Gedagtes

Ek het nie vir Hannah geken nie…

… maar sy spook al dae lank by my. Sy wil my nie los nie.

Hannah

Ek word in die nag wakker en ek sien haar gesig voor my. Ek stel my haar laaste ure voor en ek ween oor ‘n kind wat ek nie geken het nie, maar wat ek tog ken deur al die ander vroue wat ek ken. My eie dogter, my suster se dogter, my susters, my niggies en neefs se dogters. Daar is ‘n ou Afrika gesegde – jou kind is my kind en my kind is jou kind. Hoe het ons die pad so byster geraak aan die suidpunt van Afrika dat ons kinders nie meer veilig is nie?

Hoekom spook juis Hannah by my? Daarvoor het ek nie ‘n antwoord nie. Sy is tog nie die eerste vrou wat vermoor word in Suid-Afrika nie, en hoe verskriklik en hartseer dit ook al mag klink, sy sal ook nie die laaste een wees nie. Maar dalk WIL sy hê dat ek oor haar moet skryf. Dat ons haar nie moet vergeet nie. Dat ons nie een vrou vergeet wat onnodig gesterf het nie.

Net sedert die begin van 2017 is daar reeds ‘n skokkende getal vroue en kinders vermoor, baie van hulle deur ‘n man wat hulle geken het. In Suid-Afrika is dit ‘n nasionale tendens. Elke 8 ure word ‘n vrou vermoor deur ‘n man wat sy intiem ken.

Sedert Januarie is daar reeds 19 kinders vermoor in die Wes-Kaap. Net 12 van hierdie sake sal in die Hooggeregshof beland.

Hier is ‘n lys van slegs 20 van die onlangse landswye moorde:

5 van hulle is kinders, 2 van die vroue was swanger. En daar is baie ander wat nie eers hierdie lys gehaal het nie.

Van julle wat hier lees, sal dalk nie die hele lys behoorlik deurlees nie. Want dis wat ons doen – ons vluglees oor die tipe ding – want gelukkig is dit nie my kind of my suster of my vrou of my niggie nie. Moenie! LEES elke naam en elke ouderdom. LEES, sodat elkeen van hierdie vroue vir jou IEMAND kan word, nie net ‘n naam op papier of op ‘n skerm nie. IEMAND wat liefgehad het, wat asemgehaal het, wat mense gehad het wat vir haar lief is – ‘n ma, ‘n pa.

***

Karabo Mokoena, 22 – ‘n Verbyganger het haar liggaam gevind in ‘n stuk veld in Bramley, Johannesburg, op 29 April. Suur is oor haar uitgegooi en sy is aan die brand gesteek. Haar kêrel, Sandile Mantsoe (27), is in hegtenis geneem en is aangekla van die moord.

Lerato Moloi, 27 – Sy was een van vier vroue wat in net meer as ‘n week vanjaar vermoor is in of naby Naledi, Soweto. Op 14 Mei het ‘n jong man haar lyk gevind, terwyl hy gras gesny het. ‘n 30-jarige burger van Lesotho en ‘n 32-jarige burger van Malawië is in hegtenis geneem vir die moord.

Popi Qwabe, 24 – Sy is op Vrydag, 12 Mei, gevind met ‘n skietwond, maar steeds lewendig, naby die Naledi Hoërskool. Sy is in die hospitaal dood.

Bongeka Phungula, 28 – Sy is dood gevind in Tladi, Soweto. Sy is in die bolyf geskiet. Die polisie vermoed sy is ook verkrag. Sy was ‘n goeie vriend van Qwabe. Een man is in hegtenis geneem vir beide Qwabe en Phungula se moorde.

Courtney Pieters, 3 – Die dogtertjie is laas op 4 Mei in die straat naby haar huis in Elsiesrivier gesien. Na ‘n uitgebreide soektog is haar lyk op 13 Mei in ‘n vlak graf langs ongebruikte spoorpaadjies in Epping gevind. Sy is twee keer verkrag. Die beweerde moordenaar Mortimer Saunders (40) het ‘n kamer in haar familie se huis gehuur.

Mavis Mabala, 25 – Haar lyk is op 19 Mei in die bosse buite Phadzima-dorpie in Polokwane gevind. Haar 30-jarige kêrel is in hegtenis geneem.

Priska Schalk, 29 – Sy is in Februarie doodgeskiet. Sy is gevind in haar kamer in Kempton Park, geboei. Haar sekuriteitswag kêrel is in Limpopo in hegtenis geneem.

Mananki Annah Boys, 28 – Haar liggaam is in April in ‘n hok in Winnie’s Park, Boipatong, gevind – reeds deels ontbind. Sy is met ‘n mes gesteek en aan die brand gesteek. Haar kêrel het na bewering erken dat hy die misdaad gepleeg het.

