Sommer net

Om te skryf. Of nie.

Ek lees al vandat ek kan onthou. Skryf het later gekom. Op skool was dit opstelle en later my gedagtes in ‘n dagboek. En toe kom blogging. Vir ‘n paar jaar het ek my hart uitgeskryf. Wanneer ek kwaad was, wanneer ek gelukkig was, wanneer ek hartseer was, wanneer ek geskok was, wanneer ek sommer net was. Soms het die woorde opgedroog. Veral wanneer seer TE diep gesny het. Vir sommige dinge is daar selfs nie eers woorde om uitdrukking daaraan te gee nie.

Die laaste paar maande skryf ek nie. Nie omdat ek nie woorde het nie, maar omdat ek nie dink my woorde kan meer enige verskil maak aan die wêreld om my nie. En ook omdat ek bang geword het vir woorde. Regtig bang. Omdat dit beter geword het om stil te bly. Want dit voel of redelikheid, regverdigheid, die goue middeweg… dit voel asof dit alles by die venster uit is. Weg. Te moer in gone. Mens MOET ‘n kant kies. Jy MOET vir Steve haat anders is jy ‘n rassis. Jy MOET met Steve saam stem anders is jy teen jou “eie” mense en verdien jy alles wat sleg is wat dalk met jou kan gebeur in hierdie land. Daar is nie ‘n tussen-in nie. Daar is nie matigheid nie. As jy nie Multichoice boikot nie, is jy ‘n volksverraaier. As jy Multichoice boikot, is jy ‘n dom Afrikaner.

Ek wil nie meer nie. Ek wil nie meer soos ‘n Don Quixote windmeulens storm nie.

Ek wil kan sê ek dink Steve is dalk nie ‘n sleg ou of ‘n aarts rassis nie, ek dink hy druk net sy goeie bedoelings nie altyd heeltemal korrek uit nie. Ek wil dit sê sonder dat ‘n ton bakstene op my kop neer donner en ek uitgeskel word vir net nog ‘n kommin Afrikaanse rassis.

Ek wil ook kan sê ek verstaan hoekom die anderskleurige mense in hierdie land selfs nou nog witmense haat. Want as ek my voorstel hoe dit vir baie, baie jare was om elke dag in vrees te leef en te ervaar hoe jou menswaardigheid vertrap word, dan kan ek daardie haat verstaan. Ek sê nie dis reg nie, ek sê ek verstaan dit.

Ek wil kan sê ek het in die eerste verkiesing in 1994 vir die ANC gestem, vol hoop en vreugde vir ‘n nuwe Suid-Afrika, maar dat ek seker nie solank ek lewe ooit weer vir die ANC sal stem nie, want hulle het ons in die tande geskop. Nie vir my soseer as witmens nie, maar hulle eie mense. The mind boggles as ek met my beperkte kennis my net probeer indink wat hulle alles vir die arm mense kon doen met die geld wat verdwyn het in die bodemlose afgrond van staatskaping.

Ek wil befok wees vir die regering sonder dat ek moet bang wees ek gaan uitgeskel word vir ‘n rassis. Ek wil kan sê DIT is NIE waarvoor ek my kruis gaan trek het in 1994 nie. Ek wil gil en skree as ek lees van nog ‘n plaasmoord, maar ek bly stil, want die plaasmoorde mag nie vergelyk word met die bendegeweld in stedelike gebiede nie. Maar glo my vry, as ek kan kies tussen sterf deur ‘n dwaalkoeël of bloot net ‘n koeël, dan kies ek dit loshande bo langsaam gemartel word met kookwater, boorpunte, skroewedraaiers en warm ysters.

Ek wil die vaders van apartheid se beendere gaan opgrawe en dit fyn slaan met ‘n hamer, want kyk met wat se fokop het hulle ons gelos. En dit voel of dit nooit ooit gaan regkom nie. Ek het onlangs met ‘n skok per ongeluk gehoor hoe iemand wat ek gedink het ‘n vriendin is, vir iemand anders sê “I hate all white people.” En ek het gewonder hoeveel mense maak elke dag vir mekaar wit tande, terwyl hulle mekaar eintlik haat.

