Gedagtes

Boek en asblik in een sin laat my hiperventileer

My eerste vloermoer vir 2017. En ek het myself belowe ek gaan kalm bly in 2017. Ek sal maar ‘n kalmrige vloermoer probeer.

Ek behoort aan ‘n rak op Facebook, ‘n boekrak. Die rak is nogal bekend oor berge en in dale. Daar is ‘n hele klomp skrywers ook op die rak. Uitgewers ook, sover ek weet. Dis lekker, want so kry mens eerste nuus van nuwe boeke. Toe gister kla een lid hy sukkel met ‘n sekere boek wat meeste van ons mal oor was. Daar is verskeie raad en kommentare vir hom en toe sê een lid sy het al ‘n boek waarmee sy nie kon regkom nie, in die asblik gegooi.

Ek dog ek skuif ‘n werwel soos ek my opruk. Boek IN ASBLIK! Nee! Ek lewer onmiddellik kommentaar en vra hoekom die boek nie maar net eerder weggee nie. Die persoon retireer toe en sê sy het darem weer die boek uit die asblik gaan haal en vir ‘n hospice of iets gegee. Dis die kommentare daarna, onder andere een van ‘n skrywer self, wat my laat voel om te gaan meel snuif, by gebrek aan dwelms.

‘n Paar erken ruiterlik hulle smyt ‘n boek weg as hulle dink dis “makoukak” (nie my woord nie, let wel), of as hulle voel geen ander “onskuldige” oë in hierdie wêreld mag die boek lees nie. Een persoon spog selfs daarmee dat sy sulke makoukak al twee keer verbrand het. Ek haal stadig asem. Ek sê: “Ek stem nie saam nie. Mens gooi nie ‘n boek weg net omdat jyself dink die res van die wêreld mag dit nie lees nie. Dis amper soos daai sensuur-wet-omies in die ou Suid-Afrika.”

Ag, die kommentare daarna gaan net maak dat ek my kalmte verloor. Wat ek egter wel hier wil skryf, is dat mens die reg het om dit wat jou kinders lees, te kies of te monitor, want die wêreld is deesdae ‘n moderne Wilde Weste. Maar jy kan nie vir die res van die wêreld besluit nie. Ek het al drie die Fifty Shades boeke gelees en ek sal nie weer daardie genre lees nie, en dit het my ook nie skielik in ‘n seks masochis/sadis/bondage and discipline whatever verander nie. Ek weet nou net meer as wat ek geweet het, oor ‘n paar dinge. As my volwasse dogter dit wil lees, sal ek nie bollemakiesie slaan daaroor nie. Haar lewe, haar keuse. Solank niemand haar seer maak of mishandel nie. 

Ek verstaan ook dat as ‘n mens geld betaal vir iets, dan het jy sekerlik die reg om daarmee te maak wat jy wil. Dit sal nou nogal hartseer wees as jy ‘n Ferrari koop en dan besluit om dit by ‘n afgrond af te stoot omdat dit toe nou nie van 0 tot 120 ry binne 6 sekondes nie. Dan kon jy maar eerder die kar verkoop het aan iemand wat nie omgee om ‘n bietjie stadiger te ry nie. Jy hoef dit nie regtig net weg te gee nie. Jy hoef dit veral nie weg te gooi of aan die brand te steek nie.

Dieselfde met daai boek wat volgens jou die makou se dinges is. Iets moes jou daai boek laat koop het. As jy dit bloot gekoop het omdat dit op uitverkoping was, dan het jy so half en half verdien wat jy gekry het. As dit regtig soos in glad nie in jou smaak val nie, vir watter rede ook al, dan kan jy steeds respek hê vir die skrywer se harde werk wat daarin gegaan het. Soos iemand teenoor my genoem het, iewers het ‘n uitgewer gedink dis goed genoeg om ‘n rak te sien. Daardie skrywer het ure van sy/haar tyd in daardie werk belê. Bloed en sweet en harde werk. Skryf is nie vir sissies nie. Skrywers sit lang ure in voor daar ‘n boek verskyn.

Die minste wat jy kan doen is om die boek na ‘n tweedehandse boekwinkel te neem en te ruil, as jy dit dan nie wil weggee nie. Maar as jy dit in die asblik kan gooi of verbrand, worry jy duidelik nie oor die geld nie, so jy kon dit maar weggegee het. Geen persoon moet vir my vertel hy of sy is ‘n boekliefhebber, groot leser en dan in die volgende asemteug sê dis okay om boeke te verbrand of weg te gooi. Veral nie omdat jy besluit het daardie boek is nie vir ander oë bedoel nie. Wie het jou die sensuurraad gemaak? Nee. Net nee.

Na dese gaan ek heel moontlik afgeskop word van daardie rak. Maar nou ja, elke oorlog het sy ongevalle. As mens nie val vir iets nie, beteken dit jy het nooit gestaan vir iets nie. Ek staan by die feit dat ek my respek toetentaal verloor vir enigeen wat dink dis okay om ‘n boek weg te gooi of te verbrand. Nie eers jou skoolboeke op jou laaste skooldag nie!

