Sommer net

Pyngedagtes… ‘n kind is dood

2015 is halfpad. Ek het 7 maande laas hier geskryf. Nie omdat ek niks gehad het om te sê nie, dis net dat die dinge wat ek soms wou sê partykeer net TE diep gelê het vir woorde. Dan loop ek so lank en broei daaroor dat dit naderhand nie meer skryfbaar is nie.

Hoe sal ek 2015 onthou tot hier? Hartseer, bittersoet. Daar het baie mooi dinge gebeur met my die afgelope maande, die afgelope paar jaar. Soos die woorde sê “I come into my own.” Of dalk – ek het myself gevind. Daar is ‘n huisie in die Karoo wat ons wil koop, my meisiekind trou einde November, ek het so baie om voor dankbaar te wees. Maar tot hier was 2015 ook ‘n eina jaar.

Dalk het ek dit nie ander jare raakgelees nie, maar dit voel asof daar hierdie jaar net te veel kinders al dood is, Miskien omdat dit so na aan my gekom het. Net gister lees ek van twee sussies van 19 en 17 jaar, wat op die N4 verongeluk het. Hoe leef mens vorentoe na so iets? Verlede maand is my een kollega, een van my gunstelinge, se sussie in ‘n fratsongeluk in Durban dood – sy het by ‘n brug afgeval na ‘n motorongeluk. Die dink oor daardie familie se hartseer stop elke keer voor dit te diep gaan – my kop wil nie daar gaan nie. Dit maak nie saak of jou kind jonk en roekeloos was nie, ons was almal jonk en roekeloos. Sommige beskermengele vlieg net vinniger.

Ek het gedink dit was erg toe my ma dood is. Intussen het ek besef soms is daar werklik erger dinge as om jou ouer te verloor. Soos om jou kind te verloor aan die dood. Ek kan nie skryf ‘gelukkig nie my eie kind nie’, want dit klink vir my soos heiligskennis. Ubuntu werk vir my in die sin van kinders is ons almal s’n om te beskerm, om lief te hê, om na te kyk.

Op 24 Mei het my stiefseun verongeluk. In die oggendure van daardie Sondagoggend, terwyl ons lê en slaap het. Ons het nie geweet nie, ons het eers die oggend 6 uur gehoor. Omdat sy stiefpa die ordentlikheid gehad het om ons te laat weet. Want sy ma sou nie. Soos sy nou nog nie met ons gepraat het nie, soos sy by die begrafnis ook nie met ons gepraat het nie.

Ek onthou ‘n klein seuntjie met ‘n blonde koppie wat saam met sy sussie op my skoot spring. Ek onthou ‘n piekniek by Fonteine in Pretoria. Ek onthou hoe hy ewe onskuldig in sy oumagrootjie se huis, wat maar na oumens geruik het, sê “This place stinks!”. Tot vandag is dit my en sy pa se woorde as ons by ‘n plek kom waarvan ons nie regtig hou nie. Nou sal hy nooit weer weet dat sy woorde ons familiegrappie is nie. Daar is so min herinneringe, want daar was so min tyd saam. Nie omdat ons nie wou nie.

Ek onthou ook trips Pretoria toe, om slegs voor dooiemansdeur te kom. Of om te hoor, jammer, die kinders is Durban toe saam met hulle ouma-hulle. Of om voor hekke met slotte aan te staan en mooi te vra om die kinders te sien. Ek onthou middae wat ek saam met hulle pa voor hul skool gesit het, net om hulle te kon sien. Ek onthou hoe hulle hul pa skelm gebel het, want “mommy shouts when we talk about you”.

Ek onthou een keer wat ons weer vertel is hulle is met vakansie saam met hul ouma en toe sien ons hom die volgende dag op die sypaadjie buite sy ouma se huis. Toe ons stop om met hom te praat, hardloop hy vervaard weg, die huis in. En niemand maak oop toe ons klop nie. Jare later het hy sy pa vertel sy ma en ouma het hulle vertel as hul pa hulle ooit alleen kry, sal hy hulle ontvoer en wegvat Kaap toe en hulle sal hul ma en ouma-hulle NOOIT weer sien nie. Wat se ma doen dit aan haar kinders?!