Ek het begin laer trek, soos ‘n Voortrekker. Ek het begin “jy in jou klein hoekie en ek in myne.” Want ek het hoop verloor. Hoop dat ons almal eendag een groot happy land sal wees. Ek het die droom verloor, die reënboog verloor.

Ek sal nooit kan haat nie, ek sal nooit iemand kan oordeel net oor die kleur van sy vel nie. Dit sit nie in my nie. Ek is nie so grootgemaak nie. Maar ek word nou elke dag geoordeel aan die kleur van myne. En ek moet pasop wat ek daaroor sê, anders kan ek gebrandmerk word as iemand wat ek glad nie eers is nie.

So wat doen ek. Ek bly stil. Want woorde het gevaarlik geword.

Advertisements

21 thoughts on “Om te skryf. Of nie.

  1. Die “reenboog” val onder die inklinasie van “Dreams are good Friends” Sorry girl… jy IS fantasties oulik
    kan ek hoor, en duisend sorteer onder jou, seersekerlik ek, maar realiteit wys sy vinger, ongenadiglik…

  2. Jy sê presies hoe ek ook voel. Soms voel dit ek verraai myself as ek moet vriendelik wees en van my verwag word om stil te bly, wanneer ek eintlik ten hemele wil skree oor al die onreg, haat en gepleisterde gesigte rondom my. En ek wonder wat dit eintlik beteken as ek andere se wit tande sien…wat sê hulle en bedoel hulle dit regtig? En wat skuil agter daardie vriendelike(?) woorde. In my kinderlike naïwiteit het ek geglo die wit tande en soet woorde was opreg bedoel…maar helaas…die dolk het my ook getref…meer as een keer. En ek huil in my hart wanneer ek na my kleinkinders kyk…soveel onskuld en liefde. Wat gaan van hulle word, gaan hulle ook eendag voel soos ek voel en wonder waarom…waarom…hoekom…hoekom… Ek gaan lê onder ‘n besembos, en wens my gedagtes wil saam met my kom lê en nie steeds rondreis en vrae vra tot in allerewigheid nie… en ek wonder wat kon ek anders gedoen het en waarheen dan nou…

  3. Ek het ook die stilte begin omarm juis oor ek voel soos jy voel – dit het gevaarlik begin raak om te praat, maar ek moet bysê, die ding van wittande wys, dit het ek lankal besef agv my werk – dit is deesdae bitter maklik om met ‘n glimlag te haat… Jou woorde hier praat, het my darem nou vir ‘n oomblik minder alleen laat voel.

    1. Dis eintlik hartseer. Ek wil bly glo daar is meer redelike mense daarbuite as onredelikes. Dalk is dit NIE reg om stil te bly nie, maar ek voel asof die brander van haat ons almal gaan verswelg, of jy nou praat of nie.

  4. Ek hoor jou. En almal se ewige “outrage”. Almal is kwaad oor iets. Sommer so, sonder feite, of as die “feite” later verander bly die woede agter. Dit voel vir my ek kan mense se haat sien, soos ‘n deining in die pad op n warm dag. So ek bly ook stil. (En Steve is bloedfamilie van my, haha)

  5. Ek verstaan jou gevoelens en frustrasie tog te goed. Ek dink die meeste van ons glimlag maar net en hoop die situasie sal vanself verbeter, of indien nie, dan tenminste nie ons naastes nadelig raak nie. Dis lafhartig, dink ek, maar ek kruip ook maar weg.

