Om te onthou

Die dag (naweek) toe Megan trou

Elke dogtertjie droom van die dag wanneer sy gaan trou – ek glo dis ‘n meisieding. En daarna, as jy ‘n dogter het, wonder jy oor die dag wanneer sy gaan trou. Soms loop die lewe nie die paadjie soos jy so graag sou wou hê dit moet nie, maar soms lag die lewe sommer so lekker oopbek met jou. Dis hoe dit was die afgelope naweek toe Megan getrou het. Vir dié wat nog nie weet nie, Megan is my dogter. Sy bly al die afgelope 6 jaar op ‘n plaas in die Karoo. En op Saterdag, 28 November, het sy Mev Meyer geword.

Daar was ‘n tyd wat sy gedroom het om op ‘n wynplaas in die Kaap te trou, maar eendag het daardie droom verskuif na ‘n piepklein dorpie in die Karoo. Nieu-Bethesda. Baie, baie mense het my gevra wat besiel haar om DAAR te gaan trou. My antwoord: dis haar keuse, haar dag, so dis hoe dit is. Take it or leave it. Van die 120 mense wat genooi is, het 72 dit ge”take”. En dit was genoeg. Dit was een van die mees besondere troues wat ek al in my lewe bygewoon het. Daar is twee wonderlike mense wat haar gehelp het om dit die mooiste dag te maak. Hulle is Jacques & Justin van Die Waenhuis, en hul personeel. Hulle is absoluut amazing.

Die Waenhuis
Die Waenhuis

Dis anderste mense wat mens diep in die Karoo kry. Mense wat nog ‘n hart het vir hul medemens. Al die trougaste het in gastehuise in en om Nieu-Bethesda gebly, in die dorpie en op plase. Dis nie vyfsterhotelle nie, maar dis plekkies en mense wat onder jou vel inkruip. Die gaste het byna almal al die Vrydag aangekom. Ons het op ‘n plaas 3 km voor Nieu-Bethesda gebly. De Toren van Riël en Charmaine Malan.

De Toren plaas
De Toren plaas

Op die plaas is drie huisies. Die een op die plaaswerf is die enigste een met elektrisiteit. Die ander twee, Krans Kaya en Klipdrift, lê elkeen diep in die bos in en het net gas – geyser en lampe, en ‘n regte egte koolstofie. Ons was gelukkig, ons het met die X-Trail gery, maar my suster-hulle het in die ander huisie gebly en het ‘n gewone motor. Tussen ons en Riël het ons hulle maar op en af vervoer oor die naweek. Niemand het ‘n mission daarvan gemaak nie en dit was eintlik groot pret. My broer-hulle was in die huisie op die plaas, met hul twee seunjies. Dié het ‘n fees gehad tussen al die plaasdiere. En my skoonsuster moes maar haar elektrisiteit met ons deel, so vir die hare mooimakery en alles.

Die koppie toring oor Nieu-Bethesda
Die koppie toring oor Nieu-Bethesda

 

Voor die huisie waar ons gebly het
Voor die huisie waar ons gebly het
Daar was tyd vir bietjie speel ook
Daar was tyd vir bietjie speel ook

Waar my sus-hulle gebly het, is ook die lekkerste swemgat en rivier

Die rivier
Die rivier
Die swemgat
Die swemgat

Die Vrydagaand het al die gaste wat reeds gearriveer het, op De Toren bymekaargekom. Riël het vir ons gebraai en Charmaine het die heerlikste slaai en broodjies gemaak – teen R70 per kop. Met ‘n kontant kroeg. Daar was hope en hope braaivleis (egte karooskaap) en geeneen het honger gaan slaap nie. In ag genome dat daar stief- en half- en aangetroude familie was wat almal saamgekuier het, het alles so ordentlik verloop mens kon dit amper nie glo nie😆 Veral omdat daar drank betrokke was😉 Niemand het ‘n voet verkeerd gesit nie.

Die volgende oggend het elkeen sy eie koers ingeslaan. Party het die dorpie gaan verken, die ma’s en strooimeisies het saam ontbyt geëet by Megan se blyplek, party het nog herstel van die reënspinnekoppe wat hulle die nag hul verblyf mee moes deel!

Half vier se kant het ons begin bos se kant toe staan – die seremonie is gehou in die populierbos, en die dominee is plaaslik, van Nieu-Bethesda. Daar is ‘n kerkie op die dorp, maar dit is baie klein.

