Die Lewe

Vir ma’s – Veral ma’s van kinders van ander ma’s

Ek sien met Moedersdag wat Sondag was, was daar weer meer as 3 000 besoeke aan my inskrywing destyds na my ma oorlede is. Vreemd hoe kinders altyd heel eerste aan hul ma verbonde is, en eers daarna aan ‘n pa. Iemand het een keer vir my gesê pa’s is nie familie nie, en alhoewel ek nie daarmee saamstem nie, want daar is miljoene mans daarbuite wat uitstekende pa’s is, het dit my tog laat dink.

Daar is ‘n grappie van die man wat een middag tuiskom en die hele huis is onderstebo. Die kinders is in die kombuis, nog in hul nagklere, en jy sien net vuil skottelgoed. Die kombuis toonbanke is vol krummels, die brood lê buite die broodblik. Hy stap deur die huis en orals is alles net deurmekaar, beddens onopgemaak, vuil koppies in die TV-kamer. Hy roep en roep sy vrou en uiteindelik kom sy uit die kamer, hare ongekam, nog in nagklere. “Wat gaan hier aan, vrou?”, vra hy verward.

Sy antwoord: “Jy onthou hoe jy my elke dag vra wat doen ek heeldag? Wel, vandag het ek dit NIE gedoen nie.”

Dis miskien die beste opsomming van ‘n ma – sonder haar is dinge geneig om baie vinnig uitmekaar te val. Pa’s is geprogrammeer om vir hul vrou en kinders te sorg, in die finansiële sin van die woord. Deesdae help sorg die meeste ma’s ook nog. Maar by die huis, daar waar ‘n huis geskep moet word, daar val dinge maklik uitmekaar wanneer daar nie meer ‘n ma is nie.

Dis nie iets om oor te debatteer en tou te trek en te sê, ja, maar pa’s kan ook sorg. Dis sekerlik die waarheid. Dis net, ma’s is ons versorgers. As mens siek is, soek jy jou ma. Wanneer jy goeie nuus kry, wil jy jou ma vertel. Sy kan vir pa vertel. Wanneer jy hartseer is, bel jy jou ma, of gaan huil by haar. Ma’s troos. Ma’s maak tee, of bak koekies, of koop koekies. Of roomys. Ma’s huil saam met jou, of hou jou net vas tot jy genoeg gehuil het. Ma’s help jou met take en handwerk klaarmaak op skool. Ma’s sal in die nag opstaan vir jou, as dit moet. Of nie slaap nie totdat jy huis toe kom. Ma’s is altyd bekommerd oor jou, maak nie eers saak of dit jou irriteer nie. As jy nie jou foon antwoord nie, dink ma’s nie dis dalk op silent of iewers waar jy dit nie hoor nie. Ma’s dink jy het iets oorgekom en stres hulself in ‘n ander bloedgroep in, totdat jy antwoord. Of deesdae whatsapp. Ma’s is altyd aan jou kant, selfs as jy aangejaag het en sy jou betig daaroor. Mens is altyd jou ma se kind, en wanneer jou ma dood is, is jy ‘n weeskind.

Ma’s is kinders se morele kompas, hulle ware Noord. Ma’s is ma’s. Pa’s kan nooit ma’s wees nie.

Maar die ma wat die grootste verering verdien, is die ma van ‘n kind wat nie onder haar hart gegroei het en bloed van haar bloed is nie. Die ma’s van kinders van ander ma’s. Ma’s wat hierdie kinders net so lief het asof dit hul eie is – die goeie stiefma’s, die aanneem ma’s, die pleegma’s. Iewers behoort daar vir hulle ‘n monument opgerig te word. Want soms vat hierdie ma’s ‘n stukkende kind en maak daardie kind heel. Vou daardie kind toe in sorgsaamheid, stabiliteit en liefde. Gee daardie kind weer vertroue in die mens, in ma’s en in die lewe in die algemeen. Maak uiteindelik van ‘n stukkende kind ‘n heel volwassene. Sodat daardie volwassene eendag ‘n goeie ouer vir sy eie kinders kan wees – seker die mees belangrike sirkel om te voltooi in hierdie lewe.

Dis maklik om jou eie kind lief te hê. En deur raas en dissipline en dikbek wees en straf uitdeel, weet jou eie kind altyd sy ma het hom lief, onvoorwaardelik. Selfs die dae wat ‘n kind en ‘n ma niks van mekaar hou nie, het hulle mekaar nog steeds lief, sonder tierlantyntjies. Maar om ‘n kind van ‘n ander ma te vat en daardie kind onvoorwaardelik lief te hê en groot te maak en soms heel te maak, dis iets heiligs amper. Dis die epic van ma wees. In my opinie.

Daar is nie genoeg ma’s daarbuite vir al ons stukkende kinders nie, maar vir dié wat daar is, ek salueer julle elke dag. Julle verdien nie net ‘n moedersdag nie, julle verdien ‘n moedersjaar🙂

16 thoughts on “Vir ma’s – Veral ma’s van kinders van ander ma’s

  1. Dit vat ongelooflike spesiale mense om onvoorwardelik, moederlik lief te wees vir ‘n kind wat nie haar bloed is nie. En ek glo dat nie almal van ons dit noodwendig in ons het nie – ek het ongelooflike respek vir hulle

  2. Met die lees van jou inskrywing van ‘n Ma, het ek so ‘n groot onwegslukbare knop in my keel gekry. My eie Ma mis ek soms so erg en ek is al ‘n Ouma van een wonderlike kleindogter van 9. Jare gelede het my man (voor ek hom ontmoet het) vriende gehad wat nie kinders kon he nie. Hulle neem toe ‘n seuntjie aan en toe nog een en so twee jaar daarna raak die Mamma swanger en kry hulle hul eie seuntjie en so agtien maande daarna nog ‘n eie enetjie. My man vra toe die Mamma of sy nie vir die twee eie seuntjies net so ‘n bietjie liewer is as vir die twee aangenome seuns nie. Haar antwoord. “Weet jy ons eie twee is okay, hulle weet ons is hul ouers, maar die ander twee is so diep in my hart ingekruip, want ons het hulle gekies en hulle ia baie spesiaal vir ons”. Daar is wel goue Mammas op die aarde wat ‘n Moedersjaar verdien.❤

    1. ‘n Ander aanneem mamma het vir haar kinders vertel hulle het in haar hart gegroei, al het hulle nie in haar maag gegroei nie😉

  3. Baie,baie mooi geskryf!Ek het veral respek vir pleegma’s,want net as hulle vir die outjies liefraak,gaan hulle weg.Daardie emosionele storie moet erg wees.

  4. My vriendin is so “stiefma” heng sy maak daai twee seuns groot soos sy haar eie sou grootmaak, as sy haar eie sou kon he. Hulle is mal oor haar en SO lief vir haar – hulle eie ma probeer hulle gereeld opmaak teen haar, kan sy nie net dankbaar wees nie. Sy is soms n beter ma vir hulle as hul eie ma, sy dra hulle belange op haar hart en hulle kom altyd eerste, waar dit nie altyd so is met hul eie ma nie.
    Toe my jongste klein was het sy van ‘n “Viesma” en nie n Stiefma gepraat. Ek het altyd gesmile vir die selfgemaakte word.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s