Nicola Pienaar, 28 – Die meisie van die Paarl het in Januarie verdwyn. Haar lyk is later in ‘n vlak graf in die agterplaas van haar kêrel se ouers se huis op die dorp gevind. Sy was ses maande swanger. Die kêrel, Jacobus Oosthuizen, is aangekla van haar moord.

Akhona Njokana, 31 – Die inwoner van Glebelands Hostel in Umlazi, Durban, is in Januarie doodgeskiet. Haar gewese kêrel is in hegtenis geneem.

Thapelo Ramorotong, 26 – Haar kêrel het beweer dat hul motor aan die brand geslaan het op pad na Thabazimbi, op 5 Maart. Hy het aan die polisie gesê die motor het ontplof en dat hy haar nie kon uitkry nie. Die polisie het vuilspel vermoed en hom in hegtenis geneem. Hulle het glo kort voor haar dood ‘n argument by hul huis gehad.

Meisie Molefe, 36 – Sy is in Januarie vermoor. Die polisie het haar verbrande oorblyfsels in Hammanskraal, Pretoria, gevind. Sy is in Oktober 2016 al as vermis aangemeld. Haar kêrel is in hegtenis geneem.

Sthembile Mdluli, 37 – Sersant Mdluli was ‘n polisievrou by die Witrivier se voertuigmisdaad-ondersoekeenheid. Sy is in April gevind, weke nadat sy as vermis gerapporteer is. ‘n Mansvriend is in hegtenis geneem. Hy het na bewering skuld erken en die polisie geneem na waar hy haar liggaam gelos het, naby Sabie, in Mpumalanga.

Stacsha Arendse, 11 – Haar naakte liggampie is in Maart naby die sportkompleks in Tafelsig, Mitchellsplein, gevind. Die polisie het haar klere daar naby gevind. Randy Tango (32), ‘n buurman van die familie, is in hegtenis geneem.

Rene-Tracy Roman, 13 – Die Lavender Hill-meisie het op 10 Maart, op pad na ‘n winkel, verdwyn. Haar lyk is later gevind, weggesteek in ‘n buurman se Wendy-huis in St Agatha Laan. Andrew Plaatjies (50) is in hegtenis geneem vir die moord.

Iyapha Yamile, 6 – Haar lyk is in April in ‘n plastieksak naby haar tannie se huis in Khayelitsha gevind. Twee mans is in hegtenis geneem.

Jeannette Cindi, 34 – In April is Cindi verkrag en sy en haar kêrel, Lungelo Buthelezi (31), is deurweek met petrol en aan die brand gesteek, na bewering deur ‘n groep van vyf mans, in Tshepisong, aan die Wesrand. Cindi was vyf maande swanger.

Ander – In April is ‘n 34-jarige onbekende vrou verkrag, gestenig en aan die brand gesteek, na bewering deur ‘n groep van sewe mans.

Op 13 Mei is ‘n onbekende vrou op ‘n stortingsterrein in Mofolo gevind, sowat 7 km van Naledi, Soweto. Sy is onherkenbaar verbrand.

In Mei is ‘n tweejarige Khayelitsha-meisie verkrag en vermoor. Die 25-jarige pa, wat onlangs uit die tronk vrygelaat is, is in hegtenis geneem.

En ‘n paar dae gelede

Hannah Cornelius, 21 – ‘n Student op Stellenbosch, verkrag, met ‘n skerp voorwerp gesteek en verwurg, nadat 4 mans haar en haar vriend gekaap het. Die vriend is vir dood agtergelaat na hy aangerand is met ‘n baksteen.

Elke vrou verdien om veilig te wees. Niemand verdien om vermoor te word nie, vir GEEN rede nie.

Dit is waar dat mense die reg het om te beweeg waar hulle wil, sonder om bedreig te voel. Maar ongelukkig lyk ons waarheid in hierdie land heelwat anders. Laat ons na mekaar se kinders kyk. Elke dag. Leer ook jou eie kinders om paraat te wees. En leer julle dogters om weg te loop en weg te bly die eerste keer as ‘n man onnodige aggressie teenoor haar wys.

Jou kind is my kind. My kind is jou kind. Laat dit ons mantra word. Vir Hannah en al die ander vroue en kinders.

 

Bron: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/south-africa-a-country-where-women-and-children-end-up-as-grim-stats-20170522

 

 

Advertisements

35 thoughts on “Ek het nie vir Hannah geken nie…

  1. Dit blyk of kriminaliteit en veral met betrekking tot hierdie tipe misdaad “ongestraf” gaan en nie die “gepaste aandag” kry wat dit verdien nie…vandaar ‘n algemene opvatting dat die “optrede” daarteen nie as afskrikmiddel dien nie. Dit het my baie lankal aan die “keel gegryp” en kon ek nie anders as om die pen daarteen op te neem nie. Sien hierna. Dit is insgelyks ‘n versoek, ‘n versugting, ‘n worsteling, ‘n oproep, ‘n bede, ‘n soeke…..

