Sommer net

‘n Terugblik op 2015

Dis al die tweede dag van 2016. Ek wou al skryf, maar ek lê lui rond en oorleef die hitte. Dié wat my ken, weet ek haat reën. Maar nood leer bid, soos die ‘ou mense’ altyd sê. Ek gaan nie meer nuwe jare in met baie voornemens of wense nie. Meestal wens ek maar net vir genoeg en tevrede wees. Want my oupa het altyd gesê alles wat ‘te’ by kom, is nie goed nie, behalwe tevrede. So ek vra nie te veel nie, ek vra net genoeg. My daaglikse brood. En dalk bietjie ekstra vir die konfyt. Of kaas en konfyt. Of goue stroop. Anyways, dié jaar vra ek vir genoeg reën. Genoeg vir die droë dele eerste en dan bietjie meer (nie te veel nie) vir die Kaap. In die nag. Dat dit in die Kaap genoeg reën in die nag. Want dan hoef ek dit nie te sien nie. Ja ja, dis seker selfsugtig, maar die lewe gaan mos oor    compromises. So, ek compromise😉

Oor 2015, as iemand my vra wat sal ek onthou van 2015. Troues. In ons familie was dit die jaar van troues. My dogter, my kleinsus, my niggie se dogter, my aangetroude niggie. Hulle gaan almal baie happy wees, ek weet dit net. My meisiekind se troue was die hoogtepunt van my jaar. Dit was so so mooi. Ek is diep dankbaar dat ek dit kon beleef en ook weemoedig dat my ma nie kon nie. Die seer by die soet.

Dan is daar die minder lekker onthou. Soveel groot seders het geval in 2015. André P.  Brink. Terry Pratchett. Jackie Collins. Ena Murray. TT Cloete. Randall Wicomb. Chris Barnard. Jonah Lomu.

Die mense wat in Parys se aanvalle dood is. Die mense wat in plaasaanvalle en deur ander misdaad dood is. Die mense wat in ongelukke dood is.

My oupa het ook altyd gesê elke soldaat het ‘n ma wat vir hom lief is, maak nie saak of hy jou vyand is nie. Elke mens het iemand wat gaan treur as hy of sy vir altyd weg is. Hier op die tweede dag van 2016 steek ek ‘n kers aan vir elkeen wat in 2015 iemand verloor het. Ons geliefdes leef voort in ons onthou van hulle. Ons moet aangaan met die lewe en ons mag maar weer op ‘n dag lag en gelukkig wees. Hulle sal altyd deel van ons wees, in ons wese ingeweef.

Mag ons almal nog hier wees op 2 Januarie 2017. Ek wil hierdie jaar meer skryf, meer blog. Minder tyd mors met onbenullige dinge, minder prokrastineer. Dis nie nuwejaars voornemens nie. Ek wil net. Ek gaan my bes probeer.

Julle moet almal mooi loop. Lees baie, luister musiek, dans as jy kan, sing hard, bad lank, bederf jouself soms, eet soms te veel, drink genoeg wyn maar nie te veel nie, doen soms niks net omdat jy wil, gebruik jou mooiste breekgoed, drink uit jou kristalglase, dra jou fancy klere. Moenie goed bêre vir eendag nie. Want eendag kom dalk nooit. Spaar vir jou oudag, maar lewe ook vandag.

Namasté!

14 thoughts on “‘n Terugblik op 2015

  1. Dis alles so mooi gese! 2015 het vir ons gesinne’tjie op ‘n groot laagtepunt geeindig, so ek was net nie die regte “mindspace” om voornemens te maak nie. Ek bid meer, is vir meer dankbaar, dink twee keer voor ek sommer net iets koop omdat ek dit wil he. Beplan vir die toekoms, maar leef vir vandag, al is dit op die oomblik net dag vir dag. Voorspoedige Nuwe jaar! As hierdie ‘n jaar was van troues, gaan daar hopelik binnekort die opvolg wees van vele klein, pienk, soenbare voetjiesx

  2. Ek wou dit al die 2de Januarie lees, maar iets binne my was so hartseer en stukkend ek kon net nie, toe bêre ek dit vir vandag, ‘n dag waar ek beter voel en ek is bly ek het. Jy het my in trane met jou mooi woorde. Jy moet asseblief meer skryf, jy skryf beautiful tot onder my vel in. Ek wens vir ‘n mooi 2016 toe, een wat dit woorde rëen in die dag en in die nag. Altyd. xxxx

  3. Goed gaan met jou ook in 2016! (terloops, ek hoor Te voet en Te perd is ook okay!)

    Ek hoor jou oor die meer skryf en blog. En onbenullighede los. Mens het eintlik min tyd vir mors. Maar mens weet dit nie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s