Sommer net

Brief vir Mini Meyer

Liewe Mini

Jy het nog nie ‘n naam nie, want jou ma sê jy sal jou naam saam met jou bring. Wanneer sy jou sien, sal sy weet. So intussen is jy net Mini – die nuwe klein Meyer. Ons weet darem al dat jy ‘n Mini mannetjie is. En ek is jou ouma. Aangename kennis.

Natuurlik kan jy nog nie lees nie. Maar eendag hoop ek sal jy hierdie lees en weet dat ons vir jou vreeslik lief is, nog voor ons selfs weet of jy soet of stout gaan wees, of jy gaan baie slaap of min slaap, of jy jou ma en pa grys hare gaan gee of nie. (Jou ouma is anyways klaar halfpad grys, vra nie hoekom nie.) Maar wat ook al jou persoonlikheid en jou geaardheid, ons gaan jou anyway lief hê – soveel soos maan toe en terug. Dis baie, glo my.

Daar was ‘n tyd wat ek nie regtig gedink het oor ouma wees nie, en ook nie baie geworry het of en wanneer dit gaan gebeur nie. Baie ma’s kerm so in hul kinders se ore om ouma te word. Ek wou nie een van daai kermende ma’s wees nie. Ek glo mos in elk geval aan que sera sera. Dit beteken wat moet wees, sal wees. Maar toe ek hoor jy is op pad, toe skop hierdie ouma se oumageit behoorlik in. Ek kan nie wag om jou te ontmoet nie.

Ek kyk na prentjies van seuntjies en ek wonder of jy só of só gaan lyk. Natuurlik is dit heel stupid. Jy gaan soos jouself lyk. Maar ek kan nie help om elke seuntjie baba of seuntjie kind raak te sien nie – en skielik is daar so baie van hulle. Seuntjies wat in die modder speel, seuntjies wat op fietsies ry, baba seuntjies wat oopmond lag of stroopsoet slaap. Ek soek jou in almal van hulle.

kleinseun

Ek wonder oor die kleur van jou hare en die kleur van jou oë. Ek wonder of jy lank gaan wees soos jou pa of kort soos jou ma. Ek wonder of jy die hond se stert gaan trek of sy ore gaan draai. Of jy allergies gaan wees vir katte soos jou ma. Ek wonder of jy so lief gaan wees vir jou ouma en oupa soos wat ek lief was vir my ouma en oupa. Ek wonder of jy gaan hou van in die modder speel of ‘n vreeslike netjiese seuntjie gaan wees. Gaan jy hou van wiskunde of lees? Gelukkig weet ek jy sal altyd genoeg boeke om jou hê.

Ek hoop ek is ook eendag jou hawe wanneer jou ma of pa jou kwaad maak. Maar ek moet jou sê, ek sal nooit hulle dissipline ondermyn nie, so moenie na my toe hardloop net as jy nie jou sin kan kry nie. Natuurlik gaan ek jou bederf, natuurlik gaan ek moeilik vir jou nee sê. Maar jy moet weet, ek hou nie van ‘n stout kind nie. So jy gaan ook maar mooi in jou spoortjies moet trap.

Maar ek worry niks oor jou opvoeding nie, want jy het die beste pa en ma gekies wat ‘n kind maar voor kon vra. Ek vermoed hulle gaan jou dalk bietjie outyds grootmaak, maar dis reg so. Jy gaan dalk nie elke dag kan TV kyk nie en jy gaan nie ‘n selfoon hê nog voor jy behoorlik kan lees en skryf nie (wel seker nog baie langer as dit). Jy moet maar so nou en dan by jou ouma kom TV kyk. En ek sal jou leer games speel ook (moenie vir jou ma-hulle vertel nie!). Ongelukkig bly ek 600 kilometer ver, so ouma sal jou gelukkig nie te veel kan bederf nie. Maar ons sal genoeg pret hê, moenie worry nie.

Jy gaan ‘n baie geliefde seuntjie wees, met ‘n hele hand vol ouma’s en oupa’s wat alreeds regstaan om jou lief te hê en te bederf. Dis eintlik maar al wat ek vandag vir jou wil sê. Dis nog so drie maande voor ons ontmoet, maar ons kan nie meer wag nie. Ek verstaan jy is reeds ‘n woelige knapie – dalk speel jy eendag sokker (ons sê maar eerder niks van rugby nie).

Sien jou een van die dae, so saam met die lente, liefste Mini xxx

 

 

 

Advertisements

17 thoughts on “Brief vir Mini Meyer

  1. Dankie julle almal! Intussen het die dokter gesien hy het ‘n glipsie gemaak met sy kykery. Mini Mannetjie is toe eintlik Mini Muis! Maar ons is ewe bly!

  2. Man Sommer baie geluk ! Ja, ek het 5 van hulle 3 seuns en 2 meisies en ek kan hulle net nie liewer he nie ;-). Hulle is nou 22, 17, 15 ,9 en 7. Bietjie bang vir hulle ouma want jy kan ook nie nonsens vat nie, hulle probeer wegkom met alles as hulle by ouma is glo my. Dis nou Maandag 29st Mei, die twee meisie kinders se verjaarsdag en ook my laat lam sinne hy word 27. Ja Ja moet nie vra hoe DIT gebeur het nie want ons sal nie kan se nie. Joeleen se dogter Katy 17, Samantha se dogter Savhanna 15 en my seun (hulle oom) almal op dieselfde dag en n uur uitmekaar gebore. Moes dit eintlik in die Genius Book Of Rekorts laat sit het…..So vandag Sondag het ons nou lekker gelunch, Baie koek en alles gehad vier dit sommer almal gelyk maar ook bietjie van n duur maand so almal op dieselfde dag.
    Hoop die 3 maande gaan gou verby en Mini Meyer gaan ek hoop beslis soos sy ouma skryf 😉 en solank Liewe Jesus n gesonde billietjie gee, maak dit nie saak hoe hy gaan wees nie, hy gaan wonderlik wees glo my. Weereens baie baie geluk mag die Here hom seen met al die blessings in die wereld en julle almal proud maak 😉 God Bless xxx

  3. Hoe wonderlik is grootouerskap nie. Geniet die kleinding, Son, en bederf hom op ‘n mooi manier; dis onder andere waarvoor grootouers daar is. Maak ook ‘n mooi fotoalbum. Soos party mense sê, ‘n “brag”-boek.

  4. Jy is sommer klaar ñ gebore ouma! Elke woord wat jy skryf laat my hart vinniger klop, want ja, dis soos mens voel. En wil wees. En wil doen. Sien nou skoon vir jou part na die groot oomblik uit.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s