Ek hou maar van my maskertjie en ek haat dit om my wasgoed uit te pak waar almal elke kleur van elke kledingstuk kan sien, maar dalk help dit vir my woede om dit net bietjie hier te skryf. Dalk sal daar iewers ‘n vrou, wat haar kinders as wapen gebruik teen haar eks-man, hier lees en weer gaan dink. Kan ek maar net hoop.

Die lewe is verdomp net ‘n vingerlengte lank. Moenie jou kinders in jou wraak vendetta gebruik nie. As jou man hulle nie sal fisies of seksueel aanrand nie, hulle nie emosioneel afbreek nie of enige so iets verskrikliks nie, het jy geen reg om jou kinders van hul pa (of ma) af weg te hou nie.

Ek is kwaad, ek is actually woedend verskriklik baie kwaad, want ek gaan nog lank saam met die hartseer leef van iemand wat vir jare gesukkel het om net basiese toegang tot sy kinders te kry, wat elke treë moes veg en elke keer drie treë moes terugval wanneer dit by sy kinders kom. Foute het hy gemaak, ja, maar niks wat die straf regverdig het nie. Ek is self ‘n ma, ek weet waarvan ek praat.

En nou is sy een kind dood. Op 24 jaar. Bloed-bloedjonk. Daar sal nooit ‘n skoondogter wees nie, daar sal nooit ‘n kleinkind wees nie. Daar is net ‘n bietjie herinneringe, en so baie daarvan is “tainted” met ‘te min, te laat’. Omdat een mens gedink het sy kan God speel. Daar is dae wat ek wens ek kan haar slaan en slaan tot sy bly lê. Ek sal dit nie doen nie, ek was nog nooit een wat aan wraak geglo het nie, want dis soos om gif te drink en te hoop die ander persoon gaan dood. Maar ek wil, ek wens soms ek kan, ek dink donker dinge oor wat ek aan haar sal wil doen. Want ek dink sy is ‘n “miserable human being”. Dis verkeerd, ek weet. Sy het ook haar kind verloor. Ek kry haar jammer en ek verpes haar, alles ineen.

Ek sal die eerste een wees om ‘n vrou se kant te vat as haar man haar sleg behandel. Been there, done that, got the tattoo. Maar ‘n kind is nie ‘n skaak pion nie. Take note. ‘n Kind het die reg tot albei sy / haar ouers. Punt.

31 thoughts on “Pyngedagtes… ‘n kind is dood

  1. Ek lees vandag jou storie raak en sit en huil in my hande voor my rekenaar. Ons stap dieselfde pad met ‘n stiefma en my hart wil breek oor wat mense aan kinders doen en later in die kerk wil loop vertel hulle doen dit uit liefde uit. Dankie vir jou skryf.

  2. Ek lees die van jou … En ek wil net huil en nie ophou nie . Ek is n ma van 2 wonderlike dogters . Ek was die een van wie my x-man die kinders weer hou het . Dit is so sleg dat dit gebeur . My x man het weer getrou n paar weke na ons egskeiding . En die vrou (stief ma ) het gemaak dat ek nie my kids kon sien nie . Altyd n storie . Op n dag het sy tot vir die kids vertel dat hulle pa nie hulle rete pa is nie . Die kids het my gehaat oor hulle dink ek het hulle pa verneek met n ander man . So kan ek n boek skryf oor my kids se stief ma en hulle pa . Dit is nie fair dat kinders deur al die moet gaan nie . Ek stem saam jou ‘n Kind het die reg tot albei sy / haar ouers. Punt. Moet se jou skryf werk is uit die boeke uit .🙂

  3. Hy vlug met jou kinders, en jy soek en soek. Hoe goed ken ek nie die storie nie. Die leemte bly, en vandag nog is die pyn met tye ondraaglik. Sterkte vir die pad vorentoe Son. Erens op die pad kom ‘n mens by vergifnis uit.

