Sommer net

Die Rooi Tas

​“Riekie sal nou regkom so tot middel Januarie?”

“Hemel Elizabeth, ek is mos nie verlam nie. En dis mos nou nie asof ek heeltyd hier by die huis gaan wees nie. Ek gaan mos nou oormore na Leon-hulle toe tot na Nuwejaar. Laasjaar was dit nog te erg na Simon se dood, maar mens moet maar aangaan.”

Elizabeth kyk my aan asof sy weet ek praat eintlik so bietjie deur my nek. Van altyd af kon sy ‘n lieg op ‘n afstand ruik. Dit gaan maar broekskeur hierdie tyd van die jaar so alleen. Maar dit beteken nie ek mag haar tyd saam met haar mense van haar ontneem nie. Verlede jaar het sy verseg om my alleen te los, maar dié jaar het ek my voet neergesit.

“Riekie het nie dalk vir my ‘n groterige tas om te leen nie? Ek vat mos nou hierdie keer my kleinseun saam huis toe. Sodat hy ‘n slag sy mense kan leer ken. Cynthia moet regdeur werk en daar is niemand wat ‘n oog oor die seunskind kan hou nie. En dit betaal nie hy loop bedags vir kwaadgeld rond nie. So ver het ons die kind mooi kon groot kry, weg van die slegte dinge af. So nou vat ek hom eerder saam. Dan kan sy ma ook rustig wees. En die taxi manne vra baie ekstra as mens meer as een ding wil saam vat, so ek wil maar ons klere in een tas probeer pak.”

“Die vet weet Elizabeth, ek wens jy wil nie so ver met die taxi ry nie. Daai mense ry soos die duiwel self. Ek het gesê ek sal eerder vir jou ‘n buskaartjie koop. Regtig.”

“Riekie worry onnodig. Dis nie regtig so erg nie. Meeste van daai manne ry eintlik heel mooi. En anyway, as dit mens se tyd is, is dit jou tyd.”

“Fok dit, Elizabeth! Mens gaan soek ook nou nie jou tyd nie.”

“Jou ma moes jou mond meer met seep uitgewas het. Jy praat te lelik.”

Ek moet maar lag en daarmee is die argument afgehandel. Ek gaan soek in die gangkas waar ons al die tasse bêre en dis hier waar ek die rooi tas weer sien. Ons grootste tas. Simon se tas. Sy kaste het ek lankal uitsorteer en weggegee wat ander mense nog kon gebruik. Net vir myself ‘n paar goedjies gehou. Van die rooi tas het ek vergeet. Ek sleep dit van die rak af en maak dit oop. Die Simon-reuk slaan my onder die hart. Ek buig vorentoe en lê met my kop amper in die tas en ek weet ek moenie nou huil nie, want dan gaan ek nie maklik weer ophou nie. Die laaste keer wat Simon die tas gebruik het, was toe ons saam Argentinië toe was. Voor die herinneringe my lamlê maak ek die tas toe en vat dit kombuis toe.

“Hier Elizabeth. Hierdie tas is net lekker groot genoeg. Wees maar net versigtig met die kant se handvatsel. Dit is al bietjie losserig. O ja, en jy moet maar hierdie etiket aftrek wat om die handvatsel is. Dit is nog van die vliegtuig, toe ons mos oorsee was.”

Elizabeth kyk vir die tas en toe na my. “Maar dit was…”

“Elizabeth. Vat dit net toe. Asseblief. Ek wil hê jy moet dit vat. Asseblief.”

“Reg so, Riekie. Maar ek sal maar die label so los op die handvatsel. Ek sien julle adres en foonnommer is daarop. So as daai taxi nou soos die duiwel ry en ek loop lê iewers langes die pad, dan kan hulle darem my mense kry.”

“Elizabeth! Moenie met my kom kak praat nie!”

Sy skater soos sy lag en loop bêre die tas by haar kersgeskenk wat ek vanoggend gegee het.

