Sommer net

Augustus – my maand van blydskap, belofte en hartseer

Die aand van 31 Julie begin ek ligter asemhaal. Want daar is nog net (amptelik) 31 dae van winter oor. Ek weet met die rasionele deel van my brein dat die lente selde op 1 September kom aanmeld. Maar die gedagte is darem daar, die hoop, die belofte. Die belofte van ‘n nuwe begin, blomme, vrugte, sonskyn, see, warmte, buite wees, asemhaal sonder wolkies, vry voel in jou klere. Ons moet nog net deur Augustus kom. Augustus, die SO tussen-in maand.

Vroeg-vroeg in Augustus, so net bietjie meer as 30 jaar gelede was ek ‘n baie jong, baie bang, eerste-keer-ma. ‘n Eerste baba is ‘n groot gebeurtenis. Enige baba is ‘n gebeurtenis, maar die eerste een kom met soveel dinge wat jy nog nie weet nie, wat jy nog moet leer, goetertjies waaroor jy wonder, leerskole wat jou nog gaan slyp, foute wat jy gaan maak en jou later oor verwyt, nagte wat jy nie gaan slaap nie, bekommernisse wat jy gaan uitdink. Dis ‘n wipwaentjie wat jou na bitter groot hoogtes vat, net om jou die volgende oomblik in diep valleie in te smyt. Dis eerstes vir altyd. Eerste tand, eerste nag deurslaap, eerste glimlag, eerste regop sit, eerste kruip, eerste tree gee, eerste alles. Eerste mens wat vir ewig aan jou verbind is met bande wat nie eers die dood kan knip nie. Dit word op ‘n manier makliker daarna, en ook moeiliker. Want met elke kind daarna word jou liefde en bekommernisse nie minder nie, dit word eksponensieel meer. Jy raak dit net meer gewoond. Jy raak gewoond worry. Worry dat jou kinders okay is. Elke dag. Van jou hele lewe vorentoe. Selfs wanneer hulle groot en oud is. Jy is altyd groter en ouer. En jy worry. Is my kinders gelukkig, het my kinders genoeg van alles wat hulle nodig het? Is my kinders veilig? Want as ‘n kind nie sy/haar foon antwoord nie, is jou eerste gedagte nie dat die foon iewers lê waar hy/sy dit nie kan hoor nie. Jy dink… die ergste. Tot die kind antwoord. Of terugbel. En glad nie kan verstaan dat jy sommer de hel in is van verligting nie. Soms was dit beter sonder selfone, want dan kon jy net glo iemand is nie by die huis nie. Ongeag alles, meestal, bly ‘n kind jou blydskap, jou vreugde, jou hart op jou mou.

Maar Augustus is ook vir my soetbitter. Dit herinner my aan die geskenk van my oudste, maar ook die laaste paar jaar aan die hartseer van die wegvat van my ma. Want net soos ‘n kind altyd aan jou verbind is, is jy vir altyd verbind aan jou ma. Dood breek nie daardie band nie. Dit rek dit net ver verby hartseer se grense. Mens raak makliker daaraan gewoond om ‘n ma te wees as om sonder ‘n ma te wees. Die een is die grootste vreugde, die ander een is die tweede grootste hartseer. Want die grootste hartseer is as ‘n ma haar kind verloor.

Augustus loop ek die pad van belofte – van somer,
van blydskap – my kind nog ‘n nuwe lewensjaar
van hartseer – my ma, weg vir altyd.

Augustus is hier. May it not overstay its welcome.

24 thoughts on “Augustus – my maand van blydskap, belofte en hartseer

    1. 😆 Ja, ek het geskryf by sonkind, voorheen. Maar ek skryf lankal nie meer op daardie blog nie. Soms is ‘n verandering nodig😉 Ek is bly jy lees nou hier

      1. Hier by ons hoef jy nie te wonder nie… November is oestyd hier by ons. Dan werk die mans lang ure en baie hard… en dan soms is daar skielik’n reëndag…😉

  1. Dit is so so mooi gestel Son. Augustus ook my maand van hartseer. My mamma al 12 jaar weg….hoop Augustus met sy wind en verdriet bly nie lank kuier nie….

  2. So waar wat jy se. Dis ook die droewige maand van die Augustuswinde. Maar die winde waai hopelik op die ou einde die winter weg en maak ook pad oop vir mooi nuwe gedagtes oor ons geliefdes.

  3. Pragtig geskryf…ek het ook ‘n dogter,man en ekself wat in Augustus verjaar.Die maand het nog altyd vir my spesiale betekenis gehad..iets soos daar wag nuwe lewe na die winter.

  4. Sjoe, Son! Ek kan net woord vir woord beaam wat jy geskryf het……..my ervaring ook….

    Ek was maar ‘n jong, onervare 24 toe my eersteling gebore is en 27 toe die 2de gebore is…… En ek is bevoorreg om nog albei te he en dan nog naby aan ons ook…….

    Ken ek nie daardie worry nie!! Nog steeds….en dis so waar van my ook….daardie …”.dink die ergste”! en ja, is die selfoon altyd ‘n seen of nie!?

    Soos dit is, sou dit vandag my ma se verjaardag wees! Sy sou vandag 96 gewees het maar Desember vanjaar sal dit reeds 8 jaar wees wat sy nie meer met ons is nie. Ek kon hierdie skrywe van jou nie op ‘n beter tyd gelees het nie! Baie dankie daarvoor!

    Sien uit na verdere skrywes!

    Groete Mari

    *Mari *

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s