Sommer net

Oor ‘Die Troue’ en my eie onthou.

Ek loop al ‘n paar dae en dink of ek hierdie wil skryf of nie, want deesdae lees almal mos orals en mens is lankal nie meer net ‘n anonieme blogger nie. Maar dalk, net dalk, lees hier iemand wie se glasskoen ook lankal gebreek het, maar wat nog nooit die moed gehad het om die prins, wat eintlik ‘n trol was, onder sy gat te skop nie. En dan doen sy dit. Uiteindelik.

Ek kyk bitter min televisie, en byna nooit wanneer ek alleen is nie. Die laaste koninklike troue wat ek gekyk het, was Diana en Charles s’n. Dit was ook die dag wat hierdie Aspoestertjie se glasskoen gebreek het en sy besef het soms is stiefsusters nie die ergste wat jou kan tref nie.

Ek het dus geen plan gehad om Die Troue te kyk nie, die hele aanloop daarheen het my ook verbygegaan. As kind was my “idol” Prinses Caroline van Monaco. Met die jare leer mens egter alle “idols” is uiteindelik ook maar net mense.

Saterdagoggend staan ek laat op, na ek eers bietjie Sims gespeel het. Ek sou saam met ‘n vriendin gekuier het, maar ons vat toe ‘n “raincheck”. Ek oorweeg wat om met die dag te doen en onthou toe van Die Troue. By gebrek aan die lus om te lees en geen dringende ander take nie, skakel ek die televisie aan. Ek besluit ek is nie lus om nou my kontaklense te loop insit om ver te kan sien nie, en trek die los kussing van die bank af en gaan sit op my boude reg voor die TV. Dis toe die bruid by die kerkdeur begin instap dat ek onthou. Helder onthou.

Dit was ‘n Woensdag in 1981. Die 29ste Julie. Die TV’tjie was toe klein, draagbaar en swart-en-wit. Ek het ook op ‘n kussing gesit reg by die TV want my bril was in die kamer en hy het probeer slaap en die TV was saggies want die huis was net so groot soos ‘n posseël. Maar ek wou Die Troue sien. Daardie een van Charles en Diana. Kort-kort het ek die TV effens harder gesit, dan skree hy uit die kamer ek moet dit sagter sit. So omtrent die derde keer wat ek dit effe harder sit, toe storm hy daar uit en klap my skuins. Nege maande getroud, agt maande swanger, eerste klap van vele wat sou volg. Later meer as net klappe.

Ironies dat dit op so ‘n gedenkwaardige dag was – ek kan vandag met geen sekerheid onthou wanneer, waaroor en waar al die latere houe was nie, maar daardie eerste een sou ‘n gedenkdag bly. En ek het tog gedink dis min of meer begrawe. Nooit gedink dit sou my nog so kon gooi nie. Daar is al vir baie jare groot happe uit 13 jaar van my lewe. Skadukolle wat ek nie sommer besoek nie. Ek loop maar in die son langs. En hier sit ek toe en kyk vir die eerste keer in 37 jaar weer na ‘n koninklike troue en DIT is wat eerste in my gedagtes opkom. En onmiddellik daarna die verligting dat ek vir seker weet dat niemand my die laaste 24 jaar rondgeklap het nie, of ooit weer sal nie.

En dit is met hierdie onthou wat ek sit en kyk het hoe dapper Meghan alleen halfpad die paadjie gestap het na Harry toe. Hoe dapper Doria soos haar vinger alleen haar dogter se troue bywoon. Regop, statig, waardig. Hoe sal ons weet waardeur Doria alles is in haar lewe? Hoe sal ons weet waardeur Meghan alles is in haar lewe? Maar toe is daar tog nog ‘n sprokie waar die prins nie ‘n trol is nie en die glasskoen nie jou hakskeen sening afsny wanneer dit breek nie. En toe Charles sy hand na die alleen-vrou uithou, het, soos Jan Barend Wolmarans, ‘n Facebook vriend van my, so mooi gesê het, “die witkristal gebreek en uiteindelik die reënboog ingelaat”. Hoe mooi was dit nie. Ook binne my het ‘n wond finaal genees, is ‘n nuwe onthou en assosiasie geskep met ‘n koninklike troue.

En die mense wat na die tyd alles afgebreek het, van die rok tot die preek tot die gospelkoor… die mense wat vieslike prentjies opgesit het oor hoe Meghan en Harry se kind sal lyk… ek dink van julle net helemaal NIKS nie. Julle het my gewys wie ek NIE wil wees nie. Ek is nie ‘n prinses of ‘n hertogin nie en my glasskoen was eintlik ‘n houtklomp, maar ek het gelukkig nooit my mensch-wees verloor nie.

Dis al.

Advertisements

27 thoughts on “Oor ‘Die Troue’ en my eie onthou.

  1. Ja nee, en so gebeur dit met baie van ons 😉 ek inkluis maar na 16 jaar toe loop ek uit met 3 kinders en R5 in my sak 😉 Maar ek was gelukkig ook, want n maand later ontmoet ek my huidege man nou 31 jaar saam en nooit terug gekyk nie. Dankie Here is al wat ek kan se. My kinders was 9,10,11 en hy het hulle groot gemaak soos sy eie en sonder dat ek maintanance gekry het of enigiets. En NOG vandag as hulle n probleem het gaan hulle na hom toe instede van my. Dan het ek n laatlam gehad wat syne is en hy is nou in Mei maand 28. Maar ja, soos ek maar ook altyd oor mense se…..You get wise people and you get otherwise people…. jy sal die lelik in party mense nooit kan verander nie. Ek is bly vir haar sy het haar prins gekry en pragtig gelyk glad ook nie oordoen nie 😉

  2. Dis ‘n pragtige beskrywing. Ek het my stil sit en verwonder aan Harry wat Meghan se vingers so gesit en streel het deur die preek. So ‘n klein gebaartjie, maar dit het boekdele gespreek.

  3. Liewe nig, jy moet baaie meer skryf! Jy het die wonderlike gawe gekry om met woorde goed so raak te beskryf. So baie bly saam met jou dat die klappe era vir altyd verby is,en dat jy nooit weer so-iets sal toelaat in jou lewe nie!!

  4. Mooi geskryf. Baie bly vir: En onmiddellik daarna die verligting dat ek vir seker weet dat niemand my die laaste 24 jaar rondgeklap het nie, of ooit weer sal nie.
    Jy het weggestap, dis guts!

  5. Ek sit eers vir ‘n rukkie, woordeloos. Behalwe dat ek nie jou spesifieke hartseer saam met my dra nie, verwoord jy alles so sielig. Ek sou nie een enkele woord wat jy skryf, beter kon doen nie.

  6. Ek moet die net re-blog!
    Dit het my ook na ‘n huwelik teruggeneem, nie my eie nie maar wel na die van ouers… skielik onthou ek weer soos gister deur die lees van jou blog… tot by die nuutste koninklike troue… was mooi, is mooi en gaan mooi bly. En ek lief jou laaste frase. Dankie hiervoor. Ongeag die onthou wat vir altyd deel van my menswees sal wees, maar wat ek geweier het om oor te gee aan my kinders… hopelik is hulle onthou van my en hul pa se huwelik ‘n mooi veilige onthou van “nie twee perfekte mense nie, maar wel twee wat mekaar liefhet, respek het en deernis met mekaar se pyn en soms verkeerde keuses”…

    1. ja , dit is n baie mooi storie , iemand wat seer gekry het , maar ook liefde ghesoek het in n wereld van geweld en dan dink daaraan wie die volgende slagoffer gaan wees

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s