Sommer net

Vandag het ek myself gefaal

Ek staan vroeg vanoggend op om te gaan katkos en gas vir die verwarmer koop. Volgens alle voorspellings gaan ons vrek van die koue hierdie naweek. Dis klaar bibberkoud, maar ek trek my “big girl panties” aan en durf die dorp aan.

Binne ‘n uur is ek weer op pad terug huis toe. Die reën bly nog weg, maar die wind waai reeds woes. So 500 meter voor my afdraai huis toe, sien ek hom loop. Aan die anderkant van die pad, maar in dieselfde rigting as ek. Hy dra twee inkopiesakke en beur teen die wind.

Instinktief haal ek my voet van die petrol af. Alles binne in my skree dat ek moet stop en hom vra of ek hom iewers kan gaan aflaai. Niemand behoort in hierdie weer buite te loop nie. Ek is verskeur tussen stop en aanhou ry. Binne sekondes gaan duisende dinge deur my kop. Wat as…

ek hom oplaai en hy slaan my oor my kop, steel my kar, verkrag my, vermoor my…

My rasionele brein sê vir my ‘n man met twee inkopiesakke is ook maar net ‘n man wat op pad is huis toe. My Suid-Afrika brein sê vir my ek kan nie daardie kans vat nie, al wil ek met my hele hart. Ek sit my voet terug op die petrol en draai oomblikke later by my afdraai in.

En hoe verder ek ry, hoe meer weet ek dat ek myself vandag gefaal het. Hoe kwater raak ek vir dié wat ons almal tot hier gebring het. Ek glo nog elke dag aan die goedheid van die meeste mense, maar vandag het ek ook in die bangwees gat geval.

Hoe het ons tot hier gekom en hoe kom ons ooit weer hier uit? 😟

Advertisements

19 thoughts on “Vandag het ek myself gefaal

  1. Liewer bang Jan as dooie man soos jy vir jou 1 jarige gese het, sal jy hier wees om nof alles saam haar te doen 😉 . Mens kan nie die kans waag nie, en ek is maar dieselfde jong…..pink wit swart ek stop net vir n ou vrou en n skool kind wat loop en geen ander nie. Jy het reg gedoen en ja dis nou maar die wereld wat ons nou aan behoord, en niks gaan dit change nie so moet nie sleg voel nie gaan bak n koek lol 😉

  2. Erich se vriend het twee weke terug ‘n hiker opgetel op pad van PE JBay toe. ‘n Oënskynlik vriendelike ou. Die nagmerrie wat daardie jongman binne 5 minute beleef het, is onbeskryflik. ‘n Rustige gesprek het in ‘n mesgeveg, ‘n bloeddeurdrenkte motor en ‘n half dooie 26-jarige ontaard. Erich is steeds getraumatiseerd en sy vriend (‘n Vegan en “Peace” kind van formaat) sal nooit weer dieselfde wees nie. Ek het 4 jaar gelede iemand ‘n lift gegee. In hindsight is ek dankbaar dat ek die kans gevat het, net oor dit my ‘n vlam van hoop en vertroue in die mensdom gegee het, maar ná Era se maat se ervaring het ek beslis besluit dat ek dit nooit weer sal probeer nie.
    Daardie ‘Afrika brein’ wat jou jou voet laat neersit het was bes moontlik jou gees wat jou gewaarsku het. Ja, mens se siel sal en móét die swaarkry en sukkel raaksien en jou optrede (liggaam) sal noodwendig gehoor gee daaraan (haal die voet van die petrol af), maar wanneer jou liggaam en siel (hart) possibly die domste fout van jou lewe gaan maak, móét jy gees intree en voet neersit en dis dan wanneer jy nou maar mag berus in die wete dat jy bes moontlik juis nie moes stop nie.
    Moenie jou kop te veel hieroor breek nie Sons. Gees moet soms oorvat as die siel se emosie oorhand kry 😉

  3. Dit gebeur so baie met my Son! En elke keer ry die skuldgevoel my, maar wanneer ek veilig by die huis stop en my man en kinders sien dan weet ek liewer veilig as slagoffer soos newsferret gesê het.

  4. Ek het in Namibia (destyds Suid Wes) grootgeword. Elke dorp se laaste stop straat en gereeld troepies gehad wat duim uitsteek. Ons (weduwee ma en 2 dogters) het nooit verbyy gery nie. My broers was ook afhanklik van saamry geleenthede. Vanddag bloei my hart ook maar, maar ek ry ook verby.

  5. Kom ek troos jou, want ek beleef presies dieselfde as jy, maar in annerland. Hier by ons maak baie mense van openbare vervoer gebruik en moet soms ‘n ent stasie of busstop toe stap. Aan die begin het ek nogal gestop en met my Vrystaaste Engels ‘n “lift” aangebied. Net een keer is dit aanvaar – deur ‘n man. Daar was selfs gevalle waar, soos hulle ma’s hulle geleer het, die windverwaaide, natgereende mens (meestal van die vrouegeslag) sommer in die teenoorgestelde rigting begin loop het. My hart breek wanneer ek verby iemand, wat ek in die ongenadige weer sien loop, ry en dink altyd dat dit my vrou of dogter kon gewees het daai. Maar dan hou ek maar verby. Daar was wel, nou annerdag, die drie ou tannies, afgetrede sendelinge wat op die stasie gestrand was nadat hulle taxi nie opgedaag het nie. Nadat ek my seun daar afgelaai het, vra ek of ek kan help. Hulle verduidelik toe hulle probleem en aanvaar dankbaar my aanbod om hulle na hulle hotel toe te neem. Op pad daarheen het ons te heerlik gelag en gesels. Met die aflaaislag moes ek hoor, “You South Africans are such decent people and tell your wife she’s one lucky woman.”
    En kwa-kwa-kwa bars die groepie vrolike tantes uit van die lag.

  6. Ek wil nie eers die ander kommentare lees nie, want hierdie is vir my ń baie teer punt. Ek weet ook soms ek MOET stop en oplaai, ek hoor die stem hard en duidelik. Maar ek stop nie, want my wêreld is vol waarskuwings. Tog, in my hart weet ek…Dit laat my so moedeloos voel.

    1. Ek weet nie raka8. Maar ek weet net ek moes gestop het. Ek moes my vertroue in die goedheid van die meerderheid mense gesit het. Ek wil nie soos almal net die bose sien nie en nou het ek. Ek is dedonner in vir myself.

      1. Ek moes ook vanmiddag twee blokke terugstap om van die eetgoed in my jassak te gaan gee vir ‘n hawelose, die eerste keer nie geluister nie…ons is net mens!

      2. Die Bybel se die duiwel kom in alle vorms jong. Hy lyk nice tot hy in daai kar klim en dan is jy in die kak 😉 So moet nie dedonner in wees vir jouself nie, jy kan nie die bose sien nie, tot jy daar is. Jy het die regte ding gedoen my girl 😉

      1. N Groot jammerte want ek help almal graag maar deesdae nie meer nie, want mense is nie meer dieselfde nie. Ek het bv. klere aan n vrou gegee om uit te deel (for free) ek vra toe die vroutjie het sy die klere vir haar dogtertjie gekry? Nee tannie se sy…..ek het die klere moes koop??? Toe hoor ek sy verkoop dit aan almal so wat doen jy? Ek het op gehou om haar te help, want jy kan dit mos nie doen nie??? Dis ons toekoms wees maar goed vir die mense wat jy ken.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s