    My Land ©Alhenlou

    My land, my land, wat is jou lot, jou toekomsplot
    waar sal ek soek, die vrede se grot
    waar kruip jy weg, die kalmte in stilte so bot
    waar is jou rus, jou geweld se slot

    My land, my land, hoe moet ons leef
    waarin sal ons ons verder begeef
    om weg te breek van die vrees en die beef
    en te groet in die kennis van ‘n doel na te streef

    My land, my land, waar is die krag van jou lag
    waar die brug na jou skoonheid en prag
    waar is die vryheid van jou sonskyn-dag
    en die heil van jou lewensmag

    My land, my land, wat sal ons nog moet doen
    waar sal ons loop met kierie-stok en skoen
    voor weer kan skyn alle glorie in groen
    en ons weer op knieë ons grond kan soen…

    My land……… my land……
    waar sal ons begin, van watter kant
    my land…….. my land
    waar sal ons eindig, op watter rand……….
    ©Alhenlou

    Mag elke slagoffer die vrede en berusting vind in die kennis van hoop op ‘n spoedige verlossing van hierdie misdaadgolf en benadeling.

    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  2. ‘n Mens se hart breek regtig as jy van hierdie vroue/kindertjies lees… hoe sadisties was die mans … ou klein kindertjies ook… almal se angs en bewing… ek het vandag The Shack gaan kyk… al troos wat ons nou het is dat hul by God is en dartelend en gelukkig is… geen pyn en geen angs beleef nie… dis als verby vir hulle, maar ongelukkig nie vir hul geliefdes nie… hul moet nog leef met die groot seer van hoe hul geliefdes gesterf het… ons vroue op plase ook… kyk hoe word die mense verniel! Mag God intree en spoedig ook! Ek bid ernstig daarvoor!


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  3. Ek, nes jy, kan hierdie pragtige jong vrou net nie uit my gedagtes kry nie. Net soos Franziska wat brutaal vermoor was in die Steenburg wandelpad. Hierdie Jong dames het so feel meer verdien! Wat is fout met die mans van vandag? Waar loop alles skeef? Waar is die respek vir lewe? Waar is jou morele waardes as ‘n mens en as ‘n man? Waar is die rol modelle? Die famile en vriende van hierdie vernoorde vrouens se lewe is vir ewig en altyd onherstelbaar gebreek. Hoe gaan mens voort in die lewe na so ‘n sinnelose en onmenslike daad? Ek ween byna daagliks oor ons verlore dogters, vrouens wat nooit die wonder van liefde, ‘n huwelik of moederskap sal ervaar nie. Moeders wat nooit hul dogters kan nag soen nie, of die voorreg van grootouer wees ervaar nie. So veel ontelbare ervaringe wat hul ontneem is. Geen mens verdien so veel pyn en hartseer nie, waar en wanneer sal ditooit eindig?
    My hart pyn vir al ons vrouens, kinders, dogters , ma’s , tannies, niggies , ouma’s .


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  4. Dit breek altyd my hart. Ook dat daardie mans so hard is en soveel haat in hulle saamdra. Is daar nie enige iets teer en liefdevol in hulle lewens nie? Was hulle nie ook eens op ‘n tyd ‘n sagte babatjie met blink ogies nie. Dis ‘n verskriklike bestaan en dit kring uit. Nog pyn, nog woede. Ek weet nie hoe mens dit stop of waar jy dit stop nie/

  5. Dankie, vir hierdie skrywe, soos altyd, geniet ek alles wat jy skryf.
    Ons hoor die aaklighede, praat vinnige daaroor & bêre dit êrens.
    Ons moet paraat wees, ons dogters oppas en waarsku.
    Dankie

  6. Ek ry donderdag Bird straat af en kry toe sommer hoendervleis … die aand kon ek nie slaap nie want ek dink heeltyd aan haar, wat sy gese het, hoe sy moes voel … dis n nare ding en ja daar was baie ander meisies hierdie jaar wat dit oorgekom het maar Hannah los n ander gevoel by mens wat mens net nie kan beskruf nie


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  7. Hannah spook net so by my ek kan nie ophou dink aan haar en die laaste paar uur van haar lewe nie. Ek verstaan nie hoekom die vrou altyd verkrag moet word nie. Niemand word net beroof nie. Is daar n manual wat se as jy wil roof en dis n vrou moet jy haar verkrag en wreed dood maak. My hart is seer vir haar familie. Wat n pragtige dogter.


