag ‘n beter plek wees. Ek probeer nog glo in drome en liefde en wonderwerke.

Mens kan nooit regtig op 1 Januarie van elke jaar oor begin nie. As jy ‘n verandering in jou lewe, jou omstandighede, jouself wil maak, is daar nooit ‘n beter tyd as dadelik nie. Nie Maandag, of volgende maand, of volgende jaar nie. Nou dadelik! Al begin jy met die kleinste van veranderings.

Omhels elke dag en maak die beste daarvan vir JOUSELF! Nie vir jou man, of jou kinders of jou dienskneg of diensmaagd of os of esel nie. Vir jouself. Want net as jyself ‘n gelukkiger jy is, dan sal jy die mense om jou ook gelukkig maak.

Moenie die wêreld wil versit op een slag nie, maak met klein skuifies ‘n verskil. Koop vir iemand wat honger is ‘n bord kos. Gee vir iemand wat kaalvoet is ‘n paar skoene. Gee vir iemand wat kwaai lyk ‘n glimlag. Gee vir iemand wat hartseer is ‘n drukkie. Vat jou volgende sjokolade, lekkergoed, bier of brandewyn se geld en koop vir ‘n weeskind ‘n nuwe stukkie klere. Jy gaan maerder word omdat jy nie daar die lekkergoed geëet het of daardie bier gedrink het nie en terselfdertyd gaan jy iemand anders gelukkig maak.

Die lewe dwing ‘n mens soms in rigtings en op paaie wat jy nie vir jouself sou gekies het nie. Om heeltyd te staan en huil en terugbeur na ander paaie, is net ‘n mors van tyd. Sit jou een voet voor jou ander en stap jou pad. As jy nuwe skoene nodig het vir daardie pad, koop die nuwe skoene, maar moenie huil as jy stapskoene moet koop vir jou spesifieke pad eerder as dansskoene nie. Ons kan nie almal deur die lewe dans nie, party van ons moet stap, ander moet hardloop en nog ander moet bergklim.

Dra jou skoene met grasie, loop regop, stap fier en kyk jou mede stappers reguit in die oog. Elke pad het sy eie mooi. Moenie so huil oor ‘n ander, beter, makliker pad dat jou trane jou verblind en jy nie die mooi langs jou eie lewenspad raaksien nie.

Daar is niks nuuts aan ‘n nuwe jaar nie, behalwe die jaartal. Mense gaan steeds mense bly. Verander wat jy kan verander, verbeter wat jy kan verbeter, maar ken jou eie beperkinge. Elke stukkie metamorfose help om ‘n nuwer, beter jy te maak voor dit weer 1 Januarie is.

Tyd om 2011 te groet

‘n Nuwe jaar lê voor ons deur

‘n jaar om te lag, te lewe, te leer.

Vergeet van kommer, twyfel en vrees

laat liefde, vreugde en vrede ons keuse wees.

 

Die nuwe jaar gee vir elkeen van ons

‘n skoon boek, ‘n nuwe kans.

 

Maak 2012 jul mooiste jaar!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 141 other followers