Gedagtes

Kopskuif oor kos

Ek skryf hierdie meer vir myself as enigiemand anders wat hier mag lees, maar ek skryf dit ook vir elke mens wat al ooit ‘n stryd met kos gehad het. Daar is simpatie en rehabs vir alkoholiste, vir dwelmverslaafdes, vir alle geestessiektes. Maar vir oorgewig? Aikona. Jy’s ‘n vet vraat en jy moet ophou vreet. Ja, dit klink erg as ek dit so stel, maar dis wat mense dink. Die feit dat daar miljoene mense is wat meer as jy eet en maer is en maer bly, tel nie in ander mense se denke van jou nie. Dit wat hulle sien, dit is wat hulle oordeel.

Oorgewig is ‘n epidemie. Wêreldwyd. Oor die hoekom en waarom daarvan kan mens enige plek gaan oplees. Ek kan net vir myself praat. Mense word nie vet gebore nie. So… ‘n vet kind se ouer behoort ‘n paar taai klappe te kry, want daardie ouer is stom onnosel as hy of sy nie weet tot watter mate daardie kind gaan swaarkry in die lewe vorentoe nie. Ek het aan myself ‘n eed gesweer dat ek dit nooit aan my kinders sal doen nie. Dank vader het hulle ook nie my metaboliese gene geërf nie.

In die laaste jaar en ‘n half het ek 22 kg van myself verloor. Dis amper die helfte van party mense. Ek het dit nie reggekry omdat ek so oulik of goed is nie. Dit het eintlik heel ongemerk begin. Ek was ook al by die punt waar ek myself wysgemaak het ek is tevrede met my gewig en hoe ek lyk en ek versorg myself goed en al daai psycho-babble. Mens kan jouself mooi brainwash as jy dit lank genoeg doen.

Ek was nog altyd redelik aktief en al het ek moontlik soos ‘n mini seekoeitjie in ‘n baaibroek gelyk, kon dit nie my voorliefde vir swem wegneem nie. Een Sondagoggend lê ek in die bed en speel ‘n speletjie op my selfoon en hier duik ‘n advertensie bo-aan op van Virgin Active in Stellenbosch en die groot besparing as ek NOU aansluit. Nou, tot op daardie dag het ek enige iets wat ruik na ‘n gym gehaat met elke vesel in my lyf. Want almal in gyms is mooi en maer. En gaan my aankyk en vir my lag.

Tog druk ek die bel knoppie daardie Sondagoggend, want ek het onthou daar is swembaddens by Virgin Active. Die verkoopsman inspireer my so dat ek later die dag ry en gaan aansluit. Ek dood amper van skaamte toe ek op die skaal moet klim gedurende die evaluasie, maar die oulike jongman behandel my so mooi dat ek sommer net daar op al die masjiene wil spring om vir hom te wys hoe ernstig is ek om fiks te word. Let wel fiks, nie maer nie.

Ek kry my program, maar eintlik is ek mos daar vir die swem. Ek belowe hom egter dat ek ten minste elke keer eers op twee masjiene sal oefen vir 12 minute elk voor ek gaan swem. Op daardie stadium weet ek nog nie mooi hoe ek BINNE IN die swembad en weer uit gaan kom voor almal nie, maar ek sal daardie brug kruis as ek by die water kom. My eerste hekkie is om ‘n paar tekkies te gaan koop, want ek haat mos die goed. Ook daardie hekkie kom ek redelik maklik oor, veral omdat ek in gedagte hou dat ek dit net 24 minute op ‘n keer hoef aan te hou.

So begin ‘n nuwe wêreld vir my oopgaan op 1 April 2013. Ek leer ‘n hele paar dinge. Ek leer dat meeste mense in die gym is vir hulself, nie om my raak te sien en vir my te lag nie. Ek leer dat nie almal in die gym maer is nie. Ek leer om in die swembad te klim en uit te klim sonder om te veel te worry oor wie vir my kyk of nie. Ek leer dat daar spiere in plekke in my lyf is wat ek nie eers geweet het daar is plekke in my lyf nie.

Ek maak nie juis ‘n verandering in my eetgewoontes nie, maar sonder dat ek dit regtig agterkom, kry ek nie meer lus vir soetgoed elke middag  drie-uur nie. Toe iemand by die werk op ‘n dag vir my sê my klere is te groot vir my, besef ek eers werklik dat ek gewig verloor het. Ek gaan huis toe en begin in my kas te soek vir my “thin clothes”. Elke vrou sal weet wat ek bedoel. Ek is verstom toe ek ‘n hele paar klere kry wat pas wat ek in jare nie kon dra nie. Dit is op hierdie punt wat ek ‘n bewustelike besluit neem om ook aandag te gee aan my eetgewoontes.

