Sommer net

Gedagtes na ‘n dag in Gauteng

My naastes weet hoe voel ek oor Gauteng. Nie oor die mense daar nie, meer dalk oor vergane herinneringe aan slegte tye daar. Sulke goed het mos maar die neiging om in mens se beendere agter te bly en merke te los wat so elke dan en wan weer opvlam.

Uit die aard van my werk, moet ek wel soms daarheen gaan. Elke keer sug ek diep en lank, en elke keer besef ek agterna dit was nie so erg nie. Soos gister weer.

Ek is donkernag hier weg met die Lean Green Machine, Lanseria toe. Dié keer kon ek nie die middag terugvlieg van Lanseria af nie, net van onse oom Tambo af, so ek hiperventileer eers gou ‘n bietjie en besluit toe wyslik om eerder ‘n shuttle te boek. Shuttle klink soos iets wat maan toe gaan, maar dis eintlik net ‘n chauffeur wat jou met ‘n bordjie (en ‘n fancy kar) kom haal en rondkarwei.

Ek kies Bidvest, omdat hulle absoluut uitstekende diens gelewer het met ‘n onlangse konferensie waar hulle 28 mense moes “shuttle”. Weereens is ek mateloos beïndruk. In hierdie tye waar ons al so gewoond geraak het aan slegte diens, is ons mos altyd oopbek verbaas oor goeie diens. Ek salueer vir Vukani en Beki van Bidvest. Vukani neem my Pretoria toe en Beki kom haal my weer gistermiddag. Albei het vooraf vir my ‘n sms gestuur om my te verseker ek hoef nie te stres nie, hulle weet van my en hulle sal daar wees en ek kan maar asemhaal, die Gauteng struikrowers sal my nie vang nie. Wel, nou nie heeltemal in daardie woorde nie, maar genoeg om my te laat “chill”. En hulle was daar, betyds en elke ding.

My indrukke van die dag:

  1. Bliksem, dis koud in die oggend in Gauteng! Toe ek uit daai vliegtuig stap, dog ek iemand steek ‘n mes in my longe. Gelukkig skyn die son daar – in my boek is dit plus 10 punte
  2. Hoekom is daar nog ‘n John Vorster Drive in Gauteng? Ek sou gedink het dit sou lankal gesneuwel het in die naamsveranderinge. Of is dit ‘n ander John Vorster as die een waarvan ek geleer het?
  3. Gauteng bestuurders, julle MAG maar bestuur. Gelukkig is dit nie ‘n nuwe deuntjie wat ek sing nie. As gebore en getoë Kapenaar sê ek nog altyd Kapenaars bestuur soos hulle gat. Okay, moenie grootkop kry nie, julle plek is nog steeds vaal.
  4. Ek is elke keer, by elke plek waar iemand my bedien het, hetsy ‘n winkel of die lughawe personeel self, skoon weggeblaas deur die vriendelikheid. Almal groet, glimlag en vra hoe gaan dit. My teorie is natuurlik dat hulle probeer opmaak vir al hul provinsie se slegte eienskappe, maar dit werk vir my. Ons hier onder kan maar gerus ‘n blaadjie uit hulle boekie vat en leer om meer vriendelik te wees.
  5. Niemand, nêrens, ongeag velkleur, het my bedreigd laat voel nie. Inteendeel. By die Vodacom sitplekke op die lughawe, het ‘n swart man vriendelik vir my plek gemaak sodat ek my selfoon ook kan inplug en laai.
  6. Vir die eerste keer in jare het ek met SAL gevlieg – terug gisteraand. Mmmm – dis seker ‘n bonus dat die drankies en kos verniet is, maar het SAL nog nooit van ‘n gebalanseerde ete gehoor nie? Mash potatoes en aartappelslaai saam in een ete – is dit nie een of ander overload nie? Regtig? En van glimlag gepraat – hulle lugwaardinne en dudes kan maar gerus leer hul gesigte sal nie kraak as hulle dit beweeg nie. Die landing was darem sag.

Wel, ek was daar en ek is terug en ek is bly. Gauteng is okay, en Gauteng se mense is okayer. Ek dog ek sê maar net. So uit ‘n Kaapse bek uit🙂

Naskrif: Ek het gister weereens besef… daar is sekerlik baie verkeerd met ons land, maar daar is ook nog meer as baie REG met ons land en ons mense. Ons moet dit net raaksien. Daar is mooi orals. As mens mooi kyk.

25 thoughts on “Gedagtes na ‘n dag in Gauteng

  1. Ai hoe swel hierdie Gauteng hart van my nou! En hier in Stilbaai kla hulle hand en tand oor die Gautengers wat die plek vakansies so vertrap! (Hoewel die meeste karre NC, EC, CA of FS is). Maar ek moet bysê, om hier in Stilbaai te bly is ‘n genade. Vroutjie-doutjie sê altyd Stilbaai is ‘n voorstad van die hemel.

  2. As n Gautenger (Maar Kapenaar in my hart, altwee ouers is daar gebore so dit kwalifiseer my sekerlik :P) wil ek net sê ek stem saam oor die bestuur. Ek het in Johannesburg leer bestuur en ORALS anders waar ek nou al bestuur het (elke ander provinsie) bestuur die mense soos hul holle. Ek dink die “gawe” kom van altyd bewus wees dat daar n taxi van iewers af kan kom en jou afsny. Ons is ook altyd gejaag… Rat race of so iets. Nietemin, ek het jou blog baie geniet en ja, dis koud hier maar die son skyn, een ding wat Gauteng het wat die Kaap nou wel nie het nie. Oh en ook, julle kapenaars is ook baie vriendelike mense, ek kuier gereeld daar vir familie en dalk is dit omdat ek elkgeval tuis daar voel, maar ek vind die mense is baie nice.
    Lekker dag verder!

