Sommer net

Wanneer vier aartappels een aartappel te veel is

Voor ek hierdie storie vertel, is daar iets wat julle moet hoor. En moet WEET. Ek skryf nie hierdie omdat ek wil vertel word hoe oulik en gaaf en nice en wat ookal ek is nie. Ek wil dit nie hoor nie. Want ek is nie. Die afgelope 4 maande is ek min of meer ongeveer meeste van die tyd bedonnerd. Ek wil iemand met ‘n hamer slaan, en meeste van die tyd is daardie iemand myself. Omdat ek myself vir die hoeveelste keer vir ‘n toffie uitgegee het en vir die hoeveelste keer gekou is. Ek het aanhou skryf aan ‘n boek wat ek eintlik al lankal al moes toegemaak het. Maar die boek is nou toe. En vir ‘n rukkie gaan ek nog wipplankry tussen kwaad en minder kwaad en weer gelukkig.

Ek skryf egter hierdie omdat ek wil hê elkeen wat hier lees moet hulle oë oopmaak vir die mense om ons, want soms kan jy ‘n wêreld sien in die kleinste handeling en kan jy jou hand uitsteek en met min iets vir iemand baie maak. Ek skryf hier omdat ek ook al daar was waar iemand se min my baie geword het.

Ek het gaan kruideniersware koop, vir die eerste keer in drie maande, want ek sal weer vir myself moet begin kos maak. Ons canteen by die werk, waar ek my kos gekoop het, maak die 13de Desember toe. Vir altyd. Die twee dames wat dit bestuur het, is al soos my familie. Hulle word basies gedwing om te gaan. Ek wil nie uitbrei nie. Dis net nog ‘n verlies in my lewe. Een van ‘n paar die laaste paar maande. Ook dit sal verbygaan.

So ek staan met my sewe aartappels in die sakkie om geweeg te word. Voor my is ‘n aantreklike, jonger vrou. Netjies aangetrek. Sy het drie aartappels in ‘n sakkie en een in haar hand. Die skaal sê elf rand iets vir die drie. Sy vra die vierde een moet by geweeg word. Die skaal sê vyftien rand iets. Sy kry ‘n verleë trek om haar mond en vra die een moet maar weer uitgehaal word. En sy loop met haar sakkie met drie aartappels. Ek laat myne weeg en soos ek daar staan besef ek wat ek eintlik gesien het. En ek weet ek gaan myself nooit vergewe as ek dit net los nie.

Ek los my trollie net daar en sê vir die weegvrou ek is nou terug. En ek loop by die betaalpunte af en soek die vrou met die drie aartappels. Ek kry haar by die minder as 10 items rye. En toe begewe my moed my. Want ek word bang sy gaan my skel of beledig voel. So ek staan en wik en weeg en sy beweeg al vorentoe. Ek draai om om weg te loop, maar ek kan nie. Dis regtig asof iemand buite my my vat tot by haar. En ek haal haar uit daardie ry uit, eenkant toe, en ek vra vir haar of ek asseblief vir haar goed kan betaal. Ek sien sy het ‘n klein pakkie sout en die drie aartappels.

Sy vra of ek ernstig is en ek vra of dit al is wat sy het. Sy knik haar kop. Dis toe dat ek my beursie uithaal en al my kontant, behalwe twintig rand vir die parkeerkaartjie, uithaal en vir haar gee. Dit was nie baie nie, net honderd-en-veertig rand. En daar raak die vrou aan die huil en sy vra of sy my ‘n hug kan gee. En ons hug mekaar en sy huil en my trane loop. Vader weet wat die mense gedink het. En ek sê vir haar sy moet na haarself kyk en sy druk my weer en draai om en loop weer die winkel se rakke in.

Ek het my trollie gaan haal en toe ek bietjie later verby die betaalrye loop, staan sy daar met ‘n brood, ‘n pakkie vleis, die aartappels, melk, die sout en nog kos wat ek nie alles kon sien nie. Heelpad huis toe vee ek trane af. Deesdae is honderd rand vir my ook baie, maar nie naastenby so baie soos wat dit vandag vir daardie vrou was nie. Mag daar iewers vanaand mense wees wat met ‘n vol maag gaan slaap.

Maak oop julle oë vir die nood om julle. En moet asseblief nie met my kom politiek praat hieroor nie. Daar is mense daar buite wat swaarkry, en dit net niks met hulle politieke keuses of slegtigheid te doen nie. Jou bietjie kan ‘n ander mens se baie wees. Laat dit so wees.