  4. AI mens… my hart breek as ek dink aan hoe kinders as wapens gebruik word… en ook as ek dink aan kinders in my eie lewe wat te jonk gesterf het…Hartseer woorde, Son, maar ek hoop dit maak mense se harte oop want wat jy se is brood nodig om gehoor te word

  5. Oee Son, ek hoor jou pyn, jou gevoel van magteloosheid, jul baie pogings om hulle te sien maae waar dit eenvoudig geweier is. Ek het nou ‘n hele bloginskrywing getik hier by jou en dit weer uitgevee. Sal dit by my gaan skryf as jy nie omgee nie. Dankie vir hierdie ongelooflike skryfwerk.

  6. Woorde wat jy deel wat ego in my hart, die pyn en seer, ons leer daarmee saamleef maar dit gaan net nooit weg nie. Ek bly in die dorp waar die meisie na die ongeluk van die brug afgeval het, was ‘n yslike skok, het haar nie geken nie maar steeds het dit my aan die hart gegryp! Sterkte vir jou in die res van 2015 mag dit ‘n beter jaar word as wat dit alreeds was!

  7. My hart is seer vir julle. Dit maak my briesend wanneer ouers kinders gebruik en soos jy noem, God speel, oor ander se lewens. Sy is ‘n bitter mens (ek kan ander name noem, maar sal volstaan hierby). Die hartseer is dat dit nooit ooit weer reggemaak kan word nie, die tyd is om.

  8. Ek is ook geskei en weet presies wat jy sê, dit beteken nie omdat ek kwaad is vir hom is dat die kinders ook moet wees nie. Hy is hulle pa en as hulle moet sien en weet hoe en wat hulle pa is moet hulle dit vir hulle self uitvind.

    1. Ek kan my net indink Daniël. Ek dink altyd aan die storie van Salomo en die twee vroue in die Bybel en hoe hy gesê het die kind moet middeldeur gekap word. En hoe die regte ma gesê het Nee! Jy skeur nie jou kind in twee nie, nooit nie.

  9. Ooh nou is my oe klam, ek kan nie eers die trane help nie.
    Sy gaan voor God staan – ‘n pa en ‘n seun wat nooit die geleetheid op n verhouding met mekaar gehad het nie as gevolg van haar…. sjoe dis baie erg, sy gaan met haarself moet saam leef – arme vrou, ek is ook hartseer EN kwaad vir haar.
    Ek ken ‘n soortgelyke geval naby aan my EN dan het ek ‘n X, my eie kinders en hulle halfsussies en ek ken van kinders wat gebruik word om grootmense by te kom – dit is bitter wreed en seer – ek deel in die seer.

    Sterkte vir julle julle. Ek sou ook gal kon braak. Mag julle almal (sy ook) krag ontvang om aan te gaan en mag hierdie vreeslike ding haar dalk net positief aanraak.

  10. Die berig oor die twee sussies wat dood verongeluk het, het my net so erg gevang. As mens self deur die dood van ‘n geliefde moet werk, is mens emotioneel leeg, mens kan geen slegte nuus, wreedheid, geweld, onregverdigheid of dood van selfs vreemdes hanteer nie. elke keer tref dit daai seer, rou plek in jou borskas. Ek wonder of mens ooit weer na iemand na aan jou se dood weer kan lag en dit opreg kan bedoel en voel….ek dink ‘n stukkie van jou gaan saam daai mens dood en dit steel mens se vreugde want dis net te seer.

    1. Dis waar Vanessa, jy beskryf dit so reg. En soos mens ouer word, verloor jy meer stukkies. Mens lag weer, maar dis nooit weer totaal onbevange nie, want jy weet hoe naby hartseer lê en hoe kosbaar geluk is.

  11. Toe ek jou skrywe sien, het ek dadelik gelees, Sonskyn – het self lanklaas geblog, ook omdat die dieper dinge tyd vat om te bedink, en teen die tyd dat dit bedink is, is dit sorteer… – MAAR mens sorteer nooit die dood van ‘n kind nie, mens sorteer amper nooit daardie spyt-kom-te-laat nie… ek voel jammer vir die mense wat dit nie regkry om, terwyl ons lewe, in vrede en welbehae saam te leef nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s