Sommer net

Die wêreld in my badkamer

Ek lê gisteraand in die bad. Gewoonlik lê en lees ek in die bad, maar ek is op die oomblik in daai spasie tussen boeke. En die boek wat ek volgende wil begin lees, is op my e-leser. Ek het lankal geleer water en elektroniese goed is soos ek en winter. Ons jel nie lekker nie. Nou lê ek maar net. Maar dis vervelig en die water is nog lekker warm en ek wil nog nie uitklim nie.

Ek lê en sleep my waslap deur die water en merk vir die eerste keer werklik die vreeslike groot etiket op. En besluit om te lees wat daarop staan. Waddehel! “Made in Pakistan”. My waslap is in Pakistan gemaak! Hoe kom dit hier? Wel, ja ek weet, dis eintlik voor die hand liggend, dis natuurlik ingevoer. Maar vir wat voer Suid-Afrika waslappe in? Is hier dan niemand in SA wat waslappe kan maak nie? Ons het juis so baie werkloses! En natuurlik is dit my fout – ek moes gekyk het voor ek koop.

Die waslap is ook toe sommer dadelik vir my verdag, al is dit so ‘n mooi turkoois kleur. Ek hou dit op teen die lig. Ja-nee, amper deurskynend dun, sien ek nou, al het dit tot nou toe nogal lekker dik gevoel. G’n wonder ek koop amper elke twee maande ‘n nuwe waslap nie. Die oues het ook seker van een of ander -stan af gekom.

Ek vergeet van die warm water en begin ondersoek instel na die ander items in my badkamer. Nes ek gedink het! Twee van my bottels sjampoe kom uit Saudi-Arabië. Die gesiglappies waarmee ek my gesig skoonmaak, is van Turkye. My een bottel make-up kom van Frankryk (darem bietjie beter), my gesigroom van Italië en my handwasmiddel van Dublin in Ierland.

Ek het ‘n hele wêreld in my badkamer! By nadere ondersoek het ek darem gevind dat byna al my ander goed van iewers uit Suid-Afrika is. En glo my, daar is baie ‘goed’ in my badkamer. Ek het aandele in winkels wat mooi en lekker badkamer goeterjies verkoop – in een van my vorige lewens moes ek voorwaar gedurig vuil gewees het, dié dat ek nou in hierdie een so ‘n kompulsiewe badkamergoed koper is.

Maar nou ja, om ‘n lang storie korter te maak – dit het my laat dink. Ek sal beslis van nou af meer oplet op wat ek van waar koop. Dis tog seker net meer logies om my eie land te ondersteun. Wat interessant sal wees, is om pryse te vergelyk met ons eie bodem se goed en anderland se goed.

Ek dink vanaand gaan ek my kombuisgoed bietjie deurgaan. Moet net eers vir my ‘n Suid-Afrikaanse waslap gaan soek. Daai een van Pakistan gaan nie lank hou nie, ek voel dit so aan my waslap se naat.

 

20 thoughts on “Die wêreld in my badkamer

  1. My badkamer het nie te sleg gevaar nie… dit is nou die dinge wat ek kon lees. Handdoeke, en waslap🙂 Suid Afrika. Toilet spray; Suid Afrika. Vloeibare handeseep… en linnesprei; Suid Afrika… kan ook nie anders nie, ek is gaande oor Rooibos produkte. Van my grimmering; Poland. En nou die skok van skokke… my dure dure Nioxin haarprodukte; Mexico. Gedink vir daardie prys behoort dit darem uit Frankryk of Switzerland te kom.
    In my kamer was die eerste ding wat ek vat om aan te trek ‘n Woolworths pantie… uit China. Toe stop my soektog net daar😉

    1. Hier by ons probeer hulle, dit is meesal Brazilië en Argentinië nog die Sjinese uithou, maar slaag ook maar nie daarin nie. Twee weke geled, koop ons ´n warmwatersak, 10 dae het hy gehou en toe sit ons met ´n nat bed. Die meeste van daardie goed se kwaliteit is baie swak en ek het geleer, as jy skaam is om jou naam op jou produk te sit, moenie koop nie en daar is toe geen naam op die watersak nie.

