Sommer net

Die ou met die Beetle en die mooi hemp

My langafstand vriend, Theo, skryf op Facebook:

“Somebody recently made the suggestion that we have been deprived of the opportunity to really see anything new or exciting, because in our world everything has been done and said and shown. I would accept that it is true to a point. The internet has been mentioned as a big culprit in making this happen. It is maybe not the whole truth. I would like to continue looking for those special moments, often transient that are so easy to miss. Not magnificent vistas or dramatic events but every day happenings that have a short moment of magic in them. Trying to catch it before it is gone, or recognizing it, if it lingers for a while. ‘Walking with a camera’ is a 2e Perspectives saying and I would like to add, ‘with eyes and mind wide open’. Please help me find those moments. What will forever remain unique is how we experience them and if we are fortunate, we get to share them.”

Hoe waar is dit nie! Hoeveel keer kyk ons sonder om te sien? Regtig die mooi, die nuut, in die alledaagse rondom ons raak te sien.

Ek sal nooit na ‘n Volkswagen Beetle kyk sonder om aan my ma te dink nie. Dit was al motor wat sy vir jare gery het. Dis net, deesdae sien mens hulle nie meer gereeld nie. Maar snaaks hoe mens mos nooit iets raaksien tot jy dit op ‘n dag opmerk en dan skielik sien jy dit die volgende dag en weer die dag daarna. Amper soos ‘n vrou wat wil swanger raak en skielik orals net babas sien.

Verlede week gaan koop ons pizza by ‘n klein sentrum naby ons. Oppad huis toe, is die Beetle skielik langs ons. Wit, met ‘n Noordwes Provinsie nommerplaat. Blinkskoon en mooi opgepas. Die outjie wat bestuur het die bontste, mooiste lap, hemp aan. Iets wat ek nog nooit in ‘n gewone winkel gesien het nie. In vandag se tyd ry jy nie ‘n Beetle, is jonk en het so ‘n hemp aan en is net ‘n doodgewone outjie nie. O nee. Jy is anders, daarvoor sal ek my kop op ‘n blok sit. En anders is goed, is reg, is nuut. Die wêreld het anders so nodig, juis omdat alles deesdae so eenders en blasé geword het. We’ve done it all, seen it all, have it all. Ons is moeg gelewe weens “over-exposure” voor ons nog behoorlik gelewe het.

En hier langs ons is iemand wat in hierdie tyd en eeu met ‘n laas eeu se karretjie ry en ‘n bont lap hemp dra. Duidelik iemand wat hom nie steur aan die druk om in te pas nie. Want selfs om fiets te ry is minder anders as om ‘n ou kar te ry. Deesdae ry jong ouens net Volkswagens as dit ‘n GTi iets is of worse case scenario ‘n opgewarmde Citi Golf.

Ek wonder heelpad oor die Beetle outjie. Ons het almal stories. Ek wens ek kon syne ken, want ek weet dis nie ‘n gewone, vervelige storie nie.

Twee dae later sien ek die Beetle weer. In ‘n parkeerplek by dieselfde sentrum. Ek kan myself nie help nie, ek loer binne-in. Die sitplekke is duidelik mooi opgepas of dalk oorgedoen. Daar lê nie ‘n papiertjie rond in die motor nie. Al wat nie mooi inpas nie, is die nuwe CD-speler, maar die speakers is niks oordadig nie. Daar hang ‘n droomvangertjie om die cubbyhole se knop. Ek tree terug, bang iemand sien my. Maar ek wonder weereens oor die eienaar.

Ek het die Beetle nog een keer weer gesien, maar nog nie weer die outjie nie. Eendag, dalk binnekort, gaan ek ‘n manier kry om sy storie uit te vind. Intussen weet ek iewers in Noordwes Provinsie is daar ouers wat hul seun so grootgemaak het dat hy nie bang is om homself te wees nie. Met ‘n ou Beetle en ‘n hemp van lieflike bont lap.

16 thoughts on “Die ou met die Beetle en die mooi hemp

  1. Ooh ek maak myself so moeg, ek wil ook baie maal die storie agter iets weet, half onmoontlik, dan dink ek maar aan n paar moontlike storie.
    Jy moet tog kom vertel as jy die storie agter die blom hemp en die beatle gekry het, asb!
    Ek het lekker gelees.

  2. Toe ek nog klein was, het my ma ‘n geel volla gehad. Ek kan min van hom onthou, ek was nog te klein, maar ons het meer as een keer met hom gaan staan. Die probleem was die grondpad en die stof en die enjin wat agter sit. Dit was glo nie ‘n goeie kombinasie nie.

  3. My eerste kar was ook ‘n Beetle – ‘n geel een. Dis mooi dat daar nog mense is wat net hulleself is, al beteken dit hulle is anders as die “norm”. En jou vriend is reg, ons moet aanhou kyk vir die spesiale klein goedjies wat daagliks om ons gebeur.

  4. Haha My eerste kar was ook n Volla! So lelike donker grys een. Ek kon nie eers bestuur nie, was geadverteer in die koerant, en die man wou R700-00 he. Hom gese ek het net R500-00 maar wou baie graag he en dit gekry. My swaer het hom gaan haal op die sypaadjie geparkeer, vuil,vuil want die man het sy honde daar in laat ry, toe ek die seats skoon maak met Handy Andy sal ek sien hulle is nie bruin nie hulle is toe HELDER ROOI! Daar het ek elke dag vir hom gekyk tot ek die moed gehad het om in te klim en te kyk wat aangaan. Saterdag more nog met my ‘gown’ aan in geklim, omtrend n uur gevat om hom van die sypaadjie af te kry hahaha en daar gaan ek! Om die eerste blok so drie keer gery, toe 2 blokke, toe 3 blokke en daai middag van Johannesburg tot in Krugersdorp in eerste en tweede rat al die pad hahahaha. Maar ek het dit gemaak en weer huis toe! Myself geleer, en met AL die duike n jaar later lol, hom verkoop vir R1400-00! Net nou die dag gekyk na n foto en lekker gelag. Die lekker ou dae ja………;-)

    1. Volgende week gaan ek die bont-man-kar inwag😀 En ja, ek love my vriend Theo. En hoe ons vriende geword het, is ‘n hele storie op sy eie

  5. Ek kom oorspronklik van die Noordwes provinsie, maar is weg in die dae toe dit nog Elizabeth Eybers se Wes-Transvaal was. Ons word goed groot gemaak daar. Maar ek ry nie ‘n beetle nie. Hoo jy kry jou storie en dat jy dit met ons kan deel.

  6. Watse mooi vertelling is dit nou so op die Sondagmore, waar die “selfmoorduur” nog voorle. Dit het knop-in-die-keel “onthou” by my meegebring. My eerste liefde was ‘n 5e jaar mediese student in Pretoria en hy het so ‘n baksteenkleur volla gery. Ek was in die Tegniese Kollege. In die winter ry hy en drie van sy vriende Middelburg toe as lede van Tukkies se eerste rugbyspan in ‘n Alfa Romeo en verongeluk dood. Ek het sommer weer trane wat loop…………’n wit Volla met ‘n jongman met ‘n bont laphemp het my nou in trane.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s