Hier is die seremonie gehou
Hier is die seremonie gehou
Die bruid arriveer
Die bruid arriveer
Riaan wag vir sy bruid
Riaan wag vir sy bruid
Hier kom die bruid!
Hier kom die bruid!

Die seremonie was te mooi om in woorde te beskryf – dit was nie ‘n outydse preek nie, maar alles is gesê wat moes gesê word. En net voor die dominee hul as getroud kon verklaar, het daar ‘n troppie skape in die agtergrond verby kom loop en moes ons maar rustig wag tot hulle eers weer vort is.

Daarna het die families en die gevolg beurte gemaak op die bankie vir fotos.

Saam met die strooijonkers
Saam met die strooijonkers

 

Saam met die strooimeisies
Saam met die strooimeisies
Megan en Tamsyn, haar niggie en hoofstrooimeisie
Megan en Tamsyn, haar niggie en hoofstrooimeisie

Daarna is ons almal na Die Waenhuis, waar ‘n jazz orkes musiek gemaak het. Terwyl ons vir die bruidspaar wag wat nog foto’s geneem het, is ons bederf met die heerlikste eetgoed. Die gaste het in die binneplaas van Die Waenhuis gekuier en geëet, tot die bruidspaar daar kom. Daarna is ons binnetoe en die toesprake is gemaak. Die bruidegom se toespraak het ons almal in trane gehad en geeneen het hom onderbreek met ‘n simpel gesingery nie. Daarna is ‘n buffet voorgesit en uiteindelik het Meneer en Mevrou Meyer die baan geopen op Francois van Coke en Karen Zoid se “Toe vind ek jou”.

Die jazz orkes
Die jazz orkes
Ons eet en kuier terwyl ons vir die bruidspaar wag
Ons eet en kuier terwyl ons vir die bruidspaar wag
Binnekant
Binnekant
Mnr en Mev Meyer
Mnr en Mev Meyer

Hierdie ma het oor die naweek baie gelag en baie gehuil, maar die huil was elke keer ‘n happy huil. My meisiekind kon nie ‘n mooier troue gehad het nie. Ek is bly dit was nie tipies tradisioneel nie. Ek is verstom oor wat sy self alles alleen gereël het, want haar familie is almal ver. Dis sulke tye dat mens die staal besef waarvan jou kind gemaak is, en ek is trots verby woorde. Haar nuwe man is al lankal een van my favourite mense. Die meetsnoere het vir my kind op lieflike plekke geval en ek kan net elke dag dankbaar wees. Dit beteken nie alles was smooth sailing nie – dit beteken net als het mooi en goed uitgewerk.

Ek is lankal lief vir die Karoo, maar na die naweek weet ek dis mense met HART wat daar bly. Ek salueer elke enkele mens wat gehelp het om ons gaste se naweek onvergeetlik te maak. Niks was te veel gevra nie en vir elke probleem is blitsig ‘n oplossing gesoek en gevind.

Dis met ‘n swaar hart wat mens daar weggaan. Jy wens jy kan vir altyd daar bly en al weet jy binnekant jou dat dit net ‘n droom versugting is, bly die verlange nog lank na jy die Karoo stof uit jou klere en van jou motor af gewas het.

Die lewe is nie perfek nie, maar hierdie naweek was dit baie naby daaraan. Die mooi herinneringe aan Megan se groot dag word deur absoluut niks dof gemaak nie – elke mens wat daar was, het sy sonkant na buite gedra.

16 thoughts on “Die dag (naweek) toe Megan trou

  1. WOW WOW WOW!!! Jy het regtig ‘n gawe om met woorde te toor! Ek kan ure sit en lees aan jou skrywe! Beautiful! Moet nooit ophou skryf nie!

  2. Veels geluk met alles en aan almal wat tel. Wat ‘n pragtige bruid en ek hoop die gom sal haar nooit los nie, net lief he en uiters goed op pas en bederf. Oooo, jou komende kleinkinders gaan nog mooier as die ma wees as ek die argitek en die bouer so kyk😉

    1. Dankie😀 Die gom hou darem al agt jaar – so ek reken die eerste sak sout is op! Ek kan nie wag vir daai klein Meyertjie nie – bederf gaan ek bederf!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s