Sommer net

Ek wil nie in Desember doodgaan nie. Niemand wil nie.

Ons ry vanoggend net na 9 winkels toe. Die dorp loop oor en ons ry verby na ‘n kleiner winkelsentrum net anderkant die dorp. Daar is ‘n bus voor ons met sy noodligte aan. Ek wonder vir wat ry hy so. Ons verander na die ander baan en sien hoekom. Dis ‘n begrafnisstoet. Daar is nie baie motors nie. By die robot beland ons langs die familiemotor. Vyf mense met strak gesigte. Omdat ons motor effens hoër is, kan ek binnekant hulle motor sien. Voor sit sy, met die begrafnisbrief in haar hand. Sy vryf met haar palm oor die foto voor op. Vryf en vryf. Ek dink nie sy weet sy doen dit nie. Die foto is dié van ‘n jong kind.

Die bestuurder kyk regs, hy sien ek kyk en hy knik sy kop vir my. Ek weet nie hoe betoon mens respek in ‘n robot ry nie, maar ek knik my kop vir hom, maak my oë toe en lig my hand effens. Hy knik weer. Ek glo hy weet ek simpatiseer, al ken ons mekaar van geen kant nie. Niemand verdien om jou kind te begrawe nie. Dis altyd erg, maar ek dink dis erger nou. In die feestyd, vakansietyd. Vir altyd vorentoe. Vir elke jaar se onthou. Wanneer ander mense lag en fees vier.

Ons ry verder en laat die hartseer gesig agter. Dis ‘n paar ure later wat ons oppad terug is. By een van die groot kruisings, net voor die dorp, staan ‘n hele paar verkeersmotors. Die robot werk, maar hulle reguleer die verkeer. Ek wonder of dit weer een of ander fietsry storie is, maar net toe kom die ligte oor die bult. Baie motors met ligte aan. Dit tref my. Nóg ‘n begrafnis. Hierdie een is groot. Toe sien ek. Dis twee begrafnismotors, twee kiste, twee mense. My hart breek vir mense wat ek nie ken nie.

Ek wil nie in Desember doodgaan nie. Ek wil nie hê my mense moet oor my huil terwyl die son baldadig buite skyn en mense lag en feesvier nie. Ek gun hulle nie sulke hartseer terwyl die strande oorloop, die see saffierblou en die lug swaar is van braaivleis en lekkerte nie. Laat my dan eerder doodgaan in Junie of Julie, in reën en koue. In bitter winter. Sodat hulle hul trane kan wegsteek in die reën.

Dis daardie tyd van die jaar. Mense ry mal en onverskillig. Hulle drink en gaan swem of doen onbesonne dinge. As jy omgee vir jou mense, moenie. Moenie jou eie lewe en ander mense se lewens in gevaar stel nie. Moenie dat ‘n begrafnisstoet op ‘n mooie sonskyndag jou geliefdes se vreugde steel nie. Of enigiemand anders se geliefdes. Think before you drink before you drive. Of enigiets anders stupids doen.

8 thoughts on “Ek wil nie in Desember doodgaan nie. Niemand wil nie.

  1. Sjoe dis ‘n ontstellende gedagte vir ‘n dag soos vandag. Maar tog gebeur dit. So baie mense is onverskillig op die paaie, veral hierdie tyd van die jaar.

  2. ‘n Baie hartseer tyd Son, jou waarde slaan diep in my hart want ek het hierdie hartseer… 12 jaar terug, Kersoggend is my oudste broer doodgeskiet by Shell Ultracity Escourt, hy was maar 39, dis ‘n groot pyn wat elke jaar opvlam wanneer dit Kerstyd raak, dit is seer en moeilik om “vrolik” te bly as ons eintlik net wil huil, 10 jaar na sy dood is sy vroutjie oorlede aan kanker, ook in Desember met drie pragtige meisiekinders wat nou agterbly, ja hulle is al groot en ja hulle het al hul eie lewens maar mens kan nog die seer in hulle oe sien weerkaats wanneer dit Desember is… daarom stem ek saam met jou, dis bitter moeilik ek vra ook om eerder in die winter dood te gaan. Mooi dag vir jou en geseende Kersfees!

    1. Ai ai ai – dis ‘n seer verby woorde. Mens vergeet nooit, dit raak dowwer, maar dan vlam dit met elke herdenking weer op, soos die wond van ‘n gebreekte been, net veel dieper en seerder. Hugs vir jou. En vir daardie drie meisiekinders.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s