  2. Ek wou nou die dag aspersies koop by Checkers, toe sien ek dit kom uit China. Toe sit ek dit maar eerder terug. Ek was grillerig daarvoor (seker sonder rede). Maar ek kon nie die melamien-babaformule-sage uit my kop sit nie.

  3. Catch 22 inderdaad. Ons werkers eis minimum lone (Lonmin) en daarom maak ons klerefabrieke toe. So, in my kas hang daar baie Chinese rond, en ek vermoed nog meer staan vir my en kyk terwyl ek bad. Ook in my bed lê die uitlanders knus saam met my terwyl daar op elke straathoek hordes mense staan en smeek vir werk.
    Belaglik. Nou koop ek goedkoop van vreemdelinge en gee geld aan eie bedelaars!

  4. Jy het my nou badkamer toe gejaag… my waslappe kom uit Turkye. Ek let ook nie op nie ne. Nou wonder ek hoeveel ander buitelandershet ek ook in my huis.

  5. ja, en die goed van ander lande is dikwels goedkoop, die dat ons dit seker koop.

    ek vergeet meeste van die tyd, maar onthou tog elke nou en dan om te let daarop, want dis seker beter dat ons maar eerder ‘n bietjie meer betaal vir local produkte.

    dankie vir die reminder.

  6. Dis baie goed om SA se werkskepping te steun deur Suid-Afrikaans te koop, maar ek voel mens kan met ‘n skoon gewete goed van ander ontwikkelende lande soos Pakistan ook koop – hulle is immers in ‘n soortgelyke posisie as SA.

    1. Ek wonder net oor die toestande waarin die werkers in daardie lande verkeer. Dis al weer 2 jaar sedert die Bangladesh fabriek ineenstorting.

  7. Sjoe, dis eintlik skokkend as mens so daaroor dink. Ek vermoed die probleem in dat ons nie in SA met die pryse kan meeding nie, omdat ons arbeid soveel duurder is. Maar lande soos Pakistan maak sover ek ook weet, nog gebruik/misbruik van kinderarbeid, dus geld daar nie vreeslik arbeidswette nie. Dis ‘n alewige konflik tussen kostes, etiek en om trots Suid-Afrikaans te wil wees.

  8. Van badkamergoed weet ek min. Ek bad immers net 2x per jaar, en dit onder protes. Ek koop darem so nou en dan ander goed en ek vermoed, nee ek wéét, dat deur aan te dring om ‘n Volla se prys te betaal vir ‘n Porsche maak ek en jy die deur oop vir goedkoper invoerprodukte. Die winkelier in die middel word deur die gebruiker getrap as hy die duurder local produkte aanhou, en deur Proudly SA as hy dit nie doen nie. Lewe in Afrika is nie vir sissies nie.

    1. Ek hoor wat jy sê Plasie, en ek gaan regtig in die toekoms probeer Proudly South African koop. Mens koop maklik goedkoper omdat die ekonomie so sleg is, maar dis dalk een van die redes hoekom ons land se ekonomie so sleg is. Catch 22

      1. Die slim mense sal nou baie vinnig vir ons kom vertel dat dit nie so eenvoudig is nie, en hulle is seker reg ook. Maar in sy eenvoudigste vorm is dit presies soos jy sê. Die beste manier om ekonomies te groei en werk te skep is deur meer te vervaardig. Jy kan slegs vervaardig indien jy kopers het, en watter kopers is nader aan jou as die inwoners van jou eie land?

  9. Ek het nou die dag gesien my Cadbury’s flake kom uit Egipte! Tweet bietjie vir Proudly SA, hulle vra gou gou kwaai vrae aan die winkels… Clicks het so 2 weke terug moelikheid gehad oor handdoeke uit Pakistan.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s