  6. Sjoe dis vir jou n delema (nie Malema) ne ! Ek verstaan ook hoe jy voel want ek is net so uit gesproke soos jy. Se wat ek wil se wanner ek wil en kyk jy weet presies waar jy staan met my. Die vriende wat ek het is jare jare oud die wat my mond nie kan handle nie bly maar weg van my af so vriende kan ek op my een hand tel en dis ok met my ;-). Deesdae gaan ek skaars uit my huis uit, bel eerder my seun of skoondogter en se bring vir my dit of bring vir my dat, sien nie eers die straat vir partykeer 2 weke nie. Het maar my dinge wat my besig hou in die huis, hou van tuin werk maar kan nie eers daaraan dink, as jy hoor die een net hier onder in die straat is by die ander gekry toe hulle by die huis kom, oor die kop geslaan en dood. En dit net omdat jy n mooi tuin wil he? Dan haat ek wat gebeur in die land en se ook…..O well dis waarvoor hulle gestem het, so swaar kry moet hulle nou maar en voel nie jammer nie. Dan ry ek en sien die bedelaars en gee maar wat ek kan, en daana kwaad vir myself. Dis somme kak om so te voel. Dit maak mens depresief, lelik voel, en sommer net voel jy wil a racist wees, en ek is nie een nie. Kyk ek glo aan ….LIVE AND LET LIVE en MORE SKYN DIE SON WEER. Maar ai dis moeilik en se maar net ek is oud Im on my way out, so dit worry nie meer nie, Ek gaan ook nie Multichoice boicot nie, want dis die enigste entertainment was ons het so sorry vir Steve, dit se nie ek like hom nie, en ek voel glad nie soos n verraaier nie. Mense moet maar dien wat vir hulle goed is en dis dit. Ons bid soggens en saans vir die Here om naby ons te bly, en dis al wat my goed laat voel en die feit dat ons nou at long last weer gehoor het van jou 😉 dit WAS lank laas ne, en dis nie goed nie??? So dankie en doen dit gou weer seblief en se wat jy wil se Son, fok die wat enigiets te se het, dis wat ek dink. As mense n probleem met dit het dan is dit nou hulle probleem en nie joune nie, die wat jou like soos ek VERSTAAN 😉 . My seun se nou die dag Ma almal is bang vir jou, en my antwoord? Nee hulle is nie, hulle is bang vir wat uit my mond kom want ek is eerlik en maak nie n moordkuil van my hart nie, as jy kak praat dan praat jy kak no maybe en ek wil nie ander se kak meer hoor nie 😉 So jy praat nie kak nie, en hoop jy gaan nou nie weer dat ons so lank moet wag vir jou skrywe nie. Hell my pos is nou amper so lank soos joune hahahaha so goodbye God Bless 😉 en ja ek vloek maar ek is nog n Christen in case iemand MY met brieks wil gooi 😉 Goed gaan Son DOEN NET WAT JY WIL GIRL 😉 Die waarheid was nog maar altyd die waarheid no getting away van dit

  7. Son, moenie stilbly nie! Jou woorde maak saak, jy maak saak. Jy verwoord ons seer en eina presies. Behou jou QWERTY vlyt. Sê, vertel. Ek is met jou. Jy het my blog vanmore inspireer. Dié wat so rassis skree moet self in die spieël loop kyk en daai tjip op hulle skouer self heelmaak.

  8. Baie dankie vir hierdie pragtige stuk skryf! Jy het alles kom sê wat ek ook voel, maar stilbly oor.
    Groete
    Liezel

  9. Ai Son, ek stem so saam met alles wat jy sê, behalwe dat ek nie anc on 1994 gestem het nie, maar ek is nie kwaad vir jou daaroor nie, jy mag mos stem vir wie jy wil. Wat vir my erg is is die oorreaksie op alles. Geen rede meer nie. Ek bly ongelukkig moeilik stil. Mooi dag vir jou. Soos altyd is hierdie uitstekend geskryf.

    1. Jy kan nie meer kwaad wees vir my as wat ek al oor en oor kwaad was vir myself omdat ek geval het vir al die mooi beloftes nie. Deesdae stem ek nie meer met idealisme nie, maar met realisme.

  10. Jy maak my dink. Oor stilbly. En kant kies. En draadsit. Jip dis wat ek doen. Daar is ook goed waaroor ek eintlik moet skryf, maar die F weet, ek kan nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s