Later die middag gaan laai ek haar af by die taxi staanplekke. Almal is in ‘n feestelike bui. Dis twee dae voor Kersfees en almal wil huis toe, na hulle familie. Elizabeth en haar kleinseun vertrek die volgende oggend drie uur.

“Jy bel my sodra jy anderkant aankom, hoor. Of vra vir Cynthia om my te laat weet. Sy het mos my nommer? En as jy die bus terug wil vat, laat weet. Ek koop vir jou ‘n kaartjie.”

“Riekie moet nou ophou worry. Ek is oud en lelik genoeg om na myself te kyk. Jy’t nog doek gedra, toe kyk ek al na myself. Gaan hou vakansie en gaan tan ‘n slag daai wit bene!”

Ek steek my tong vir haar uit, druk haar styf vas en groet tranerig. Sy waai toe ek wegtrek en toe verdwyn sy en die groot rooi tas in die voorstedelike taxi in.

***

My selfoon sing kliphard. Nee hel, het ek nou wragtig die alarm aan vergeet. Ek korrel met een oog na die horlosie. 7-flippin-uur! Dis toe ek die alarm wil afdruk dat ek Cynthia se naam sien flits. Dis nie my alarm nie. Ek is naar nog voor ek antwoord. 

“Mevrou… mevrou…” Verder hoor ek niks. Cynthia huil te veel. Ek hoor iets van Elizabeth en Dirkie. Ek kry haar darem so ver om vir my te sê sy is reeds by haar werk. Gelukkig weet ek waar dit is. Ek trek die eerste die beste ding aan en ry so vinnig as wat ek kan daarheen, sonder om elke moontlike padreël te breek. Al die pad bid ek oop oë, al weet ek nie mooi wat om te bid nie, waarvoor om te bid nie, weet ek niks nie, wil ek nie dink wat ek reeds weet nie. Wil ek nie weet nie. 

Cynthia staan buite en wag vir my. Sy huil nog maar het genoeg bedaar om my te vertel.

“Daar was ‘n ongeluk, Mevrou. My neef was ook saam met mammie in die taxi. Hy het my gebel van Worcester hospitaal af. Hy weet nie of mammie en Dirkie okay is nie. Hy sê als is deurmekaar. Hy het agter gesit en slaap. Van te veel bier drink. Hy moes hom nugter geskrik het”

“Okay Cynthia. Klim in. Ons ry nou dadelik deur Worcester toe. Kom ons jaag nie spoke op nie. Kom ons glo Elizabeth en Dirkie is okay. Dalk seergekry, maar okay.”

Ek ry asof ek vir die dood self probeer wegry. Ek haat dit om deur die tonnel te ry, maar ek sluk en jaag daar deur ver oor die spoedgrens. Cynthia sit met geklemde hande langs my. Sy sê niks en ek kan aan niks dink om te sê nie. Gelukkig is die pad verbasend stil. 

By Worcester hospitaal is daar chaos. In die gang by Ongevalle sit oral beseerde mense rond. Ek loop heen en weer en probeer vir Elizabeth raak sien, maar daar is net te veel mense. Cynthia is reeds by die toonbank en ek loop en gaan staan langs haar. Dis haar gesig wat vir my vertel wat ek nie wou weet nie. Nie weet hoe ek dit gaan weet nie. Sy draai na my toe en praat soos ‘n zombie. 

“Net twee mense van die taxi lewe. ‘n Man en ‘n dogtertjie.”

Die man is haar neef. Ek wonder saam met wie was die dogtertjie. Ek hou my dink klein. Ek kan nie aan Elizabeth en dood in een sin dink nie. Ek kan nie.

“Hulle sê die taxi het verby gegaan en in die bus vasgery. Hierdie is almal mense van die bus.”

Sy swaai haar hand oor die beseerde mense in die gang.

