Sommer net

Skielik is ek vry

Vryheidsdag. Vakansiedag. Net so na betaaldag. Kom ons gaan kyk gou of die Vleiswinkel oop is. Dis waar ons elke maand ons vleis koop. Uitstekende kwaliteit teen sakpas pryse. Stap uit met twee sakke vol vleis, nog nie eers R500 nie. Ek voel tevrede met myself. B sê, wag gou, ek gaan gou by die kafee in, sigarette koop. Ek klim solank in die motor en in plaas van my foon gryp en solank Facebook kyk, skrik ek vir die brul wat hier langs my intrek. My oog vang ‘n verbleikte rooi motor. Ek kyk nie onmiddellik nie, behalwe om net soos altyd te kyk dat daar nie met die uitklimslag deure gekrap word nie. Dink nog dis hoekom ek nie rooi motors koop nie, jy moet hulle gereeld polish anders verbleik hulle.

Ek hoor hom voor ek hom sien. “Help die blerrie kind mettie borrels.” Die klank van glas verseker my dis bottels en nie borrels soos in bubbles nie. Toe kyk ek. Die kind buk agterstevoor agter uit die motor, in sy hande ‘n arm vol leë bierbottels, daai grotes, ek dink hulle noem dit drafts of quarts. Klein seuntjie eintlik, ek skat hom nie ver verby 10 jaar nie. Maaaaaeeeer. Erg maer. Die ma sê nog niks, help ook niks, klim ook nog nie uit nie. Skielik staan die pa hier langsaan my. Iets aan wat dalk kan deurgaan vir ‘n overall, hare wit gebleik en moontlik ‘n mullet-probeerslag. Druk die seun vorentoe verby die ma se deur. Kap teen haar deur. “Kom, lig jou gat. Netnou laat val hy die bottels!”

Ek wonder hoekom help hy nie die kind nie, maar net toe draai hy om en sluit die kattebak oop. Lig ‘n witterige, deurgesnyde halwe tipe drom effek vol van nog sulke leë bierbottels agter uit. Klap met sy elmboog die kattebak toe en steier amper onder die aanslag van die bottels, maar hy hou en hy klou en haal die sypaadjie heelhuids. Eers toe klim die vrou uit. Sy lyk soos ‘n vlugteling. Los, uitgerekte trui. Los, uitgerekte sweetpakbroek. Donker kringe om die oë, slierterige hare. Ag Here, roep my hart. Hoekom? Hoekom gee jy vir sulke mense kinders? Om hulle leë bierbottels te help dra?  En netnou weer die volles? Wat se kans het daardie seun in hierdie lewe? Hoe kan mens hom verkwalik as hy oor 15 jaar ook uitsukkel uit ‘n verbleikte kar met ‘n drom vol leë drankbottels wat hy gaan inruil vir volles. En die sirkel voortsit.

My hart huil oor een kind. Maar ek weet daar is baie sulkes. More of oormore gaan ek hom (moet) vergeet, vir my eie sanity. Maar hy gaan steeds dieselfde lewe hê. More en oormore en volgende jaar en dalk die volgende 5 jaar en en en. Daar is nie antwoorde op my vrae nie, daar is waarskynlik ook nie meer salf te smeer aan die pa nie en die ma is duidelik lankal reeds verslaan. Dis nie my lewe nie, dis nie my probleem nie. Ek ry weg en skielik is ek vry.

Skielik is ek vry. Maar die beelde bly my by.

15 thoughts on “Skielik is ek vry

  1. Vreugde, Vreugde, en nou voel ek ook vry😉 Sien so uit na n pos van jou en check die e-mail elke dag, maar ja jy is seker maar net so besig soos almal van ons lol Dankie jy het my dag gemaak lol
    En nou:
    Ja, ek raak die hel in as dit sien! Wil vir die ouers skree – Kan julle nie sien wat julle aan julle kinders doen nie?? Ek het my verlede ook ja, en ek wil altyd die kinders my storie vertel en se “Waar jy vandaan kom, hoef nie jou toekoms te wees nie” maar jy kan ook nie interfere nie want dan sal ek met BAIE kinders sit ! Dan dink ek aan al die mense wat nie kinders kan he nie, wat hulle so graag wil he. Ek kry hulle so jammer maar nou ja jy kan ook net soveel doen.

  2. Dit breek my hart dat sulke mense kinders kry en soms ‘erf’ die kinders hulle ouers se ‘grasie’… wat dan ook eendag sulke kinders maak…

    maar soms breek die kinders die sirkel… ek hoop dit gebeur meer.

  3. Ja, dis so tragies. Dit kom al eeue lank met ons en dis oral ter wêreld – selfs baie erger gevalle. Dit maak dit nie minder hartseer nie, maar soos daar geskryf staan, “die armes sal altyd by ons wees” (of so iets), sal mense met hierdie lewenstyl ook altyd by ons wees. Dit kan my net so ontstel soos vir jou.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s