17 thoughts on “Wanneer vier aartappels een aartappel te veel is

  1. Sjoe, hier sit ek ook met trane in my oë. Ek stem, swaarkry is swaarkry en niemand verdien dit nie! As ons kan help, hoekom dan nie! x

  2. Haai man waar was jy so lank???? Bly om van jou te hoor weer, dit was lank 😉 En ja, Jy moes nou nie my mening gevra het op die tydstip nie jong want ek is op die oomblik baie baie mens sku. Anti mens. De moer in vir mense nes jy wil. Wil hulle nie sien of hoor nie. En ja dit gaan ongelukkig vir almal.
    Kyk ek begin haatlik raak en ek hou nie van myself so nie, want as ek iemand kan help is ek daar en ja mense kry swaar deesdae en so ook ons. Ons gaan nerens uiteet, uitstappies of vakansies nie, sit net by die huis gaan net op Sondag kerk toe (Dit begin n uitstappie word ek se jou ) Maar omdat jy n company het, dink hulle jy rol in die geld ;-(
    Dink nie ons het slapelose nagte en wakker 2-3 in die oggend en sit en koffie drink en worry oor hoe stil dit daar buite is, dat ons die werk moes terug huis toe vat en daarvan af werk, want daar is nie geld om rent te betaal nie. Daar was 13 mense afhanklik van die werk gewees en moes van hulle laat loop en so sleg gevoel maar dit of ons is in ons dinges in en nog steed daarin, want jy het lenings gemaak om kop bo water te hou. Om terug te kom…….Ons help waar ons kan, maar niemand gee terug nie ???? Hulle vra net weer en as jy se jy het nie is jy die die vark in die fairytale,en se hulle MAAR JULLE HET N MAATSKAPPY ??? (As die ding darem ’emoticons’ gehad het ). Gee jy vir hulle geld dan vertel hulle jou sommer na hulle dit gevat het, sorry ek kan dit nie terug gee nie. Maar as jy op Facebook kyk sit hulle lekker en eet en drink in n restourant, sien jy hulle lekker in die see swem en op die beach sit en hulle is so besig om n lekker tyd te he terwyl ons nog maar steeds by die huis sit.
    Ek het nou my voet neer gesit, vir hulle almal gese, ok hou die geld wat jy skuld MAAR MOET ASB NOOIT WEER KOM VRA NIE, En ek sal nie eers meer net help nie. Ja daar is die wat ek skaars ken soos jy gedoen het, wat ek sal help maar deesdae dink ek ook 2 keer voor ek dit doen en dit maak my hart so seer. Maar as jy n goeie hart het vat mense advantage en ek raak heel befok in my kop. Maar ons probeer die Here weet ons probeer en ons is nog steeds blessed en tel ons blessings elke dag. Voor almal uit gaan in die oggend bid my man dat almal veilig sal terug kom en dat die Here moet kyk na almal en DIT is al wat ons nog aan die gang hou. Die Here is goed vir ons. Maar die hand het nou so stadig aan toe gemaak en so gaan dit bly en hoop die Here vergewe ons, maar soos die gesegde gaan ‘Charity starts at home’ want daar is niemand waar ons kan na hardloop nie. So ja, ek is anti mens deesdae en voel nie meer lus om te help nie maar doen as ek rerig nood sien, gee vir vreemdelinge want die mense na aan ons SIEN ons nie meer nie want ek het nou mislik geraak. Want as jy nie meer gee nie wil hulle jou nie ken nie en ek wil hulle ook nie ken nie. Loop in Pick and Pay as hulle jou sien hardloop hulle die ander rigting in ;-( dit maak seer maar nou ja. Van nou af is dit ek my man en kinders en dis dit sorry.
    Ek dink jy is baie soos ek Vuur, maar deesdae is ek nou net nie op my bek geval nie en vertel hulle sommer net daar en dan DAAR IS DIE TEERPAD LAAT JY IS, ek soek jou nie hier nie, en dis terrible ek weet maar nou ja. Maar as jy nou nie weer voor Kerstyd skryf nie, wens ek vir jou en die famielie alles van die beste toe, en mag die Here julle dra waarook al julle is en beskermend hou en daai kleintjie van jou is nou seker al baie groot? Blessings blessings en nog meer blessings vir julle 😉

    1. By the way ……. ek sal seker maar weer sag word en help maar op die oomblik ai ai vind dit baie moeilik maar sal maar nog steeds uitkyk OM my en soos jy se…… Jou bietjie kan ‘n ander mens se baie wees. Laat dit so wees. EK GAAN ONTHOU WAT JY GESE HETOK 😉

  3. Wanneer mens sien hoe mense baklei oor die besit van ‘n sinkhuisie, besef ek hoe uiters goed dit met my gaan.
    Wonderlike skrywe en jy mag maar dit deel, want dit laat mens met nuwe oë na nood kyk!

  4. Ek stem saam met jou!!! Dit was ‘n pragtige gebaar. Ons moet uitkyk vir mekaar……..ek kyk altyd as ek by ‘n betaalpunt staan wat om my aangaan, as ek help waar ek kan!!! Geseend vir jou xxx

  5. Ek self is maar ‘n sucker vir mense wat swaarkry… al is hulle sleg of lui of wat-ook-al.. so mooi storie vanoggend terwyl my hart so seer is oor die dinge wat met die mense rondom ons gebeur en hoe lelik ons met mekaar geraak het… Dankie dat jy genoeg omgee om aan te hou aartappels koop…

  6. Ai….pik ek nou ‘n traan…dankie vir jou omgee, so baie mense sou net geïrriteerd gevoel het, jy het nie, so jou sakkie sal ALTYD ietsie ekstra inhê, want jou jou hand is óóp, die Here kan nie iets in ‘n tóé hand sit nie…

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s