Die Lewe

Op en oor my pad

Soms kruis dinge, mense, gebeurtenisse mens se pad, wat maak dat jy tot stilstand kom en net weer onthou die lewe is eintlik kosbaar en mooi en daar om te lewe.

Vanoggend weer. Vanoggend het ‘n man opgestaan, warm aangetrek en op sy motorfiets geklim om werk toe / iewers heen te ry. Daardie man gaan nie vanaand huis toe nie. Daardie man gaan nooit weer huis toe nie.

Iewers is daar ‘n huis waar niks ooit weer dieselfde gaan wees nie. Iewers is daar dalk kinders wat hul pa nooit weer gaan sien nie, ‘n vrou wat haar man nooit weer gaan sien nie, ‘n ouer wat sy kind nooit weer gaan sien nie.

Ons jaag elke dag van punt A na punt B. Met motors en motorfietse. Ons raak ongeduldig en gaan verby om een motorlengte te wen. Ons vloek mekaar, ons weier om plek te maak vir iemand, trek gesigte en wys tekens. Ons baklei vir ons stukkie pad asof dit ons saliger sal maak.

Dis dit nie werd nie. Vyf minute, tien minute, selfs een uur gouer, vinniger is niemand se lewe werd nie. As ons elkeen net kon dink, voor ons reageer, wat as ek hierdie ding doen en iemand gaan dood as gevolg daarvan? Maar ons doen nie. Ons neuk net voort en dan noem ons die tragiese gevolge ‘n ongeluk. Wat is die definisie van ‘n ongeluk?

‘n Ongeluk is ‘n onvoorsienbare, ongelukkige gebeurtenis wat onverwags en sonder opset gebeur, en skade en beserings kan veroorsaak. Hoeveel ‘ongelukke’ kon juis voorsien word, as die mens net ‘n titseltjie meer geduld en oordeel aan die dag gelê het?

As jy vanmiddag huis toe ry, as jy more weer werk toe ry, as jy die langpad ry, vir werk of vakansie, onthou elke keer… jy neem jou lewe en elke ander persoon wat die pad met jou deel se lewe ook, in jou hande. Tree wyslik op.

Sodat elke kind se ouer weer veilig huis toe kom, en elke ouer se kind ook.

10 thoughts on “Op en oor my pad

  1. Is mos maar hoe die lewe loop. Party maak dit, ander nie. Dit is swaar vir die wat getref word deur “onnodige” dood. Maar is daar so iets soos “onnodige” dood. Elkeen het sy pad om te loop, met die lekker en die swaar. Ons gaan nie almal 110 jaar oud word nie.

  2. Daai doen, sonder dink, gebeur so maklik. Ek het vir 10 jaar in Bettysbaai gebly en weet nog al die jare van die kamera as mens om die draai kom, afwaarts Rooiels se kant toe. Dit gaan ook glad nie vir my oor die kamera daar nie, ek weet van mense wat al daar, op daardie stukkie pad verongeluk het. Ek is altyd bitterlik versigtig as ek om daai draai kom. Net so ook verlede Maandag toe ek van daai kant af kom. Baie gehoorsaam verminder ek spoed, eers af na 80, toe nog stadiger na 60 toe. Ek doen alles op auto pilot en toe . . . en toe flits die kamera in my oë. So maklik gebeur dit.

  3. ja, exactly – ek gaan altyd aan hieroor. dis net eenvoudig net nie die moeite werd nie.

    en so baie keer gebeur dit dat die culprit bly lewe en die ander persoon sterf – ek meen, hoe wil ‘n mens nou met so iets saamleef? ai jai jai.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s