Sommer net

Tien rand vir ‘n stukkie kaas.

Ek gryp ‘n noot en ‘n paar plakkies en ry gou Spar toe. Vir brood en ‘n stukkie kaas en eiers.

Die tweetjies staan by die bak met kaas wat Spar self gesny en toegedraai het. Hulle soek en soek en ek begin effe ongeduldig raak, maar ek staan maar. Die een het seker besef ek wag vir hulle en hy draai na my.

“Tannie, ons soek ‘n tien rand stukkie kaas?” Daar is ‘n vraagteken in sy woorde, asof hy dink ek sal dalk kan help. Al wat ek hom kan aanbied is om te sê hy moet vir die bestuurder vra dat hulle vir hom ‘n tien rand stukkie kaas sny. Hy skud net sy kop en my hart kramp saam. Sy boetie vat uiteindelik ‘n stuk en sê hulle moet maar die sewentien rand stukkie vat. Ek sien die sug in die skouertjies. My hart trek weer seer. Hulle loop en ek soek vir my ‘n stukkie kaas. Met die eerste vatslag stoot ek ‘n ander stukkie met die prys na bo en ek sien dis veertien rand. Ek gryp dit en sit die twee agterna.

“Hier is ‘n veertien rand stukkie kaas. Sal dit help?” Die gesiggies helder op. “Ja tannie. Dankie tannie.” Die kleintjie hardloop en gaan sit die sewentien rand stuk terug. Ek staan daar en ek wonder oor die verskil wat drie rand kan maak. Ek kry my brood en gaan staan in die ry en sal eers by die huis besef ek het die eiers vergeet.

Hulle is voor my in die ry en voor hulle is ‘n jong man. Hy haal vyf roomyse uit die yskas by die begin van die kassiere ry en ek sien hoe verlangend kyk die twee na die roomys. Na hy betaal het by die kassiere, draai hy om en gee twee van die roomyse vir die seuntjies. Hulle staan verstorwe en die kleintjie kyk vir sy boetie en toe vir die roomys en hy sê, “Hulle gaan dink ons het dit gesteel.” My hart breek flenters. Here, hoe het ons hier gekom dat ‘n kind te bang is om ‘n roomys te vat?

“Niemand hier gaan dink julle het dit gesteel nie” sê die jongman en die kleintjie vat dit by hom en sê vir sy boetie “Ek wag buite” en daar trek hy. Ek vermoed steeds bang dis te goed om waar te wees.

Toe ek buite kom, is die twee net besig om op ‘n fiets te klim, die sakkie goed voor aan die fiets gehang en die kleintjie sit dwars op die pyp voor sy boetie. Hulle trek weg en hy sien my en glimlag breed en skree, “dankie tannie, vir die veertien rand stukkie kaas!” Ek roep terug “mooi ry en geniet julle roomyse!”

Op pad huis toe moet ek kort-kort my trane wegvee. Hoeveel verskil maak drie rand? Hoeveel verskil maak twee roomyse?

Advertisements

10 thoughts on “Tien rand vir ‘n stukkie kaas.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s