“Hulle sê almal in die taxi is dood. Behalwe ‘n man en ‘n dogtertjie.” 

Ek wonder wie de fok is “hulle”. Cynthia loop weg. Ek staan soos Lot se vrou. Hoe kom ons hierdeur? Hoe-de-fok-hoe?!

***************

“Waarmee krap jy daar in die sand, Johannesie?”

“Is my karretjie, ouma.”

“Gee hier dat ouma sien… dis g’n karretjie nie, dis ‘n koffer handle. Waar tel jy nou weer die gemors op?”

“Geeee… is myne! Hennie het dit vir my gebring, hy sê hy het dit opgetel langs die pad.”

“Hennie moet ophou vir kwaadgeld druiwe smokkel langs die pad! Wat is hier om die handle? Is ‘n label. Wat staan hier? Is ook so vuil. Lyk soos S i m o … nee, ek kan nie sien nie. Dé, vat jou ‘karretjie’. Speel soet, ons gaan nou-nou eet  hoor.”

Die storie agter die storie van die rooi tas

Ek weet nie hoekom nie, maar vandat ek van daardie verskriklike ongeluk 10 km buite Worcester gehoor het, net voor Kersfees, waar die taxi op ‘n bult, oor ‘n sperstreep, verbygesteek het en kop aan kop met ‘n Interkaap bus gebots het, kry ek nie daardie mense uit my kop nie. Dalk omdat ons ‘n dag of wat daarna ook daar verby is en nog stukke daar sien lê het. Dalk omdat my meisiekind altyd met die Interkaap bus ry. Ek weet nie regtig hoekom nie. Maar hulle spook by my. 

Vanoggend ry ek werk toe, agter ‘n taxi met ‘n sleepwa hoog gelaai vol bagasie. Heel bo lê ‘n groot rooi tas. Die bagasie is nie vasgemaak nie, dit lê net so in die sleepwa. Dis toe dat die storie begin vorm neem in my kop.

Een duisend sewe honderd en veertien. Dis hoeveel mense die afgelope feestyd op ons land se paaie gesterf het. Onnodig.

Een duisend sewe honderd en veertien of meer ander mense wie se lewens verflenter is, wat geliefdes moes groet, afgee, noem dit wat jy wil. Want niks wat jy dit noem, gaan die verskeurde lewens in woorde kan omskryf nie.

Mag vanoggend se rooi tas veilig by sy bestemming kom.

25 thoughts on “Die Rooi Tas

  1. Ek het ook n Elizabeth gehad, haar naam was Regina, n groter oopbek lag wat ek nog nooit weer gesien het, kanker het haar nie weg van my gevat, maar n donnerse lae luis krimineel
    Duisende kilometers van mekaar ons enigste kontak die wonder van tegnologie, n simpel selfoon, kom krimineel wat net vat, want dis mos sy reg of hoe en daar word kontak verloor, sy was toe al klaar dood vir my, maande later na n trippie om haar op te spoor kom letterlik en figuurlik by dooiemans deur

    Ek hyil saam met jou

  2. Ek was ‘n oomblik verlig dat Elizabeth, Cynthia en Dirkie nie “regte mense” is nie en toe besef ek … maar hulle is. Dis regte mense wat op ons paaie sterf of in die nuwe jaar moet leer om voort te leef sonder hulle geliefdes. Powerful writing.

    1. Dis die ding Hester. Mens sien foto’s van ongelukke en dit raak jou nie regtig nie. Want dis nie jou mense nie. Totdat jy begin dink oor daardie mense en hulle mense. Dit vat nogal deesdae aan my. Dalk word ek oud 😀

      1. Dan is daar darem voordele aan die ouderdom! Ek dink dit is deel van die bewusraking in ons samelewing (deur sisale media miskien?) dat daar mense van ander kulture, gelowe en leefwyses is wat ons wêreld met ons deel en die feit hulle ook met dieselfde probleme en struikelblokke as ons in aanraking kom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s