Gedagtes

13 Augustus 2012

Vyf jaar. Dis ‘n lang tyd. En dan, as ‘n mens terugkyk, eintlik ‘n oogwink. Dis hoe lank jy al weg is, Ma. Dood proe nog steeds nie lekker op die tong nie, so ek hou maar by weg. Augustus is die maand waarin jou eerste kleinkind gebore is, my oudste. Augustus is die maand waarin my geliefde ouma verjaar het. Toe is dit ook die maand waarin jy ons groet. En nou gaan dit ook die maand wees waarin my eerste kleinkind gebore word. Augustus is ook amptelik die laaste maand van die winter. So ja, Augustus dra swaar aan betekenis in hierdie familie.

Die 13de Augustus is al makliker, maar dit kou nog maar. Daar is nie ‘n graf waarop ons kan gaan blomme sit nie, maar ek dink ook nie dit sou regtig vir my gewerk het nie. Ek hoef nie by ‘n fisiese graf te staan om met jou te gesels nie. Ek gesels nog baie dae sommer so in my kop met jou. Die kissie waarin jou as was, staan nog steeds daar bo in my kombuiskas. Ja, mense sal sekerlik dink ek is bietjie mal, maar dit pla g’n mens daar bo in die kas nie. Soms, wanneer ek die kas oop maak om iets uit te haal, en ek sien die kissie daar heelbo, dan praat ek so bietjie met jou. Vertel jou sommer iets van my dag. Natuurlik weet ek jy is nie in die kissie nie, maar wat maak dit saak. Jy is in my hart.

So wat is nuus hierdie jaar? Verlede jaar het ek kom vertel van Megan se troue. Toe skryf ek nog onderaan: “En stuur nou daai sieletjie wat van my ‘n ouma gaan maak. Ma het tog seker bietjie insae daar 😉”. Ma het mooi geluister, né. You have friends in high places 😆 Daar is ‘n kleinkind op pad. Sy (ja, volgens alle aanduidings is dit ‘n dogtertjie) kom, as alles gaan soos beplan, op 23 Augustus. Tien dae na jou herdenking. Dit maak hierdie Augustus vir ons sagter, die nuwe lewetjie. Dit laat ons egter ook jou ekstra mis. Die bitter by die soet, soos die lewe mos maar is.

Verder haal ons almal nog asem, soms meer uitasem as ander tye, maar ons kan nie regtig kla nie. Nie een van ons het al die lotto gewen nie, ons moet steeds werk vir ons geld en daar is steeds te veel maand oor aan die einde van ons geld. Zuma neuk ook nog steeds die land op. Gelukkig dat jy nie die gemors hoef te aanskou en oor ons hoef te worry nie. Maar soos ma weet, jy het nie bang kinders grootgemaak nie. Ons is nog almal hier en ons laat ons nie sommer buig nie. Al kos dit soms hard op die tande byt.

O ja, Oom Billy is toe ook oorlede verlede maand. Hopelik sit jy en hy nie daar iewers om dieselfde tafel nie, want ek weet jy het mos nooit veel ooghare vir hom gehad nie. Ek wonder of hy al vir tannie Gaby raakgeloop het daar. Maar ek twyfel of hulle twee na dieselfde plek is 😉

En ja, Pa het toe die 82 merk gehaal en hy sê hy mik vir 90. Sal my min verbaas. Sy kop is nog vlymskerp. Sy jongste kleinkind is laasmaand die 15de gebore en nou moet hy net lekker uithou tot sy eerste agterkleinkind arriveer. Ek wil ‘n foto van hulle drie neem – so by so sommer vir die Huisgenoot 😆 – dis sekerlik nie aldag dat ‘n oupa met sy jongste kleinkind en sy eerste agterkleinkind in een foto verskyn nie. Hy is voorwaar geseënd

Nou ja, die jaar stap aan. Die Kaap is tans in een van die grootste droogtes in meer as 30 jaar. Ek mag nie kla oor die reën nie, maar dit donner maar, ma. Hoe bid mens vir reën as alles in jou roep na blou lug? Ek probeer maar my deel doen om water te spaar. Stort selfs in die winter, en DIT is omtrent ‘n opoffering. Maar dan voel ek minder sleg as ek bly is wanneer die son skyn.

Nou is dit weer tyd vir groet. Volgende jaar kom wys ek vir jou jou eerste agterkleinkind. Ons sal vir haar ook die liedjies leer en gedigte opsê wat Ma vir ons geleer het. So is jy weg, maar sal jy altyd nog hier wees. In ons harte, in ons woorde, in ons lewe.

 

 

 

Advertisements

9 thoughts on “13 Augustus 2012

  1. So mooi, dankie Son, dit is maar ‘n pyn wat net nie weggaan nie, onthou om kleinkind se foto te deel sodra die poppie gebore is, siem uit daarna xxx

  2. Jong …. daar is net nie woorde om mens beter te laat voel nie. Maar ek sal nooit vergeet wat my broer “Royce was sy naam.”..altyd gese het nie. Quote: Dis net die donkie wat weg is, terwyl jy van iemand bly praat bly hulle lewe 😉 so hou aan praat sy hoor en is altyd naby en bly lewe wyl jy van haar praat 😉

  3. Ons almal treur verskillend, maar dis asof ek net die name en datum kon verander. Ek is met jou. Augustus is ook my hartseermaand. 13 Augustus, my ma en pa trou, fok alleen weet of ek moet huil of lag daaroor. Was meer as soms die verkeerdste 2 mense saam vir 44 jaar. 13 Augustus, my groot liefde verjaar, maar hy is ‘n verbal abuser, eks van hom ontslae. 15 Augustus, raak my broer ‘n kwadrupleeg in ‘n frats motorongeluk, 27 jaar gelede. Hy was 26 jaar oud. My wereld verander in ‘n oogwink. 30 Augustus was sy enigste seun se verjaardag. (hy was 20 toe hy oorlede is). Augustus hierdie jaar is ‘n maand van hoop vir my. Ek hoop dit reen nog voor die einde van die winter, en hoop ons is ontslae van Zuma voor 31 Desember 2017.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s