Pa
Niemand gaan vir jou ‘n regte monument bou nie
Geen vlae gaan halfmas vir jou hang nie
Jy was nie ‘n bekende of beroemde man nie
Jy het nie oorloë geveg
of medaljes ontvang nie
Jy het nie wetenskaplike deurbrake gemaak
of lewens gered nie
Jou dood was nie voorbladnuus nie.
Maar ek bou hier vir jou ‘n woordmonument
As ons harte ‘n vlag gehad het
sou dit nog vir lank halfmas hang
Geliefd was jy, by vele
Oorloë het jy soms
namens ons kinders geveg
sonder trompetgeskal of medaljes.
Jy het ons sterk gemaak
Omdat jy swakheid nie kon verdra nie
Soms het jy ons laat swaar kry
Maar ek is steeds uit my hart bly
Dat jy ons pa was
Ek is nie kwaad vir die dood
soos ek was toe dit ma kom vat het nie
Ek bly net mateloos hartseer
en huil stil.
Jy het ‘n groot spasie volgestaan
en nou is jy net weg
heeltemal weg.
Ons gaan aan
en kyk in ons kinders
en kleinkinders
se blou oë
en sien jou
en weet
jy lewe
al is jy ook dood.
Ek het nooit my pa geken nie oorlede toe ek 2 was maar seker ek sou dieselfde oor hom gevoel het 😉 Wees bly jy het hom so lank gehad 😉
Dis baie kosbaar. Goed verwoord.
Dankie 💖
Jou woorde raak mens so diep, los my eintlik net met ñ eie hartseer, maar tog met ñ dankbaarheid sit.
❤️
Wat ‘n pragtige ode aan jou pa…so mooi! Sterkte met die hartseer.
Ai, hoe kan jy dit beter stel? Onmoontlik.
Mooi geskryf.
Hartroerend…
dis so hartseer, tog so pragtig…
Ag, die vingers – verbysterend!
Verbyserend mooi! Ek verlang nou na my pa! ” As ons harte ‘n vlag gehad het
sou dit nog vir lank halfmas hang” – dis al meer as veertig jaar halfmas!