Sommer net

Ek het nooit geweet dit sal só wees nie

Dit is vandag 5 weke vandat Lily gebore is. Ek wou al soveel kere skryf wat in my hart is, maar die woorde kom nie by my vingers uit nie, want die gevoel is net te groot. Ek het nooit geweet dit sal presies só wees nie. Om ‘n kleinkind te hê nie. Dit word mens se opstaan gedagte en mens se gaan slaap gedagte. Is sy okay? Drink sy genoeg? Maak sy nie haar ma-hulle te moeg nie? Sy moenie siek word nie.

Ek het nooit in die verlede gedink ek moet NOU kleinkinders hê nie, want vir my was dit my kinders se besluit of hulle wil kinders hê of nie. Ek wou nog nooit daai ma wees wat heeltyd inmeng en heeltyd vra wanneer kom daar ‘n kleinkind nie. Ek het gedink dis maar okay as daar dan nou ook nie een is nie. Ek het SO nie geweet ek gaan heeltemal, versotlik, belaglik verlief raak op so ‘n stukkie mens wat nog nie eers behoorlik weet wie ek is nie. Dat ek gaan smelt met elke foto wat ek kry en elke videotjie oor en oor gaan kyk. Want nou is ek mos nog ver ook en ek kan nie sommer net gou oorry en haar vashou of bietjie help nie.

Nou die dag het ‘n vriendin vir my ‘n baie ware ding gesê. Dat dit erger is as toe jy jou eie kinders gehad het. En dan ook dat dit later beter word wanneer hulle groter is. Oor die laaste deel sal ons maar moet sien.

Ek weet nie waddehel sou ek gemaak het sonder vandag se tegnologie nie. Want oor ‘n gewone telefoon kan mens nie ‘n gesiggie sien of ‘n videotjie kyk nie. So ja, dis nou die een keer wat niemand my moet vertel tegnologie is boos nie. Tegnologie is uitgedink vir al ons ver oumas en oupas 😆

Ek belowe ek sal nie elke inskrywing NET oor Lily skryf nie. Miskien net elke tweede/derde inskrywing 😉 Nou ja, ek kan nie wag om vir Lily stories te lees nie, haar op merry-go-rounds te vat (ja, want ek is nie die truitjies brei tipe ouma nie 😛 ), haar sommer net die lewe se mooigeit, lafgeit en lekkergeit te wys nie. Ek het NOOIT geweet dit sal SO wees nie. My hart en al my binnekant dra ek nou buite my lyf. Vir nog ‘n 20 jaar of meer.

Advertisements

9 thoughts on “Ek het nooit geweet dit sal só wees nie

  1. Sy is te pragtig God Bless 😉 Jong ja……geniet hulle terwyl hulle klein is….as hulle groter word is dit ook n ‘case’ van vergeet jou ouma en oupa. My oudste kleinseun is nou 22 en van hy nou die oulike meisie het, bestaan ouma net partykeer. Ek het nou die dag ook n ‘selfie’ probeer vat lol, toe kom net die boonste helfte van my gesig uit O WEE dom met die goed maar anyway. Voor ek dit toe ‘delete’ stuur ek dit vir Nathan en se……Dis hoe die helfte van jou ouma nou lyk, as jy die ander helfte wil sien sal jy moet kom kyk lol! Hy bel dadelik en se Ouma jy is so snaaks ek is baie lief vir jou maar ek is net so besig. (Hy gaan in Nov op die groot Skepe werk en doen nou sy opleiding om die wereld in te vaar so ja hy is besig shame) Maar dan is daar Katelyn (Katelien soos oupa haar noem 17) en kan nie genoeg van ons kry nie. Sit nog steeds en tv kyk met oupa se arm om haar 😉 en sal MORE al haar klere bring om hier te bly! So ja, nes die kinders as hulle groot word en jou nie meer so baie nodig het nie, gaan die kleinkinders ook maar dieselfde wees. Jordan kom in (nou 9) en ek het my arms wawyd oop en hy loop verby en se…..waar is my oupa? As hy oupa sien se hy Oupa ek het data nodig, want oupa spoil hulle 😉 Savhanna 14, sy is soos haar ouma en hou van tierlantyntjies, en ma skud net die kop, maar met haar lang bene en mooi gesiggie is sy die regte klein ‘lady’ van die famielie. Tog speel rugby en cricket en blerry goed ook. Dan die jongste, Matthew (Mr prim en proper 8) Nog nooit n kind se kamer gesien wat so netjies is nie, en speel al klaar golf soos ma en pa. 2 jaar terug wou ek toe mos vir hom een van daai plastic stelle golf stokke koop, toe my dogter vir my se, mammie hy het die REGTE mokoi 🙂 so ja…….vandag se kinders raak ook te gou groot met al die nuwe speelgoed wat ons nie gehad het as kinders nie. So as jy iets gaan koop vra ook ma eers dalk het hulle die regte makoi lol. Geniet daai kleinjie soveel jy kan want vandag word hulle so gou groot voor jy sien is hulle langer as jy! Dis myne se enigste doel, om langer as hulle ouma te wees lol . God Bless Lily, mag sy soveel vreugde in jou lewe bring as wat jy kan handle, want dis wonderlik om ouma te wees 😉


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  2. Jy skryf so mooi presies hoe ons oumas reageer. Hierdie gevoel vir ons kleinkinders; niemand het of kon ons ooit daarvoor voorberei nie! Skryf net soveel jy wil oor haar. Ons wat verstaan, ons sal altyd lees en saamgesels.

  3. Van die een ouma aan ‘n ander, moenie beloftes maak waarby jy nie gaan kan hou nie. Lilly gaan jou lewe een groot roller coaster maak, dit is die allervreeslikste liefde wat jy ooit sal ervaar… geniet elke oomblik want dit flits verby…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s