Advertisements

29 thoughts on “Boek en asblik in een sin laat my hiperventileer

  1. Ek sien daar is nou ook `n ‘mens biblioteek’. Jy kan die beskikbare mense (regte mense) uitneem vir `n uur of twee en met hom/haar gesels. Daar is glo mense uit verskillende etniese groepe, verskillende beroepe, transgender, gay, oud gevangenes ensovoort. Die keuse is wyd en oop vir oopkop mense.
    Nou wonder ek, sal jou vriende wat boeke weggooi of brand dieselfde doen met die biblioteek-mense as hulle nie van hulle hou nie? Is `n vreemde wêreld met vreemde mense waarin ons leef.

  2. Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar ek het die bespreking op die genoemde rak misgeloop. Nou sê ek sommer hier iets. Ek stem saam – ek gooi nie sommer ‘n boek weg nie. Verbrand? Nooit!

    Ek het wel al boeke weggegooi, kom ek vertel.

    Ek woon n ‘n huis vir Bejaardes. Gereeld wanneer mense hul hele lewe oppak om self na ‘n Aftreeoord of iets dergeliks te gaan,maak hulle net eenvoudig hul boekrakke in kartondose leeg. Dié word dan by ons afgelaai. Ons gaan daardeur en vind allerhande dinge daar:
    Horingoue tydskrifte – nie oud genoeg om waarde te hê nie, sommer net ou scrap.
    Vaktydskrifte in bv. Veeteelt, van 1952 – ook handboeke.
    Reader’s Digest versamelings van so oud as wat Reader’s Digest bestaan.Wonderlike boeke, maar ons het reeds die nuutste versameling (ookdeur skenkers) verkry.
    Ou Boeke wat vergeel en soms verwaarloos is, boeke wat meeste bejaardes nie kan lees nie.
    Christelike Lektuur in oormaat. Ons het onlangs ontslae moes raak van omtrent 10 Solly Ozrovec boeke – die mark daarvoor het gekrimp.

    Soms, net soms, is daar ‘n handjievol bruikbare boeke.

    Ons het dus net die mense se ‘gemors’ gratis en verniet vir hulle uitsorteer.

    Gelukkig is daar plekke waarheen ons hierdie ‘gemors’ kan stuur. Daar word dit versnipper. Die Ouetehuis, word per gewig hiervoor vergoed. Ons fondse word hierdeur gestyf.

    Son, ek weet jy is sekerlik nie skuldig aan die bogenoemde vergrype nie, maar nou sal jy verstaan dat daar tog gevalle is, waar mens boeke mag ‘weggooi’. Die doel heilig die middel. Dankie dat ek hierdie platform kon gebruik.

    1. Lidia, ek stem saam met jou. Almal bring tydskrifte na my toe en ek sal wag tot ek so drie boxe het dan lewer ek dit by die ouetuis af. Ek vat dit kantoor toe, en nou die dag toe se die tannie O baie dankie, want ons sit so paar op n slag in die waskamers en die sitkamers en en wanneer hulle nie meer mooi lyk nie dan vervang ons dit met ander en so kry die ou mense ook n ietsie om te lees en so aan. Partykeer is hulle bietjie oud maar nog in puik toestand 😉 hoekom ENIGE boeke weggooi want daar is mense wat nie kan bekostig om tydskrifte te koop nie 😉 en so ook met boeke 😉

  3. Soos hul in engels sê: “I get your drift”. Dit is uiters onaanvaarbaar om sulke uitlatings te maak. ‘n Boek is vir my iets amper soos heilig…..
    Ek het skoolboeke van my 40 jarige seun wat ek te jammer voel om weg te maak.
    Dit is vir my maar weer net tipies van mense met geen respek vir niks of niemand. Ongelukkig is dit vandag die norm. As ek nie saamstem net my onderwyser, dan klits ek hom, as ek nie saamstem met my werkgewer dan vloek ek hom en loop, as my vrou my irriteer dan sit ek haar op haar plek of kry ‘n ander een……

  4. Ek stem 100% saam met jou. Daar is soveel mense wat smag na iets om te lees: in ouetehuise, afgelee plekke en armes. Self bly my boeke maar hier op d rak. Ek is lief vir hulle al weet ek my kinders gaan dit waarskynlik nooit lees nie en ‘n groot boks vol boeke gaan op d ou einde vir R20 op d vendusie verkoop as ek ni meer daar is ni. Maar tot dan bly hulle hier, of ek nou vd storie hou of ni. Elke boek leer mens iets, al is dit nou ook hoe ek nie moet skryf ni.

  5. Kon ook nog nooit ñ boek weggooi nie. Sukkel selfs met die weggee aksie. Voel vir my asof soveel van ñ mens se siel in die boek ‘ingeleef’ is, dat daar tog ñ mate van respek vir die skrywer moet wees. Al is dit hoe swak. Maar, en hier hou ek nou ñ agterdeur oop, ek het ook nog nooit ñ boek gelees wat my gewalg het nie.