Ek begin oplet daarna om op te hou eet sodra ek voel ek het genoeg gehad. Ek begin aanvaar dis okay as ek nie al die kos op my bord eet nie. Ek skep steeds soms vir myself te veel kos, maar ek eet nie alles nie. Daar gaan weke verby wat ek nie sjokolade eet nie. En wanneer ek lus word daarvoor, eet ek ‘n paar blokkies en nie meer ‘n hele “slab” nie. Ek is nie op dieet nie, ek eet net nie meer asof daar more hongersnood gaan wees nie. Ek eet iets as ek lus word daarvoor, maar in matigheid. Natuurlik oortree ek steeds soms, maar ek sny nie my polse daaroor nie, ek beweeg aan en oefen my sonde weg, eerder as om te sit en huil.

Maar moenie glo dis so maklik soos wat ek hier skryf nie. My kos verslawing bekruip my soms wanneer ek dit die minste verwag en ek begin leer waar ek al my foute gemaak het. Ek kom by die huis en begin kos maak en terwyl die kos aan die kook is, dink ek “wat kan ek nou eet”. Dan besef ek, wat de hel! Hoekom wil jy nou eet? Is jy honger? Nee. Is jy sommer net belustig? Ja. Dan gryp ek ‘n boek en ek lees. Of ek vat ‘n bottel water en drink lank en aaneen daarvan. Ek begin DINK voor ek my mond oopmaak en iets daarin sit en ek kom agter hoe baie keer ek in die verlede geëet het sonder om te dink.

Ek het na baie stoei vrede gemaak met my kosduiwel. Dis baie soos ander mense se drankduiwel of dwelmduiwel. Dis altyd by my, dit loop saam met my, dit krap aan my by koeke en terte, by sjokolades en slaptjips, by gebraaide aartappels en romerige pastas. Maar ek weet vandag dit sal my NOOIT weer wen nie.

En dis een van die hoofredes hoekom ek hierdie hier neerskryf. Om te onthou. Hoe ver ek gekom het. En al het ek hoe ‘n mooi persoonlikheid, is dit nie nodig dat daar nog 30 kg ekstra van my moet wees om daardie persoonlikheid te dra nie.

Ek weet twee dinge. Ek sal nooit weer kan ophou met ‘n oefenroetine nie, ek het doodeenvoudig nie ‘n metabolisme wat sal saamspeel sonder oefening nie. En kos sal altyd my baas wees as ek nie versigtig daarmee omgaan nie.

Dit was harde werk om tot hier te kom. Dit sal altyd harde werk wees om hiervandaan aan te gaan. Maar dis, vir my, absoluut die moeite werd. Nie omdat ek ydel is nie, maar omdat ek meer van myself hou sonder daardie ekstra halwe mens.

26 thoughts on “Kopskuif oor kos

  1. Ek het nou ‘n groot taak om die ekstras te verloor. Bykans 2 maande van kuier, het my gewig nie goed gedoen nie. Hierdie skrywe van jou, is ‘n groot aansporing, vir baie. Dankie daarvoor.

  2. ek hou van die idee dt jy nie op ‘n spesifieke dieet is nie, maar matiger en verstandige met kos omgaan. Baie geluk. My kinders in die stad genied die gyme netso, veral die zumba

  3. Het nou lekker gelees. Hoed af vir jou. Ek mis Virgin Active hier! Ek het daar geboer toe ek nog daar gebly het, en was mal oor die swembad en die circuit oefeninge. Hier is ook gyms, maar hulle is nie vir my so goed nie.

    Noudie middag op die trein sit daar ‘n oorgewig jong vrou oorkant my. In die kant van haar rugsak het sy ‘n halwe liter ystee waaraan sy tussendeur drink; dis nou net wanneer sy nie tjips in ‘n plastieksak (wat heeltyd raas) op haar skoot koploos in haar mond stop nie. Tussendeur het sy gestop om ‘n bakkie romerige wegneem aartappelslaai te eet. Ek kon nie daarna kyk nie, en het my gratis pendelkoerant so hoog as moontlik gehou, net om dit nie te sien nie. Mens kon sommer sien dit was haar gewone laatmiddaghappie voor aandete, en geen wonder sy lyk so nie. Vir my is die crux van jou skrywe daardie sin “Ek begin DINK voor ek my mond oopmaak …”

    1. Ek het ook eens op ‘n tyd so denkeloos als geëet wat ek in die hande kon kry. Soms van verveeldheid,soms sommer net, dalk om ‘n ander gat in my lyf vol te maak.

      1. Ek dink as dit eers kliek is dit baie makliker om beheer te neem, soos jy so mooi beskryf. Natuurlik is mens nie ‘n robot nie, maar om mens se kop te gebruik doen wondere.

  4. Ek het ook op ‘n stadium gewig verloor, nie om ek wou nie, die dok het gesê ek moet en ek het verstaan. Gedieet en dit op sigself was nie te erg nie en wilskrag het dit maak werk. Versigtig net vir daardie gewig wat agterna aangesit word. Moes die gewoonte afleer om die kospotte elke aand leeg te maak. Toe word my hond vet, maar o wee, hy is dood. Toe sit ek weer met die oortollige kos in die aand en begin weer optel. Maar ek het terugbaklei en my bek water as Linda die reste in die yskas bêre vir die volgende dag. Nou spaar ek darem op kruideniers, vleis ens. en dit help so effens met die motivering. Byt vas. Dis die moeite werd.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s