Sommer net

This land is my land, this land is your land

Daar is so ‘n liedjie, en dit draai nou al vir ‘n paar dae in my kop rond.

Woensdagaand, 1 Augustus, klim ek op die Interkaap bus, om vir LilyLiefieLyfie te gaan kuier. Vir dié wat nog nie weet nie, my one and only kleindogter. Petrol is duur en ouma se hart trek bubblegum drade Karoo toe. Mense trek hul gesigte (en neuse) toe hulle hoor ek gaan met ‘n bus. Ek voel ‘n veer. Dis my begroting en dit is dit.

Suid-Afrika is deesdae soms die Wilde Weste, maar ek wil nog maar altyd eerder die beste van my medemens glo. Aberdeen is nie ‘n geskeduleerde stop op die roete nie, maar ek reël dat die bus my daar aflaai, want dit ry anyways daar verby. Enigste voorwaarde is egter dat ek dan nie bagasie in die bagasieruim kan hê nie. Ek word net ge”drop-off”. Dis nogal ‘n opdrag vir ‘n vrou om vir 4 dae net ‘n rugsak te mag saamvat, maar ek innoveer. So klim ek op met my rugsak wat nogal effe bult staan en die grootste handsak wat ek kon vind in my kas. En ‘n warm truijas om my lyf gebind.

Nou ja, ek dog eers ek sal skeef aangekyk word, soos mens ander mense aankyk in ‘n vliegtuig wat met sulke bonkige bagasie aanboord wil klim. Toe nou nie. Ek sukkel met my sakke gangetjie af en almal gee effe pad sodat hulle nie n kap teen die kop kry nie, maar niemand lyk eers effe omgekrap daaroor nie. Ek sak uiteindelik langs ‘n swart omie neer en hy help my nog om my rugsak mooi onder my bene in te skuif.

Oorkant my sit twee kleurling tannies en ons raak sommer gou aan die gesels. Hulle los die mans bietjie by die huis vir die naweek en is op pad na ‘n ou skoolmaat se verjaarsdag op Murraysburg. Op Oudtshoorn klim hulle niggie ook op. Ek lag soms kliphard vir al hulle kwinkslae en die lang pad raak kort. Op George klim die passasier skuins agter my af en die meisie wat daar sit, sê ek kan my sak op die leë plek sit. Ek aanvaar met dankbaarheid, want my bene kan toe al doen met bietjie meer spasie.

So werk al die selfoonlaaiers in die armleunings nie, en ons maak beurte om ons fone te laai in een so twee sitplekke voor my. Daar word koeldrank en koekies gedeel in die nag ure. Toe ek 5 uur Donderdagoggend afklim, voel dit asof ek goeie vriende agterlaat.

Ek weet ek gaan hierdie mense waarskynlik nooit ooit weer sien nie, maar na weke van gebombardeer word met die slegste van ons land, het ek hierdie reis nodig gehad soos suurstof. Om net weer te kan onthou dat die meeste van ons wel in vrede kan saamleef. Dit was ‘n klein oomblik in tyd, maar ek sal dit vir lank saamdra.

Met my terugreis was daar drie ma’s met klein kinders op die bus. Ons het almal handjie bygesit om te help as ‘n ma wil toilet toe gaan. Niemand het ongeduldig geraak met mekaar nie en daardie bus het vanaf Umtata gekom, so die mense was al lang ure op pad teen die tyd wat ek opgeklim het. Weereens het ek besef hoe min ons van mekaar se lewens weet. Ek was op die bus omdat ek wou. Ek het nog altyd ‘n motor gehad waarmee ek eerder kon ry, sou ek dit verkies. Maar vir meeste van my mede-passasiers was dit hul enigste vervoermiddel.

Ons weet so min van mekaar. En al weet ons, kan ons onsself nie regtig in ‘n ander se skoene indink nie. Dis soms die beste medisyne om uit jou eie gemaksone te klim. En bietjie af te kom aarde toe. En ja, vir die wat wonder, ek was die enigste whitey op die busse 😊 en ek sal dit weer doen.

Advertisements

10 thoughts on “This land is my land, this land is your land

  1. Ek is geneig om saam met jou te stem.
    Mense op grondvlak kom goed oor die weg met mekaar tot die oomblik wat politici begin om vir stemme te vry, sodat hulle net elkeen ‘n vet paycheck na die verkiesing verseker is, ongelukkig voel hulle ‘n vy wat na die verkiesing met volk en vaderland gebeur.
    Gewone mense kom gewoonlik oor die weg en gun die “son se skyn” oor mekaar.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s