Om te onthou · Raak gelees

Vrydag, die 13de

Vir sommer net – Interessante feite / bygelowe oor Vrydag en Vrydag die 13de:

Die naam Vrydag is afkomstig van die Germaanse godin Frige. In Islam is Vrydag die dag van publieke aanbidding in moskees. Die Islamitiese week begin wel steeds op ‘n Sondag en eindig op ‘n Saterdag, net soos die Joodse en Christelike week. Die Joodse sabbat begin om sonsondergang op Vrydag en hou aan tot sonsondergang op Saterdag.

Die vrees vir Vrydag die 13de staan bekend as “paraskevidekatriaphobia”. Die vrees is nie gegrond op enige wetenskaplike logika nie en meeste mense wat glo diè dag is ongelukkig, kan ook geen logiese of onlogiese verklaring gee vir hulle bygeloof nie. Diè bygeloof het egter wel diep en onomstootlike wortels en daar is ‘n hele paar interessante stories agter die ongelukkige dag.

Die vrees vir Vrydag die 13de het sy ontstaan uit twee aparte vrese – die vrees vir die nommer 13 en die vrees vir Vrydae. Albei vrese het diep wortels in die Westerse kultuur, veral in die Christelike teologie. Dertien is belangrik vir Christene omdat dit die hoeveelheid mense was wat aangesit het vir die laaste Avondmaal (Jesus en sy 12 dissipels). Judas, die dissipel wat Jesus verraai het, het laaste, m.a.w. dertiende, by die maal aangekom.

In September 1989 is daar die volgende oor rekenaarvirusse en Vrydag die dertiende geskryf:

’n Logiese bom is ’n program wat in ’n rekenaar geplaas word en wat sal begin uitvoer wanneer aan sekere voorwaardes voldoen word. Dit kan byvoorbeeld begin uitvoer op ’n sekere tyd of wanneer ’n sekere ander program uitgevoer word. Die Jerusalemvirus vee data uit as die datum die dertiende is en dit ’n Vrydag is – dit is dus ’n virus wat elemente van ’n logiese bom bevat. Die Jerusalem-virus maak die rekenaar normaalweg stadiger; maar op ’n Vrydag die dertiende vee dit jou lêers uit.

“Friday” was die naam van ‘n kannibaal, wat die dienskneg van Robinson Crusoe geword het. Cadbury het ‘n sjokoladestafie bemark met die slagspreuk “Thank Crunchie it’s Friday”.

Christene is ook tradisioneel versigtig vir Vrydae omdat Jesus op ‘n Vrydag gekruisig is. Daarbenewens glo sommige teoloë dat Adam en Eva op ‘n Vrydag van die verbode vrug geëet het en dat die Groot Vloed op ‘n Vrydag begin het. In die verlede het baie Christene nie enige nuwe projek of reis op ‘n Vrydag begin nie, aangesien hulle geglo het dat dit dan rampspoedig sou eindig.

Veral matrose is baie bygelowig in hierdie verband en weier om uit te vaar op ‘n Vrydag. Volgens ‘n onbewese legende (heelwaarskynlik onwaar), het die Britse Vloot in die 1800’s bevel oorgeneem van ‘n skip genaamd die H.M.S. Friday, juis om diè bygeloof tot niet te maak. Die vloot het die hele bemanning op ‘n Vrydag gekies, die skip te water gelaat op ‘n Vrydag en selfs ‘n man genaamd James Friday aangestel as die skip se kaptein. Toe, een Vrydag oggend, het die skip uitgevaar op sy eerste seereis… en spoorloos verdwyn, tot vandag toe. Daar is ‘n soortgelyke, feitelike storie oor die vlug van Apollo 13.

Sekere geskiedskrywers reken die Christelike wantroue van Vrydae is eintlik verbonde aan die vroeë Katolieke Kerke se algehele onderdrukking van die heidendom en vroue. In die Romeinse kalender word Vrydag opgedra aan Venus, die godin van liefde. Toe die Nore die kalender aangepas het, het hulle die dag vernoem na Frigg of Freye, die Noorse godin van liefde EN seks.

