Lank gelede

‘n MAN in ‘n Mini

Ek ontdek vandag hierdie skryfsel van my op ‘n ander forum. Ek het al vergeet hiervan, maar dink net ek MOET dit weer deel.

Die storie speel af jare gelede, lank voor yuppies of buppies en BMW se Mini. Dit was die tyd toe manne nog Valiants gery het, kinders nog kinders was, en Mini’s óf ‘n baie kort rokkie, óf ‘n baie klein karretjie was.

Kyk, my pa was ‘n groot man. Nie dat hy dood is nie, hy is op 82 nog springlewendig, net nie meer heeltemal so vol streke nie. Dis net, hy is nie meer GROOT nie. Ons familie is geseënd, ons verloor ons babavet hier na 50. So, daar is nog hoop vir my. Anyway, ek dwaal af. Ja, my pa was gewigtig. Amper so iets soos Kobus Wiese. Genade, het julle al daai man gesien?! Kyk, hy was altyd groot, selfs toe hy en Balie Swart – sien, ek kan ook name rondgooi as ek wil – as koshuisbrakke gereeld saam met my suster huis toe gekom het en my ma se brood lag-lag van een korsie tot die ander korsie opgeëet het, sommer so vir middagtee. Shame, my suster het altyd die honger kinders huis toe gebring. Dalk omdat sy gehoop het as hulle ons kos opeet, sal ons maerder word.

In elk geval, ek dink julle het nou ‘n idee hoe groot my pa was. My ma het altyd sy klere gekoop en een keer het die winkel waar sy vir hom broeke gekoop het haar na die derde keer se kom omruil met leë hande teruggestuur, want hulle het nie groter broeke in die winkel gehad nie – dit was voor Big & Tall.

So gaan kyk my pa een jaar rugby in die Transvaal. Ek dink die Britse Leeus het teen die Kwaggas gespeel, of so iets. Ons was toe nog die wêreld se muishond, oor apartheid. So, daar was nie veel sprake van internasionale rugby nie en as daar die slag ‘n buitelandse span hier kom speel, was dit ‘n groot hoe-haa. My pa en ‘n paar vriende vat sy Valiant en daar gaan hulle.

Een van die vriende moes afgelaai word iewers in Brixton en oppad soontoe jaag ‘n ander kanalla oor die rooi lig en ry my pa se Valiant moer toe. Duisende rande se skade. Die klomp mansmense vat toe maar die trein terug – my pa se vriend het desjare op die Spoorweë gewerk en hy kry vir hulle goedkoop kaartjies huis toe. Die versekering besluit hulle sal die Valiant laat regmaak, maar dit sal omtrent so ses weke vat. Dan sal my pa se vriend die motor op die trein terugstuur vir my pa. Als mooi gereël.

Probleem is net, nou sit my pa sonder vervoer. My ma het ‘n Volksie (Beetle) gehad, maar dit was ‘n ongeskrewe reël in ons huis dat hulle nie mekaar se motors bestuur nie. Buitendien werk my ma voltyds in die dorp – wat 10 kilometer van die plaas af is. Maar my pa moet my en my suster skool toe en terug karwei en hy moet darem kafee en koöperasie toe ook kan ry. En Sondae kerk toe, want hy was hoofdiaken. Die plaaslorrie was ‘n ou blou Bedford en ek en my suster weier volstrek om met die lorrie skool toe te ry. Kyk, mens kan verleë wees, maar mens het darem nou ook jou trots.

Die eerste paar dae ry ons maar met die lorrie, maar my pa moet ons agter die kerk aflaai, sodat NIEMAND kan sien waarmee ons by die skool aankom nie. En middae stap ons tot by die afdraaipad, dan kry hy ons weer daar – uit die oë uit. Toe gee die lorrie ook die gees – een of ander pomp of iets, as ek reg kan onthou. Daar is ons toe nou regtig in ons tjops in. En dis hier waar my pa se een diaken tot sy redding kom. Hy sê my pa kan hulle ekstra motortjie leen, dié staan net meestal in die garage. Hy sal dit sommer die middag plaas toe bring.

Toe daai man met daai motortjie die plaashek binnery, toe lag my ma so dat nie enige vuil kyk van my pa haar kon stilkry nie. En glo my, my pa het enige iemand stil gekyk as hy bedonnerd was. Want toe ry daar ‘n Mini by die hek ine en nie wat se Mini nie, ‘n ORANJE Mini. Nie pampoenkleur nie…

O – R – A – N – J – E

Duidelike, skreeu-duidelike-oranje.

Nou-ja, my pa kon nogal sy ‘pose’ hou en hy bedank toe nou maar die diaken, my ma gee tee, ek hou die koekies en my sussie speel klavier. Dis wat mens mos daai tyd gedoen het as jy vreemde gaste kry, en die mense was nog nooit by ons aan huis nie. Die man en my pa is na ‘n rukkie buitentoe – ek vermoed hy het my pa seker gaan wys wat sit waar aan die Mini – en toe is die mense daar weg.

Nou kyk, tot aan die einde van my dae sal ek nooit weet hoe my pa hom self in daai Mini, agter daai stuurwieletjie, ingepas het nie, maar hy het. Ons kinders het nie te veel gesê nie en my ma het gesorg dat sy nooit te naby is as hy in of uitklim nie, want ek dink sy het geweet sy gaan vir haarself groot probleme veroorsaak. Maar ry het hy hom gery, dat die stof so staan. Daar was ook net plek vir my voor en my suster reg agter my, want die bestuurder se sitplek het hy geskuif tot skuins bo-op die agterste sitplek. En ek moes maar mooi sit daar voor, met my elmboë ingevou soos ‘n hoender wat slaap, en my tas iewers tussen my kop en my bene. Elke keer as my pa ratte ruil, moes ek koes, anders kry ek ‘n elmboog teen die kop.

Ek weet nie wie was die blyste toe die Valiant die dag die plaashek weer binnery nie – ons of my pa.

Of dalk die arme Mini?!

Advertisements

14 thoughts on “‘n MAN in ‘n Mini

      1. Ek is doelbewus nie op FB nie. Ek sou witty comments op alles en nog wat wou maak en dit sou my lewe oorneem en na alle waarskynlikheid my in die moeilikheid laat beland. So ek beperk maar my pogings tot wittyness tot WP

  1. Hahahaha lekker lag ek ook nou….. toe ek en my man ontmoet het het hy n mini gekoop en ek en hy het hom ‘oor gedoen’ Ons moes en ja daar het ek gesit en ‘valves grind’ en al 😉 Maar toe was hy nog mooi maer en kon darem pas……! Maar deesdae na 31 jaar baklei ons so want hy is op pad na n XXXX en ek WEIER om vir hom dit te koop want hy raak nou darem TE groot en hou vol hy moet gewig verloor so ja XXX BETER hy bly !!! Maar dit begin ook nou bietjie knap sit en EK WEIER !!

      1. Toe ons die vervoer gehad het, het Deon by ons gewerk. Hy sou ook ‘n hele Mini volsit. Een dag is ek op pad dorp toe, toe Deon van voor af kom op sy laerskooldogter se fiets. Ek het net daar omgedraai, terug kantoir toe, en vir Dawie gese hy moet net by die venster uitkyk. Sies tog. Dit was erg, hoor!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s