  3. lekker ervaring en mooi gedeel! ek is ‘n vrystater wat al 30 jaar in Jozi bly en vir meer as 40 jaar Hermanus toe gaan so ek beskou myself as goed provinsiaal verteenwoordigend – Kaap bly my gunsteling, maar Gauteng kom GOED in die tweede plek. en mens se ervaring in enige plek gaan maar – so dink ek – oor mens sy eie ingestelheid. ek dink jy het ‘n oop en ontvanklike kop, dus sal jy immer seepgladde ervarings he. groetnis uit ‘n nou EERS bibberkoue Johannesburg

  4. Lekker gelees, Son

    Stem saam met jou oor die shuttle, werk baie beter as mens vanaf Pretoria lughawe toe en terug moet kom. Net nogal duur. Maar in vergelyking met die prys van vliegkaartjies maak dit nie juis saak nie.

    Ek het al baie maal daaraan gedink om Kaap toe te trek maar daar is net een probleem. Ek hoe van reen en volgens die statistieke reen dit minder in die Kaap as in Pretoria.😉

  5. Did darem nie so vaal in die somer nie. Ek’s bly jy het darem nie ‘n aaklige tyd hier gehad nie. Wat my opgeval het toe ek Kaap toe gekom het is dat die lug sagter gevoel het, as dit sin maak? En julle het wragtig die moeiste berge en sonsondergange!

  6. O ja! Daar ís baie mooi orals. As ek sê ek het lief geraak vir Lucky en Soso wat my altyd help met my waentjie en pakkie by ons Checkers sê ek dit nie sommer net nie. Daar is ‘n oop glimlag verhouding tussen ons. Net Woensdag het Lucky eintlik regop gaan staan om vir my die mooiste wense toe te wens vir die res van die dag.

    1. Presies my ervaring ook Toortsie! Kassiere wat vra hoe gaan dit met my kleinkind en wanneer bring ek hom weer ‘n slag saam Spar toe. Petroljoggies met die breedste skitterwit glimlagte op aarde. Motorwagte wat ek by die naam ken en met my oor hulle gunstelingmusiek gesels. Ja wat, ons is ‘n nasie van wenners – ook in Gauteng🙂

  7. Nou ja, dis n jammerte, maar ek was nou nog NOOIT in die Kaap nie, maar soos die mense praat, doen ek koue nie baie goed nie (al is dit in die oggende koud hier kan ek daarmee leef), en wind……aikonna ek haat dit so.. maar sal wel eendag nog hopelik daar uitkom want almal vertel hoe mooi die Kaap is😉 Vriendelikheid? Jy MOES in die suide gewees het hahaha want ons is known as the ‘Friendly South’ maar ook by gese, as jy n glimlag vir ander het sal jy een terug kry no matter waar dit is😉 Ek het nog altyd vir my kinders gese, as mense lelik is met jou, wees extra nice met hulle want dis hulle wat sleg gaan voel nie jy nie😉 En dan weer ja dis die wilde weste hier in Gauteng jong, maar dis nou maar die tye en ons moet maar net aanhoudend oor die skouer kyk en altyd maar net bewus wees dis al. Maar as jy rond gery word met n ‘shuttle’ is dit nice lol, want hy moet rondkyk vir die gevaare bly die robots en so aan, jy is eintlik soos op n toer. It’s always in the eye of the beholder ne ?

  8. Ja nee wat ons bly lekker hier – enige plek en maar voor- en nadele.
    Ek stem saam dat die mense in die Kaap nie kan bestuur nie, en hull ken ook nie van hou links en gaan regs verby nie… lol
    Baie bly jy het dit positief ervaar.
    Twee stysels (aartappels nogal) in EEN ete… dit is nogal erg.

  9. My ou huishoudkunde onderwyseres sou haar beskeit het oor die mash en slaai! Ons is geleer: 1 Vleis, 2 gaar groentes, 1 rou groente (slaai) en 1 stysel. Sy het ons dit in-gemoer!

  10. Ek bly heel lekker in Gauteng en ja, die oggende is donners koud, maar soos jy se, die son skyn en die lug is blou en die mense is baie, baie gaaf, almal, deur die bank. Hulle gee my geloof dat alles tog op die ou end okei sal wees. Volgende jaar tree ons in die ou Suid-Kaap (nou Wes-Kaap) af. Ek weet klaar van die koue winter (het vir ‘n wyle in die Langkloof gebly) en omgord nou reeds my lendene met die oog daarop. Verder hoop ek maar die mense is net so gaaf en vriendelik soos hier in Gauteng (Pta en Jhb – die res ken ek nie juis nie).

      1. Vir my is dit die mooiste plek in die wereld. Brenton-on-Sea – hemel op aarde. Sal die hele jaar lank boots en thermal underwear dra net om daar te kan woon🙂

  11. Dankie van ‘n Oosrander wat letterlik die vliegtuie op OR Tambo kan sien land….op grondvlak is die mense ongelooflik vriendelik en hulpvaardig hier en dinge gebeur.Jy is reg,daar is baie meer mooi as lelik hier.

  12. Ek onthou die ou Gauteng (Transvaal Jo’burg) (waar ek as Kaap gebore) groot geword het. Mens kon middernag veilig “keffie“ toe geloop het. Na my laaste kuier daar twee jaar terug bly ek weg.

    1. Ek dink daar is wegbly dele in elke provinsie. Maar ek moet erken ek voel BAIE veiliger in die Kaap. Dis dalk ook net ons eie perspektief

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s