Gedagtes

Windverwaaide Julie-gedagtes

 

Ek sien ek het twee maande laas geblog. Dis nie asof ek niks meer het om te sê nie, dit raak net al hoe makliker om net te dink. Ek word met tye snags wakker en dan spook daar ‘n vierjarige seuntjie by my. ‘n Seuntjie wat uit sy ma se arms geruk is en pad af gesleep is, sonder genade. Ek weet ek moenie te veel daaraan dink nie, maar ek kan my daardie ouers se smart nie eers voorstel nie. Ja smart, nie hartseer nie. Mens is hartseer oor ‘n kat of ‘n hond wat doodgaan. Om ‘n 4-jarige kind, of enige kind, te verloor, los jou met smart. Met ‘n gat in jou hart. Vir altyd. Om ‘n kind SO te verloor, is ondenkbaar, is eintlik by smart verby, in ‘n ander tipe pyn in, een wat aanhou en aanhou.

Dan is daar vliegtuie wat neergeskiet word met byna 300 onskuldige mense in en seuntjies wat op ‘n strand speel en dan val daar ‘n bom. En mense sê die wêreld het mal geword. In Suid-Afrika sing een man ‘n ou volkslied en mense gryp mekaar aan die keel, met taal wat so donker ingekleur is dat mens net skakerings van swart sien. En ek begin glo dat die wêreld onredbaar mal geword het.

Maar dan kom ek werk toe en aan die oorkant van die gang is die kantoor met ons ses nuwe “interns”. Hulle het hier begin werk in Januarie hierdie jaar, as deel van ‘n werkskeppings kontrak met die Departement Omgewingsake. Ses meisies, uit totaal verskillende dele van ons land, verteenwoordigend van ten minste ses van ons elf amptelike tale. Hier is ‘n Afrikaanse meisie, ‘n Engelse meisie, ‘n Tswana meisie, ‘n Zulu meisie, ‘n Moslem meisie en ‘n Xhosa meisie. Ek sien hulle elke dag en ek sien elke dag wat is moontlik in hierdie land, as ons verby velkleure en verskille kyk.

In die begin het hulle gebabbel my teen die mure uitgedryf. Hulle het soggens en teetye soos ‘n byenes geklink. Tot die wonderwerk daarvan tot my deurgedring het. Maandagoggende luister ek hoe hulle oor hul naweek gesels en oor dinge wat hulle saam gedoen het. Ek sien hoe hulle kos en eetgoed onder mekaar deel. Ek hoor hoe hulle mekaar soms hap, cheek en saam lag. Ek hoor hoe hulle onder mekaar probeer om die ander tale, behalwe Engels, vir mekaar te leer. Ek hoor hoe hul soms hul gebruike en tradisies aan mekaar verduidelik. Etenstyd sit hulle almal saam in die kafeteria, deel kos heen en weer en speel speletjies op mekaar se selfone. En ek sien hulle eenheid in hul verskeidenheid. Ek sien hoe ons land KAN lyk.

Dis nie ‘n vreemde gesig hier nie, dis net dat dit my elke keer opnuut opval hoe maklik mens die hart van ‘n ander mens kan vergeet as jy weggesluit in jou klein wit/swart/pienk/ bruin hoekie bly sit. Daar buite is die wêreld soms mal verby, geen twyfel daaraan nie. Maar daar is hoop, daar is altyd iewers ‘n sprankie hoop wat brandend bly as mens jou dink klein hou en die “random acts of kindness” rondom jou raaksien, die goedheid van die deursnee mens om jou raaksien. Want dis nog steeds daar, dis elke dag nog daar.

Dan is dit goed dat ons nog snags wakker lê en wroeg oor ‘n 4-jarige slagoffertjie van ‘n kaping, ‘n vliegtuig vol anderland se mense wat afgeskiet word, ander mense se seuntjies in ‘n vreemde land wat onskuldig gebom word op die strand. Want daardie wakker lê beteken ons het nog nie ons menswees verloor nie. Ons gee nog om. Ons het nog nie opgegee nie.

Want ons wat nog omgee, wat nog nie opgegee het nie, wat nog vreugde kan vind in die diversiteit van ons land se mense en hul saamlewe in vrede… dis ons wat hierdie land nog sal laat MAAK werk.

 

 

 

27 thoughts on “Windverwaaide Julie-gedagtes

  1. Daar is soveel welwillendheid onder gewone mense.Dis waaraan ons moet werk en dit koester.Die groter prent is te groot,lelik en oorweldigend en laat mens moed verloor.

