Sommer net

‘n Ware verhaal – in die gees van die feestyd

Taxi’s het ook harte. Of dan bestuurders van taxi’s.

Ek het ‘n kind. Wel eintlik twee. ‘n Seun en ‘n meisiekind. Seunskind is nog ‘n alleenloper. Bly en werk daar by Stormsrivier. Een van ons land se mooiste dele. Ons sien vir seunskind min. Nie alle seuns hang aan hul ma se rokspante nie. Gewoonlik gaan kuier ons by hom, want dis lekker daar.

So laas week laat vra seunskind of ons nie na meisiekind toe gaan oor Kersfees en hom dalk sommer op pad kan oplaai nie. Hy het nog nie sy nuwe niggietjie ontmoet nie. Ek sê nee, ons kom mos nou net terug van vakansie af, so ons sny hierdie Kersfees die rieme dun. Hy vra of hy dan kan huis toe kom vir die week. Maar natuurlik kan hy, dis net die logistics. Petrol is duur, die bus is nog duurder dié tyd. Toe seunskind in die Vloot was, het hy die land vol ge-ryloop. Ek maak my stem dik. “Nee, jy hike nie! Dis deesdae te gevaarlik” Hy antwoord my so mompel mompel. Iets van okay ek sal kyk, ‘n plan maak, sien julle so Vrydag se kant.”

Gister laatmiddag kry ek ‘n whatsapp: – hoe ver is George van die Kaap af? Seunskind se kop is in boeke en wolke, hy is nie altyd so lekker by met alledaagse gewone goed soos afstand tussen twee dorpe nie 😀 Ek antwoord en vra hoekom wil hy weet. “O, want ek is 15 kilometer voor George.”

Die gesprek loop so:

Ek: “O ja. Waarmee ry jy?”

Hy: “Taxi.”

Ek sit so paar sekondes stil, want dit sink eers in.

Ek: “Wat?! Wat se taxi?!”

Hy: “‘n Taxi taxi.”

Uuhhm. Nou, ek ken my kinders. Hulle is, om dit sagkens te stel, heel alternatief. En eintlik het die konsep van die taxi taxi my nie per se op daardie oomblik gepla nie, dis meer die konsep van HOE ry die taxi’s hierdie tyd van die jaar.

Ek: “Hoe ry die bestuurder”

Hy: “Hy average so 110 km per uur.

Mmmm – ek begin dink seunskind trek my been. ‘n Taxi wat 110 km per uur ry wil ek nog sien. So ek speel saam.

Ek: “Okay, tot waar gaan die taxi? Waar klim jy af?”

Hy: “Somerset Mall”

Ek: “Okay, ons sal jou daar kom haal. Laat weet maar so plek-plek waar julle is.”

So stap die tyd aan. Ek vra sy sus en my sus hulle moet bid, seunskind kom glo met ‘n taxi huis toe. Hulle sê hulle sal bid. Maar als sal fine wees.

Op Swellendam laat weet hy. En weer duskant Caledon. Dis gisteraand so half 10. Ons ry en gaan haal hom. By Mc Donalds by die mall. Ek dink steeds hy het gek geskeer. Hy klim in die kar.

Ek: “So, waar het die taxi jou afgelaai?”

Hy: “Net hier onder, net af van die N2 af.”

Ek: “En hoe vol was die taxi?” En toe vertel hy die storie

Hy het net uitgestap by die sekuriteits eenheid waar hulle bly, dit lê langs die N2. Skaars gestaan om te ryloop, toe stop die taxi (ja, ‘n regte egte taxi) langs hom. Die bestuurder sê hy is op pad Kaap toe, seunskind kan lift kry as hy wil. Kind klim in, maak deur toe en daar gaan hulle. Hulle vra nie vir hom geld nie. Hy bekyk toe eers die situasie om hom, daar is drie ander mans in die taxi. Hy vertel hy dink so vlugtig by homself die enetjie langs hom en agter hom sal hy kan uitvat, as dinge nou ‘n probleem raak, maar die bestuurder en die ou langs hom is bietjie groot. So hy gaan maar eerder hoop vir die beste 😀

En so klim een man toe af in Plett en die ander tweetjies in Knysna en so ry seunskind en bestuurder alleen verder tot in die Kaap. Die taximan vertel hy het die oggend met ‘n vol taxi mense Oos-Kaap toe gevat en hy ry vandag weer met ‘n vol vrag soontoe.

My hart wens ek kan daardie man net ‘n drukkie gee. Dat hy dit in hom het om ‘n ander vrou se kind op te laai, mahala en verniet, en huis toe te bring vir Kersfees. Terwyl daardie taxi sy brood en botter is. Mag hy geseënd wees tot in sy vierde geslag en nog vele veilige reise met sy taxi hê.

My hart wens vandag ons kan almal sonder om bang te wees, mekaar se kinders langs die pad oplaai en huis toe vat, letterlik en figuurlik. Want DIT is die eintlike mense van hierdie land – die mense wat nog hande vat, maak nie saak of die ander hand watter kleur ook al is nie.

 

 

 

 

 

Advertisements

10 thoughts on “‘n Ware verhaal – in die gees van die feestyd

  1. Dis nou ‘n lekker positiewe storie. Hou daarvan. Wens daar is meer sulke situasies wees. mens hoor teveel kere van negatiewe goed wat gebeur.

  2. Jaaaa ek wil ook jou dank deel vir so omgeemens. Dan wil ek vir jou seun ook ‘n drukkie gee – so is daar hoop vir ons samelewing. Welgedaan ( ok, ek sal maar nie druk nie want ou tannies wat druk kan hulle so irriteer.)

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s