Sommer net

Die pad Karoo toe. En terug.

Verlede week dié tyd was ek in Graaff-Reinet. Het ek kaaskoek uit die hemel geëet en my kleinkind geliefie.

Almal wat iemand in my lewe is, weet ek gaan soveel keer as moontlik Karoo toe om vir Lily-Lyfie te kuier. En dat ek gewoonlik die Interkaap bus vat, want petrol is DUUR. Maar ek voel al lankal lus om self te ry. Dan kom sit die duiwel op my skouer en sis in my ore… wat assssss???

Wat as jy in die verlate Karoo op die vlaktes vrou-alleen gaan staan? Jy ry nie ‘n nuwe kar nie. Wat as jy ‘n pap wiel op die vlaktes kry? Jy weet nie eers hoe om die wiel te ruil nie. (Tegnies is hy nie verkeerd nie, ek weet HOE, ek het net nog nooit nie). Wat assss… ?

Mens kan vir jouself allerhande spoke opjaag of mens kan jou skouers losskud, dat die helsem wat so sis doer trek. En dan kan jy in jou ou Toyota klim, en ry en vertrou. Nadat jy Outsurance gebel het en seker gemaak het jy het Roadside Assistance. My ma was lief om te sê die Here help dié wat hulself help.

Dus, so klim ek toe verlede Donderdagoggend halfagt in my ou Toyota en vat die pad. Musiek vir die pad, check. Water om te drink, check. Ietsie om te kou, check. Kar vol petrol, check. Banddruk reg, check. Olie en water reg, check. Daar gaan ek.

Ek het van nature ‘n sigeunerstreep weg. Vir my het ‘n roadtrip nog altyd iets magies ingehou. Om weer ‘n slag alleen die pad te vat was amper soos om aan die hemel te raak. Tog ry ek hierdie keer met ‘n waaksaamheid wat my vergesel. Ek sorg dat ek heeltyd weet waar ek is, hoe ver ek van ‘n dorp af is, wie voor en wie agter my ry. En ek besef dit is hoe ons permanent in ons mooie land lewe. Waaksaam. En ek wonder wat dit aan ons psige doen op die lange duur.

Maar die reis word ook vir my een van verwondering. Verwondering oor die mooi natuur langs die pad. Selfs die uitgestrektheid tussen Laingsburg en Beaufort-Wes hou ‘n eiesoortige bekoring in. Ek verwonder my ook oor die twee Toyota Fortuners wat agter my opduik so 120 km voor Beaufort en wat my nie verbygaan nie. Nie eers as ek effe spoed verminder nie. Kry ons trokke, los hulle my dat ek eerste verbysteek. Het hulle maar net besluit om so saam met my te ry, was hulle soort van my beskermengele? Ek sal nooit weet nie.

By Beaufort het ek weggedraai en hulle nie weer gesien nie. Half drie Donderdagmiddag stop ek veilig by my bestemming. Ek sê dankie boontoe.

Maandag wat verby is, het ek weer die pad terug gevat. Ek weet ek sal dit weer doen. Ek was bang. Ja, ek was. Ek het nodig gehad om in my kar te klim en te ry en te glo ek sal okay wees. Ek was okay. Soms het mens nodig om uit jou boks te klim en ‘n ding te doen, al is jy waaksaam. Om ‘n tree te gee op ‘n pad wat jy nie honderd persent oor seker is nie.

Want dit laat jou weer LEWE. Dit laat jou VOEL. Dis ‘n klein oorwinning in die groter bestel van dinge. Dis soos die lag wat uit my losbars toe die een wildvreemde man by die vulstasie op Beaufort-Wes vir my sê; “Djirre vrou, djy moenie met hierie kar innie Kaap rondry nie! Hulle hijack djou so gou soos nou!” Ek kon lag en vir hom sê dis nie sommer net vir hijack nie. En toe lag hy saam.

Daar kom ‘n vrede in ‘n mens se siel so alleen op die pad. Ek ry sommer more weer.

Advertisements

11 thoughts on “Die pad Karoo toe. En terug.

  1. Ai hier kom ek alweer maar ek is te kak bang om so ver te ry al is dit om klein kinders te sien maar gelukkig is myne so naby ook dat as die kinders huis toe gaan dan se ek TEL JULLE KINDERS 😉 sies ja ek is lelik maar as dit by 5 kom en almal wil bly en jy sit met die bakleiery en ouma moet reg staan want niemand doen niks want dis mos ouma en hulle wil nie huis toe nie dan ja ……..maar hulle bly lief vir hulle ‘cool’ ouma. En al wat hulle eim is in die lewe is om groter as ouma te wees en sy is net n tiekie en n briek hoog so maar ek is baie lief vir hulle almal maar vat ook nie nonsense nie en hulle weet 😉 Bly jy kon joune gaan sien maar ek sou eerder die bus vat veral in vandag se tye. Ek is ook een van daai wat se ‘wat as’ 😉 en dan sal ek buitendien aan die slaap raak so by myself hahaha wat al gebeur het en as mense die hooter druk dan waai en smile ek maar en se sorry 😉 so ek sal maar laat almal my ver rondry en sal vir die onskuldige mense maar net hier rond ry 😉 KAASKOEK MY DOOD!!!!!!!!!!! En dan n lekker MELKTERT tuis gemaak wat jy nie meer kan koop nie 😉 Maar net bly jy is veilig terug by die huis 😉 God Bless xxx

  2. Dit gee weer iets vir mens terug as jy alleen kan ry voel jy beteken nog iets.
    Daardie iets wat ‘n vrou verloor wanneer jou dae net bestaan uit kosmaak, kos koop en sente omdraai om elke dag vir 6 mense kos te gee, gesond te hou, aan die gang te hou…..waar het ek myself so verloor, wonder ek..

  3. Jy laat my terugdink aan so baie jare gelede wat ek in die Oos-Kaap skoolgehou het en so stokalleen gery het. Daardie tyd was dit veilig as jy so by iemand aanskakel en saamry. Aan die einde van die trip of waar jy afdraai, waai jy vriendelik vir die vreemdeling wat jy nooit ontmoet het nie, maar tog ‘n stukkie lewenspad saamgeloop het.
    So bly jou rit het goed verloop.

  4. Dit is goed om daardie vrese te konfronteer. Maar partykeer bly die vrese daar ongeag van die konfrontasie. Ek haat dit om te vlieg, maar elke nou en dan moet ek maar.

    Mmm lekker kaaskoek. Jy maak my nou sommer lus daarvoor.

  5. Lekker om by die kinders en kleintjies te kuier. Gelukkig is myne so naby dat ek gou kan geen haal em oor ‘n dag of 2 weer kan terugvat. Kos vir jou siel.

Lewer kommentaar op Aletta - nowathome Kanselleer die reaksie

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s