      1. Jip, jy is reg. Ek koop nooit ooit ñ boek sonder om eers vooraf te lees nie. Seker daarom dat ek nog nooit iets wou weggooi nie. Ek het Vifty Shades geleen, want was onseker of ek daarvan sou hou. En sowaar, dit het my verveel. Erg om dit te moet erken, maar ek kon glad nie”gehook” raak op die storie nie. En dit het niks met die seks te doen gehad nie! So teruggegee. En ja, een van my drie getroude dogters was gek daaroor, so ook meeste van my vriendinne. Wat my met ñ glimlag gelaat het. Is dit nie wonderlik dat ons as mense se smaak so verskil nie. Respek, dit is nogal ñ belangrike woord. Dalk nie vir elke skrywer nie, maar vir ander se smaak.

      2. Nee, die flapteks is bloot “marketing” en moet as sulks bejeën word. Daarteenoor is resensies soms meer objektief behalwe in die Afrikaanse “incestuous” binnekringe. So het ek my vasgeloop met Ester van Kerneels Breytenbach en Moltrein van Dan Roodt. Ester het talle positiewe resensies beleef en Joan Hambidge was “gobsmacked” deur Moltrein.

        Moltrein hat vir my oorgekom as die wensdenkery van ‘n seksueel gefrustreerde middeljarige man.

        My indrukke oor Moltrein en Ester is hier:
        https://vuurklip.wordpress.com/2014/12/10/n-boek-en-resensies/
        https://vuurklip.wordpress.com/2014/12/21/n-boek-en-resensies-ii-2/

  6. Ek was in my vorige lewe’n bibliotekaris en dit het my moer gestrip om te sien hoe mense boeke verniel. Die ergste is die heilige geeste wat woorde wat vir hulle aanstootlik is onverdrote uitkrap of ‘n polemiek aan die gang wil sit met opmerkings soos “Hogwash!!” “Nosense”etc

  7. Eisj. Dit voel net vir my verkeerd om enigiets bruikbaars weg te gooi. Gelukkig is daar oral liefdadigheidswinkels beskikbaar om artikels in te neem. Ons het twee jaar gelede al ons boeke vir ‘n dorpsbiblioteek geskenk, want ons het nie plek vir groot boekrakke hier nie. Die klompie wat ons intussen aangekoop het, sal ons maar saamkarwei vir ‘n rukkie.

  8. Interessant hoe elkeen reageer op hierdie artikel.Sensuur is regtig so verkeerd.Ons is so gebreinspoel deur mense wat namens ons besluit het,dat ons eintlik verkramp geraak het in ons denke en baie mense van my geslag het nie hul eie opinie oor dinge nie,net opinies oor wat ander daaroor te sê het.Dis ook opvallend hoe mense uitsprake maak oor sekere leesstof en dan het hulle nog nooit eers die boek gelees nie!

  9. Ek is gatvol vir boek snobs ook. “lees jy daai kak?” Lees. Dis die belangrike woord. Don’t judge.

    Ek koop pal ou ou ou kinderboeke en voëlgidse en goed wat al uitmekaarval om dit te sny vir prente vir my letter art, so ver kon ek nog nie 1 keer die snip maak nie… Voel te sleg!

  10. Nee, wat. ‘n Boek is ‘n gebruiksartikel en is nie heiliger as enige ander sodanige ding nie. Om ‘n boek weg te gooi is nie noodwendig sensuur nie. Daar is baie ander kopieë wat beskikbaar is – self in ‘n biblioteek as die boek enigsins leesbaar is.

    1. Dit het niks net heilig te doen nie. So dis okay om iets weg te gooi omdat daar nog baie ander van dieselfde ding is? Net omdat jy dit nie nuttig vind nie? Wat van dit dan maar bloot weggee vir iemand anders wat dit wel nuttig sal vind? Gooi jy klere en kos ook weg as jy dit nie wil/kan gebruik nie? Of gee jy dit vir iemand wat wel kan? Dan was dir studente seker ook reg toe hulle boeke en kunswerke verbrand het wat, volgens hulle, vir hulle niks beteken het nie.

      1. Dis enigeen se reg om ‘n ding waarvan sy/hy nie hou nie, weg te gooi. Of dit goed of sleg is, is nie die issue nie. Self gee ek liewer weg.

        Wat die studente gedoen het, is its heel anders: hulle het ander (die universiteit) se eiendom vernietig, en dis onverskoonbaar.

        My eintlike argument is dat, om ‘n boek weg te gooi, nie sensuur is nie.

  11. Jy mag maar hierdie vloer moer. Ek het eenmaal n boek gebrand, en is nou nog daaroor bitter spyt. Dit was in jong, jong dae en rebellie was toe nog groovy, jy verstaan? Maar dis nes jy sê: selfs en veral dalk skoolboeke is nie brandhout nie.

  12. Ek ween , eintlik tjank ek – as ek boeke uitleen , en ek skimp en vra naderhand openlik ‘hoe vind jy die boek, kan ek asseblief my boeke weer terugkry..” en daar kom dadels van. Voel of ek my boeke weggegooi het.. voel skuldig omdat ek weereens geswig het voor iemand voor my boekrak wat vra te leen ..

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s