Beide hierdie twee sterk vroulike figure was ‘n bedreiging vir die dominant manlike Christendom, dus het die Christelike kerk die dag, vernoem na hulle, as boos voorgestel.

Die karakterisering kon ook deel uitgemaak het van die vrees vir die nommer 13. Daar is gesê dat Frigg gereeld deel uitgemaak het van ‘n heksevergadering, normaalweg bestaande uit 12 hekse, maar tesame met Frigg was hulle 13. Dit is onmoontlik om die oorsprong van hierdie oorlewering vas te stel. Daar is ook ‘n soortgelyke legende wat 13 as onheilig voorstel omdat dit die vergadering van 12 hekse en die duiwel versinnebeeld.

Die nommer 13 kon ook as heidens beskou word omdat daar 13 maande in die heidense maankalender is. Die maankalender kom ooreen met die menslike menstruele siklus, wat weereens die nommer verbind aan vroulikheid.

Die Christelike perspektief oor Vrydag die 13de is egter net een deel van die tradisie van Vrydag die 13de.

Sommige navorsers volg die spoor vir die berugtheid van Vrydag die 13de terug tot by die antieke Noorse kultuur. In die Noorse mitologie is die geliefde held Balder doodgemaak deur die moedswillige god Loki, tydens ‘n banket. Loki het ongenooid opgedaag by die partytjie van 12 mense. Hy was die 13de gas. Hierdie storie, sowel as die storie van Jesus se laaste Avondmaal het tot een van die mees vaste bygelowe gelei oor 13: Jy moet NOOIT aansit vir ete om ‘n tafel met 13 mense nie!

Nog ‘n belangrike stukkie legende is oor ‘n besondere slegte Vrydag die 13de wat afgespeel het gedurende die middeleeue. Op Vrydag die 13de in 1306, het Koning Philip van Frankryk die hooggeagte Ridders Tempelier laat arresteer en begin martel. Die dag is gemerk as ‘n dag van die Bose.

Beide Vrydag en die nommer 13 was ook eens nou verbonde aan die doodstraf. Volgens Britse tradisie was Vrydag die aangewese dag vir die hang van misdadigers in die publiek en daar was glo 13 trappe wat gelei het na die galgtou.

Uiteindelik het hierdie komplekse volksvertellings nie veel te make met mense se hedendaagse vrese nie. Die vrees het veel meer te doen met persoonlike ervaring. Mense leer van kleintyd af dat Vrydag die 13de veronderstel is om ongelukkig te wees en dan soek hulle bewyse dat die legende waar is. En natuurlik is dit nie moeilik om bewyse te kry nie.

As jy op Vrydag die 13de in ‘n motorongeluk was, jou beursie verloor het of selfs net jou koffie gemors het, gaan jy daardie dag altyd onthou, want dis Vrydag die 13de. Maar as jy mooi dink sal jy besef dat slegte dinge, groot of klein, maar elke dag gebeur. Soek jy egter “bad luck” op Vrydag die 13de, sal jy dit heelwaarskynlik kry!

10 thoughts on “Vrydag, die 13de

  1. En toe maak hulel die rillerflieks Friday the 13th en daarna is almal doodbang vir hierdie dag🙂 Maar dit was baie interessant om te lees. Ek het altyd gewonder waar die bygeloof nou eintlik vandaan kom, want dis mos maar net’n dag soos enige ander dag.

  2. Dis ‘n interessanre uitleg van iets waaroor ek nog altyd net vaagweg gewonder het. Ek moet dit oorvertel vir my man; ek het hom baie jare gelede (1971) op Vrydag die 13de ontmoet. *grinnik*

  3. Nee, dit gaan ‘n oraaiterige dag wees vir my. Ek voel dit so aan my gat! Maar dit is vrek interessant wat jy geskryf het. Ek het maar altyd gedink dit het iets met die fliek te doen gehad wat destyd soort van kultus-status was.

      1. Dit was in my baie jonger dae (toe ek nog te jonk was om die fliek te kyk). Ek het toe nog nie geweet mense was bygelowig daaroor nie. Ek weet my ma reken dit is haar gelukkige dag (sy is altyd skuins met alles) en sy is nou in die bed met Larngitus…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s