Sommer net

Laaste gedagtes vir 2016

Oral lees ek hoe almal net bly is dat 2016 (amper) verby is. Oor hoe sleg die jaar was ensovoorts. Oor hoe baie bekendes die jaar dood is.

Ek het al slegter jare belewe. En in 2012 is daar baie meer bekendes dood. Regtig. Gaan google dit. Wat maak bekendes se dood in elk geval erger as onbekendes s’n? Wat van al die kinders wat dood is in onnodige oorloë? Vir ‘n ouer wat in hierdie jaar ‘n kind verloor het, beteken daardie bekende se dood niks. Hoe kan dit erger wees as die rou smart van elke onbekende mens wat hierdie jaar ‘n geliefde verloor het. Ek sê maar net. Ek wonder maar net. Ons wêreld is soms vir my heel skeef gedraai as ek die goed sien waaroor ons ‘n ophef maak.

Anyways, hier op die laaste dae is ek diep dankbaar dat ek darem ‘n vinnige draai by my kinders in die Karoo kon maak. Dit was my geskenk wat Vader Krismis vir my onder die boom gelos het. Dis net die terug huis toe wat maar altyd vat aan ‘n mens. Vir ‘n dag of wat loop mens met so ‘n huilknop in jou keel. ‘n Verlangknop. Jy huil nie regtig nie. Wel soms so ‘n bietjie. Dis net daai knop wat maak dat jy nie lekker kan sluk nie. Dank Vader my kinders is net 600 km ver en nie 6000 of meer nie. Ek sou waarskynlik bankrot gewees het van vliegtuigkaartjies koop.

Nou so ry ons toe die 26ste Desember gou hier deur die Karoo. Voor dit het ek gelees van die slagting op ons paaie. Ons reken die pad sal seker dan nou stil wees die dag na Kersfees. Almal rus nog hul roes/kerskos oordaad af. Gmpff.

Die verkeer staan in die Hugenote Tonnel, bloot oor te veel voertuie! Dit word ‘n 600 kilometer van waaksaamheid. Want daar is nog te veel dinge wat ek wil doen, ek kan nie nou al ‘n statistiek word nie. En dis hierdie hiper waaksaamheid wat maak dat ons dinge sien wat vir ons vertel hoekom mense ongelukke maak. Dinge herken wat ons al self gedoen het as ons bestuur en moeg word. En die omvang van die kans wat mens vat met jou eie lewe, kom lê soos ‘n swaar klip hier in my binneste.

Kyk, ek is bang vir bitter min dinge. Dis nie in my aard om altyd eers te dink aan wat kan verkeerd loop voor ek ‘n ding doen nie. Mens kan nie so lewe nie, want dan lewe jy nie. Maar ek is deesdae bang vir ons paaie. Want ek het gesien. Ek het gesien wat bestuurders wat verby ry doen. Alles tekens dat jy moeg is. Ek ken daai tekens, ek het dit al self gedoen.

Hulle vee oor hulle gesig, so met die hand. Hulle hou hul kop vas met die elmboog op die venster raam. Hulle sit kop agteroor teen die “headrest”, met arms stokstyf uitgestrek na die stuurwiel. Een taxibestuurder wat verbygekom het, was besig om sy gesig af te vee met ‘n handdoek. Seker ‘n nat handdoek. Om wakker te bly?

Ek het gesien hoe ry mense al hoe nader aan die wit lyn in die middel, om dan skielik terug te gaan in sy eie baan. Dis wanneer konsentrasie verbreek word. Daardie bestuurders moes lankal gestop en gerus het. Maar almal is oppad na iewers waar hulle so gou as moontlik wil wees. Motors ry bo-op mekaar sodat hulle kan verbygaan die eerste die beste geleentheid. Daar is geen spasie vir ‘n fout nie. As iets gebeur, is daar nêrens om heen te gaan nie, behalwe in mekaar vas. Ek het gesien hoe mense wat van vooraf kom, verbysteek en net aanvaar die aankomende motor sal geel lyn toe padgee.

Die verkeersdepartement kan hulself ryk maak as hulle net heeldag ‘n hommeltuig het wat die N1 uit die lug kan dophou en oortreders kan afneem. Die hartseer kant is dat daar menselewens betrokke is. Ons is verby die plek waar die taxi op die sperstreep op die bult verbygegaan het. Daar lê nog verstrooide stukke van daardie voertuie. Die verstrooide stukke van daardie mense is weg, maar die verwoesting wat dit in soveel mense se lewens gelaat het, kan nie sommer net opgetel word nie.

Ek het my probeer indink in daardie mense se lewens. Dis Kersfees en hulle mis ook hulle mense. Hulle het dalk deur die jaar goedjies bymekaar gemaak om huis toe te vat. Al vervoer wat hulle het of kan bekostig, is daardie taxi. Toe hulle met soveel kersverwagtinge ingeklim het, kon hulle nie weet hulle gaan nooit hul bestemming bereik nie. Dis nie hulle skuld dat die taxibestuurder so dwase ding gedoen het nie. Hulle het net die prys betaal. 

Ja, geen taxibestuurder gaan hier lees nie, so ek preek nie vir hulle nie. Maar elkeen van ons wat ‘n motor bestuur, moet onthou dat ons vir onsself moet dink, asook vir die ou wat van voor af kom, of die ou wat van agter af verby ons gaan. Ek was ook al baie keer aspris, veral as die onbeskofte BMW bestuurder by my Toyotatjie wil verbyjaag. Dis nie die moeite werd nie. Los. Laat gaan. Gee pad. Maak pad. Jou lewe is meer werd as ‘n les wat jy ‘n ongeduldige bestuurder wil leer. It is not worth it. Punt.

Dalk word mens meer versigtig vir die lewe en vir dinge soos jy ouer word. Nie bang nie, net meer versigtig. Wat ons paaie betref, is ek nou daar. Nie regtig bang nie, net baie meer versigtig. Die jaar is amper klaar. As julle nog gaan ry, of dit nou ver of naby is, ry mooi. Rus goed en moenie langer as 2 ure aaneen bestuur nie. Jy besef dit dalk nie self nie, maar jy is na 2 ure nie meer so paraat soos wat jy dink nie. As jy jou arms moet strek agter die stuurwiel  of oor jou gesig vryf, stop. Dis eintlik klaar te laat al. Moenie ‘n statistiek word nie.

Mag ons mekaar almal weer ‘sien’ in 2017. 

7 thoughts on “Laaste gedagtes vir 2016

  1. Een van my kollegas se ma is oorlede op die 16de Desember in n grusame taxi ongeluk net na Zastron voor Sterkspruit die taxi het aan die brand geraak na n kop aam kop botsing met n baķkie 16 mense dood. Haar dogtertjie van 10 Fifi het die ongeluk oorleef maar die emosionele skade sal altyd met haar wees sy het gehoor hoe brand haar geliefde Ouma en ander dood. Die nagmerries is baie en die vrees nog meer. Al wat ek kan doen is om hulle te ondersteun met liefde xxx

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s