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  8. Son – ek hoor jou. Ek huil oor my land, ons vrouens, ons dogters, ons kinders Ek word vervul met ongelooflike woede en aggressie na elke nuwe geval. Ek weet nie of ek moet bid om so ou te moet (betyds) vang en of ek moet bid dat ek asseblief nie op so ou moet afkom nie.
    Dis soos die man wat gese het dat as hy voor die keuse te staan sal kom of hy sy land of sy vriend te moet verraai, hy hoop dat hy die integriteit sal he om sy land te veraai.
    Want as ek op so iets afkom, hoop ek dat ek die integriteit sal he en vir een keer nie sal dink aan die gevolge nie, en dat vir die kort rukkie wat hy sal oorhe, hy die vrees, pyn en wanhoop sal ervaar wat elkeen van hierdie vrouens, meisies, dogtertjies ( my hart SKEUR) ervaar het. Maar ons is nie barbare nie. Ons kan nie in dieselfde munt betaal nie. Hoe graag ons ookal wou, hoeveel hulle dit ookal verdien.
    HERE, asseblief, bewaar ons vrouens en kinders – ons land ervaar soveel pyn, asseblief, vat die ene van ons weg.
    Sent from Mail for Windows 10


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  9. Ons het definitief stom toekykers geword met al die bedrywighede van satan onder ons, mede-bewoners op aarde. Ons betoog, praat, huil, baklei en wroeg daaroor. Ons vroue is blootgestel aan hierdie misdade omdat ons die spil is waarom die mensdom draai. Die vrou, moeder, suster, geliefde, skild van beskerming oor haar gesin en familie. Van oertyd af. Stede en lande is oorgeneem deur die sterkere mag. Vroue is verkrag, vermoor en weggevoer deur die sg oorwinnars.
    Die satan neem besit van die mans deur wellus, haat, dwelmmiddels, drank en die blootgestelde ontvanger is die swakkere persoon. ‘n Nasie is so sterk soos rots waarop hy sy huis gebou het en die God voor wie hy sy knie buig.
    Wat ookal die aksie hierteen, vestig ‘n agterlaer van geestelike vegters om die bedrywighede in te anker en veg in die Gees van God en nie in eie krag nie. Bo alles, wys goedheid en guns (kindness) aan almal betrokke terwyl jy indersteun.
    Mense vergeet wat jy vie hulle gesê het, maar sal altyd onthou hoe jy hulle laat voel het.
    Mariette Maartens


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  10. Wat veral ontstellend is, is dat die oortreder in amper al die gevalle iemand is wat die vrou goed geken het – kêrel, vriend, buurman. Dis genoeg om elke meisie bang te maak om ‘n verhouding te betree.

  11. My hart net so stukkend oor haar en elke ander vrou wat in hierdie land seerkry. Ek kan net self elke vrou met die grootste respek behandel, het my seuns ook so grootgemaak, en probeer daardie beginsels uitdra oral waar ek ‘n geleentheid het. Maar Hanna se dood voel vir my soos daardie laaste strooi wat die kameel se rug breek.

  12. Ek kan ook nie een oomblik vir Hannah, Courtney en Karabo vergeet nie. Van baie van die ander vroue en kinders wat jy noem, het ek nie eers geweet nie want ek WIL nie meer nuus kyk of lees of luister nie. Dis lafhartig van my, ek weet en ek sal nou ophou om dit te doen. Ek wonder of die Save SA-veldtog nie ook hierdie hartverskeurende saak sal opneem nie. Die kultuur van misdaad en korrupsie moet NOU tot ‘n einde kom. Jy het my e-posadres. Ek sal met liefde help om ‘n vreedsame betoging te reël. Al is daar net 20 of 30 van ons maak dit nie saak nie. Die verset sal groei. GENOEG IS GENOEG EN OORGENOEG IS TE VEEL.


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  13. Baie, baie dankie vir hierdie stuk. Mag ek dit asseblief net so op my facebook-blad ook sit? Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het ek weer WERKLIK kennis geneem van die talle moorde. Nie net meer vae, onbekende name nie, maar my kind, jou kind, ons kinders. Dankie, dankie, dankie.


    https://polldaddy.com/js/rating/rating.js

  14. Ons land is besig om disfunksioneel te raak. Die hoeveelheid misdaad teen vrouens en kinders wat ons daaglik van hoor kanseleer die effek van my anti-hoë bloeddruk pille. Die patriargale en geweld sindrome ruk hand uit en die regering konsentreer op die miete van radikale ekonomiese hervorming. Sug, skink ‘n dop en hoop my bloeddruk verlaag gou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s