  2. Die kind se dood is basies onvergeeflik. Hoe de hel doen `n mens so iets? Net so is plaasmoorde bloeddorstig barbaars. Jy martel `n lewende mens tot hy gillend in sy eie bloed versmoor. Hoe de hel doen mens dit aan `n medemens?
    Soms, net soms het jy regtig nie moed vir die mensdom nie. Maar jy is reg Son. Daar is ligpunte. Daar is altyd hoop.

    1. Om so te lewe dat ander mense om jou ook soos jy wil wees, is al `n begin. Ons wil almal graag ander mense verander sodat dinge beter kan wees. Die moeilikste, maar enigste waarlik effektiewe manier is om by die self te begin. Weerwraak is soveel makliker!

  3. Gedagtes: Sonder hoop sal ons niks wees nie. Die land waar mens bly is geen waarborg dat jou kinders veilig sal wees nie. (In Switzerland was die grootste oorsaak van dood van jong mans tussen die ouderdomme van 25-40 op ‘n stadium selfmoord.) Op straatvlak ervaar ek soveel verdraagsaamheid. ‘n Swart man wat agter my staan in die ry by die kruidenierswarewinkel, het gesien ek sukkel om met Lia op my arm my inkopies uitgelaai te kry. Toe doen hy dit vir my terwyl ons lekker oor en weer klets en grappies maak. Alles gesê: Klein Taegen se dood het my regtig woedend gehad. Ek wou eerlik net 5 minute hê om met die hijackers te “gesels”… Maar wat sou dit tog help? Dit sou net van my die monster maak wat hulle geword het deur een onbesonne daad.

    1. Dis die ding, Skemer, op grondvlak, mens tot mens, laat ons reeds die land werk. Dis net die groter prentjie, daardie onmenslike dade, die hoekoms en die waaroms, wat mens teen die mure uitdryf. Wat vir my pla, elke dag, is dat elke mens wat ‘n wrede daad pleeg, iewers eendag ook ‘n onskuldige kind was en iewers ook ‘n ma het. En ek bly in die rondte dink – wat het daardie mens die persoon gemaak wat hy of sy vandag is? En wat sou ek gedoen het as Taegen my kind was?

  4. Ek hoor alles wat jy sê, Son, maar vir my bly die ou seuntjie se gesiggie ook heeltyd in my gedagtes. Ek het op verskeie plekke gesê, as daar iewers ‘n protesoptog is, wil ek saam loop. Dan kom die antwoorde: Ag, die regering sal tog niks doen nie. Dan wil ek wild van woede en opstandigheid raak.Mag ons dit dan net sommer so aanvaar? So passief wees? Dit kan mos nie.

    1. Die ding is, Lidia, protesoptogte help ook maar nie. Elkeen moet maar ons hand na ‘n ander uitsteek en daadwerklik probeer om mekaar se leefwêrelde te verstaan. Dis moeilik, maar dis moontlik.

    2. Na 20 jaar van wanbestuur is dit soms moeilik om nog te hoop. Die regering kan en wil niks doen nie. Ons as individue en gemeenskappe sal self ons samelewing aanmekaar moet hou.

  5. Vuurtjie, eerstens wil ek sê ek het jou woorde gemis.

    Tweedens, ek go diep in my hart dat die dag ek ek NIE wakker kan lê en huil oor ‘n kind wat dood is or oor ‘n bomontploffing nie, ek dan moet dood wees. My hart is geweldig klein en enige gruweldaad is ‘n eina in my hart…

    Puik geskryf soos net jy kan

  6. Om met mekaar oor die weg te kom is maklik. Om na mekaar toe uit te reik is ook maklik. Soms. Die probleem is om persepsies, wat gedurende 60 jaar in my binneste gevorm is, te verander, dis dônners moeilik.

    1. Dis waar Tinus. En die huidige stand van sake maak dit juis nie makliker om daardie persepsies te weerlê nie. Maar iewer smoet mens seker begin🙂

  7. Vir ons om oor die weg te kom is nie onmoontlik nie, trouens dit is heel moontlik. Nie die tipe reënboog nasie pypdroom nie, net doodgewone ek erken jou en jy erken my. Die vraag is of ons wil. Of ons (meeste van ons) regtig egtig wil, en aktief probeer.

  8. Baie baie goed en waar geskryf. Ek glo nog altyd, met my hele wese, dat eenheid deur diversiteit, die beste motto is. Die beste wat ek dit kan beskryf, is “different, yet united.”. As ons ‘n leier kan kry wat dit voorstaan met woord en daad, stem ek vir hom.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s