Sommer net

Vir vroue in die algemeen en vir Petrie in besonder

Dis al weer amper Augustus. Vrouemaand. Ons almal het vroue in ons lewens vir wie ons lief is, ons ma’s, dogters, susters, oumas. Maar wat van die vroue in jou lewe wat nie bloedfamilie is nie? Wat nie eers close vriendinne is nie, maar wat ‘n onuitwisbare merk gemaak het op jou lewe. Daar was al baie van hulle in my lewe. Party se name kan ek nie eers meer onthou nie, maar hul bestaan is afgeëts op my bestaan.

Daar was die tannie kollega wat elke dag vir my kos gebring het toe ek net na skool begin werk het. My ma-hulle het Transvaal toe getrek en ek het alleen agtergebly in die Kaap. Ek was skaars agtien en alles was prioriteit, behalwe kos. Hoe sy geweet het ek skeep myself af, sal net ‘n ma seker kan verduidelik, maar sy het elke etenstyd onder een of ander voorwendsel gesorg dat ek iets te ete kry. Dis jare gelede, maar ek onthou haar soos gister.

Daar was Anna, die Xhosa vrou wat my grootgemaak het. In ‘n tyd toe dit onwettig was dat sy by ons gebly het. Sy was my ander ma. Ek sal wat wou gee om te weet waar sy vandag is. Sy moes maar in haar twintigs gewees het toe sy haar eie kind in Transkei agtergelaat het om na ons te kom kyk. Hoe sê mens ooit dankie?

In ‘n mens se lewe kruis baie vroue jou pad. Omtrent sewe jaar gelede soek ons ‘n ander huis. Vir jare begeer ons om op ‘n plaas te bly, maar huise te huur op ‘n plaas is skaarser as reën deesdae in die Kaap. Ek sien die advertensie en ek bel. Ons gaan vir ‘n onderhoud en gaan weer vir ‘n onderhoud. Ja, die keuring was streng. Uiteindelik hoor ons dat die huis ons s’n is. Ek wil uit my vel spring. So leer ons vir Petrie ken.

Petrie se pa is oorlede net voor ons op die plaas kom bly het. Haar ma bly steeds hier. So vat Petrie al die verantwoordelikhede oor op haar skouers. Petrie sien om na die instandhouding van al die huise op die plaas. Sy kyk na die tuine en sorg dat almal se gras gesny word. Sy boer die wingerd en lewer die druiwe met oestyd aan die kelders. Tussen deur dit alles, versorg sy ook haar ma met tye. As iets iewers verkeerd gaan, dan bel ons vir Petrie. As daar ‘n slang 11 uur die aand is, dan bel on vir Petrie 😆 Nie net ons wat hier bly nie, maar ook die mense wat op die plaas werk.

Wanneer die krag af gaan, of dit nou kabels is wat gesteel is of Eskom wat net weer deur die dinges is, dan bel ons vir Petrie. Petrie woeker en werskaf en baklei en raas met Eskom en elektrisiëns en plumbers sodat ons kan lekker bly. Petrie gaan staan in rye vir die lisensies van die plaasvoertuie by die verkeersdepartement. Petrie gaan elke week bank toe vir die werkers se lone. Petrie doen dit alles self. En nog baie meer. En dalk word dit soms te veel, maar sy doen dit. Alleen.

Sy het al vele male haar eie persoonlike planne gekanselleer omdat die plaas en die inwoners eerste moes kom. Ek sou dit nie kon doen nie. Ek salute haar. Haar pa sou SO verskriklik trots gewees het op haar.

Petrie, ons sê en wys dit nie elke dag vir jou nie. Jy is so besig, ons sien net donker soggens en donker saans jou bakkie by die hek in en uit. En ja, soms gee ons jou grief, maar ek love my huis hier en dankie vir die voorreg om hier te kan bly.

Onthou vandag hier, en vir altyd, ek het matelose respek vir jou. Ek hoop jou geliefdes waardeer jou elke liewe dag. Jy is YSTER. Ek weet hoe lief jy vir jou pa was. Mag sy hand elke dag oor jou wees, saam met die Vader s’n.

Dis amper Augustus, vrouemaand. Gee erkenning aan die vroue in julle lewe. Nie net julle bloed nie, maar dié wat daar is omdat hulle wil wees, dié wat jou soms dra as jou eie mense nie kan of wil nie.

Namasté.

Advertisements

7 thoughts on “Vir vroue in die algemeen en vir Petrie in besonder

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s